• No results found

2.4 MAATSKAPLIKEWERKHULPVERLENING IN DIE LIG VAN

3.1.1 Konstruktiwisme

3.1.1.2 Ernst von Glasersfeld

Von Glasersfeld se siening verskil radikaal van tradisionele denke oor hoe die mens kennis bekom en sy ervarings organiseer. Tradisioneel is aangeneem dat kennis die waarheid weerspieël wanneer dit ooreenstem met ‘n onafhanklike objektiewe werklikheid. Kennis kan daarom objektief aan die bestaande werklikheid getoets word, wat impliseer dat die wêreld met al sy wetmatighede, ontdek moet word. Von Glasersfeld (1995:1) sê radikale konstruktiwisme “… starts from the assumption that knowledge, no matter how it be defined, is in the heads of persons, and that the thinking subject has no alternative but to construct what he of she knows on the basis of his or her own experience”. In die lig hiervan redeneer hy dat daar slegs ‘n subjektiewe realiteit bestaan, want elke mens skep sy waarheid volgens sy eie interpretasies. Konstruktiwisme vanuit ‘n radikale posisie “… holds that since we are basically prisoners of our biological perceptional systems, it is

impossible to access external reality in an undiluted form” (Doan 1997:130). Radikale konstruktiwisme beperk die mens se konstruksies hoofsaaklik tot ‘n persoonlike en subjektiewe proses.

Die volgende uitgangspunte van die radikaal-konstruktiwisme word uitgelig aangesien dit hulpverlening vanuit ‘n konstruktiwistiese epistemologie beïnvloed:

• Die mens benut sy eie unieke interne en kognitiewe prosesse om sy realiteite te skep. Von Glasersfeld (1995:51) sê: “… the function of cognition is adaptive, in the biological sense of the term, tendering towards fit or viability; cognition serves the subject’s organization of the experiential world, not the discovery of ontological reality”. Hy fokus op die belangrike rol wat interne biologiese prosesse speel in die mens se kognitiewe prosesse, wat tot die konstruering van die werklikheid aanleiding gee en die mens se betekenisgewing weerspieël.

• Kennis word nie ekstern bekom nie. “Knowledge is not passively received either through the senses or by way of communication; knowledge is actively built up by the cognizing subject” (Von Glasersfeld 1995:51). Besondere klem word geplaas op die rol wat mens se kognitiewe vermoëns speel in die verwerking van inligting en gebeure.

• Die mens se belewenisse van sy wêreld is bepalend om sy werklikheid te skep (Du Plessis en Ferreira 2002a:13). Hierdie ervaringselemente sluit sy totale omgewing, vanaf klimaatstoestande tot die mens se sosiale verhoudinge in. Die konstruering van sy wêreld is deel van sy menslike bestaan en vind outomaties plaas. Die inhoud en betekenis wat hy aan sy ervaringe heg, vind egter nie outomaties plaas nie, maar is die mens se eie verantwoordelikheid.

• Die konteks waarin iets gebeur en die bruikbaarheid van ‘n konstruksie, is die primêre kriteria om te bepaal of ‘n konstruksie geldig is (Doan 1997:130). Daar is dus nie een ware konstruksie oor iets nie, want ‘n konstruksie se waarde word bepaal in die mate wat dit binne ‘n sekere konteks bruikbaar is. Mense sal daarom hul konstruksies wysig, omdat hulle van mening is dat dit vir hulle onbruikbaar is of nie die waarheid vir hulle verteenwoordig nie.

• Die wêreld waarin mense hulself bevind, is die resultaat van wat hulle in staat is om te skep en binne die beperkinge van hul vorige ondervindinge in stand te hou (Vorster 2003:76). Die mens kan net kennis hê van iets of ‘n werklikheid wat hyself geskep het. Die mens is daarom tot die kennis beperk wat hy self gekonstrueer het en daar bestaan nie werklikhede wat hy nie self tot stand gebring

het nie. Daarom is die individu verantwoordelik vir wat hy dink, die kennisraamwerke wat hy saamstel en die dade wat hieruit voortspruit.

• Die mens gee uitdrukking aan sy realiteit en kennis deur middel van kommunikasie en die benutting van taal. Taalgebruikers mag dieselfde taal of begrippe gebruik, maar verskillende betekenisse aan die konsepte heg. Die mens gebruik met ander woorde taal om sy gedagteprosesse uit te druk en aan te toon hoe hy sy lewe verstaanbaar maak en vorm daaraan gee.

• Geen objektiewe kennis bestaan nie, daarom word verskeie persepsies oor ‘n saak gevorm. Volgens Von Glasersfeld (1995:26) is dit daarom onmoontlik om die grade van korrektheid van persone se persepsies te bepaal. Aangesien ‘n objektiewe werklikheid of kennissisteem nie bestaan nie, is ‘n objektiewe standpunt ook nie moontlik nie en word die persoon se persepsies gerespekteer, al verskil dit van die hulpverlener s’n.

