• No results found

Van die mees kenmerkende filosofiese idees en aannames van die konstruktiwisme en konstruksionisme word uitgelig, aangesien dit ‘n bepalende invloed op die inkleding van die narratiewe strategie het.

3.2.1 Die siening van die waarheid

Die bestaan van universele waarhede wat algemeen van toepassing is, word gediskrediteer. Tradisionele sienings dat die mens se realiteit konstant, ondersoekbaar en verstaanbaar is, word volgens Foshaugen (1999:2) vervang met die klem op die mens se voorkeure en subjektiwiteit. Die daarstelling van waarheid word gedesentraliseer, want dit word lokaal of plaaslik gevorm. Die mens se konkrete ervaringe is met ander woorde belangriker as abstrakte beginsels oor wat die waarheid verteenwoordig en geen enkele denksisteem geniet voorkeur bo ‘n ander nie.

Waarheid is konteks en tydsgebonde, word deur middel van sosiale interaksies gevorm en is nie die resultaat van die mens se objektiewe redenering nie (Schenck 1998:14). Dit impliseer dat die mens voortdurend besig is om sy eie realiteit te konstrueer en daarom kan sy siening van die waarheid konstant verander. Madigan (1998a:21) stem hiermee saam en sê die waarheid is ‘n sekere idee of konstruksie wat waarheidstatus verkry, standaarde stel oor wat is wenslik en daarom mense se lewens vorm. Die mens internaliseer met ander

woorde sekere kulturele aansprake oor die waarheid en hierdie sienings word deur sosiale interaksie bevestig. ‘n Voorbeeld hiervan is dat die persoon wat ‘n amputasie ondergaan het en homself as ‘n hulpelose gestremde sien, nie daarmee ‘n sekere vasgestelde waarheid uitleef nie, maar sy siening word binne ‘n sekere kulturele diskoers gevorm. Die moontlikheid bestaan dat hy op ‘n ander tydperk, sy opinie (of die sogenaamde waarheid) oor sy liggaam en die implikasies daarvan vir sy lewe kan verander.

3.2.2 Die bestaan van objektiewe realiteite

Volgens die konstruktiwisme is dit nie moontlik om ‘n objektiewe realiteit te ken nie, maar die mens se realiteit bestaan uit sy interpretasies van dit wat met hom gebeur. Daar bestaan nie objektiewe waarhede nie, daarom bestaan daar verskeie moontlikhede vir die mens om sy realiteite te beskryf. Realiteit word in die mens se denke gekonstrueer en word nie net daardeur waargeneem nie (Foshaugen 1999:2). Die mens se realiteit is dus vloeibaar, verander konstant en word deur die mens se denke en dade gevorm. Die mens het daarom die voorreg om sy eie idees te vorm en word nie beperk tot bestaande menings wat op hom afgedruk word nie.

Sekere realiteite soos siekte, dood en armoede kom in die mens se lewe na vore en is nie slegs konstruksies wat in ‘n mens se denke bestaan nie. Hier moet in ag geneem word dat die postmoderne epistemologie nie inligting verskaf oor wat bestaan nie, maar wel oor hoe die mens kennis van sy werklikheid bekom. ‘n Afleiding wat hieruit gemaak kan word, is dat die mens self betekenis heg aan gebeure en invloede in sy omgewing, daarom verteenwoordig die amputasie van ‘n ledemaat nie noodwendig sekere objektiewe waarhede nie, byvoorbeeld dat die persoon vir die res van sy lewe van andere se versorging afhanklik is nie. Volgens Gergen (1994:72) ontken die konstruktiwisme nie die bestaan van dinge in die algemeen nie, maar redeneer wel dat daar nie ‘n fundamentele beskrywing vir verskynsels of ervaringe bestaan nie. Enige poging om dit wat bestaan in woorde te omskryf, geskied deur menslike redenering en dit is die begin van die proses van konstruering. Die vermoë van ‘n woord of samestelling van woorde om die realiteit vas te vang is daarom ‘n plaaslike skepping. Dit het die verdere implikasie dat die lewe geïnterpreteer moet word, aangesien geen vaste waarhede of waardes bestaan nie.

