• No results found

4.1 DIE AARD VAN DIE NARRATIEWE WERKSWYSE

4.1.3 Kenmerke van die narratiewe werkswyse

4.1.3.3 Beperkende en omvattender beskrywinge van ervaringe

Met die vertelling van 'n sekere storie word sekere detail en interpretasies van gebeure geselekteer, terwyl ander sienings van dieselfde gebeure nie herken of vertel word nie. Op hierdie wyse word die kompleksiteit en teenstrydighede van die lewe ontken of vereenvoudig. Die terme “thin and thick descriptions” is deur Michael White en David Epston ontwikkel (Morgan 2000:12) om hierdie verskynsel doelbewus in die hulpverleningsproses aan te spreek.

Eng of onvolledige beskrywinge van ervaringe laat min ruimte vir mense om hul eie interpretasies te verwoord. Die beskrywinge van andere word eerder as die waarheid aanvaar en dit verhinder die persoon om sy eie unieke betekenisse aan gebeure te heg. 'n Persoon aanvaar soms die onvolledige beskrywinge van sy gedrag of identiteit van andere in magsposisies, soos byvoorbeeld ouers, politieke figure of professionele persone. Beperkende of eng beskrywinge het negatiewe gevolge vir 'n persoon se belewenis van homself en sy verhoudinge. “Thin conclusions are often expressed as a truth about the person who is struggling with the problem and their identity. The person with the problem may be understood to be 'bad', 'hopeless', or 'a troublemaker'. These thin conclusions, drawn from problem-saturated stories, disempower people as they are regularly based in

terms of weakness, disabilities, dysfunctions or inadequecies” (Morgan 2000:13). So kan 'n persoon met 'n amputasie beskryf word as 'n onvolledige mens met beperkte moontlikhede om selfstandig te funksioneer. Hierdie siening beïnvloed die wyse waarop die persoon behandel word, sy rol in die gesin en status in die gemeenskap. Die gebruik en misbruik van mag en kontrole, kom verskuild in verhoudinge na vore en laat weinig ruimte om hierdie eng beskrywinge te wysig.

Gebrekkige vertellings gee aanleiding tot probleemstories wat die persoon se maatskaplike funksionering domineer. Die invloed en gevaar van gebrekkige of onvolledige omskrywings is dat die persoon se vaardighede, kennis en vermoëns deur die probleemstorie verduister word. Freedman en Combs (1996:16) sê: “Narrative therapists are interested in working with people to bring forth and thicken stories that do not support or sustain problems. As people begin to inhabit and live out the alternative stories, the results are beyond solving problems. Within the new stories, people live out new self images, new possibilities for relationships and new futures.” Maatskaplikewerkhulpverlening volgens die narratiewe werkswyse is daarom geïnteresseerd, om deur middel van gesprekvoering, omskrywings te skep wat mense in staat sal stel om weg te breek van die beperkende weergawes van hul lewenstories en die negatiewe invloed hiervan op hul doeltreffende maatskaplike funksionering.

Die teenoorgestelde van gebrekkige of eng beskrywinge is ryker of vollediger beskrywinge en alternatiewe interpretasies van mense se lewe en verhoudinge. Omvattender beskrywinge beteken volgens Morgan (2000:15) dat aandag gegee word aan die artikulasie van die fyn detail van 'n persoon se lewe. Die motiewe van die betrokkenes, hul agtergronde, begrip van gebeure en die verweefdheid van stories met die van andere, word verwoord om ‘n vollediger beeld van die persoon se lewe te gee. Die volgende is wyses waarop die kliënt se lewe breër omskryf kan word:

• Daar word na moontlike gapings in die vertellings van die kliënt geluister en hy word gevra om meer detail beskrywinge daaroor te gee (Freedman en Combs 1996:46). Die maatskaplike werker luister met ander woorde aandagtig na die kliënt se verhaal om verskillende interpretasies van gebeure en belewenisse te bevorder. Erkenning vir die meervoudige betekenisse wat aan 'n situasie geheg kan word, dra by tot 'n ryker beskrywing van gebeure.

• Moontlike dubbelsinnighede in die interpretasie van stories, word geïdentifiseer en die kliënt word gevra om hieroor uit te brei en te vertel hoe hy die situasies gehanteer en probleme opgelos het (Freedman en Combs 1996:47). Die

maatskaplike werker se fokus op dubbelsinnighede ondermyn die invloed van die dominante verhaal en laat die kliënt die belewenis kry dat daar meer as een wyse is om sy maatskaplike funksionering te interpreteer.

