• No results found

2.2 DIE CHRISTELIKE MENSBESKOUING

2.2.1 Die mens is na die beeld van God geskape

Die vertrekpunt van die Christelike mensbeskouing staan in die woorde van Gn 1:27: “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het hy die mens geskep.” Dit beteken dat God Homself op ‘n wyse in die mens afgebeeld het, dat in die mens se verskyning en optrede iets van God gesien kan word. Vosloo (1993:5) sê uit die skeppingsverhaal blyk dit dat God die magtige Skepper is, dat Hy van die skepping onderskei kan word en dat Hy in beheer van alles is. Die mens is bo die res van die skepping verhewe, aangesien hy die vermoë het om God se beeld te vertoon. Hieruit spruit die mens se verantwoordelikheid om die skepping te ondersoek, te gebruik, te bewaar en daaroor te heers.

Volgens De Bruyn (1993:55) dui die beeld van God in die ruimer sin op die feit dat die mens oor geestesvermoëns beskik wat hom van die dier onderskei, met 'n verstand, geheue, wil, gewete en persoonlikheid. In ‘n enger sin dui die beeld van God daarop dat God deur sy Gees in die mens woon en deur die mens word God se krag en wysheid in die wêreld geopenbaar. Die skepping van die mens na die beeld van God beteken verder dat hy God as profeet (maak God se wil bekend), priester (dienaar) en koning (heerser) kan liefhê en dien. Louw (1991:123) se siening sluit hierby aan, naamlik dat die mens die taak het om God se heerlikheid sodanig te vertoon dat die hele skepping kennis van God se trou en genade sal verkry. Om die beeld van God te wees en Sy beeld te vertoon, dui dus op ‘n proses om te word wat God bedoel het die mens moet wees, om God self op aarde te verteenwoordig, Hom te dien en tot sy eer te lewe.

• Die wese van die mens as geskapene na die beeld van God

Die beeld van God word deur die totale mens vertoon, wat sy liggaam en gees insluit. In Gn 2:7 staan: “Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en

lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het.” God skep met ander woorde die mens met verskillende kenmerke, wat in Sy oë ewe belangrik is. Heyns (1974:74) waarsku teen ‘n dualistiese mensbeskouing, want die liggaam en gees is nie ondergeskik aan mekaar nie en vertoon gesamentlik die beeld van God. Wanneer daar of na die liggaam of die gees verwys word, word steeds die totale mens bedoel, maar die mens word net vanuit ‘n sekere gesigspunt bekyk. God gee Sy lewensasem aan die mens en staan in ‘n verhouding met die mens se gees en liggaam. Die mens se liggaam en gees moet daarom nie kunsmatig van mekaar geskei word nie en maatskaplikewerkhulpverlening moet rekening hou met hierdie vervlegtheid.

Wanneer daar in die lig van die Christelike beskouing na die gees van die mens verwys word, word die mens op ‘n besondere wyse met God in verband gebring (Pred 12:7), wat impliseer dat die mens se geestelike dimensie verband hou met sy behoefte aan ’n verhouding met God, of ’n hoër mag indien die persoon nie in God glo nie. Die mens se gees dui volgens Heyns (1978:123) op die totale religieuse lewensrigting van die mens en impliseer die keuse óf hy hom deur God se inwonende Gees laat lei óf dat hy die prooi van die sonde geword het. Dit wys heen na die wyse waarop en die rigting waarin die mens besig is om sy lewenskrag te stuur. Verwysings na die mens se gees dui met ander woorde op die geestelike dimensie wat die mens in staat stel om met God in verhouding te tree.

Besondere verwysings na die mens se liggaamlikheid kom in die Bybel na vore. Ps 139:13 sê: “U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder.” Die mens as ‘n wese met ‘n liggaam is van God afhanklik om te kan lewe. Die Bybel getuig van die mens as die hoogtepunt van God se skepping. God heg soveel waarde aan die mens as liggaamlike wese dat dit in 1 Kor 3:16 as die tempel of woonplek van God beskryf word. Terselfdertyd word die mens se fisiese beperkinge beskryf, want die mens se liggaam en bestaan op aarde word deur sekere swakhede gekenmerk. Die woorde: “... uit die stof van die aarde geskep” (Gn 2:7), wys op die verganklikheid van die mens (1 Pt 1:24). Volgens Crafford (1996:216) is die mens “… ‘n aardgebonde wese, swak en gebonde aan tyd en ruimte. Hy is broos en verganklik en het beperkte insig en kennis. Hy is eensaam en het dit nodig om met ander mense saam te leef om tot verwesenliking te kom”. Die mens se bestaan as ‘n fisiese wese getuig aan die een kant van God se skeppingsmag en aan die ander kant van die mens se beperkinge en afhanklikheid van God se onderhouding.

