• No results found

1.6 BEGRIPSOMSKRYWINGS

1.6.2 Narratiewe werkswyse

Tydens die postmodernisme word die rol van storievertelling beklemtoon en het die narratiewe aanpak van hulpverlening na vore getree (Louw 1998:23). Stories vorm die kern van die narratiewe werkswyse. ‘n Storie word as metafoor gebruik word om die wyses te beskryf waarvolgens die mens sy werklikheidskonstruksies in ‘n verstaanbare intellektuele raamwerk saamstel en dan hul lewens hiervolgens inrig.

Ten einde die narratiewe werkswyse te omskryf is dit nodig om duidelikheid te verkry oor die betekenis van die begrippe postmodernisme, konstruktiwisme, konstruksionisme, storie en narratief.

1.6.2.1 Postmodernisme

Dit is moeilik om postmodernisme te omskryf, aangesien daar verskeie en uiteenlopende omskrywings bestaan, elkeen met sy eie klem en beredenering van die tydperk. Postmodernisme is ‘n term wat losweg gebruik word om kulturele, sosiale en politieke veranderinge in Westerse samelewings aan die einde van die twintigste eeu te beskryf. Dit word gebruik om ‘n tydperk te beskryf wat op die modernisme volg. Lane (1997:136) sê: “A (modernist) culture, built over the last few centuries around forms of rationality, self- discipline and bourgeouis values, is succumbing, it seems, to the effects of rapid technological and economic change. New cultural forms are emerging, challenging traditional values and ways of thinking.” Postmodernisme is ‘n reaksie of wegbeweeg van die rasionele benadering en sienings eie aan die modernisme.

Daar bestaan nie ‘n eenheid in die gesprekke binne postmodernistiese denke nie. Tog kan sekere elemente waaroor saamgestem word geïdentifiseer word, asook dat dit op die paradigma van postmodernisme dui. Die postmoderne wêreld word volgens Ife (1999:211) deur onsekerheid, twyfel, relativisme, verandering en die konstante herdefiniëring van die realiteit gekenmerk. Eenstemmigheid bestaan dat die teks, ook metafoor vir die lewe, geen vaste struktuur het nie en daarom bestaan geen vaste interpretasies nie. As gevolg van die beginsel van verskeidenheid, bestaan daar geen vaste waarhede of vaste waardes nie. Die teks is dinamies en het ‘n oop-einde karakter, wat die finale analise van realiteit onmoontlik maak. Hierdie gemeenskaplikhede in sienings regverdig die gebruik van die term postmodernisme.

‘n Onderskeid kan tussen die term ‘postmodern’ en ‘postmodernisme’ gemaak word (Ife 1999:214). Die term postmodern (“postmodernity”) is ‘n beskrywende term en postmodernisme (“postmodernism”) sluit normatiewe kritiek ten opsigte van die hedendaagse samelewing in. Die term postmodern dui daarop dat die samelewing in ‘n tydperk wat as postmodern bekend staan, beweeg het. Dit handel oor ‘n belangrike historiese oorgang in die samelewing, terwyl postmodernisme 'n normatiewe perspektief is, wat ‘n alternatiewe mens- en lewensbeskouing (as die modernisme) impliseer. Postmoderne denke is kenmerkend van die einde van die twintigste eeu en begin van die een-en-twintigste eeu en die postmodernisme heg waarde aan uiteenlopende sienings en konseptualisering.

1.6.2.2 Konstruktiwisme

Daar bestaan nie epistemologiese eenstemmigheid binne die konstruktiwisme nie, tog is dit gebaseer op die siening dat die mens sy eie realiteit konstrueer en nie ontdek nie. Volgens Von Glasersfeld (1995:113) het konstruktiwisme “... nothing to say about what may or may not exist. It is intended as a theory of knowing, not as a theory of being”. Die mens gebruik kognitiewe prosesse om ervaringe en gebeure in ’n samehangende geheel te orden en te interpreteer, gevolglik word die werklikheid gekonstrueer en is dit nie ’n gegewe wat ondersoek kan word nie.

