• No results found

2.9 Die mentorskapverhouding

2.9.1 Verhoudingsmodelle

Van die eerste verhoudingsmodelle van Clutterbuck (1985) (In Ragins en Kram, 2007) verdeel die mentorskapverhouding in vier fases, naamlik ‘n beginfase, ontwikkelingsfase, semi- outonome fase en herdefiniëringsfase (Ragins & Kram, 2007). Skematies kan die vier fases soos volg voorgestel kan word:

Figuur 2.3 Mentorskapfase-verhoudingsmodel*

* Aangepas uit Barnett (2001), Ragins and Kram (2007)

Voorgenoemde verhoudingsmodel van Clutterbuck word in resente mentorskap-literatuur steeds as relevant beskou om die fases in mentorskapverhoudings te verduidelik (Ali & Panther, 2008; Lim, 2007; Ragins & Verbos, 2007). In die mentorskapfase-verhoudingsmodel word die eerste twaalf maande van die mentorskapproses gekenmerk deur ‘n positiewe verhouding waar die mentee die mentor as ‘n kundige en rolmodel beskou en waar die mentor die nodige emosionele ondersteuning bied. Gedurende die beginfase lei die mentor die mentee na gelang van die mentee se leer- en ontwikkelingspotensiaal. In die ontwikkelingsfase, wat afhang van die mentorskaptydperk wat enige iets tussen een tot vyf jaar kan duur, ontwikkel die vertrouensverhouding in ‘n vriendskapsverhouding. Die mentee ontwikkel ‘n gevoel van selfvertroue en selfwaarde en soek na geleenthede waar nuut aangeleerde vaardighede en kennis toegepas kan word. Die derde fase is dié waar die mentee al hoe meer outonoom begin funksioneer. Die meer outonome funksionering sal lei na die finale fase waar die mentor en mentee op alle terreine as gelykes sal uittree (Barnett, 2001; Joyce & Calhoun, 2010; Jugmohan, 2010).

Grey (1994) (In Jugmohan, 2010) bou op die verhoudingsmodel van Clutterbuck (1985), maar vervat die mentorskapverhouding in drie fases, naamlik die bou-, instandhoudings-, en uittreefase. Skematies kan die model soos volg uitgebeeld word:

Figuur 2.4 Die Grey-verhoudingsmodel*

* Aangepas uit Departement van Onderwys (2008(a)), Jugmohan (2010)

Gedurende die bou-, instandhoudings- of uittreefase identifiseer Gray (1994) (In Jugmohan, 2010) verder verskillende mentorskapstyle wat in die verskillende fases van die verhouding gebruik kan word. Bogenoemde sluit inligtings-, begeleidings-, samewerkings-, en onafhanklike mentorskap in. In die inligtingsfase is die mentor die aktiefste lid in die verhouding en val die fokus op die ervaring en inligting wat die mentor na die verhouding bring. Gedurende die begeleidingstydperk verskuif die fokus van inligtingverskaffing na die begeleiding van die mentee. Soos wat die mentorskapverhouding en die mentee in kennis, ervaring en selfvertroue groei, ontwikkel die mentor-mentee-verhouding in een van samewerking. Die mentor en mentee begin ook stelselmatig meer as gelykes funksioneer. Die finale fase van die mentorskapverhouding word gekenmerk deur die mentee wat meer onafhanklik funksioneer met die mentor as ondersteuningsraamwerk (Departement van Onderwys, 2008(a)).

Anders as die bogenoemde verhoudingsmodelle is die sikliese verhoudingsmodel van Ballard et al. (1995) ‘n proses-geörienteerde verhoudingsmodel. Die voorvermelde navorsers deel die siening dat, ongeag die verhoudingsfases en die verhoudingsmodel wat gebruik word, die mentorskapverhouding deur ‘n sikliese proses beweeg ten einde gestelde doelwitte te bereik, kennis in te win en vaardighede te bemeester. Skematies kan die verhoudingsmodel soos volg uitgebeeld word:

Figuur 2.5 Sikliese model*

* Aangepas uit Ballard (1995)

Binne die sikliese verhoudingsmodel behels die eerste fase die organisasie en implementering van die mentor-mentee-verhouding. Tradisioneel sal ‘n mentorskapmoment soos mentor- mentee-passing binne die organisatoriese fase val. Die mentorskapverhouding beweeg dan deur ‘n proses van doelwitstelling waar die mentor en mentee doelwitte lys asook op aksieplanne besluit om gestelde doelwitte te bereik. Die wyse waarop bepaal sal word of gestelde doelwitte bereik en vaardighede bemeester is al dan nie, word ook in dié fase bepaal.