Die konstruksionisme trek die vorming van menslike gedrag deur na die verhoudinge waarbinne die mens bestaan en verskuif die fokus van die individu se funksionering na die

onderhandelinge wat tussen mense bestaan. Alle pogings om iets te beskryf is volgens Gergen (1994:72) onafwendbaar verweef met die prosesse van sosiale interaksie, wat histories en kultureel gebonde is. Realiteite word met ander woorde sosiaal gekonstrueer en alle dinge wat deel vorm van die mens se realiteit (soos gelowe, gebruike en gewoontes), word deur mense gekonstrueer en uitgeleef (Freedman en Combs 1996:23). Die fokus op die mens se sosiale funksionering en die prosesse hoe betekenisse tydens die interaksie tussen mense gevorm word, is ‘n belangrike raakpunt wat tussen die konstruksionisme en maatskaplike werk bestaan.

3.2.3 Die vorming van kennis

Kennis word deur menslike interpretasies gevorm, dit is nooit volledig of finaal nie en word deur faktore soos klas, ras en etnisiteit gekleur. Kennis is dus die volgehoue produk van die taal, kultuur en sosiale praktyke waarbinne mense bestaan. ‘n Plaaslike gemeenskap bestaan uit mense wat hul lewensgebeure gesamentlik op ‘n bepaalde wyse interpreteer. Geen interpretasie van ‘n teks of situasie kan hiervolgens aanspraak maak op die hoogste outoriteit nie, want daar bestaan verborge teenstrydighede, wat die eenheid en samehang van kennisraamwerke belemmer. Gevolglik is alle kennis onafgehandel en daar bestaan nie iets soos die ware betekenis van ‘n teks of gebeurtenis nie. Enige vorm van kennis, saamgevat in grondige of grootskaalse teoretiese modelle of meta-narratiewe word gekritiseer vir die totaliserende invloed daarvan op die mens en gemeenskap. “Metanarratives are large-scale theoretical interpretations purportedly of universal application. They often have a terroristic or militaristic function to sanction the illusion of a universal human history” (Foshaugen 1999:2-3). Daarom word van die veronderstelling uitgegaan dat kennis nie los van die mens en sy konteks kan bestaan nie.

Volgens die konstruksionisme word kennis gesamentlik deur mense geskep en besit, in die mate waarin dit in verhoudinge onderhandel is. Die kenner, die kennis wat geskep word, kultuur, taal en ervaring is dus interafhanklik van mekaar en waarhede word tydens deelname aan sosiale of dialogiese interaksie geskep (Anderson en Goolishian 1988:375). Indien realiteit gesien word as iets wat sosiaal gekonstrueer word, is kennis ook verhoudings en konteksgebonde. Kennis word met behulp van taal geskep, soos wanneer mense onderling met mekaar in interaksie tree, gesamentlike besluite neem en samehangende sienings oor hul belewenisse en lewensgebeure formuleer. Konstruksionisme daag die tradisionele siening uit dat die waarheid deur taal weergegee

word en dat wetenskaplike sistematisering iets kan beskryf, sonder om die kulturele en kontekstuele daarvan te verreken.

Betekenis en begrip is volgens Anderson en Goolishian (1992:27) die resultaat van die aksie verbonde aan kommunikasie. Betekenisgewende diskoers of dialoog vind plaas in ‘n sisteem vir wie die kommunikasie relevant is. Volgens die konstruksionisme is taal ‘n sosiale proses en Gergen (1994:46) argumenteer dat woorde leeg en passief is, maar aktief word wanneer dit deur mense in ‘n verhouding gebruik word. ‘n Verhouding tussen persone is nodig, voordat die kontekstuele konstruksie van realiteit moontlik word. ‘n Kritiese beoordeling van die verhoudinge wat tussen taal, sosiale prosesse en die vorming van kennis bestaan, is daarom nodig om te verstaan hoe diskoerse in mense se verhoudinge funksioneer en hoe kennis gesamentlik daargestel en benut word.

3.2.4 Taal en werklikheidskepping

Die ontwikkeling van postmodernistiese idees gaan ten nouste gepaard met die filosofiese beredeneringe oor die rol wat taal in die mens se lewe speel. Die mens bestaan in taal, want die mens het taal nodig om dit wat gesien en gehoor word, te beskryf, te verstaan, te ken en te herken (Andersen 1993:303). Die kennis wat die mens as algemeen geldend beskou en die vooroordele wat daarmee gepaard gaan, bestaan in die taal wat mense gebruik.

