• No results found

1.6 BEGRIPSOMSKRYWINGS

1.6.1 Maatskaplikewerkhulpverlening

Maatskaplikewerkhulpverlening word deur die Vaktaalkomitee vir Maatskaplike Werk (1995:41) omskryf as die: “Proses waarvolgens ’n maatskaplike werker, binne ’n

professionele verhouding, bepaalde metodes en tegnieke aanwend, funksies en take uitvoer en hulpbronne benut om maatskaplike probleme te voorkom, te verlig of uit die weg te ruim, om die maatskaplike funksionering van ’n kliëntsisteem te bevorder.” Maatskaplikewerkhulpverlening is met ander woorde ’n rasionele en terapeutiese benadering vir die hantering van maatskaplike probleme, met kenmerkende prosesse en metodes om hulp te verleen.

1.6.1.1 Maatskaplike werk

Omskrywings kenmerkend van maatskaplike werk fokus op die onderlinge verhoudinge, verbande en interaksies tussen mense, tussen mense en instellings/hulpbronne en die hantering van probleme wat in die funksionering van individue en sosiale sisteme bestaan. “Social work is concerned with the interaction between people and their social environment which affects the ability of people to accomplish their life tasks, alleviate distress and realise their aspirations and values. The purpose of social work therefore is to (1) enhance the problem-solving and coping capacities of people, (2) link people with systems that provide them with resources, services and opportunities, (3) promote the effective and human operation of these systems and (4) contribute to the development and improvement of social policy” (Pincus and Minahan 1973:9). Die omskrywing erken die uniekheid van die mens, met sy unieke ideale, waardesisteem en maatskaplike probleme, byvoorbeeld gesondheidsprobleme wat fisiese beperkinge meebring en die invloed daarvan op al sy verhoudinge, asook die invloed en rol van die breër gemeenskap en die beskikbaarheid van hulpbronne. Die in staatstellende of beperkende invloed van die mens se wêreld (of konteks waarbinne hy funksioneer) word beklemtoon. Die noodsaaklikheid om die kliëntsisteem aktief by die beplanning en implementering van hulpverleningsdienste te betrek word nie uitgespel nie.

Die werksgebied van maatskaplike werk word in ‘n missieverklaring in 1996 in die dokument NASW Code of Ethics (Reamer 1999:19) uitgelig: “The primary mission of the social work profession is to enhance human well-being and help meet the basic needs of all people, with particular attention to the needs and empowerment of people who are vulnerable, oppressed, and living in poverty. A historic and defining feature of social work is the profession’s focus on individual well-being in a social context and the well-being of society. Fundamental to social work is attention to the environment forces that create, contribute to, and address problems in living.” Maatskaplike werk bevorder sosiale geregtigheid, is sensitief vir kulturele verskeidenheid en streef om diskriminasie,

onderdrukking, armoede en maatskaplike ongeregtigheid te beëindig. Maatskaplike werk poog om kliënte se vermoëns te ontwikkel om hul eie probleme op te los en om organisasies en gemeenskappe se respons op individue se behoeftes en maatskaplike probleme te verbeter. Die hantering van aspekte wat die individue of gemeenskap se maatskaplike funksionering bevorder of belemmer, word beklemtoon. Die bemagtiging van onderdrukte, weerlose of geïsoleerde individue of groepe is kenmerkend van maatskaplike werk se waardesisteem en praktyk.

Die praktiese inkleding van maatskaplike werk word deur die denke van ’n sekere tydperk beïnvloed en sluit tans konsepte van die postmoderne denke in. Dit is van besondere belang vir die hulpverlening aan minderheidsgroepe, soos persone met fisiese gestremdhede. Fook (2002:18) sê: “A postmodern and critical social work practice is primarily concerned with practising in ways which further a society without domination, exploitation and oppression. It will focus both on how structures dominate, but also on how people construct and are constructed by changing social structures and relations, recognising that there may be multiple and diverse constructions or ostensibly similar situations. Such an understanding of social relations and structures can be used to disrupt dominant understandings and structures, and as a basis for changing these so that they are more inclusive of different interest groups.” Die postmoderne kritiek op die uitbuiting en dominering van mense of groepe sluit nou aan by maatskaplike werk se tradisionele betrokkenheid by die weerlose, mishandelde of onderdrukte mense in ‘n gemeenskap. Die mens se vermoë om sy eie perspektiewe en lewensomstandighede te konstrueer stem ooreen met maatskaplike werk se siening van die mens se verantwoordelikheid tot selfbeslissing en die vermoë om te groei en te verander.

Die interpretasie van die omskrywings van maatskaplike werk in die postmodernisme impliseer dat dit van persoon tot persoon kan verskil. Verder speel die maatskaplike werker se persoonlike sienings, konstrukte en kreatiwiteit ‘n rol in hulpverlening, want die maatskaplike werker is saam met die kliëntsisteem besig met werklikheidskepping. So sal ’n maatskaplike werker wat uit ’n Christelike beskouing praktiseer, waarskynlik ’n andersoortige interpretasie van maatskaplikewerkdienste hê as diegene met ander oortuigings, byvoorbeeld die humanis.