• Wanneer die kliënt sy vertelling onderbreek, kan die terapeut 'n opsomming gee van wat gesê is en probeer om te bepaal of die terapeut begryp wat die kliënt gesê het (Freedman en Combs 1996:47). Sodoende kan gekontroleer word of die betekenisgewing van die betrokkenes ooreenstem. Op die wyse waak die maatskaplike werker daarteen om sy eie gevolgtrekkings te vorm en gesamentlike besinning oor die betekenisse wat aan gebeure geheg word, word bevorder.

• Moontlike verbintenisse tussen die kliënt se vertelling en die stories van andere word ondersoek. Parry (1991:46) sê die kliënt word aangemoedig om uit te brei oor moontlike karakters wat deel van sy storie vorm en hoe faktore soos persoonlike ervaringe, verhoudinge, geslag, etniese agtergrond, kultuur en die gemeenskap tot die storie wat vertel word, bygedra het.

• Volgens Parry (1991:51) is dit nodig om deur vrae die wenslikheid en gevolge van die kliënt se veronderstellings, waarop sy lewensstorie gebaseer is, uit te daag. Vrae soos “wat is jou ervaring?” of “dit mag wees wat jy geleer is, maar wat is jou ondervinding?” of “dit is ander se opinie, maar wat is jou ervaring?” word deur die terapeut gevra. Twyfel ontstaan dan oor die waarheid van 'n sekere siening en konstellasie van gelowe oor die self, die wêreld en die persoon se plek daarin. Uit bogenoemde blyk dit duidelik dat die maatskaplike werker ‘n ondersoekendende ingesteldheid moet hê en met behulp van vraagstelling word die kliënt se denke gestimuleer om meer fasette van sy lewe en verhoudinge te oordink en te beskryf. Deurdat die persoon se weergawe van sy lewensstorie nie as vanselfsprekend as die waarheid aanvaar word nie, word die persoon gehelp om sy ervaringe self te interpreteer en in sy eie woorde te beskryf. Die gevolgtrekking kan verder gemaak word dat ryke of vollediger beskrywinge die nodige idees sal verskaf vir die vorming van ‘n gewenste storie.

4.1.3.4 Dekonstruksie

Dekonstruksie moedig die mens aan om die konstruksies van sy realiteit te bevraagteken, om te bepaal in watter mate die persoon se denke en lewenswyse daardeur gedomineer word en in watter mate dit in lyn is met sy persoonlike sienings. “… [D]econstruction has to do with procedures that subvert taken-for-granted realities and practices; those so-called ‘truths’ that are split off from the conditions and the context of their production, those disembodied ways of speaking that hide their biases and prejudices, and those familiar

practices of self and of relationship that are subjugating of persons’ lifes” (White 1992:121). Dekonstruksie is die analise van praktyke, met die doel om die rol van kennis, waarhede en mag aan te toon, asook die onderdrukkende effek daarvan op die persoon se narratiewe. Die waarde van dekonstruksie is daarin geleë dat die persoon bewus gemaak word van die invloede wat tot die vorming van sy narratiewe gelei het, asook die positiewe of negatiewe effek daarvan op sy maatskaplike funksionering. Dekonstruksie fokus op die persoon se selfsienings, dominante kulturele kennisraamwerke, maatskaplike funksionering en ander onderdrukkende praktyke, byvoorbeeld in die wyse waarop hulp verleen word.

Vanuit ‘n narratiewe perspektief kan probleme alleenlik oorleef en floreer wanneer dit ondersteun en versterk word deur ander betekenisvolle persone se beskouinge. So kan diskriminasie byvoorbeeld teen persone met fisiese gestremdheid in die werksplek in sekere gemeenskappe toegelaat word, aangesien die individu se bevoegdheid met die aanwesigheid van alle ledemate geassosieer word. Skeptisisme oor dominante diskoerse lei tot 'n analise of dekonstruksie van die gapings, stiltes, teenstrydighede en magsverhoudinge wat bestaan (Kotzè en Kotzè 1997:35) en het gevolglik die potensiaal om diskoerse te stimuleer wat vir die persoon aanvaarbaar is.

Narratiewe terapeute is ingestel op die ontdekking, benoeming, uitmekaar haal en uitdaag van sienings en praktyke in die breër kultuur waarbinne die persoon leef, wat die probleemstorie ondersteun (Morgan 2000:45). Dekonstruksie help mense om oorheersende stories vanuit ’n ander perspektief te beoordeel en om geleenthede te herroep waar die probleem nie sy selfsiening of verhoudinge belemmer het nie. Indien die besprekinge vir die persoon sinvol en aanvaarbaar is, word dit ‘n unieke uitkoms (Morgan 2000:50), wat weer die beginpunt van ‘n alternatiewe storie kan wees. Die maatskaplike werker druk daarom nie sy idees op die gespreksvennote af om die betrokkenes se sienings te verander nie, maar ondersoek en bevraagteken die idees en faktore in die persoon se omgewing wat die bestaande verhoudingsprobleme versterk.