• No results found

Die mens as herskepte wese deur die verlossing in Jesus Christus en

2.2 DIE CHRISTELIKE MENSBESKOUING

2.2.4 Die mens as herskepte wese deur die verlossing in Jesus Christus en

God het in Sy liefde voorsiening gemaak vir die verlossing van die mens wat nie meer Sy beeld vertoon en ‘n waardige verteenwoordiger van Hom op aarde is nie. God bly getrou aan sy beloftes en die verbond wat Hy met sy kinders aangegaan het. Telkens spreek God ‘n herskeppende woord en herstel van Sy kant af die gebroke verhouding tussen Hom en die mens. In Gn 3:9 roep God na die sondige mens deur te vra: “Waar is jy?” en in Gn 3:21 maak Hy vir die mens klere om aan te trek, om so sy naaktheid (ook sondigheid) te bedek. God reik met woord en daad na die mens in sy sonde uit. God herhaal in Gn 9:1 die seën-, heerser- en kultuuropdrag van Gn 1:28–30 en roep weereens die mens op om Sy beeld te vertoon en om Sy verteenwoordiger op aarde te wees. Die gevolgtrekking word gemaak dat die mens nie na die sondeval die potensiaal verloor het om die beeld van God te vertoon nie. God se genade teenoor die sondige mens blyk telkens uit Sy oproepe van die mens om Sy navolger te wees en om die mensdom na Hom toe terug te lei.

• Die verlossing in Jesus Christus

God se bedoeling met die mens as Sy beelddraer word herstel in die menswording van Christus, want die gekruisigde en opgestane Christus is God se ewebeeld (Crafford

1996:218). In Sy oneindige ontferming en genade het God sy eniggebore Seun gestuur om vir die sondige mens se sondes te sterf. O’Collins (2007:7) wys daarop dat die naam Jesus in die oorspronklike Hebreeuse taal beteken God red of God is redding. Jh 3:16 sê: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” God straf Jesus in die plek van die sondige mensdom en daardeur word die mens se redding, uit ‘n sondige aardse bestaan en ewige straf vir sy sonde, verseker. Deur middel van Jesus Christus se versoeningsdood word die mens se verhouding met God en Sy geskende beeld in die mens herstel.

In die Ou Testament word die mens se redding deur Jesus se lyding, dood en opstanding op verskeie plekke voorspel (Jes 9; Ml 3). Die Bybel stel dit duidelik dat redding van sonde slegs deur die verlossingswerk van Jesus Christus moontlik is. Jh 14:6 sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” In Rm 5:12-21 sê Paulus dat vergewing van sonde en lewe moontlik is deur gehoorsaamheid aan Jesus, wat impliseer dat die mens ‘n keuse het om God se genade en vergifnis te aanvaar. Die mens kan met sy bekering of wedergeboorte op hierdie uitnodiging van God reageer. Die Christelike beskouing ontken nie die rigtinggewende rol wat nie-Christelike godsdienste in mense se lewens kan speel nie, maar aanvaar dat die mens se verlossing uit sonde slegs deur geloof in Jesus se verlossingswerk moontlik is.

Paulus moedig die gelowiges in Gl 4:19 aan om toe te laat dat Christus in hulle gestalte kry, deur die verlossing wat Jesus bewerk het in geloof aan te neem. Kol 2:9–10 verduidelik: “In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in die verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor al die bose magte.” Die afsterwe van die sondige mens en die vergestalting van die nuwe mens (Kol 3) vind plaas wanneer die mens Jesus se verlossing vrywillig aanvaar. Daardeur word die mens weer na die beeld van God vernuwe, met die vermoë om weerstand te bied teen die sonde wat in sy eie lewe en in die van die wêreld om hom bestaan. Die gelowige mens se dankbare reaksie hierop word in Rm 7:24 verwoord: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank!” Jesus se selfverloëning om vir die mens se sondes te sterf en Sy mag en oorwinning oor die dood en sonde soos deur Sy opstanding gedemonstreer, skep die geleentheid vir die gelowige mens om as herskepte wese, ‘n nuwe lewe tot eer van God te leef.

Die moontlikheid tot herskepping bestaan vir die hele mensdom, want elke mens het ‘n keuse of hy deur Jesus herskep wil word. Jh 6:40 sê: “Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” Jesus het met ander woorde nie net vir Sy navolgers redding gebring nie, maar die mens se verlossing uit sonde gee aan die Christen ‘n toekomsgerigtheid, wat die ewige lewe na die dood insluit. Maatskaplike werk volgens die Christelike beskouing hou rekening met die invloed wat Jesus se verlossingswerk op die mens se liggaamsgebreke, verhoudingsprobleme, keuses en ewigheidsbestemming kan uitoefen.

