• No results found

Kwalitatiewe navorsing Kwantitatiewe navorsing

5.3.4 Insameling van data

Aangesien daar in die voorafgaande gedeeltes veral aandag geskenk is aan die gekose navorsingsontwerp en die verskillende paradigmas binne kwalitatiewe navorsing, sal die betrokke data- insamelingstegniek wat in hierdie studie aangewend is, vervolgens volledig bespreek word.

5.3.4.1

Data-insamelingstegniek

Die data in hierdie ondersoek is met behulp van die Delphi-data-insamelingstegniek bekom, ‘n tegniek wat deur Louw (1997), Nel (1994), Patton (1990) en Tesch (1990) as ‘n kwalitatiewe data-insamelingsmetode beskou word.

5.3.4.1.1

Agtergrond

Die Delphi-tegniek is vernoem na die Griekse profeet, Delphi. Die antieke Grieke het geglo dat hulle inligting rakende hul toekoms by hierdie profeet kon verkry. Die Delphi-tegniek word tans as die bekendste gestruktureerde en indirekte interaktiewe kwalitatiewe metode waarvolgens inligting bekom kan word, beskou (Woudenberg, 1991).

Hierdie tegniek is deur middel van ‘n dinkskrum in 1953 deur Olaf Helmer en Norman Dalkey by die Rand Corporation in Santa Monica ontwikkel ten einde ‘n militêre probleem op te los (Helmer, 1983). Dit het later egter ook groot byval binne die korporatiewe omgewing gevind, aangesien dit steeds vir grootskaalse voorspellings in korporatiewe beplanning gebruik word. Die tegniek is ook volgens Armstrong (1985) die onderwerp van talle boeke en joernaalartikels. Dit word tans wêreldwyd aangewend, maar verkry veral groot aftrek in die VSA, Oos- en Wes-Europa en Japan (Masini 1993).

Die Delphi-tegniek veronderstel ‘n proses waartydens individuele of groepsperspektiewe of opinies oor ‘n bepaalde onderwerp deur middel van ‘n reeks opeenvolgende, noukeurig saamgestelde vraelyste bekom en geïntegreer word (Delbecq, Van de Ven, Gustafson, 1975; Mullen, 2003). Meer spesifiek poog die tegniek om nuwe inligting vanuit ‘n groep kenners betreffende ‘n spesifieke saak te bekom, by die afwesigheid van teorieë en verklaringsmodelle (Dalkey,1967; Brown, 1968; Gerber, Nel & Van Dyk,1987). Jones (1980) beskou dit as een van die mees prominente kwalitatiewe metodes waarvolgens nuwe inligting bekom kan word. Die definisie soos verskaf deur Helmer (1983, p. 134) sluit by die bogenoemde beskrywing van die Delphi-tegniek aan deur daarna te verwys as die “...ingeligte, intuïtiewe opinies van

spesialiste.”

Die definisie van Linstone en Turrof (1975, p. 3) soos ook gereflekteer in Mullen (2003), vind veral byval binne die konteks van hierdie studie. Die Delphi-tegniek word beskryf as: “... a method for structuring a

group communication process so that the process is effective in allowing a group of individuals, as a whole to deal with a complex problem.”

In hierdie ondersoek poog die navorser ook om ‘n groepskommunikasieproses tussen die akademiese personeel verbonde aan ‘n veranderende hoëronderwysinstelling binne ‘n veranderende werksomgewing te bewerkstellig, ten einde die komplekse probleem van hulle onderskeie loopbaandilemmas te ondersoek.

Volgens Delbecq et al. (1975) word die betrokke tegniek veral aangewend wanneer een of meer van die volgende doelwitte beoog word:

Wanneer die onderliggende aannames of inligting wat tot sekere gevolgtrekkings lei, ondersoek en blootgelê moet word.

Wanneer die inligting wat konsensus by die respondente mag bewerkstellig, geïdentifiseer moet word.

Wanneer die menings van kundiges uit verskillende dissiplines oor ‘n bepaalde onderwerp gekorreleer moet word.

Die aanwending van die Delphi-tegniek is veral in die volgende omstandighede gepas:

Indien die aard van die betrokke probleem eerder ‘n subjektiewe en kollektiewe oordeel beklemtoon en veronderstel (Linstone & Turoff, 1975).

Indien die aantal persone wat benodig word, te veel word vir effektiewe persoonlike gesprekke (Linstone & Turoff, 1975; Mullen, 2003).

Indien tyd en koste gereelde interaktiewe geleenthede onuitvoerbaar maak (Linstone & Turoff, 1975; Mullen, 2003).

Indien die geldigheid van resultate bevraagteken word, vanweë die dominering deur die tipe of sterkte van ‘n persoonlikheid tydens ‘n persoonlike gesprek (Linstone & Turoff, 1975).

5.3.4.1.2

Die rasionaal vir die insluiting van die betrokke data-insamelingstegniek

Die betrokke kenmerke wat ook as die voordele van die tegniek beskou word, dien terselfdertyd as die rasionaal vir die insluiting en aanwending daarvan tydens hierdie studie.