Maatskaplike werk volgens die Christelike beskouing is op die uitgangspunte van die Christelike mens- en wêreldbeskouing gebaseer. Volgens Heyns (1974:69) is die Christelike beskouing nie ‘n wetenskaplike en sistematiese leer met helder en skerp

omlynde begrippe en definies nie, want “… die mate van sistematisering, logiese ordening, definisies en omskrywings wat in die begrippe mensbeskouing opgesluit lê, word nie in die Skrif self aangetref nie, maar is die resultaat van die werksaamhede wat met die materiaal uit die Skrif, gedoen is”. Die Christelike mens- en wêreldbeskouing sluit met ander woorde interpretasies van die Bybelse boodskap in en kan nie die aanspraak van die ware of enigste Bybelse beskouing deurstaan nie, want alle mensewerk is sondig en gebroke.

Maatskaplike werk volgens die Christelike beskouing berus op sekere voorveronderstellings oor die mens se oorsprong, doel, lyding en bestemming, wat bepalend is vir die wyse waarop hulp verleen word. Philpot (1986a:146) sê: “At the most basic level social work is engaged in the relief of suffering, whether the social worker is inclined to see that as best achieved, on the one hand, by individual case work, or, on the other, by political, community-based action, with all the varieties of social work intervention in between. The perspective of the Christian social worker is not confined by die limits of a particular situation but his perspective goes beyond space and time. He conceives of what he does and what he observes and experiences in the context of what has been called 'man in cosmos' rather than 'man in the world'. Thus, the sacramental and social concern are linked in an eschatological tension.” Dit beteken die wyse waarop die maatskaplike werk beginsels toegepas word en inhoud van die maatskaplike werker se gesprekke met die kliëntsisteem spruit voort vanuit ‘n persoonlike verhouding met God Drie-enig en verreken Bybelse temas soos sonde, verlossing, groei in heiligmaking en ‘n ewigheidsbestemming.

Samevattend kan gesê word maatskaplike werk volgens die Christelike beskouing fokus nie net op die tydelike aspekte van die kliënt se lewe nie, maar gee aandag aan die mens se geestelike behoeftes en/of ‘n verhouding met God Drie-enig (Bowpitt 1998:679). Die pragmatiese inkleding van maatskaplikewerkhulpverlening volgens die Christelike beskouing verwys daarom nie slegs na die maatskaplike werker se persoonlike mens- en wêreldbeskouing en toepassing van die maatskaplike werk beginsels volgens Bybelse riglyne nie, maar holistiese hulpverlening wat gesprekvoering oor gespreksvennote se geestelike dimensie insluit.

1.6.1.2 Hospitaal maatskaplike werk

Maatskaplike werkers werksaam in hospitale staan algemeen bekend as hospitaal maatskaplike werkers. In beleidsdokumente van die Vrystaatse Provinsiale Departement

van Gesondheid (2005b:11) word na maatskaplike werkers werksaam in die veld van gesondheidsorg as mediese maatskaplike werkers verwys, wat die hospitaal maatskaplike werker en psigiatriese maatskaplike werker insluit. Die verskillende terme het waarskynlik ontstaan om die fokus van hulpverlening aan te dui, maar in alle gevalle bly gesondheidsorg en mediese behandeling die konteks waarbinne hulp verleen word. “The concept of a health care social work practice, incorporating the previously separate specialities of medical and psychiatric social work, attempts more appropriately to address the interplay of the economic, environmental, social, psychological, cultural and biological factors, affecting health status on the individual, group and on the community levels” (Free State Provincial Department of Health 2005b:11). Hierdie studie se fokus word beperk tot maatskaplike werk in hospitale en om verwarring te vermy met maatskaplike werkers werksaam in ander areas van gesondheidsorg, word daar na hospitaal maatskaplike werk verwys.

Die fokus van maatskaplike werk in hospitale word deur Skidmore en Thackeray (1982:167) omskryf as: “Social work addresses itself to illness brought about by or related to social and environmental stresses that result in failures in social functioning and social relationships. It intervenes with medicine and related professions in the study, diagnosis, and treatment of illness at the point where social, psychological, and environmental forces impinge on role effectiveness.” Die klem is dus op die siek persoon en sy onmiddellike familie, maar sluit ook omgewingsfaktore en verhoudinge met betekenisvolle rolspelers, hulpbronne en ondersteuningsnetwerke in die gemeenskap in. Samewerking met ander gesondheidswerkers en die mediese model vir behandeling (vgl. 5.1.2.2) blyk duidelik.

Vir die doeleindes van hierdie studie word maatskaplike werk volgens die Christelike beskouing in hospitale omskryf as maatskaplikewerkhulpverlening begrond op die Christelike beskouing, binne die raamwerk van hospitaaldienste vir persone wat behandel word vir ‘n siektetoestand of besering. Die maatskaplike werker is deel van die multi- dissiplinêre spanbenadering en verskaf holistiese behandeling, wat op alle vlakke van die kliënt se menswees en maatskaplike funksionering fokus en verreken die mens se verhouding met homself, betekenisvolle ander, sy konteks en God Drie-enig of geestelike dimensie. Kliënte word aktief betrek om mee te werk aan die voorkoming van siekte en gestremdheid, die behandeling van simptome en die gevolge van die siekte, die bevordering van gesondheid en doeltreffende maatskaplike funksionering, die herintegrasie van die persoon in die gemeenskap en die ontwikkeling van beleidsriglyne en hulpverleningsdienste.