• No results found

Die doel van maatskaplike werk vanuit die Christelike beskouing

2.4 MAATSKAPLIKEWERKHULPVERLENING IN DIE LIG VAN

2.4.3 Implikasies van die Christelike beskouing vir maatskaplikewerk-

2.4.3.2 Die doel van maatskaplike werk vanuit die Christelike beskouing

Die doel van maatskaplike werk is die bevordering van die individu, groep of gemeenskap se doeltreffende maatskaplike verhoudinge of funksionering (interaksie en rolvervulling). Maatskaplike werk is toegespits op die kliënt se verhoudingsnood en word veral hierin van ander professies onderskei (Skidmore en Thackeray 1982:9). Maatskaplike werk volgens die Christelike beskouing, heg kenmerkende betekenisse aan hulpverlening, wat verband hou met die maatskaplike werker se persoonlike verhouding met God Drie-enig, gesindheid teenoor persone in nood en motiewe om hulp te verleen. Erkende doelwitte van maatskaplike werk word met ander woorde nagestreef, op ’n wyse wat uitdrukking gee aan Christelike beginsels en werkswyses.

• Meelewing as respons op die mens se verhoudingsnood

Maatskaplike werk volgens Bybelse voorskrifte is volgens Bowpitt (1998:679) medelye of meelewing (“compassion”) met persone wat swaarkry of probleme ervaar en hulpverlening is die onvoorwaardelike reaksie op die onmiddellike nood wat bestaan. Maatskaplike werk het met ander woorde as ‘n respons op die mens se verhoudingsnood ontwikkel en hulp word vanuit ’n sekere gesindheid of motief gelewer. Maatskaplike werk se doelstellings is volgens Pincus en Minahan (1973:9): (1) die verbetering van die mens se probleemoplossing en hanteringsvermoë; (2) om mense met sisteme te verbind wat hulpbronne, dienste en geleenthede voorsien; (3) om die effektiewe en menslike funksionering van sisteme te bevorder; en (4) die ontwikkeling en verbetering van maatskaplike beleid. Die verbetering van die mens se verhoudinge sluit volgens die Christelike beskouing na die mens se verhouding met homself, betekenisvolle ander, sy omgewing en God Drie-enig in. Erkende maatskaplike werk doelstellings word aan die hand van Christelike beginsels en waarhede nagestreef, terwyl maatskaplike werk vanuit die Christelike beskouing ook die mens se verhouding met God Drie-enig verreken.

Probleemoplossing en die verbetering van die mens se sosiale vermoëns is gerig op die opbou van betekenisvolle verhoudinge en die verbetering van beskadigde verhoudinge. Pogings word aangewend om die mens se kapasiteit vir effektiewe interaksie en rolvervulling te bevorder en die herstel van maatskaplike wanfunksionering fokus op die verwydering van die faktore wat die wanfunksionering veroorsaak het en rehabilitasie om interaksie patrone te herorganiseer en te herbou (Skidmore en Thackeray 1982:8).

Maatskaplike werk vanuit die Christelike beskouing verleen ’n diepere dimensie hieraan deur besprekinge in te sluit oor die rol wat sonde in die mens se verhoudinge en omgewing speel en die moontlikheid van herstel en verlossing deur die krag van Jesus Christus (flp 4:13).

Die verbetering van die wisselwerking wat tussen die mens en sy omgewing bestaan, is ‘n besondere doelwit van maatskaplike werk. Pogings word aangewend om die mens se aanpassing in sy omgewing te bewerkstellig, asook om sy verhouding met strukture in sy konteks te verbeter en om hulpbronne, sosiaal en individueel, te ontwikkel of te voorsien om effektiewe maatskaplike funksionering te bevorder (Skidmore en Thackeray 1982:9). Dit mag nodig wees om die effektiwiteit van sosiale hulpbronne te bevorder of om nuwe of veranderde hulpbronne te ontwikkel, om in die mens se behoeftes te voorsien. Maatskaplike werk vanuit die Christelike beskouing hou rekening daarmee dat die mens en sy omgewing ’n wedersydse invloed op mekaar het. Daarom sal die mens bewus gemaak word van sy verantwoordelikheid om as verteenwoordiger van God sy omgewing te bewerk en te bewaar en om wanfunksionering in sy omgewing aan te spreek. Die mens het met ander woorde die verantwoordelikheid om ’n skeppende invloed op sy omgewing uit te oefen, asook om mee te werk om wanfunksionering of leemtes in sy konteks te herstel of te wysig. Dit kan die verwydering van onderdrukkende strukture, die verbetering van gebrekkige hulpbronne of die hantering van wanfunksionering, byvoorbeeld verskynsels soos alkoholmisbruik, beteken.

• Hulpverlening om die karakter van ‘n liefdevolle God te vertoon

Maatskaplike werk vanuit die Christelike beskouing gebruik dade van liefde (liefdadigheid) om die karakter van ‘n liefdevolle God te vertoon (Bowpitt 1998:679). Die gelowige maatskaplike werker het die potensiaal en keuse om as Christus se medewerker op te tree (2 Kor 5:20) en hulp vanuit die Christelike beskouing te lewer, wat van God se liefde vir elke mens (Hd 10:34) en die wêreld getuig. Met die Christelike mensbeskouing word die beoefening van maatskaplike werk bo die menslikheidsvlak verhef, want dit is ’n werksaamheid, gedra deur die liefde tot God en die liefde tot die naaste, om diensbaar te wees aan die mens in nood en om God daardeur te verheerlik (Cronjé 1970:12). Hulpverlening moet in die eerste plek God verheerlik en Sy koninkryk op aarde bevorder. Die maatskaplike werker lewe nie meer vir homself nie, maar vir Christus wat vir sy

sondes versoening gebring het (2 Kor 5:15). In die tweede plek word ‘n bydrae gelewer wat groei, genesing en heling by mense laat plaasvind (2 Kor 5:17).

