• No results found

1.1 INLEIDING EN PROBLEEMSTELLING

Dit is welbekend dat organisasies ‘n fundamentele rol in die bereiking van onder meer sosiale gelykheid en hoër vlakke van ekonomiese en sosiale ontwikkeling speel. Dit is veral hoëronderwysinstellings wat wêreldwyd, asook in Suid-Afrika, as een van die vernaamste rolspelers en/of organisasies beskou word wat hierdie prosesse inisieer en dryf.

In Afrika is dit veral hoëronderwysinstellings wat vir die volgehoue sosio-ekonomiese ontwikkeling op die vasteland verantwoordelik is. Sonder genoegsame investering in die ontwikkeling van mense is dit byna ontmoontlik dat Afrika enigsins hierdie sosio-ekonomiese ontwikkeling sal kan bereik en/of volhou. Volgens die Raad van Hoër Onderwys speel Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings en ander soortgelyke instellings in veral Suider-Afrika ‘n kardinale rol in hierdie verband, aangesien hulle verantwoordelik is vir die ontwikkeling van spesialisvaardighede en verseker dit per implikasie sosiale ontwikkeling en transformasie (CHE, 2002). Hierdie siening word deur ‘n internasionale taakspan wat deur die Wêreldbank saamgestel is gedeel, aangesien hoër onderwys nie langer ‘n luukse is nie, maar ‘n essensiële komponent van nasionale, sosiale en ekonomiese ontwikkeling vorm, aangesien dit die lewens van beide die individu en die breër gemeenskap verbeter en verhoog (Higher education in, 2000).

Volgens Luescher en Symes (2003) word die Suid-Afrikaanse ekonomie, sowel as die nuwe vennootskap vir Afrika-ontwikkeling (NEPAD – New Partnerships for Africa’s Development) direk en indirek deur die effektiewe funksionering van Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings beïnvloed. Volgens dokumentasie wat deur NEPAD gepubliseer is, kan Afrika slegs internasionaal kompeteer, indien die kapasiteit van hoër onderwys uitgebou word (CHE, 2002).

Hoëronderwysinstellings word egter, volgens CHE (2001), Fourie en Fourie (2000), Guskin (1996), Salmi (2000), Sporn (1999), Strydom en Strydom (2004) en Zaharia (2002), wêreldwyd, asook in Suid-Afrika net soos enige ander organisasie gekenmerk deur veranderinge vanweë globale omstandighede, sowel as nasionale makro-ekonomiese en fiskale beleide en omstandighede. Voorbeelde hiervan is onder meer die strukturele aanpassings, herstrukturerings en samesmeltings waarmee Suid-Afrikaanse hoër- onderwysinstellings, sowel as hoëronderwysinstellings wêreldwyd gekonfronteer word en die gepaard- gaande dilemmas wat dit vir die loopbane van akademiese personeel inhou.

Hoëronderwysinstellings word terselfdertyd net soos enige ander Suid-Afrikaanse organisasie genoodsaak om die breë Suid-Afrikaanse arbeidsmag te reflekteer, wat nie tans die geval in

hoëronderwysinstellings is nie (South African higher, 2004). ‘n Verdere brandpunt waarmee Suid- Afrikaanse hoër onderwys gekonfronteer word, is die aantrekking, verkryging en behoud van hoë kwaliteit akademici, asook bestuurspersoneel en veral vroue vanuit voorheen benadeelde groepe (Koen, 2003; Pretorius, 2003). Die rede hiervoor is dat hierdie groep primêr vir die funksionering van hoëronderwysinstellings verantwoordelik is. Een van die ernstigste probleme waarmee hoër onderwys egter mee in Suid-Afrika gekonfronteer word, is die versekering en verskaffing van ‘n toekomstige generasie van akademici, aangesien akademici hoër onderwys vir ‘n verskeidenheid redes verlaat (Koen, 2003). In aansluiting hierby vermeld Naidu en Govender (2004) dat daar toenemend in die toekoms ‘n tekort aan akademiese personeel binne Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings gaan wees, vanweë die sogenaamde “brain drain” en aantrekliker moontlikhede vanuit die privaatsektor, wat indien nie korrek bestuur word nie, daartoe mag aanleiding gee dat hoëronderwysinstellings binne die volgende paar jaar op ‘n ramp mag afstuur, aangesien kwaliteit akademiese personeel nie verkry of behou kan word nie.

Indien Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings dus hul duurste hulpbron, naamlik akademici (ook genoem personeel of werknemers) wil bestuur, behou, ontwikkel en ontgin en terselfdertyd groei en hul voortbestaan wil verseker, sal die loopbaan en gepaardgaande loopbaandilemmas van akademiese personeel as vertrekpunt gebruik moet word om hierdie vraagstukke aan te spreek (Cuthbert, 1996; Zeffane & Mayo, 1994).

