• No results found

2.4 MAATSKAPLIKEWERKHULPVERLENING IN DIE LIG VAN

2.4.3 Implikasies van die Christelike beskouing vir maatskaplikewerk-

2.4.3.3 Die verhouding met die mens wat hulp ontvang

Die hulpverleningsverhouding verloop gestruktureerd, bepland en doelgerig binne ‘n bepaalde tydperk en word om bepaalde redes beëindig (Van Rooyen en Combrink 1980:285). Beide die Ou en Nuwe Testament beskryf die skep van nuwe verhoudinge en

gemeenskappe wat gemodelleer word op die liefde wat God vir Sy skepping toon (White 1986:79). Onbetrokkenheid teenoor die mens in nood word volgens die Christelike beskouing afgewys (Lk 10). Onverskillige optrede is volgens Heyns (1978:131) om verby die medemens te lewe, asof hulpverlening nie in God se beskikking en opdrag rus nie, maar aan die hulpverlener se vrywillige keuse oorgelewer is. Die eerste posisie dui op die vermyding van verhoudinge en die tweede op meerderwaardigheid binne verhoudinge, wat hulpverlening blokkeer in plaas daarvan om dit te bevorder. Die verhouding tussen die maatskaplike werker en die kliënt is tussen twee sondige individue en dit is een van die redes waarom die maatskaplike werker nie 'n meerderwaardige houding teenoor die kliënt kan inneem nie.

Die Christelike beskouing trek die verhoudinge wat tussen mense bestaan deur na die mens se geskapenheid as man en vrou (Gn 2) en die mens se behoefte aan iemand wat sy gelyke en helper kan wees. Heyns (1978:130) sê dat wanneer daar tussen die mens en ander mense ‘n bepaalde verhouding van interafhanklikheid en interverantwoordelikheid tot stand kom, word andere jou medemense (of naaste), wat vanuit en met hul konkrete lewensomstandighede, ‘n aanspraak op jou maak, of ‘n aanspraak op jou het. Flp 2:1 roep persone, wat die troos van verlossing in Christus ondervind en in gemeenskap met die Heilige Gees leef op, om deur die liefde aangespoor te word en innige meegevoel en meelewing met andere te betoon. Die mens wat konkreet op jou lewensweg gegee word, is dus jou naaste en jou keuse, voorkeure of afkeure speel geen rol hierin nie. Die band wat tussen mense tot stand kom, is nie die gevolg van ‘n toevallige sameloop van omstandighede nie, maar rus ten diepste in God se besturing van die geskiedenis (Heyns 1978:131). Die mens se verhoudinge met sy medemens is bestem om ‘n weerspieëling van sy verhouding met God te wees. Jh 4:12 sê: “… maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik”. Hulpverleningsverhoudinge vanuit die Christelike perspektief is gebaseer op die liefde wat die maatskaplike werker van God ontvang het en deur die se optrede teenoor andere moet hulle bewus word daarvan dat God besig is om met hulle bemoeienis te maak en ‘n lewende verhouding met hulle begeer.

Literatuur oor die beginsels van maatskaplike werk of die ingesteldheid van die maatskaplike werker maak geen verwysing na nederigheid as ‘n belangrike faset van die praktyk van maatskaplike werk nie. In teenstelling hiermee praat die Bybel van nederigheid en liefde in dieselfde asem (Ef 4:1-2). In Sf 2:4 word almal wat volgens die wil van die Here leef, opgeroep om geregtigheid en nederigheid na te streef. Dit dui op ‘n religieuse en etiese gesindheid wat in nederige dade oorgaan en dien dan as ‘n bewys van

gehoorsaamheid om volgens die wil van die Here te leef (1 Pt 5:6). Gehoorsaamheid aan God sluit dus in dat maatskaplike werkers wat volgens die Christelike perspektief hulp verleen, se verhoudinge deur ‘n nederige lewenshouding gekenmerk sal word. In Mt 20:28 stel Jesus die voorbeeld van nederige dienslewering en daardeur word mense uit hul sondige bestaan gered. Gl 5:23 verwys na nederigheid as een van die vrugte van die Heilige Gees. Nederigheid is daarom ‘n wesenlike deel van die maatskaplike werker wat vanuit die Christelike beskouing werk se gedrag, om ten einde God Drie-enig se beeld op aarde te vertoon.

Nederigheid teenoor ander mense kom na vore in onselfsugtige diensbaarheid, wat die kliënt se belange hoër ag as die van die maatskaplike werker. Flp 2:3-4 sê: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van dié ander.” Nederigheid hou verband met die mens se bewustheid van sy eie beperkinge. Ten opsigte van nederige hulpverlening sê Philpot (1986b:148): “But not only must change in personal attitudes and personal respect be at the heart of all social change but there must also be a repentance, a virtue that makes the social worker intensely conscious of his own and his fellows' inability to realize the end which they desire.” Die maatskaplike werker se besef van eie tekortkominge, sonde en beperkinge om hulp te verleen, kan die beginpunt van egte nederigheid wees. Die teenpool van nederigheid is selfverheffing (Spr 18:12), wat in ‘n selftevrede of meerderwaardige houding kan manifesteer. ‘n Nederige lewensingesteldheid om hulp te verleen, word gesaboteer wanneer die maatskaplike werker op sy eie toewyding en effektiwiteit staat maak om diens te lewer. Nederigheid sluit nie net die erkenning van eie leemtes en blokkasies in nie, maar gee aan God die eer vir suksesse wat behaal word of vir effektiewe diens wat gelewer is. Vergelyk byvoorbeeld Gn 41:16 waar Josef erken dat hy sy vermoë om drome uit te lê van God gekry het.

