• No results found

2.4 MAATSKAPLIKEWERKHULPVERLENING IN DIE LIG VAN

3.1.2 Konstruksionisme

Die konstruksionisme ook bekend as die sosiale konstrukteteorie of sosiaal- konstruksionisme gaan van die veronderstelling uit dat mense van ‘n sekere kultuur bepaalde sienings, waardes, instellings, gewoontes, wette en kategorieë skep om hul sosiale werklikhede saam te stel (Freedman en Combs 1996:16). Dit word gedoen deurdat mense met mekaar in interaksie tree en die konstruksies wat gevorm word, word van geslag tot geslag oorgedra. Die mens begin om hierdie konstruksies vanselfsprekend as die realiteit te aanvaar. Hierdie realiteite voorsien weer die gelowe, praktyke en woordeskat waaruit die mens sy siening van homself, andere en gebeure konstrueer. Volgens die konstruksionisme word 'n sosiale eenheid gedefinieer deur die taal en diskoers waarbinne dit beweeg en realiteit is die voortdurend veranderende produk van die dialoog wat tussen mense plaasvind. Werklikheidskepping vind dus plaas binne die sosiale organisasie en verhoudinge waarin die mens ingebed is.

Binne die raamwerk van die konstruksionisme vind werklikheidskepping en betekenisgewing op verskillende wyses plaas:

• Interaksie tussen verskillende individue en groepe is onontbeerlik om betekenis te heg aan ervaringe en voorwerpe en die daaruit voortvloeiende werklikheidskepping (Gergen 1994:51). Na aanleiding van die interaksies ontwikkel die persoon of groep bepaalde betekenisse en aannames oor hulself, andere en die wêreld. ‘n Groep gedragswetenskaplikes sou byvoorbeeld na aanleiding van hul waarneming van ’n persoon se gedrag, deur middel van ‘n interaksieproses bepaalde betekenis aan die gedrag heg en selfs terminologie ontwikkel om hul waarneming, wat ‘n nuwe werklikheid is, te beskryf. Interaksie tussen mense is ‘n dinamiese aktiwiteit, wat voortdurende beweging en die ontwikkeling van kennis impliseer. Hoffman (1992:18) stem hiermee saam: “Knowledge being socially arrived at, changes and renews itself in each moment of interaction.” Verskillende deelnemers aan die interaksieproses reageer wedersyds op mekaar en dit lei tot die verdere uitbouing en ontwikkeling van die interpretasies wat aan ‘n bepaalde onderwerp of gebeurtenis

geheg word. Die bestaan van werklikhede buite dit wat tussen mense onderhandel en geskep word, word ontken.

• Mense gebruik taal om met mekaar in interaksie te tree. Taal verskaf simbole om waarnemings te beskryf en betekenis aan situasies te gee. Die mens se werklikheidskepping word deur sy taalvermoë beperk. Taal kan egter met nuwe simbole en begrippe aangevul word, want deur middel van interaksie word nuwe konsepte ontwikkel, om uitdrukking te gee aan nuwe werklikhede (McNamee en Gergen 1992:4). Gesprekvoering en die uitruiling van idees speel dus ‘n belangrike rol om mense se perspektiewe te vorm.

• Die betekenisse wat tydens die interaksieprosesse tussen mense na vore kom, vorm vertellings of narratiewe, wat voortdurend aangepas en onderling uitgeruil word (Gergen 1994:186). Stories oor die mens se betekenisgewing en werklikheid word met ander woorde in samewerking met andere gevorm. In die lig hiervan kan ook gesê word dat die maatskaplike probleme wat mense ervaar, stories is wat met mekaar gedeel en waaroor saamgestem word (Anderson en Goolishian 1992:26). • Werklikheidskepping vind in die voortdurende gesprekke tussen mense in