Dit is, volgens Arnold (1997), Atkinson (2002) en Greenhaus et al. (2000) uiters belangrik dat daar aandag aan die konsep van ‘n loopbaan geskenk word, aangesien die menslike loopbaan en by implikasie loopbaandilemmas alle aspekte van ‘n organisasie of instelling direk en/of indirek beïnvloed. Hoëronderwysinstellings sal slegs die loopbane van akademici effektief kan bestuur, indien hierdie rolspelers kennis dra van die kritieke take, loopbaanbehoeftes en die gepaardgaande aspekte (binne of buite werksverband) wat tot loopbaandilemmas tydens die onderskeie volwasseloopbaanfases aanleiding gee.

‘n Studie rakende die tipiese loopbaandilemmas van akademiese personeel in die breë – wat verbandhoudende aspekte soos werkstres en werksontevredenheid direk en indirek impliseer – is, volgens Cuthbert (1996), Küskü (2003) en Michailidis en Asimenos (2002), vir te lank reeds nagelaat. Studies in hierdie verband word as noodsaaklik beskou, aangesien ou idees en paradigmas betreffende die bestuur van loopbane steeds voorkom in ‘n veranderende kontrasterende werksomgewing.

Verbeterings, strategiese insette en oplossings kan slegs gevind en ondervang word, indien dit met geldige en betroubare navorsing ondervang en bevestig word. Loopbane en per implikasie die loopbaandilemmas van akademici, behoort dus meer vanuit ‘n kontekstuele, situasionele, teenswoordige en eksplorerende beskouing bestudeer en benader te word, ten einde verklarings te bied wat kontekstueel aanvaarbaar is. Deur die loopbaankonsep vanuit ‘n individuele benadering te bestudeer, te beskryf, te dokumenteer en na te vors, kan die problematiek, soos in die voorafgaande paragrawe belig , moontlik voorkom en ondervang word. Daar kan dus ‘n sterk saak vanuit beide ‘n mikro- en makrobeskouing uitgemaak word, (soos deur die voorafgaande paragrawe geïmpliseer), waarom die loopbaandilemmas

van veral akademiese personeel verbonde aan hoëronderwysinstellings so spoedig moontlik ondersoek behoort te word. Vir die doeleindes van hierdie studie verwys loopbaandilemmas na ‘n bepaalde struikelblok op ‘n persoon se pad na optimale werkstevredenheid en produktiwiteit.

Gesien in lig van die voorafgaande probleem of te wel probleme wat geïdentifiseer is, sal die navorsingsvraag wat noodwendig hieruit voorspruit en vir hierdie studie geld, vervolgens belig word.

1.2 NAVORSINGSVRAAG

Vir hierdie studie is die volgende navorsingsvraag gestel:

Wat is die loopbaandilemmas van akademiese personeel tydens die verskillende loopbaanfases binne ‘n veranderende Suid-Afrikaanse hoëronderwyswerksomgewing?

1.3 NAVORSINGSDOELWITTE

Die primêre - en sekondêre doelwitte van hierdie studie kan soos volg saamgevat word:

1.3.1 Primêre doelwit

Om ‘n beeld te verskaf van die huidige loopbaandilemmas gedurende die verskillende volwasseloopbaanfases, soos beskrywe deur ‘n diverse akademiese werkerskorps verbonde aan ‘n Suid- Afrikaanse hoëronderwysinstelling binne ‘n veranderende werksomgewing.

1.3.2 Sekondêre doelwit

Om die ooreenkomste en verskille in loopbaandilemmas tydens die verskillende volwasseloopbaanfases tussen verskillende rasgroeperinge en geslagte verbonde aan ‘n Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstelling binne ‘n veranderende werksomgewing te identifiseer en beskryf.

Die oorkoepelende doelwit van hierdie studie is dus om die loopbaandilemmas van akademiese personeel tydens verskillende loopbaanfases binne die huidige veranderende Suid-Afrikaanse hoëronderwyswerksomgewing te bepaal en identifiseer, asook om aanbevelings te maak oor die maniere waarop dit moontlik aangespreek kan word.

1.4 SAMEVATTING

In hierdie inleidende hoofstuk is die agtergrond waarteen hierdie studie plaasvind toegelig deur die spesifieke probleem wat ondersoek en nagevors word te beskryf. Dit het gelei tot die navorsingsvraag,

asook die primêre en sekondêre navorsingsdoelwitte wat daaruit spruit.

In die volgende drie hoofstukke word verbandhoudende en aanvullende literatuur tot hierdie ondersoek omskryf en bespreek.

Hoofstuk 2

WERKSONTEVREDENHEID AS AANWYSER