• No results found

Oorhoofse groepering van mentorskap: formele en informele

Vanuit die literatuur kon twee breë groeperings, naamlik formele en informele mentorskap, geïdentifiseer word (Departement van Onderwys, 2008(a); Duncan & Stock, 2010). Formele en informele mentorskap verskil in benadering sowel as uitkomste, maar moet ten spyte van die verskille as ‘n kontinuum beskou word (Klasen & Clutterbuck, 2002; Petrin, 2010). Formele en informele mentorskap verskil in terme van hoe die verhouding geïnisieer word soos spontane aantrekking en voorkeur van die mentee teenoor gestruktureerde passing deur ‘n mentorskap- programleier, -koördineerder of -bestuurder (§3.2.1.1). Die aard van die

mentorskapverhouding, die lengte van die verhouding, die doelwit(te) wat bereik wil word sowel as die formaliteite tydens die mentorskapsessies onderskei ook formele van informele mentorskap. Die keuse van ‘n formele of informele mentorskap moet ‘n weldeurdagte besluit wees en formeel deur die instelling gekoördineer word (Clutterbuck, 2002(b); Ehrich, 2013), omdat voorvermelde faktore ‘n invloed kan uitoefen op die waarde wat mentorskap toevoeg sowel as die mentorskapverhouding (Eby & Lockwood, 2004). Vervolgens die verskil in benadering en uitkoms tussen formele en informele mentorskap:

2.6.1 Formele mentorskap

Formele mentorskap is ‘n gestruktureerde mentorskapproses wat geïnisieer word deur die instelling, bestuur word deur ‘n mentorskapprogramleier of -bestuurder en gebruik word as deel van die professionele en persoonlike ontwikkeling vir die individu (Baugh & Fagenson-Eland, 2007; Departement van Onderwys, 2008(a); Klasen & Clutterbuck, 2002; Petrin, 2010). Formele mentorskap spruit uit gestelde organisatoriese behoeftes en doelwitte. Hierdie behoeftes word aan die begin van die mentorskapsiklus deur die instelling sowel as die mentee en mentor gestel. Gestelde doelwitte en uitkomste word in die formele mentorskapproses gemeet en vereis dus gereelde mentor-mentee-interaksie (Baugh & Fagenson-Eland, 2007; Business Mentoring Solutions, 2014(a); Hansman, 2001; Klasen & Clutterbuck, 2002). Die instelling baat direk by die professionele en persoonlike ontwikkeling van die mentee (Baugh & Fagenson-Eland, 2007; Business Mentoring Solutions, 2014(a); Petrin, 2010).

Formele mentorskap kan die vorm aanneem van een-tot-een-, portuur-, groep- of elektroniese mentorskap (Baugh & Fagenson-Eland, 2007; Petrin, 2010). Die gestruktureerde mentorskapproses dien as raamwerk waar beide die mentor en mentee in die mentorskapverhouding ondersteuning geniet. Alhoewel rolle, verantwoordelikhede, doelwitte sowel as verwagtings formeel en gefokus uitgestip word, is daar genoegsame ruimte vir die unieke ontwikkelingsbehoeftes van beide die mentor en mentee (Klasen & Clutterbuck, 2002). Die mentorskapverhouding dien ook as fondasie vir toekomstige informele verhoudings en netwerke (Klasen & Clutterbuck, 2002). Mentor-mentee-sifting, -seleksie en -passing geskied deur ‘n formele proses, aan die hand van ‘n bepaalde kriterium en ‘n mentor buite die direkte rapporteringslyn van die mentee word aan die mentee toegewys (Baugh & Fagenson-Eland, 2007; Day, 2001). Opleiding van die mentor en mentee is gestruktureerd en die mentorskaptydperk word gekenmerk deur formele mentorskapaktiwiteite en -ondersteuning. Mentorskapsessies word formeel gekoördineer met ‘n vooraf opgestelde en ooreengekome agenda (Business Mentoring Solutions, 2014(b); Duncan & Stock, 2010; Klasen & Clutterbuck, 2002; Ontario Ministry of Education, 2011). Vanwee hierdie studie se fokus op mentorskap as

deel van formele mentorskapbenadering in die nasionale skoolleier-opleidingsprogram, sal bovermelde aspekte later in hoofstuk 3 (§3.2) sowel as in die emipriese studie (§5.6.2) in diepte bespreek word.