Vervolgens beweeg die mentorskapverhouding in ‘n fase in waar die mentor die mentee lei en ondersteun deur gebruik te maak van verskillende mentorskaptegnieke (§2.4). Die mentee kry die geleentheid om binne ‘n ondersteunende en vertrouensverhouding te reflekteer op “wat was” teenoor “wat nou is”. Deur die proses van refleksie word die mentee gelei in die ontwikkeling van kritiese denke en analitiese vaardighede sowel as bewyslewering dat gestelde uitkomste bemeester is (Ballard et al., 1995). Die sikliese proses kan herhaaldelik plaasvind na gelang van die ontwikkeling van die mentee.

Moderne mentorskapverhoudings is gebaseer op ‘n samesmelting van die bogenoemde verhoudingsmodelle (Jugmohan, 2010; Young et al., 2005). Die moderne mentorskap- verhouding begin met mentor-mentee-wisselwerking waar beide die mentor en mentee inligting inwin en kennis en ervaring deel. Deur gebruik te maak van verskillende mentorskaptegnieke word die mentee progressief begelei tot onafhanklike denke en funksionering totdat die mentee stelselmatig al hoe meer selfvertoue het. Die laaste fase word gekenmerk deur die mentee wat stelselmatig onafhanklik begin funksioneer met die mentor wat ‘n al hoe kleiner ondersteunende en leidende rol speel (Jugmohan, 2010; Young et al., 2005).

Buiten vir modelle wat die ontwikkelingsfases van die mentorskapverhouding uiteensit, kon verhoudingsmodelle soos die klonings-, versorgings-, vriendskaps-, -internskap-, didakties- kollegiale en vakleerlingskapmodel ook vanuit die literatuur geïdentifiseer word . In die kloningsmodel probeer die mentor hom-/haarself kloon in gebruike en praktyke in die mentorskap van die mentee. Die mentor is voorskriftelik rakende bestuurs- en leierskapsaspekte en daar is gebrekkige selfontdekkings-, analitiese en refleksiesgeleenthede vir die mentee (Msila, 2012).

In die versorgingsmodel figureer die mentor as versorgende ouer. Alhoewel die mentee gelei word deur ‘n proses van selfontdekking, kan die mentor by tye voorskriftelik wees rakende die bestuur van aspekte as dit sou blyk dat die keuse van die mentee moontlike implikasies kan inhou (Msila, 2012). Binne die vriendskapsmodel is die mentor en mentee vriende eerder as ‘n minder ervare individu wat deur ‘n meer ervare individu gementor word. Alhoewel ‘n moontlike vriendskapsverhouding een van die uitvloeisels van mentorskap kan wees, bestaan die moontlikheid dat die gebruik van die vriendskapsmodel ‘n invloed kan uitoefen op die objektiwiteit van die mentorskap. Indien die mentor ‘n internskapbenadering as vertrekpunt aanhang, sal die mentor die persoonlike en sosiale aspekte van die mentorskapverhouding ondergeskik stel aan die professionele fokus van die individu (Msila, 2012). Die gebruik van die didakties-kollegiale model bied aan die mentorskappaar die geleentheid om binne die konteks (ook bekend as makro omgewing) ʼn gevoel van eenheid, sameweking, deernis en effektiewe kommunikasie tussen kollegas in die mikro omgewing te bevorder (Thorpe & Kalischuk, 2003). In enige mentorskapverhouding bly elemente van beheer en die gevaar van afhanklikheid problematies. Beide die mentor en mentee moet fyn hierop ingestel wees (Barnett, 2001; Sundli, 2007).

Die kruks van mentorskap lê opgesluit in ʼn vertrouensverhouding waar die mentees asook hulle behoeftes die dimensie van hulpverlening, selfontdekking en leiding bepaal (Baugh & Fagenson-Eland, 2007; Clutterbuck, 2002(b), 2004). Om ‘n effektiewe mentorskapverhouding

daar te stel moet die behoefte aan vertroue, vertroulikheid, ondersteuning, geborgenheid en ‘n veilige deelnemende omgewing as basiese voorvereiste aangespreek word (Smith, 2007). Gegewe die fokus van hierdie studie is dit belangrik om die deelnemers se reaksies rakende die belangrikheid van die mentorskapverhouding as kernelement van die integrale mentorskapkomponent in die GOS SL-program te ondersoek. Ek maak die aanname dat geen aspek van mentorskap (hóé deeglik ook al beplan en ontwerp) suksesvol kan wees as die rol wat die mentorskapverhouding speel, aan toeval oorgelaat word nie. Geen twee mentorskapverhoudings is dieselfde nie en die realiteit is dat daar verskeie veranderlikes is wat ʼn invloed op die mentorskapverhouding uitoefen (§Figuur 2.2). By implikasie beteken dit dat daar, sover moontlik, leiding aan die mentorskappaar verskaf moet word rakende die bestuur van veranderlikes in die mentorskapverhouding.