• No results found

2.4 MAATSKAPLIKEWERKHULPVERLENING IN DIE LIG VAN

3.1.1 Konstruktiwisme

3.1.1.3 George Kelly

Kelly was die eerste terapeut wat die idees van die konstruktiwisme in die psigoterapeutiese veld toegepas het (Neimeyer 1993:224). Hy het in die vyftigerjare van die twintigste eeu ‘n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van die konstruktiwistiese denkskool gelewer en formuleer ‘n teorie bekend as die “Personal Construct Theory” (Efran, et al. 1988:36). Die konstruktiwisme se klem op die individu se kognitiewe prosesse kom in George Kelly se werk na vore, maar hy verwys na sistemiese en individuele aspekte en stel daarom 'n meer geïntegreerde raamwerk vir hulpverlening daar. Die persoonlikheidskonstrukte-teorie is op die filosofiese veronderstelling van konstrukte- alternatiwisme gebaseer, naamlik dat alle interpretasies van die werklikheid vervang of hersien kan word (Epting 1984:12). Elke gebeurlikheid of situasie kan dus vanuit ‘n verskeidenheid van perspektiewe beskou word, met die moontlikheid dat die mens sy identiteit en gebeure in sy lewe kan interpreteer op ‘n wyse wat vir hom aanvaarbaar is.

Die persoonlikheidskonstrukte-teorie fokus op die psigologiese prosesse wat ‘n mens in staat stel om sy lewensgebeurlikhede te orden en te verstaan (Epting 1984:4). ‘n Konstruk verwys na ‘n kategorie om gedagtes te orden en ervaringe mee te interpreteer. Volgens Kelly berus menslike aksie op die prosesse waardeur die individu gaan om op ‘n unieke wyse sy wêreld te interpreteer (Hogan 1976:117). Konstrukte speel ‘n belangrike rol in mense se denke en gedrag, want ervaringe in die persoon se verlede stel hom in staat om die hede te hanteer en voorspellings te formuleer oor andere se gedrag in die toekoms. Ooreenkomste en verskille bestaan tussen mense se konstruksies, wat aanleiding kan gee tot konflik, terwyl wedersydse beïnvloeding ontgin kan word om samewerking te bevorder.

Enkele belangrike uitgangspunte van Kelly se teorie, wat vir hulpverlening van belang is, word vervolgens uiteengesit.

• Motivering: volgens Kelly het die mens nie die invloed van kragte soos motiewe, behoeftes en drifte nodig om hom te motiveer om tot aksie oor te gaan nie. “Kelly’s model of man is that of a man with a model. For Kelly, the man on the street is a practicing scientist, attempting to understand certain aspects of his experience so that he can control them. As the biologist tries to conceptualize the mechanisms of genetic transmission, so the ordinary man tries to make sense of his social encounters. It follows that we wish to understand our environment, to formulate means for ordering the chaos around us” (Hogan 1976:117). Die mens se vermoë om gebeure in sy lewe uit te sorteer en op grond daarvan tot aksie oor te gaan word uitgelig en moet tydens hulpverlening gestimuleer word.

• Selfkonsepte berus volgens Kelly (Hogan 1976:117) op ‘n interpretasie van ondervindinge. Selfkonsepte word gevorm deurdat mense hulleself met andere vergelyk. Die invloed wat ander mense op ‘n persoon se selfsiening het moet tydens hulpverlening verreken word en die persoon moet aangemoedig word om dit teen sy eie interpretasies te toets.

• Produktiewe verhoudinge vereis dat die mens vooruit stellings van ander mense se sienings oor hom sal vorm en dan sy gedrag daarvolgens sal rig. Daarom doen mense dikwels die dinge wat hul dink andere van hulle verwag. Hulpverlening kan ‘n bydrae lewer om aanvaarbare gedrag te versterk en moet terselfdertyd sienings uitdaag wat die persoon se menswees onderdruk.