Die doelwit om God se liefde sigbaar te maak wanneer hulp verleen word, vloei voort uit die beskrywing in 1 Kor 13 oor hoe die liefde konkreet gestalte moet vind in die Christen se lewe. Dit wys op ‘n innerlike gesindheid, gevoelens en gedagtes van toegeneentheid, asook konkrete dade van opoffering waar die een mens die belange van ‘n ander bevorder en verskaf riglyne vir die wyse waarop die hulpverlener homself tot die beskikking van andere behoort te stel. Liefdevolle handelinge geskied volgens Heyns (1978:133) vanuit die hulpverlener se geestelike hart, wat daarop dui dat hy in sy saamwees met andere besig is om God se beeld te vertoon en ‘n lewe tot eer van God te leef.

Maatskaplikewerkdienste wat deur God se liefde vir die mens gekenmerk word, staan ook bekend as barmhartigheidsdiens. Die term barmhartigheid verwys na die genade wat die mens van God ontvang het en in die tweede instansie na hulpverlening aan mense in hul eksistensiële nood. God se barmhartigheid (Nm 9:19; Jd 1:21) toon dat Hy nie Sy kinders verlaat nie en hulle red (Nm 9:27-28; Heb 5:16). God se barmhartigheid blyk met ander woorde uit Sy betrokkenheid by Sy kinders, Sy vergifnis van sonde en redding uit praktiese probleme. In die lig van God se liefde vir die mens is die doel van barmhartigheidsdiens om God se barmhartigheid aan die mens in nood oor te dra, want deur geloof in Jesus se kruisdood word die mens se verhouding met God herstel.

Barmhartigheidsdiens wil verder gestalte gee aan God se opdrag aan Sy kinders om Sy liefde aan andere te betoon. God verwag van die mens om barmhartig op te tree en andere in hul nood te ontmoet (Mt 5:7). Jesus gee konkrete gestalte aan God se barmhartigheid en stel die voorbeeld om andere te bedien, soos beskryf in Mt 20:28: “… Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense”. Jesus verwys telkens in die Nuwe Testament (Jh 9:13; 12:7) weer hierna, deur mense op te roep om hul lewenstyl te verander en ‘n lewe van diensbaarheid te leef. Die doel van hulpverlening volgens die Christelike beskouing is om die Christelike roeping, om andere onvoorwaardelik lief te hê, in praktiese hulpverleningsdienste te omskep.

• Hulpverlening om mense se lewens te verander en persoonlike herlewing te bevorder

Maatskaplike werk volgens Bybelse beginsels is hulpverlening om die liefde van God te kanaliseer as ‘n wyse om mense se lewens te verander en persoonlike herlewing te bevorder. (Vgl. Bowpitt 1998:679.) Die maatskaplike werker wat volgens die Christelike beskouing werk, het ’n Goddelike roeping en word ‘n kanaal om God se doelstellings met die mens, gesin, groep of gemeenskap te bereik. Die vraag kan gevra word of gesprekke oor die mens se ontmoeting en verhouding met God alleenlik binne pastorale gesprekke (gefundeer in die Christelike teologie) tuishoort? Daar word eerder met Bowpitt (2000:355) saamgestem wat argumenteer dat indien die mens as beelddraer van God hanteer word, hy alleenlik volledig mens kan wees as hy God ken. Daarom kan maatskaplike werk volgens die Christelike beskouing nie nalaat om hierdie waarheid met die kliënt te deel nie. Dit beteken dat ’n Christen maatskaplike werker nie alleenlik hulp verleen vanuit die beginsels van ’n Christelike mens- en wêreldbeskouing nie, maar dat die mens in nood se geestelike dimensie of verhouding met God Drie-enig verreken word. Dit het die implikasie dat die maatskaplike werker se gesprekvoering sal getuig oor die bestaan van en verlossing deur God Drie-enig, die wyses waarop ’n liefdevolle God in die mens se behoeftes voorsien en dat die mens ewigheidswaarde het.

Samevattend kan gesê word maatskaplike werk volgens die Christelike beskouing se oorhoofse doel is om die mens se doeltreffende maatskaplike funksionering te bevorder, ten einde die mens te bemagtig om homself in sy verhoudinge te verwesenlik, om ’n in staatstellende omgewing (strukture, dienste, beleid en hulpbronne) vir die mens te bewerkstellig en om die mens se verhouding met God Drie-enig te verreken. Maatskaplike werk volgens die Christelike beskouing omskep Bybelse beginsels in deernisvolle dade, wat getuig van God se liefde en versorging van die mens en verreken die mens se verhouding met God, asook die kragtige werking van die Heilige Gees om die mens of gemeenskap se wanfunksionering te wysig of te verbeter.