Die konsep van God Drie-enig en die liefdevolle verhoudinge wat uit die eenheid en verskeidenheid van God vloei, stel die voorbeeld vir alle verhoudinge wat op aarde bestaan. Die maatskaplike werker wat vanuit die Christelike beskouing werk se verhoudinge met ander deelnemers aan die hulpverleningsproses moet daarom die liefdevolle verhoudinge, wat tussen God Drie-enig bestaan, reflekteer. Medemenslikheid kry gestalte in die maatskaplike werker se verhouding met die kliënt, met die moontlikheid om mekaar te beïnvloed en te verander. Om in ‘n ontmoeting te tree of ‘n verhouding op te bou, vereis dat daar wedersydse ontvanklikheid tussen die betrokkenes bestaan. Deur

dialoog met die maatskaplike werker leer die kliënt homself ken en word hy aan nuwe perspektiewe en belewenisse blootgestel.

Volgens die interpreterende benadering wat kenmerkend van die postmoderne tyd is, word menslike verhoudinge beskou as iets wat doelbewus uit die doelgerigte aksies en interaksies tussen sosiale wesens geskep word (Neuman 2000:72). Dit impliseer dat die hulpverleningsverhouding ’n sosiaal-gekonstrueerde betekenisgewende sisteem is, met die potensiaal om die verskillende rolspelers se omskrywing van ‘n situasie, of die sosiale werklikheid te verander. Verhoudinge wat hulpverlening fasiliteer gee erkenning aan mense se individuele motiewe en sienings, ongeag of dit irrasioneel of diep emosioneel is en vooroordele insluit.

Kenmerkend van die postmodernisme is die klem wat gelê word op die rol wat mag in mense se verhoudinge speel. Outoriteit of mag is van die elemente wat die maatskaplike werker se verhouding met kliënt(e) kenmerk (Compton en Galaway 1994:284). Outoriteit kan beskryf word as die mag wat deur die kliënt en organisasie aan die maatskaplike werker gedelegeer word, deurdat die maatskaplike werker gesien word as iemand met die mag om te beïnvloed of te oortuig, op grond van sekere verworwe kennis, ondervinding en die plasing in ‘n sekere posisie. Die eerste vorm van mag word bepaal deur die maatskaplike werker se posisie en funksie binne die organisasie se doelstellings en programme. Die tweede vorm van mag is psigologies, aangesien die kliënt(e) mag aan die maatskaplike werker gee om hulle as kundige in ‘n sekere veld te beïnvloed. Die kliënt se behoefte aan hulp en/of beperkte hulpbronne om hulp te ontvang, plaas die kliënt in ‘n magtelose posisie, met beperkte moontlikhede om keuses uit te oefen, asook om vir sy regte en doelwitte te beding. Neuman (2000:73) waarsku dat mense se potensiaal vir verandering beperk word wanneer hulle mislei, misbruik en uitgebuit word. Dit gebeur veral wanneer mense geïsoleerd is en vasgevang raak in ‘n web van problematiese sosiale betekenisse, verpligtinge en verhoudinge. Dit veroorsaak dat hulle dink verandering is nie moontlik nie en verloor dan hul onafhanklikheid, vryheid en kontrole oor hul eie lewe. Persone se potensiaal kan egter realiseer indien hulle van illusies en onbuigsame sienings oor hulself en hul omstandighede ontslae raak en begin om saam met andere op te tree om negatiewe faktore in hulself en die gemeenskap te verander. Die konsep van nederigheid, kenmerkend van hulpverlening volgens die Christelike beskouing, laat nie ruimte vir magsmisbruik toe nie. Philpot (1986b:149) sê: “Social workers who are conscious that they may be indulging in power or manipulation of clients in their work have within them the seeds of humility.” Nederigheid beteken nie dat die maatskaplike werker ‘n lae opinie

van homself sal hê nie, maar wel om deernis of medelye met andere te hê en ‘n praktyk waarin die maatskaplike werker sy eie belange en idees op die agtergrond laat en die kliënt se betekenisgewing bevorder. Deur egte meelewing met die posisie waarin andere verkeer, word die maatskaplike werker bewus van sy eie posisie as die potensiële slagoffer van dood, droefheid, gebreke, ouderdom en isolasie. Kritiek teen die misbruik van mag in gemeenskappe en strukture wat hulp verleen, verskerp hulpverleners se bewustheid van die rol wat mag in hul verhoudinge met kliënte kan speel. Praktyke wat die misbruik van mag vermy toon duidelike ooreenkomste met die konsep van nederigheid en sluit aan by sekere beginsels van maatskaplike werk, soos die inneem van 'n nie-veroordelende houding en die bevordering van die kliënt se selfbeslissing. Magsmisbruik daarteenoor lei tot ongeregtigheid, want die een party misbruik sy posisie om sy saak te bevoordeel, ten koste van die ander party se belange en behoeftes. Nederigheid impliseer om saam met die kliënt na God se wil vir die persoon se lewe en probleme te soek, wat deelnemende werkswyses bevorder.