• No results found

Die mens as God se instrument om andere se lyding te help dra

2.2 DIE CHRISTELIKE MENSBESKOUING

2.2.6 Die mens as God se instrument om andere se lyding te help dra

Jesus se lewe wys heen na God se betrokkenheid en omgee vir die mens se ewige verlossing en sy tydelike behoeftes. Dit blyk duidelik dat Jesus ‘n instrument in God se hand was om die mensdom se lyding te verlig. In Mt 20:26-27 maan Jesus Sy dissipels (en al sy volgelinge) om mekaar se dienaar en slaaf te wees. Wanneer ‘n gelowige in gehoorsaamheid aan God ‘n diens lewer aan ‘n medemens of saak in die skepping, word hy ‘n instrument wat deur God gebruik word. Die mens se gehoorsaamheid aan God, die bereidheid tot dienslewering, opofferinge en ‘n nederige ingesteldheid word hiermee geïmpliseer (Kysar 1991:41). So ‘n ingesteldheid en lewenswyse is strydig met dienslewering wat onderdrukking of uitbuiting tot gevolg kan hê.

• Die opdrag en roeping om ‘n instrument te wees wat lyding help dra

Volgens die Bybel het die gelowige ‘n koninklike (heersende) funksie en priesterlike (dienende) rol en is vir God afgesonder (1 Pt 2:9), om te leef as God se eiendom en met die opdrag om Sy verlossing te verkondig. Elke Christen ontvang die roeping van God om ‘n instrument te word wat Hy kan gebruik om sy liefde aan die mensdom in nood te betoon. 1 Kor 3:9 sluit hierby aan en sê mense is medewerkers in diens van God. Hierdie siening rig die mens se denke en keuses oor sy rol in die wêreld en die wyse waarop verhoudinge gebou en in stand gehou word. Die mens word as’t ware deur God in diens geneem om as Sy verteenwoordigers ‘n sekere lewenstyl te volg en so verkry die lewe betekenis en doelgerigtheid.

In Jh 9:4 nooi Jesus sy volgelinge uit om saam te werk om God se werk op aarde te verrig en verduidelik dat dit beteken om ‘n lig in die wêreld te wees. Hierna gaan Jesus voort en genees ‘n blinde man. Jesus se genesing van siekes word dikwels in die Bybel beskryf (Mk 2:1-12; Mk 3:1-6). Jesus se optrede toon dat Hy duidelikheid oor sy roeping gehad het en ten volle gehoorsaam was om God se deernis met diegene wat ly, prakties uit te leef. Jesus se leringe en dade was dus in lyn met mekaar en ingestel op die verligting van siekte, gestemdheid en ander vorme van lyding. Kysar (1991:34) waarsku daarteen om die fisiese hulp wat Jesus verleen het, te vergeestelik, deur dit slegs te sien as ‘n wyse om die gawe van verlossing in Jesus oor te dra. Sodoende gaan die roeping vir Jesus se navolgers om mense se fisiese nood te verlig, verlore. Dienslewering in gehoorsaamheid aan God en as 'n reaksie op Jesus se uitnodiging is daarom op die mens se verlossing uit sonde ingestel, asook die praktiese meelewing met en verligting van nood.

• Die praktiese implikasies om ‘n instrument te wees wat lyding help dra

Die mens wat sy waarde in God se oë en roeping besef, begin om ‘n lewe van dankbaarheid te leef en sy gedagtes en dade word vergelyk met ‘n lewende offer (Rm 12:2). Dit beteken nie ‘n lewe van selfgerigtheid nie, maar eerder betrokkenheid by andere en die omgewing. Heyns (1978:140) is daarom van mening dat die mens wat innerlik gegryp is deur God, kan nie anders as om ook gegryp te wees deur die onvolkomendheid van die wêreld van vandag nie. Die Christen besef met ander woorde sy eie tekortkominge en uit dankbaarheid teenoor God vir sy verlossing, is hy sensitief vir die nood van die mensdom en wêreld.

Die lewe van die verloste mens (Kol 3:10) beteken dat die mens saam met andere deel verkry aan ‘n nuwe werklikheid, naamlik die liggaam van Christus. Alle gelowiges, ongeag van watter volk, geslag of status, is lede van Sy liggaam op aarde. Die metafoor dat mense gesamentlik die liggaam van God vorm, bevestig die belangrikheid van die mens se betrokkenheid by andere en die taak om mekaar aan te vul. In 1 Kor 12:25 word gepleit dat daar nie verdeeldheid tussen mense sal wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar sal dra. Mense het die verantwoordelikheid om mekaar te versorg en te ondersteun. 1 Kor 12:26 se woorde “... [a]s een lid ly, ly al die lede saam”, bevestig mense se interafhanklikheid van mekaar, asook die verantwoordelikheid om mee te leef met diegene wat een of ander vorm van lyding ervaar.

Meelewing met mense in al sy fasette is ‘n kenmerk van iemand wat ‘n werktuig in God se hand is. God se sorg en genade sluit alle mense, uit alle nasies en onderdrukte groepe soos persone met gestremdheid in. Mk 7:24-30 beskryf byvoorbeeld hoe Jesus Hom oor ‘n vrou van ‘n ander bevolkingsgroep as Hyself ontferm het, deur haar kind van ‘n bose gees te genees. Kysar (1991:50) kom tot die gevolgtrekking dat: “God is One whose concern embraces all persons without regard to their social, moral, religious, economic, or ethnic standing. A ministry that is true to the Jesus image of God, then, is one that is as fully inclusive as was the ministry of Jesus. Such a ministry does not use social status as a criterion for acceptabililty, as a measure of worthiness, or as a prospect for future potential.” Dienslewering aan andere skep die geleentheid aan die maatskaplike werker wat hulp vanuit die Christelike perspektief verleen, om God se versorging van die mens ‘n werklikheid op aarde te maak.

Die mens word deur God toegerus om sy roeping op aarde te vervul. Heyns (1978:139) sê: “Volgens die Skrif is die mens op weg na God se plan met sy lewe, na die verwerkliking van daardie plan. Tussen die plan en die verwerkliking van daardie plan lê die roeping van en die toerusting deur God.” 2 Tm 3:17 vertel van die troos en krag van ‘n lewe wat op God gerig is “… sodat die mens wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk”. Die gelowige se roeping en die toerusting wat hy daarvoor ontvang, is vervleg. “What ties together this entire spiral trajectory from Genesis to Revelation is the consistent biblical insight that humans are, from the beginning, throughout history, and at the end of the age, both gifted by God with a royal-priestly status and dignity (implying access to the divine presence and genuine agency and power in the world) and called by God actively to represent his rule as Creator and Redeemer by the manner in which they use their power” (Middleton en Walsch 1996:140). Die mens as

geroepene van God en toegerus vir sy roeping, verskaf ‘n alternatief vir die dehumaniserende menslike identiteit wat in die hedendaagse postmoderne konteks aangetref word. Die Christen se identiteit is geanker in sy verhouding met God Drie-enig, wat hom bemagtig om sy roeping te vervul, deur in sy persoonlike lewe en sy omgewing met gesag oor die sonde te heers. Die mens se lewe en liefdevolle dienslewering aan andere word ‘n antwoord op God se roeping om as Sy verteenwoordigers met gesag oor die skepping te heers en die gebrokenheid in die skepping aan te spreek.