• No results found

2.2 DIE CHRISTELIKE MENSBESKOUING

2.2.5 Die sin en doel van die mens se lewe op aarde

God het die mens primêr geskape om Hom alleen te aanbid, wat verband hou met die behoefte om sin en ‘n doel met sy lewe te ervaar. Volgens Dyson, et al. (1997:1185) hou die mens se soeke na betekenis verband met sy verhoudinge met homself, andere en God, wat nie noodwendig vir alle mense God Drie-enig is nie. Dit impliseer dat daar na verhoudinge en situasies gesoek word wat aan die mens die belewenis van waarde gee, asook ‘n rede om te leef. God se bedoeling met die mens word deur Crafford (1996:219) beskryf: “God het egter nie Sy doel met die mens bereik voordat Hy van sy kant af Homself in die regte verhouding tot die mens geplaas het nie.” God skep die behoefte by die mens om ‘n verhouding met Hom te hê. ‘n Lewende verhouding met God, of ‘n ander mag groter as die mens self, is moontlik omdat elke mens as ‘n religieuse wese geskape is. Religie is volgens Crafford (1996:218) die bewussyn en aanvaarding van ‘n misterieuse, transendente dimensie of werklikheid wat die mens se bestaan beïnvloed en waarmee hy in ‘n bepaalde verhouding staan. Dit is ‘n primêre ingesteldheid tot die lewe wat eie aan die mens is en waarmee hy sy eie posisie ten opsigte van die skepping en die transendente werklikheid moet bepaal. Die wete dat God hom met ‘n gees geskape het, stel die Christen in staat om van ‘n transendente werklikheid bewus te wees. Hierdie dimensie in die nuwe herskepte mens is volgens Louw (1991:143) die mens se totale oorgawe, transformasie en gerigtheid op God.

In Flp 2:5-8 word Jesus se navolgers opgeroep om dieselfde gesindheid as Hy te hê, naamlik om vanuit ‘n nederige posisie andere te bedien en om dissipels van alle nasies te maak. Jesus stel die voorbeeld deur as koning oor die skepping en sonde te heers en terselfdertyd die gehoorsame en dienende gestalte van God se slaaf of dienskneg aan te neem. Deur Jesus se voorbeeld na te volg, toon die Christen en Christelike kerk dan tekens van die roeping om ‘n seën vir al die nasies te wees. Rm 14:7-8 sê: “Want niemand van ons leef vir homself nie … Want as ons leef, lewe ons tot eer van die Here; en as ons

sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” Jesus wat die volmaakte beeld van God op aarde was, stel ook die volmaakte voorbeeld aan die mens hoe om God se wil te ken en te doen. In Jh 5:30 sê Jesus: “Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” Selfs in sy donkerste uur van benoudheid bid Jesus in gehoorsaamheid, soos blyk uit die woorde van Mt 26:39: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Die mens se wil vir sy lewe word daarom onderwerp aan God se wil. Die mens wat gehoorsaam is aan die roeping wat hy van God ontvang het, is besig om met alles wat hy doen tekens van God se koninkryk op aarde op te rig.

Die mens se keuses om gehoorsaam aan God se roeping te wees, sal bepaal of hy sy Godgegewe doel op aarde bereik. Die mens speel 'n belangrike rol in God se Skeppings- en Verlossingsverhaal, want Hy het nie net die mens geskep om 'n verhouding met hom te hê nie, maar wil ook die mens gebruik om Sy doel met die skepping te bereik. Louw (1991:117) wys daarop dat die mens in die huidige kultuursituasie ‘n identiteitskrisis ervaar, wat kan ontaard in die lewe as ‘n oorlewingstryd, wat nie tot eer van God strek nie. God se doel is dat die mens meer en meer sal word wat God wil hê hy moet wees en om diensbaar in God se koninkryk te wees.

Die mens se uitlewing van sy roeping is vervleg met die belewenis dat sy lewe sinvol is. Die Christen se roeping word deur Middleton en Walsch (1996:141) omskryf as: “God’s redeemed people have been called from servile passivity before the oppressive and futile gods of the age and pressed into active service as ambassadors of an alternative kingdom, called to embody and image God’s own compassionate use of power to empower others.” Hulle gebruik die metafoor van ‘n prisma om te beskryf hoe die mens God se briljante kleure in ‘n reënboog van kulturele aktiwiteite en dade na vore moet bring en wel op so ‘n wyse wat met die glorie van God se Gees ooreenkom en Christus se heerskappy laat manifesteer. As God se gawes aan en beelddraers op aarde word gelowiges en die Christelike kerk bemagtig om as die liggaam van Christus voort te gaan met sy missie, naamlik om God se teenwoordigheid te laat manifesteer en om God se lig (liefde, verlossing en bystand) oor die wêreld en mense te gooi waar hulle in hul omstandighede vasgevang is. In plaas daarvan om op ’n passiewe wyse kulturele konstruksies te weerspieël, word Christene geroep om God se liefde, binne hul verhoudinge en kultuur, uit te leef. Die Christen, as deel van die kerk, word vernuwe en bemagtig om God se vele

gesigte in die wêreld te reflekteer. Rm 12:2 roep die mens op om nie gelyk te word aan die sonde in die wêreld nie, maar om as aktiewe ambassadeurs van God se koninkryk op aarde te heers, totdat Hy weer kom en die skepping sal herstel tot dit wat dit moet wees. Die Christen se sinbelewing is daarom vervleg met ‘n persoonlike en lewende verhouding met God, ‘n lewe van oorwinning oor die bose en nederige dienslewering.

In die lig van die voorafgaande is dit die Christen gelowige se primêre lewensdoel om God Drie-enig te ken, te dien en met sy lewe te eer. Ef 4:24 sê: “… lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig”. Heyns (1978:123) sluit hierby aan: “Om te hoor en te gehoorsaam en al gehoorsamende God te loof, is die mees eintlike vorm van die menslike bestaan.” Die mens het die vermoë om na God se uitnodigings te luister en is in staat om ‘n antwoord hierop te kan gee. Louw (1991:154-155) verwys na “… ‘n bewyssyn van ‘n transendente faktor binne-in ons bestaan en sosiale konflikte”. Dit beskryf dan ‘n bewussyn van God wat in tweërlei aksies na vore tree, naamlik in gebed as gemeenskap met God met die oog op geloofsgroei en in dade van barmhartigheid en liefde binne die sosiale konteks met die oog op lewensvernuwing en die strukturele verandering van die politieke omgewing. God se wil vir die mens het met ander woorde persoonlike en sosiale dimensies. Die herskepte mens vind sin en lewensrigting deur God te ken, in 'n persoonlike verhouding met Hom te leef en om God se wil vir sy aardse lewe en verhoudinge uit te leef. Vanuit die Christelike beskouing hou die mens se belewenis dat hy ‘n doel het om na te streef en dat sy lewe op aarde sinvol is, verband met sy roeping om tot God se eer op aarde te leef en mee te werk om God se wil op aarde te realiseer.