‘n Basiese uitgangspunt van die konstruktiwisme is dat ‘n objektiewe realiteit of objektiewe waarheid nie bestaan nie “… constructivism rather suggests that the truth is to be found in the construct of reality, as identified in the narratives of people and the deconstruction of those narratives” (Janse van Rensburg 2000a:11). Die persoon se werklikheidskonstruksies verskaf met ander woorde kennis en die waarheid oor die sienings wat die betrokkenes oor hulself en die wêreld nahou. ’n Verdere implikasie is dat bestaande konstruksies nie die waarheid weergee nie en dit kan bevraagteken word indien dit van die individu of ‘n sekere groep se konstruksies verskil.

Konstruktiwisme kan omskryf word as ‘n postmoderne epistemologie wat op die siening gebaseer is dat die mens sy ervaringe volgens unieke innerlike strukture en kreatiewe prosesse verwerk en interpreteer en deur middel van taal uitdrukking gee aan die werklikheidskonstruksies oor die persoon en sy wêreld.

1.6.2.3 Konstruksionisme

Die sosiale konstruksionisme beklemtoon dat konstruksies oor die realiteit deur die sosiale interaksie tussen mense, historiese en kulturele faktore gevorm word. Sosiale interaksie prosesse in die plaaslike konteks van die mens bepaal die inhoud en geldigheid van die konstrukte (sienings) oor die realiteit. Die vorming van betekenis is nie ’n private gebeurtenis nie, maar vind in verhoudinge met andere en die dominante kultuur plaas (McNamee en Gergen 1992:5). Werklikheidskepping vind dus plaas in die gesprekke en diskoerse tussen mense in verskillende situasies en is ’n voortdurende proses van onderhandeling, uitruiling van idees en onderlinge beïnvloeding. Interaksieprosesse laat nuwe werklikhede ontstaan en daarom kan hulpverlening ’n bydrae lewer om nuwe werklikhede te skep.

In die lig van bogenoemde word konstruksionisme omskryf as ’n postmoderne epistemologie, wat verwys na die prosesse waarvolgens ‘n subjektiewe werklikheid in ’n bepaalde situasie volgens kognitiewe prosesse en in wisselwerking met andere gekonstrueer word. Unieke kognitiewe aktiwiteite, gerig deur kennisraamwerke en ervaring, binne verhoudinge en sosiale interaksie met ander is kernelemente vir die mens se werklikheidskepping en die ontwikkeling van kennis.

1.6.2.4 Narratief

Die terme storie/verhaal en narratief word meestal as sinoniem beskryf, tog sê Du Plessis en Ferreira (2002b:3) dit wil voorkom of die term storie meer spesifiek gebruik word wanneer daar na die vertellings van mense se lewenservaringe verwys word, terwyl die term narratief gebruik word om te verwys na aspekte wat verband hou met die narratiewe paradigma. Vir die doeleindes van hierdie studie word die begrippe storie/verhaal en narratief as sinoniem beskou.

Stories is op die lewe gebaseer en aan die ander kant word die lewe deur stories uitgedruk en gewysig. “Everyone creates, tells, listens to, changes, and retells stories. As stories are told, people name and shape the meaning of the daily events of their lives and communicate that meaning to others. Voice is given to their unique experience; then through familial and community stories, voices are shared and joined” (Roberts 1994:1). Die mens gee met ander woorde uitdrukking aan sy lewe en verhoudinge deur stories

daaroor te konstrueer en te vertel. Stories word benut om die lewe meer verstaanbaar te maak en die mense leef terselfdertyd hul lewenstories uit.

Die mens gebruik stories om lewensgebeure te interpreteer en sekere betekenisse daaraan te heg. Widdershoven (1993:7) sê: “We live our lives according to a script, which secures that our actions are part of a meaningful totality. Our actions are organized in such a way that we can give an account of them, justify them by telling an intelligible story about them.” Die mense ontwikkel begrip in hul lewensondervindinge, deur stories daaroor te vertel. Met verhale word die lewe gevorm en georganiseer (Müller 2000:9). Dit impliseer die interpretasie van gebeure, asook die rigtinggewendheid van die betekenisse wat aan lewensondervindinge toegeken is. Morgan (2000:5) sê: “As humans, we are interpreting beings. We all have daily experiences of events that we seek to make meaningful. The stories we have about our lives are created through linking certain events together in a particular sequence across a time period, and finding a way of explaining or making sense of them. This meaning forms the plot of the story. We give meanings to our experiences constantly as we live our lives. A narrative is like a thread that weaves the events toghether, forming a story.” Alhoewel verskillende soorte narratiewe bestaan, is daar eenstemmigheid dat mense dit gebruik om sin te maak van hul ondervindinge, verhoudinge, probleme en om betekenisse te kommunikeer.