Die mens as beeld van God sluit die mens se verhoudinge met sy medemens in. In Gn 2:21 word ‘n vrou as die gelyke en helper van die man geskep. Beide word deur God

geskape, om gesamentlik God se beeld te vertoon. Dit kan verstaan word dat die twee geslagte in verhouding tot mekaar staan, byvoorbeeld in ‘n huweliksverhouding, met die bedoeling om mekaar aan te vul. Uit hierdie verhouding sou alle ander verhoudinge tussen mense voortvloei, toe God die opdrag in Gn 1:28 gegee het: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit.” God se beeld kom met ander woorde na vore in die onderlinge verhoudinge wat tussen mense bestaan en die wyse waarop hulle verskillende karaktertrekke van God vertoon.

• Die implikasies van die mens se skepping na God se beeld

Die waarde van die mens hou verband met die wete dat hy na die beeld van God geskape is. In Gn 1:27 spreek God sy seën oor die mens uit en God se tevredenheid met sy skepping word in Gn 1:31 verwoord: “Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.” In die Bybel word God se glansryke skepping telkens beskryf, asook die mens se verwondering wanneer hy die status en rol, wat God aan hom in die wêreld gegee het, verstaan. Ps 8:4-6 beskryf dit duidelik: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan u ‘n plek gegee het, wat is die mens dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon.” Volgens Middleton en Walsch (1996:140) ontvang die mens sy identiteit van God en “… the self as gift implies that we neither construct ourselves nor effect our redemption by overcoming evil. On the contrary, our identity as human beings and as redeemed people is the gracious gift of our Creator and Redeemer, who has provided for us a creational home and a normative, redemptive story in which to dwell and be nurtured. But the self as gift also addresses our experience of powerlessness and fragmentation, since with identity comes agency.” Die mens is met ander woorde van God afhanklik vir sy skepping en identiteit en is in die geloof daarvan bewus, of verwerp dit in ongeloof. Die verloste mens leef vanuit God se siening van hom as mens en is nie op homself aangewese om ’n selfsiening te konstrueer nie.

Om die beeld van God te wees dui nie net op die mens se status in hierdie wêreld nie, maar ook op sy bestemming. 1 Pt 1:15–16 werp lig op die mens se aardse roeping en ewige bestemming: “… soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: ‘Wees heilig, want Ek is heilig’.” Heyns (1978:125) het die volgende siening oor die mens se bestemming: “Uiteraard is dit nie net ‘n statiese toestand nie, maar ook ‘n dinamiese gebeure, dit wil sê

die mens moet ook word wat hy is.” Hieruit word afgelei dat die mens as beeld van God sekere doelwitte of aardse bestemmings het om na te streef, maar ook ‘n ewige bestemming het waar die beeld van God volledig deur die mens vertoon sal word. Rm 6:23 sê: “… die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here”. Die gelowige kan daarom uitsien na sy ewigheidsbestemming na die dood. Die mens se status, as geskape na God se beeld, dien daarom as die beginpunt om die mens se doel, sinbelewing en eindbestemming te verstaan. Louw (1991:124) wys daarop dat die mens se gerigtheid op die transendente dimensie van sy bestaan beslissend vir sy eventuele bestemming is en dit besit ‘n transformerende funksie ten opsigte van die kwalitatiewe toestand van die lewe op aarde. Die mens se gehoorsaamheid aan God se roeping en antwoord daarop, soos dit manifesteer in sy gedrag en verhoudinge op aarde, sal bepaal in watter mate die mens daarin slaag om God se beeld op aarde te vertoon en deel sal hê aan die ewige lewe saam met God na sy dood.