Verskeie redes kan ter ondersteuning van die bogenoemde stelling aangevoer word:

Volgens Helmer (1983) en Louw (1997) kan die tegniek toegepas word op ‘n wye verskeidenheid probleme wat die verheldering van ‘n betrokke onderwerp vereis.

Die aard, struktuur en ontwerp van die Delphi-tegniek verleen homself daartoe dat vooropgestelde idees oor ‘n probleem nie op respondente afgedwing word nie, derhalwe verhoog dit die mate van betroubaarheid en bruikbaarheid van data (Linstone & Turrof, 1975; Louw, 1997).

Een van die tegniek se groot voordele is dat dit nie die fisieke teenwoordigheid van die respondente vereis nie en uitgevoer kan word op respondente wat geografies wyd verspreid is (Bowditch &

Buono, 1990; Linstone & Turoff, 1975; Louw 1997; Mullen, 2003; Robbins, 1996).

Die tegniek dra by tot die geïsoleerde generering van ‘n groot aantal idees in ‘n geskrewe formaat (Delbecq et al.,1975; Nel, 1994). In aansluiting hierby word die effek van groepsdinamika uitgeskakel, aangesien respondente anoniem en geïsoleerd bly (Mullen, 2003; Spies, 1980). Verder stel dit die deelnemers in staat om ‘n gelyke bydrae te maak, deurdat onafhanklike idees en perspektiewe sonder inmenging ingesamel word (Delbecq et al.,1975; Mullen, 2003; Nel, 1994).

Die skriftelike respondering voortspruitend uit hierdie tegniek dwing respondente om weldeurdagte en spesifieke antwoorde te verstrek (Delbecq et al.,1975; Nel, 1994).

Die tipe navorsing word as pro-aktief beskou, aangesien daar nie op vorige idees gebou word nie (Delbecq et al.,1975; Nel, 1994).

Dit blyk dus dat die Delphi-tegniek ‘n aanpasbare, kwalitatiewe metode is, wat oor die nodige eienskappe beskik om die daargestelde navorsingsvraag en doelwitte binne hierdie ondersoek te bereik.

5.3.4.1.3

Die geldigheid en betroubaarheid van die Delphi-tegniek

Volgens Filstead (1970) kan die geldigheid en betroubaarheid van kwalitatiewe navorsing selfs hoër wees as dié van kwantitatiewe navorsing, aangesien ‘n indringende ondersoek moontlik is en dat daar byna terselfdertyd geen verwringing of manipulering van data plaasvind nie. Die geldigheid van die Delphi- tegniek, volgens Helmer (1983), word juis gevind in die konsensus wat dikwels bereik word en indien nie, die probleem gewoonlik opgelos word, deurdat die denkprosesse van die respondente blootgelê word en duidelikheid so verkry word oor die redes vir verskillende standpunte. Die betroubaarheid van die Delphi- tegniek word verder verhoog deur die struktuur en reëls wat geld vir die insameling, verwerking en die interpretering van die data.

5.3.4.1.4

Die Delphi-data-insamelingsproses in die algemeen

Soos reeds aangetoon behels die Delphi-proses, volgens Helmer (1983), Delbecq et al. 1975), Mullen (2003), Nel (1994) en Uys (1981), die herhaaldelike ondervraging van individue wat as die “paneel” bekend staan, deur middel van opeenvolgende vraelyste.

Hierdie vraelyste kan gestruktureerde of relatief ongestruktureerd van aard wees. Die response op hierdie vraelys word vergelyk en die oorspronklike of ‘n hersiene vraelys word gehersirkuleer, dikwels vergesel deur ‘n anonieme opsomming van response. Paneellede word uitgenooi om hulle vorige response te bevestig of te verander. Paneellede kan ook gevra word om ‘n verduideliking of ‘n regverdiging vir hulle response te verskaf. Hierdie prosedure word herhaal vir ‘n voorafbepaalde aantal rondtes of totdat daar geen nuwe inligting na vore kom nie (Mullen, 2003; Spies, 1980; Uys, 1981).

Die voorafgaande beskrywing van die data-insameling met behulp van die Delphi-tegniek veronderstel dus vier basiese prosesse, naamlik:

Gestruktureerde ondervraging deur middel van vraelyste.

Herhaling, wat verwys na die proses waardeur die vraelys voorgelê word oor ‘n aantal rondtes om deelnemers toe te laat om hul response te heroorweeg.

Gekontroleerde terugvoer aan die paneellede oor die response van die groep as geheel, sowel as hul eie response, wat hulle dan kan heroorweeg. Dit beteken dat alle response van die betrokke paneel in ag geneem word.

Anonimiteit van response word verseker, deurdat daar van vraelyste gebruik gemaak word, wat groeplede toelaat om hulle opinies vryelik te verskaf, sonder om druk van die groter groep te ervaar.

Die gebruik van ‘n paneel van deskundiges, konsensus, vraelyskonstruksie, anonimiteit en interaksie tussen paneellede as aspekte van die Delphi-tegniek, sal as vertrekpunt in die volgende gedeeltes gebruik word, aangesien dit, volgens Mullen (2003), in die verlede as teikens van kritiek en bronne van omstredenheid beskou is.