Volgens Efran, et al. (1988:32) is taal nodig om die komplekse aksies in 'n gemeenskap te koördineer en daarom praat konstruktiwiste van menslike lewens as die bestaan in gesprekke. Taal is selfrefleksief, want met taal konstrueer persone binne 'n bepaalde kultuur, konteks en tyd hul realiteite (Schenck 1998:16). Taal word sodoende die medium waarmee die mens sy realiteite konstrueer en homself beskryf. Taal word gesien as die metafoor vir die lewe (Janse van Rensburg 2000a:6). Dit impliseer dat die betekenisse van woorde nooit vasgestel is nie en die interpretasie van die teks hou verband met die konteks waarin dit geskryf is. In die lig hiervan is die mens se sienings, interpretasies en die teks van die mens se lewe in ‘n konstante proses van verandering.

Menslike sisteme is taalgenererend en die kommunikasie tussen mense vind in taal plaas. Kommunikasie en diskoers definieer ‘n sosiale organisasie en is nie die produk van ‘n sosiale organisasie of eenheid nie (Anderson en Goolishian 1992:27). 'n Sosio-kulturele sisteem is dus die produk van die sosiale kommunikasie tussen mense. Dit impliseer dat

die realiteite van deelnemers aan ‘n sekere gesprek, die beste deur hulself beskryf kan word en nie deur objektiewe waarnemers nie. In aansluiting hiermee sê Freedman en Combs (1996:28): “… the language that we use constitutes our world and beliefs. It is in language that societies construct their views of reality”. Mense verkry kennis van hulself en die wêreld deur gebeurtenisse en hul sienings met mekaar te bespreek. Taal word gebruik om inligting oor te dra en om gebeure te interpreteer. Taal is ‘n interaktiewe proses en nie die passiewe ontvang van bestaande waarhede nie. Deur gesprekvoering oor die betekenisse van ‘n woord, skep die mens sy realiteite. Taal verander voortdurend en elke woord se betekenis hou verband met ‘n sekere konteks en elke konteks verskil van die ander. Daarom kan die presiese betekenis van ‘n woord nie bepaal word nie, want dit word voortdurend tussen mense onderhandel.

In die lig van bogenoemde kan gesê word die mens uitdrukking gee aan sy werklikheid deur taal en verandering vind in taal plaas. Die mens se perspektiewe, narratiewe en subjektiwiteit word in die taal wat die mens in ‘n sekere konteks gebruik, uitgedruk. In taal kom ‘n verskeidenheid van diskoerse en interpretasies na vore, gevolglik bestaan die mens in ‘n verskeidenheid van narratiewe. Diskoerse tussen mense is meer as net die woorde en stellings wat gebruik word, want dit hou verband met die mens se meningsvorming en verhoudingsnetwerke. Bestaande diskoerse in ‘n groep of gemeenskap kan daarom die mens se konstruksies beperk, deur voor te skryf wat gedink en gesê mag word, asook wie die gesag het om iets te sê. Aan die ander kant skep gesprekvoering geleenthede om nuwe betekenisse vir problematiese sienings, gevoelens en gedrag, te onderhandel.

3.2.5 Menslike sisteme is betekenisgenererend

Alles wat gesê word, spruit uit 'n sekere tradisie voort en dit het slegs in daardie konteks betekenis (Efran, et al. 1988:29). Buite 'n sekere konteks is dit betekenisloos en binne 'n nuwe konteks beteken dit iets anders. Maatskaplike probleme is daarom nie omstandighede of aksies wat in isolasie plaasvind nie, maar bestaan binne 'n sekere konteks, omdat die individu, groep of gemeenskap sekere gedrag of faktore in hul omgewing as problematies beleef en beskryf. Dieselfde probleem kan deur ‘n ander individu of groep as aanvaarbaar en as nie-problematies beskryf word.

Die konstruktiwisme beklemtoon dat 'n verskeidenheid van betekenisse aan gebeure of ondervindinge geheg kan word. Jacques Derrida gebruik die metafoor van tekstiel om dit

te verduidelik, want drade word in ‘n tekstiel ingeweef, wat konstant die voorkoms van die tekstiel verander (Janse van Rensburg 2000a:10). Net so verander die herinterpretasie van ‘n teks, of dit wat in die hede ervaar word, voortdurend vorige konstruksies. Die implikasie hiervan is dat geen eenvormige betekenis aan iets geheg kan word nie en niks het 'n vasgestelde betekenis nie. Dit skep ruimte vir die daarstelling van verskillende standpunte oor ‘n aangeleentheid.