• Sosialisering verwys na die vermoë om rolle effektief te vervul en om betrokke te wees in ‘n gemeenskap. (Vgl. Hogan 1976:119.) Kelly stel drie vereistes vir sosialisering. Eerstens moet ‘n persoon se konstrukte-sisteem met die van ander lede van ‘n gemeenskap ooreenkom. Verder moet die persoon andere se verwagtinge van hom verstaan. Laastens moet sy selfsiening sy gedrag kontroleer. Hulpverlening behoort die mens se sosialisering bevorder, want mense is op mekaar aangewese vir behoeftebevrediging.

• Die verklaring van menslike gedrag berus op die veronderstelling dat mense voorspelbaarheid en orde in hul lewens nodig het. Daarom bou die mens konseptuele modelle wat sy ervaringe verteenwoordig (Epting 1984:4). Nuwe ondervindinge word aan hierdie konstrukte gemeet om die wêreld te verstaan. Hulpverlening kan ‘n bydrae lewer om wenslike konstrukte in stand te hou en die mens aanmoedig om met nuwe konstrukte te eksperimenteer, indien die persoon bestaande konstrukte nie meer as wenslik beskou nie.

• Geestesgesondheid word bepaal deur ‘n persoon se gewilligheid om sy konstruksies te evalueer en die geldigheid daarvan teen andere se interpretasies te toets. Gesonde persone is in staat om hul konstrukte te verander en rolsisteme te heroriënteer indien dit oneffektief blyk te wees. Geestesongesteldheid, soos angstigheid, ontstaan wanneer mense hul sosiale ondervindinge verkeerdelik interpreteer (Hogan 1976:125). Die maatskaplike werker kan daarom nuwe wyses voorstel om ondervindinge te konstrueer, maar moet besef dat die persoon self nuwe konstrukte moet formuleer.

Die mens vorm voortdurend hipoteses oor die realiteit, wat interaksie met ander mense en omgewingsfaktore insluit. Die mens se konstrukte vorm die basis van sy persoonlikheid, verhoudinge en sosialisering, aangesien interpretasies van gebeure in die verlede benut word om gebeure in die hede te verklaar en toekomstige gebeure te voorspel. Die indruk word verkry dat Kelly wegbeweeg van ‘n biologiese verklaring van gedrag en hy beklemtoon eerder die belangrike rol wat sosiale interaksie in die ontwikkeling van konstrukte speel.

Kelly se bydrae is besonder sinvol vir hulpverlening, want die moontlikheid om ‘n persoon of groep se werklikheidskepping te wysig word moontlik gemaak deur die aandag op alternatiewe sienings en interpretasies te vestig. Die dinamika verbonde aan die voortdurende vorming van nuwe werklikhede bevorder ‘n positiewe benadering wanneer hulp verleen word aan persone wat onder die indruk verkeer dat hulle in ‘n sekere negatiewe situasie of werklikheid vasgevang is wat hulle nie kan beheer of verander nie. Hogan (1976:121) wys daarop dat Kelly versuim het om die verhouding wat tussen sosialisering en moraliteit bestaan, te bespreek. ‘n Verdere leemte in sy teorie is dat geen verwysing gemaak word oor die rol wat die mens se morele en godsdienstige ondervindinge speel nie.

Die sienings van konstruktiwiste verskil dikwels van mekaar en sommiges ontken dat hul sienings op die van andere gebaseer is (Simon 1985:36; Gergen 1994:43). Tog kan sekere kenmerkende uitgangspunte van die konstruktiwistiese denkwyse onderskei word. Op grond van die konstruktiwisme word die gevolgtrekking gemaak dat die idees wat die mens oor die realiteit het, nie presiese weergawes van ‘n werklike wêreld is nie. Die mens se werklikheid is eerder perspektiewe wat ontwikkel is op grond van beleefde ervarings.

Die konstruksionisme is ‘n verdere belangrike ontwikkeling tydens die postmodernisme. Die klem op die mens se sosiale funksionering en die invloed van verhoudinge op die mens se werklikheidskepping, maak dit besonder relevant vir maatskaplike werk.