verskillende situasies plaas. Werklikheidskepping is nie ‘n eenmalige proses nie, maar ‘n voortdurende proses van onderhandeling, uitruiling van idees en onderlinge beïnvloeding. Die terme wat mense gebruik om hulself en hul wêreld te verstaan is die produkte van histories- en kultureel-gevestigde onderhandelinge wat tussen mense plaasvind (Gergen 1994:49). Daarom is beskrywinge en verklaringe nie gebaseer op ‘n objektiewe wêreld wat op ‘n vasgestelde wyse bestaan nie en uitkomste word nie deur ‘n persoon se genetiese struktuur bepaal nie. Woorde verkry betekenis in die konteks van voortgaande verhoudinge en die kultuur waarbinne beweeg word. Om met ander woorde jouself en jou wêreld te verstaan is om deel te wees van ‘n sekere patroon van verhoudinge. Lax (1992:71) sê: “The boundaries of our narratives are constructed through political, economic, social and cultural constraints and potentials, with our choice of narratives not limitless, but existing within prescribed contexts.” Die mens kan met ander woorde nie los gemaak word van die konteks waarbinne hy leef nie, tog hoef hy nie deur faktore en gesprekvoering in sy omgewing beperk te word nie, aangesien die moontlikheid bestaan om voortdurend nuwe narratiewe te vorm. Etnisiteit is volgens Du Plessis (2000:80) ‘n verdere kritiese faktor, aangesien verskillende etniese groepe verskillende waardes, gelowe, rituele en tradisies het wat van mekaar verskil. Die gesinne en gemeenskappe waarbinne die individu opgroei, wys deur middel van ‘n aktiewe interaksieproses aan hom uit wat verskillende dinge en simbole beteken.

Werklikheidskepping vind met ander woorde binne ‘n kulturele milieu plaas, terwyl ‘n sekere kultuur ook as ‘n werklikheid wat deur mense geskep is, beskou kan word.

• Die bestaan van diskoerse speel ‘n belangrike rol om die kulturele lewe tussen mense daar te stel en om dit te verstaan, moet die evaluasies wat tydens diskoerse na vore kom, ondersoek word (Gergen 1994:53). Die term diskoers verwys na ‘n proses van gesprekvoering, waardeur betekenisse gevorm word, asook ‘n gesistematiseerde en erkende wyse om te praat of te skryf (Kotzé en Kotzé 1997:28). Die beredenering van sake en die konsensus wat hulle met gesprekvoering bereik is daarom bepalend vir die mens se kennis en werklikheidskepping. Die invloed van diskoerse op mense se konstruksies moet tydens terapeutiese prosesse ondersoek word om vas te stel of dit beperkend is. • Interaksie tussen mense lei noodwendig tot die opbou van interpersoonlike

verhoudinge (Gergen 1994:253). Konstruksionisme stel veral belang in die verhoudingsnetwerke tussen mense. Konsepte oor die self en andere ontwikkel en word in stand gehou deur verhoudingspatrone, aangesien mense gesamentlike betekenis heg deur die taal wat hulle gebruik. Die mens se konstruksies kan daarom nie losgemaak word van die perspektiewe wat in sy verhoudinge gevorm word nie.

Uit bogenoemde blyk dit dat die mens se konstruksies onlosmaaklik aan sy verhoudingslewe gekoppel is, want konstruksies word binne verhoudinge gevorm en terselfdertyd word verhoudinge deur bestaande konstruksies beïnvloed.

Samevattend kan gesê word die konstruksionisme toon ooreenkomste en verskille met die konstruktiwisme. Beide denkrigtings beklemtoon die konstruksie van kennis en bevraagteken die siening dat die individu met sy rede ‘n onafhanklike wêreld kan observeer, beskryf en ken. Beide benaderings beklemtoon die rol van taal om gesprekvoering en onderhandelinge tussen mense moontlik te maak en om terme te skep waarmee die mens homself, sy wêreld en persoonlike ervaringe kan beskryf.

Die konstruksionisme verskil van die konstruktiwisme deur weg te beweeg weg van die klem wat op die individu se interne en subjektiewe funksionering geplaas word en fokus op die gemeenskaplike of sosiale, die interafhanklikheid tussen mense en die menslike aksies wat in verhoudinge plaasvind. In teenstelling met die konstruktiwisme, konstateer die konstruksionisme dat kennis ekstern ontwikkel word, aangesien die individu kennis van sy

werklikheid by wyse van voortgaande interaksie met andere ontwikkel. In teenstelling met die konstruktiwisme, wat sê die mens se werklikheid kom deur middel van interne prosesse tot stand, sê die konstruksionisme die mens se werklikheid word deur interaksie met ander mense gevorm en aangepas. Die konstruktiwisme lê met ander woorde klem op die individu se unieke samestelling en kognitiewe prosesse, terwyl die konstruksionisme interaksie tussen mense beklemtoon en werklikheidskepping word aan gesprekvoering en groepsaktiwiteite gekoppel. Vir hulpverlening het dit die implikasie dat daar nie feite is wat geken moet word, of sisteme wat verstaan moet word, of patrone wat ontdek moet word nie. Gesprekvoering, deur middel van taal en betekenisgewing deur interaksie, is dan die wyse waarop mense se konstruksies van hul verhoudinge gewysig word.

3.2 KENMERKENDE AANNAMES EN UITGANGSPUNTE VAN DIE