Volgens die konstruksionisme word betekenis en begrip binne verhoudinge en intersubjektief gekonstrueer. Anderson (1993:324) sien die gee van betekenis as “… an intersubjective phenomenon, created and experienced by individuals in conversation and action with others and with themselves. This assumes that human action takes place in a reality of understanding that is created through social construction and dialogue and that we live and understand our lives through socially constructed narrative realities, that is, that we give meaning and organization to our experiences and to our self-identity in the course of these transactions.” Kommunikatiewe aksie tussen mense dui op die dialoog wat in ‘n sosiale sisteem plaasvind, waardeur betekenis aan gebeure geheg word. Met intersubjektief word bedoel dat twee of meer persone saamstem dat hulle dieselfde gebeurtenis op dieselfde wyse ervaar. Kommunikasie verkry met ander woorde relevansie na ‘n bepaalde onderhandelingsproses, waartydens hulle gesamentlik bepaalde gebeure geïnterpreteer het. Die ooreenkoms is egter baie broos en bly voortdurend oop vir herinterpretasie. Kommunikasie, dialoog en samewerking tussen mense het daarom verreikende gevolge vir die mens se interpretasie en belewenisse van sy lewensondervindinge.

3.2.6 Pluralisme

Vir die postmodernisme is teorieë en idees konteks- en kultuurgebonde en wat vir een gemeenskap belangrik is, maak dalk geen sin vir ander gemeenskappe nie. Die bestaan van verskille, meervoudigheid en diversiteit word waardeer. Die klem is op verskeidenheid en die verskillende wyses hoe die wêreld deur die mens gekonstrueer kan word. Dit lei volgens Gergen (1994:92) tot ‘n wye reeks moontlikhede om dinge te verstaan en hulp te verleen. Die beklemtoning van verskeidenheid en verskille kan daarom ‘n positiewe bydrae lewer om die maatskaplike werker se aandag te vestig op alternatiewe sienings en beskrywings van die persone wat maatskaplikewerkdienste ontvang en die probleme wat ervaar word. Volgens Schenck (1998:15) gee hierdie siening daartoe aanleiding dat alle mense se idees relevant, belangrik en gelyk is. Hierdie

uitgangspunt gee gestalte aan maatskaplike werk se beginsels (vgl. 2.3.3) wat die unieke bydrae van elke deelnemer aan die hulpverleningsproses erken, elkeen se betekenisgewing met respek hanteer en die demokratiese proses in maatskaplike werk bevorder. Waardering vir verskeidenheid en respek vir die kundigheid van elke deelnemer, as gelyke gespreksvennoot, toon ooreenkomste met deelnemende werkswyses (vgl. 1.4).

3.2.7 Die mens se identiteitsvorming

Volgens die konstruksionisme is die mens 'n sosiale of verhoudingskonstruksie (Schenck 1998:17). Die siening van die self is ‘n konstruksie wat deur sosiale interaksie gevorm word. Gergen (1994:188) sê: “… the self-narrative is a linguistic implement embedded within conventional sequences af action and employed in relationships in such a way as to sustain, enhance, or impede various forms of action”. Die klem verander van interne selfpersepsies na die prosesse om verskeie selfkonsepte te konstrueer en te herkonstrueer, met verskillende funksies in die verskillende verhoudinge wat die mens het. Freedman en Combs (1996:32) sluit hierby aan: “’Selves’ are socially constructed through language and maintained in narrative. We think of a self not as a thing inside an individual, but as a process of activity that occurs in the space between people.” Die mens is van ander mense en vormende faktore in sy konteks afhanklik om ‘n selfbeeld te vestig en te wysig. ‘n Negatiewe selfbeeld is gevolglik nie ‘n vasgestelde gegewene nie en ander selfsienings kan geëksploreer word. Hierdie siening skep die geleentheid aan die mens om sy verhouding met homself te verbeter.

3.2.8 Die rol van mag

Die mag wat gepaard gaan met die aansprake van die wetenskaplike proses om objektiewe kennis te versamel, word gekritiseer. Janse van Rensburg (2000a:10) verwys na die werk van Michel Foucault wat ondersoek ingestel het na die neiging in Westerse samelewings om mense as normaal of abnormaal te kategoriseer en kom tot die gevolgtrekking dat dit ‘n belangrike bydrae gelewer het om die rol en gevolge van mag in gemeenskappe uit te lig. Foucault (Madigan 1998a:16; Janse van Rensburg, 2000a:10) ondersoek onder andere die prosesse waarvolgens mense as siek beskryf word en hoe hulle as gevolg van dié etikettering onderdruk word. Taal word ‘n instrument van mag, want mense oefen mag uit in die mate wat hulle kan deelneem aan die vorming en instandhouding van dominerende diskoerse in ‘n samelewing. ‘n Verband ontstaan tussen die besit van kennis en die uitoefening van mag, want die diskoerse in ‘n samelewing bepaal watter kennis of sienings

as waar en reg beskou word. Persone wat die diskoerse en historiese, kulturele en algemeen-aanvaarde kennisraamwerke in ‘n samelewing beheer, is daarom in ‘n magsposisie, wat misbruik kan word en tot die onderdrukking van ander vorme van kennis aanleiding kan gee.