• Die leiding van die Heilige Gees

Volgens Louw (1998:151) strek die Christelike beskouing van die mens verder as die skeppingsleer (daaruit blyk die mens se verhouding en afhanklikheid van God) en die perspektief op Christus se Middelaarsfunksie (daaruit blyk die mens se versoening met God deur die verlossing wat Christus bewerk het). Beide perspektiewe kry betekenis deur te verstaan dat God deur sy Heilige Gees in mense woon en hulle leer hoe om as herskepte mense volgens Sy wil te leef. Louw (1998:205) wys daarop dat die Heilige Gees op die mens se innerlike geestelike dimensie inwerk. Die uitstorting van die Heilige Gees word in Jh 14 deur Jesus beloof en is volgens Hd 2 op die gelowiges uitgestort. Die Heilige Gees is by die mens se bekering betrokke en bevestig die mens se geloof dat hy as verloste wese tot eer van God kan en wil lewe. Rm 8:16 sê: “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” Deur die wedergeboorte verkry die mens ‘n nuwe dimensie, naamlik ’n Godgerigtheid en die Heilige Gees speel ‘n belangrike rol om die mens se sondige sienings en gedrag te verander. Wanneer maatskaplike werk vanuit die Christelike beskouing beoefen word, word die werking van die Heilige Gees erken. Dit hou in dat die mense aan wie hulp verleen word, deur die Heilige Gees oortuig kan word van sekere gedrag of houdings wat van sonde getuig, asook dat die Heilige Gees se herskeppende krag die mens in staat kan stel om sondige lewenswyses te verander.

Die herstel van God se beeld in die mens word deur Crafford (1996:218) verbind aan die werk van die Heilige Gees. Die rol van die Heilige Gees om die lewe van gelowiges te verander word in 2 Kor 3:18 verduidelik: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.” Volgens die Christelike mensbeskouing is die

gelowige mens se lewe ‘n lewenslange proses van groei in heiligmaking, om sodoende al meer en meer God se beeld op aarde te vertoon. 2 Tm 3:16 sluit hierby aan en wys daarop dat die hele Bybel deur God geïnspireer is en vir die mens van groot waarde is om die regte lewenswandel aan te kweek. Kol 4:9–10 stem hiermee saam: “Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.” God Drie-enig se bedoeling is dat die mens se lewe op ‘n lewende verhouding met Hom gerig moet wees en nie op sy eie selfverlossingspogings nie. Die herskeppende ingryping van God Drie-enig is nodig om die mens in staat te stel om tot eer van God te lewe en om sy Godgegewe doel te bereik.

Die mens as denkende wese het die vermoë om op God se uitnodigings tot bekering te antwoord of om die transformasie (verlossing uit ‘n sondige lewenswyse) te weerstaan. Die mens se vertroue in en gehoorsame navolging van God Drie-enig is van deurslaggewende belang. Rm 8:19 sê: “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.” 1 Kor 2:12 stem hiermee ooreen: “Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom, en daardeur weet ons wat God ons uit genade geskenk het.” Die verloste mens geniet die begeleiding van die Heilige Gees en word so verander om God se heerlikheid uit te straal. Met behulp van die veranderinge wat die Heilige Gees bewerk, begin die mens om kenmerke te vertoon wat aan God Drie-enig herinner. God se barmhartigheid, genade, trou, lankmoedigheid, liefde en vermoë om oor die sonde te heers, kry dan gestalte in die mens se funksionering. Die mens se vermoë om tot eer van God te leef en andere met Sy liefde te bedien, is met ander woorde afhanklik van die leiding van die Heilige Gees, wat in die Christen woon.

Die Bybel bied in die lig van die bogenoemde ‘n baie realistiese beeld van die mens, deur God se kinders se sondes en gebrokenheid te beskryf, maar ook God se genade (Gn 32), deurdat Hy hulle telkens vergewe wanneer hulle berou toon en weer sy teenwoordigheid opsoek. Heyns (1974:70) wys daarop dat die mens in sy betrokkenheid tot God nie in optimistiese terme geteken word asof hy altyd net goed, gaaf, mooi en edel is nie. Ewemin word die mens in pessimistiese terme geskilder, asof hy altyd net die bose bedink en doen en daarom geen toekoms het nie. In realistiese terme word die mens besing as die kroon van God se skepping, met die ewigheid in sy hart. Naas die mens se grootheid word sy verlorenheid as sondaar geteken en beween. Dit het niks te doen met ‘n delikate balans

tussen ‘n optimistiese en pessimistiese beskouing oor die mens nie, maar met die realiteit van God se bedoeling toe Hy die mens geskep het en toe Hy die in sonde gevalle mens weer opgesoek en in Christus herstel het. Die sondige mens wie se lewe deur gebroke verhoudinge gekenmerk word, weet daarom dat God ‘n verhouding met hom wil hê en die inisiatief neem om die verhouding met Hom te herstel. In die lig hiervan ervaar die mens hoop en bied hulpverlening aan die mens in nood ‘n moontlikheid wat hierdie proses kan help realiseer.