Hulpverlening volgens die uitgangspunte van die radikaal-konstruktiwisme fokus hoofsaaklik op die individu of groep se realiteite en die wyse waarop inligting of ondervindinge deur interne kognitiewe prosesse geprosesseer word. Die moontlikheid om nuwe persepsies te vorm is van deurslaggewende belang, want dit lei weer tot nuwe werklikheidskepping.

Die volgende veronderstellings van die radikaal-konstruktiwisme het implikasies vir die mens se verhoudingslewe en is daarom betekenisvol vir maatskaplike werk volgens die Christelike beskouing:

• Aangesien geen objektiewe werklikheid bestaan waaraan konsepte of sienings gemeet kan word nie, is die waarheid volgens die radikaal-konstruktiwisme baie relatief. Die siening dat waarheid nie bestaan nie, het implikasies vir die mens se verhouding met God Drie-enig, want vir gelowige Christene is God se alomteenwoordigheid nie ‘n relatiewe begrip nie, maar ‘n vaste waarheid wat bestaan. In Jh 14:6 word na die God van die waarheid verwys en daarom kan aanvaar word dat slegs God die vaste waarheid ken en dat die mens weens sy beperktheid nooit die waarheid volledig sal begryp nie, maar slegs volgens sy uniekheid en beperkte kennis met subjektiewe en onvolledige konstruksies van die waarheid te make sal kry.

• Die mens se selfsiening, wat ook sy liggaam insluit, is die produk van die mens se lewensvatbare ondervindinge. Daar word met ander woorde nie gevra wat is die self nie, maar hoe ervaar die mens homself. Sodoende word die fokus op die konkrete struktuur, die liggaam, geplaas. Elke mens konstrueer ‘n model oor die

bestaan van ‘n self, wat geëksternaliseer word om onafhanklik, tussen ander entiteite in die mens se omgewing, te kan bestaan (Von Glasersfeld 1995:123). Die wyse waarop die mens homself ervaar, voorsien met ander woorde boublokke vir die daarstelling van ‘n selfkonsep. Hierby sou gevoeg kan word dat naas die mens se persepsies van homself, mense ook konstruksies oor mekaar vorm en dat die mens se verhouding met God ‘n wesenlike invloed op sy selfsiening kan hê. • Die mens as ervaring-subjek raak in verhoudinge met andere betrokke. Soos

akteurs word spesifieke rolle aanvaar, wat eventueel as kenmerkende dele van die self beskou word. Von Glasersfeld (1995:127) wys daarop dat andere se reaksies deur die mens gebruik word om sekere kwaliteite aan homself toe te ken en om homself te beskryf. Dit impliseer dat mense se kennis van mekaar deur die betrokkenes se sienings gevorm word. Hierdie inherente sirkulêre proses is nie vir hom problematies nie, want mense is nie vry om andere te konstrueer soos hulle wil nie. Die sienings wat mense oor mekaar het, moet teen die betrokkenes se ervaringe getoets word vir lewensvatbaarheid en dit lei die mens in die rigting van etiese optrede. Mense se menslikheid moet in ag geneem word en hulle behoort nie soos objekte behandel te word nie. Mense word as onvervangbaar beskou en etiese gedrag manifesteer dan in die kies en nastrewing van sekere doelstellings.

• Die mens se verhouding met die wêreld berus volgens Von Glasersfeld (1995:123) daarop dat die mens se observasies hom van sy omgewing skei. Die mens vorm ‘n prent of model oor die wêreld en dit is sy kennis van sy ervaringsrealiteit. “Constructivism, thus, does not say there is no world and no other people, it merely holds that insofar as we know them, both the world and the others are models that we construct ourselves” (Von Glasersfeld 1995:137). Dit het die implikasie dat elke mens ‘n unieke konstruksie van die omgewing het, wat van andere mag verskil.

Die mens se verhoudinge is volgens die radikaal-konstruktiwisme ‘n reeks konstruksies of kennismodelle wat deur homself opgebou en gebruik word binne die realiteit waarin geleef word. Die mens se interaksie met homself, andere en faktore in sy omgewing speel ‘n deurslaggewende rol in die daarstelling, wysiging en instandhouding van konstruksies, tog wend Von Glasersfeld geen poging aan om hierdie wedersydse beïnvloeding te beskryf nie.

In die lig van bogenoemde word die gevolgtrekking gemaak dat Von Glasersfeld veral die innerlike en subjektiewe prosesse beklemtoon, waarvolgens inligting en invloede vanuit die omgewing verwerk word. Dit wysig die betekenisse wat aan konsepte soos kennis, die

waarheid en begrip geheg word en verskil daarom van enige tradisionele epistemologie. Radikale konstruktiwisme voorsien ‘n raamwerk en spesifieke siening oor die mens se aktiewe denkprosesse en poog om aan te toon dat die mens ‘n relatiewe stabiele siening oor sy realiteit vorm, wat op sy ondervindinge gebaseer is.

George Kelly se bydrae vir die toepassing van konstruktiwistiese idees in die terapeutiese veld word vervolgens uitgelig.