3.2.9 Morele relatiwisme

Die konstruktiwistiese siening dat mense hul realiteit kan skep en herskep en dat een siening, narratief of vorm van waarheid nie bo die ander verhef kan word nie, gee aanleiding tot morele relatiwisme. Geen duidelike morele of etiese riglyne bestaan oor wat reg en verkeerd, wenslik of onwenslik is nie. Volgens Gergen (1994:81) word een stel van morele veronderstellings nie bo ‘n ander gestel nie en daarom word ruimte vir verskillende sienings en godsdienste geskep en alle uitsprake word as geldig aanvaar. Die waarde hiervan is dat dominante diskoerse en die effek daarvan op mense se lewens onder die soeklig kom. ‘n Gevaar verbonde aan morele relatiwisme is dat dit toewyding aan ‘n sekere stel waardes ontmoedig en geen motivering verskaf om vernuwing in die lewe van individue of ‘n gemeenskap bevorder nie. So ‘n benadering wek verder die indruk dat alle standpunte getolereer word en dat die konstruktiwisme opsigself geen morele standpunt bevorder nie.

In teenstelling met die konstruktiwisme wat die geldigheid van die individu se morele konstruksies bepleit, beklemtoon die konstruksionisme die rol van kommunikatiewe aksie vir die daarstelling van etiese riglyne. Moraliteit is volgens die konstruksionisme nie die besit van ‘n persoon nie, maar gekoördineerde aktiwiteite met ‘n morele betekenis in ‘n sekere kultuur (Gergen 1994:109). Individue is binne die kultuur van ‘n sekere gemeenskap ingebed en dit is binne hierdie raamwerk dat die individu morele verantwoordelikheid vir sy aksies aanvaar. Die sosiale konstruksie van moraliteit het volgens Gergen (1994:111-112) die voordele dat mense saamwerk om morele betekenisse daar te stel, die individu word nie alleen aanspreeklik gehou vir immorele gedrag nie en morele gedrag word bevorder, omdat die riglyne binne verhoudinge gevorm word. Die klem is dus op die morele aksies binne die narratiewe van mense, wat die produk van volgehoue interaksie met andere is en nie die individu se private moraliteit nie. ‘n Verdere gevolgtrekking is dat die individu se konstruksies oor goed en sleg, aanvaarbaar en nie- aanvaarbaar, nie sonder onderhandelinge kan bestaan nie. Die daarstelling van ‘n morele waardesisteem is ‘n dinamiese proses en kan nie deur een persoon op ‘n ander afgedruk word nie. Immorele gedrag kan teenkanting verwag, want dit staan in teenstelling met die

onderlinge konsensus, wat binne ‘n groep van interpreteerders, onderhandel is. Die siening dat morele gedrag kollektief beding word, vervang nie die individu se verantwoordelikheid om keuses uit te oefen nie.

3.2.10 Dekonstruksie

Dekonstruksie is die onvermydelike uitkoms tot die benadering van kuns en literatuur in ‘n postmoderne tydperk, want hiervolgens kan 'n teks of storie in enige rigting ontwikkel, sonder om getrou te bly aan enige struktuur of objektiewe waarheid. Dekonstruksie verklaar dat die bedoeling van die skrywer van ‘n teks irrelevant is vir die interpretasie van die teks (Foshaugen 1999:2). Twee beginsels wat hieruit vloei, is dat geskrifte betekenis oordra wat die skrywer nie bedoel het om oor te dra nie en die skrywer kan nie in woorde oordra wat hy bedoel het nie. Dekonstruksie is deel van alle postmoderne diskoerse, want dit is bedoel om die mens skepties te laat kyk na sienings en konsepte wat as vanselfsprekend aanvaar word.

Derrida (Lax 1992:71) se siening dat taal 'n sisteem van simbole, wat positiewe of negatiewe waarde kry wanneer betekenis daaraan geheg word, is betekenisvol. 'n Verskeidenheid van betekenisse kan aan een woord geheg word en daar bestaan spanning