Samevattend kan gesê word dat narratiewe die mens se weergawes en interpretasies van alledaagse gebeure en ervaringe in sy lewens is. Die mens se optrede in die wêreld is die voortdurende skryf van ‘n storie en gee so die mens se interpretasie van sy identiteit en gebeure in sy lewe weer.

1.6.3 Amputasie

Die mens se liggaam bestaan uit liggaamstrukture wat bepaalde funksies verrig. “Amputation is defined as loss of part or all of a limb” (Kubheka 1992:5). ‘n Amputasie impliseer met ander woorde die afwesigheid of verlies van ‘n deel of geheel van een of meer ledemate, wat ‘n fisiese inkorting meebring, aangesien die liggaam nie sekere funksies kan verrig nie. “Impairments of structure can involve an anomaly, defect, loss or other significant deviation in body structures” (World Health Organization 2001:12). ‘n Persoon kan sonder ‘n ledemaat(e) gebore word of ‘n ledemaat(e) word chirurgies verwyder as gevolg van ‘n siektetoestand of traumatiese insident.

‘n Amputasie is volgens Joubert (1990:1): “Wanneer iemand ‘n amputasie ondergaan is daar ‘n verlies aan ‘n ledemaat, maar belangriker: ‘n verlies aan die gevoel van geheelheid, of die gevoel om ‘n heel mens te wees. Hulle voel vermink. Om fisiek weer te kan funksioneer, moet die amputasiepasiënt bykans alle aktiwiteite herleer wat inpas by sy/haar lewenstyl. Die genesing van die emosionele en sosiale wonde duur lank en is moeilik om te bereik.” ‘n Amputasie impliseer ‘n fisiese verlies en bring fisiese gestremdheid mee, met verreikende gevolge vir die persoon se funksionering op alle lewensvlakke. Fisiese gestremdheid word deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie (2001:17) omskryf as: “… the outcome or result of a complex relationship between an individual’s health condition and personal factors, and of the external factors that represent the circumstances in which the individual lives”. Fisiese gestremdheid is die sambreelbegrip vir die persoon se onvermoë om sekere take te verrig en sy deelname aan lewensituasies te beperk. Fisiese gestremdheid dui op die beperkende gevolge wat die amputasie van ‘n ledemaat vir die persoon in sy alledaagse lewe in sy omgewing meebring.

Samevattend kan gesê word ‘n amputasie is die fisiese inkorting van liggaamstrukture, wat die persoon se vermoë om sekere aktiwiteite uit te voer, beperk. ‘n Amputasie bring fisiese gestremdheid mee, in die mate waarin ‘n persoon se funksionering op alle lewensvlakke bemoeilik word en deelname aan hoofstroom-aktiwiteite verhinder word.

1.6.4 Deelnemende-aksienavorsing

Deelnemende-aksienavorsing word deur Strydom (2002:423) omskryf as: “… an active, participating, capacity building, involving, encouraging, mobilising and enabling research procedure in which the total community and the researcher are seen as equal partners. The aims are to ascertain the collective generation of knowledge, the planning and achievement of jointly set objectives, and to be empowered in order to act effectively in their own interest. By being involved in this manner the community can solve its own problems, reach mutual goals and utilise the available resources optimally.” Die doelwitte en werkswyse van deelnemende-aksienavorsing, wil deelnemers bemagtig tot selfverwesenliking en die ontwikkeling van ‘n responsiewe omgewing.

Deelnemende-aksienavorsing kombineer navorsing met aksieprosesse wat tot die oplossing van probleme lei. Laws (2003:49) sê: “The core process is to enable participants to share their perceptions of a problem, to find common ground and then to engage a variety of people in identifying and testing out some possible solutions.” Dit impliseer ‘n proses

waar deelnemers van mekaar leer en die kennis van gewone mense erken word, want diegene wat die beste verstaan en die meeste baat vind by die proses word aktief by die navorsing betrek.