2.6.2 Informele mentorskap

Anders as formele mentorskap behels informele mentorskap ‘n selfgeïnisieerde, selfsaamgestelde en selfbestuurde ondersteuningsnetwerk (Baugh & Fagenson-Eland, 2007; Business Mentoring Solutions, 2014(a); Duncan & Stock, 2010; Klasen & Clutterbuck, 2002). Doelwitte en uitkomste word deur die mentee self gestel, is minder spesifiek en word nie gemeet aan die einde van die mentorskaptydperk nie (Business Mentoring Solutions, 2014(a); Klasen & Clutterbuck, 2002). Anders as by formele mentorskap is die fokus uitsluitlik op die bereiking van die mentee se persoonlike doelwitte wat meebring dat die instelling indirek by die mentorskapproses baat (Baugh & Fagenson-Eland, 2007; Business Mentoring Solutions, 2014(a); Petrin, 2010). Weens die selfgeïnisieerde en selfsaamgestelde mentorskapnetwerk vind geen formele sifting en seleksie van mentore of mentor-mentee-passing plaas nie. Die kriteria wat deur die mentee gebruik word, wissel na gelang van die doelwit, behoefte(s) en voorkeur(e) van die mentee. Weens belangstelling, bereidwilligheid en persoonlike aangetrokkenheid ontwikkel die meerderheid mentorskapverhoudings vanuit ‘n informele verhouding waarvan die duur van die verhouding tot lewenslank kan wees (Business Mentoring Solutions, 2014(a); Duncan & Stock, 2010).

In informele mentorskap vind geen formeel gestruktureerde mentorskapopleiding plaas nie. ‘n Vooraf vasgestelde agenda vir die mentorskapsessie is nie ‘n noodsaaklikheid nie en informele gesprekvoering kan enige tyd en plek plaasvind (Business Mentoring Solutions, 2014(a); Duncan & Stock, 2010; Klasen & Clutterbuck, 2002; Ontario Ministry of Education, 2011). Ten einde die rasionaal vir hierdie studie aan te spreek, naamlik die wêreldwye behoefte aan wetenskaplik-gefundeerde navorsing rakende formele mentorskap in onderwysleierskapprogramme (Baugh & Fagenson-Eland, 2007; Bush et al., 2011; Cox & Jackson, 2010; Davis et al., 2005; Joyce & Calhoun, 2010; Ontario Ministry of Education, 2011; Peters, 2012) sowel as dat ‘n indiepte-besinning en -hersiening van die integrale mentorskapkomponent van die program deur hoër onderwysinstellings18 (voortaan HOI’s), provinsiale onderwysowerhede en die DBO noodsaaklik is (Bush et al., 2011), sal ek fokus op die aard van formele mentorskap.

18 Vir die doel van hierdie studie sal die sambreelterm instelling gebruik word en verwys na

organisasies of instansies wat gestig is vir opvoedkundige en professionele doeleindes soos die Departement van Basiese Onderwys (DBO) asook hoër onderwysinstellings (HOI’s).

Die benadering en uitkoms van die nasionale, professionele opleidingsprogram bevat elemente van ‘n formeel gestruktureerde mentorskapproses en –program. Dit sluit mentorskapmomente in soos beplanning, ontwerp en implementering, mentor-mentee-sifting, -seleksie en -passing, mentor-mentee-opleiding, deurlopende ondersteuning en refleksie.

Ek erken dat informele mentorskap deel vorm van die professionele ontwikkeling van skoolleiers en dat die rol en invloed van informele mentorskap nie misken kan word nie. Skoolleiers beskou hierdie selfgeïnisieerde en -saamgestelde ondersteuningsnetwerk as ʼn waardevolle bemagtigingsproses wat noodsaaklike interaksie sowel as ‘n gevoel van “behoort” bewerkstellig (Duncan & Stock, 2010; Mentz et al., 2010). Laasgenoemde is nie formeel gestruktureerd nie en word ook nie formeel bestuur nie en sal vanweë die fokus van hierdie studie nie deel vorm van dié navorsing nie. ‘n Soorgelyke wetenskaplik-gefundeerde studie wat fokus op die informele mentorskap as deel van die skoolleier se persoonlike en professionele ontwikkeling sal ‘n bydrae kan lewer tot ‘n beter begrip rakende skoolleierskap en -bestuur en die waarde wat informele mentorskap tot skoolleier-opleidingsprogramme toevoeg. Vanweë die fokus van hierdie studie sal die waarde wat formele mentorskap toevoeg, vervolgens bespreek word.