• No results found

Die rol van mentorskap in die GOS SL-program as deel van personeel-,

5.5 Die aard van mentorskap in die professionele ontwikkeling van

5.5.4 Die rol van mentorskap in die GOS SL-program as deel van personeel-,

Mentorskap word wêreldwyd al hoe meer gesien as ʼn onontbeerlike deel van professionele ontwikkeling (§1.2, 2.8.3). Die onderwysomgewing is geen uitsondering nie. Die mentorskap van skoolleiers speel ‘n onontbeerlike rol in die daarstelling van ’n positiewe leeromgewing, die verbetering van leerderprestasie sowel as effektiewe bestuur- en leierskapsvaardighede (§2.7). Vanuit die belewinge van die deelnemers kon die rol wat mentorskap in personeel-, persoonlike en professionele ontwikkeling speel, geïdentifiseer word. Figuur 5.8 dui skematies die kodes aan wat in hierdie verband na vore gekom het. Gesien die belangrikheid van mentorskap in die professionele ontwikkeling van skoolleiers, sal die rol van mentorskap in elk van die ontwikkelingsgeleenthede afsonderlik bespreek word.

110

“As a mentor you’ve got to keep the process going otherwise the mentees will be quite happy sometimes just to do their own thing” (P4:111:116).

Figuur 5.8 Die rol van mentorskap in die GOS SL-program as deel van personeel-, persoonlike en professionele ontwikkeling

5.5.4.1 Mentorskap in die GOS SL-program as deel van personeelontwikkeling

Personeelontwikkeling in die onderwys dui op 'n taakgeoriënteerde, beplande proses wat deur die DBO daar gestel word om spesifiek tekortkominge in kennis en/of vaardighede aan te spreek ten einde skoolleiers in staat te stel om hul taak so doeltreffend moontlik te kan verrig (§2.8.1). Die GOS SL-program as formele, beplande ontwikkelingsproses met sy integrale mentorskapkomponent, word beskou as ʼn sleutelaspek in die daarstelling van ʼn volhoubare werkerskorps (P10:86:89). Bestuursontwikkeling is ʼn hoë prioriteit vir die Departement van Onderwys en vir verbeterde leerderprestasie is dit noodsaaklik dat die bestuurskapasiteit van skoolleiers verbeter word. Een manier om die bevoegdheid van skoolbestuurspanne te verbeter en skoolleierskap te professionaliseer is deur die GOS program (P10:6:10) met sy integrale mentorskapkomponent in die GOS SL-program (P10:86:88).

Deelnemers is dit eens dat die integrale mentorskapkomponent van die GOS SL-program gehelp het om spesifieke tekortkominge in kennis en/of vaardighede aan te spreek en aan mentees die geleentheid bied om die kennis wat hulle opgedoen het in die GOS SL-program, na die skool te neem (P11:147:150, P7:134:150). Een deelnemer vat dit saam in die volgende aanhaling:

As jy aangestel word in ʼn bevorderingspos, is dit heeltemal ‘n vreemde opset, en glo my, dis nie so maklik om ʼn hoof te wees nie. Al die verantwoordelikheid rus op jou skouers... Jy dink jy kan, maar as jy eers in daai skoene staan, besef jy, jy weet nie genoeg nie... Ek dink die GOS is ʼn goeie ding. Ek het soveel geleer. Maar na die GOS was ek weer alleen. Ek dink dis baie belangrik dat die departement kundige mentore vir die skoolleiers gee. Dis regtig nodig. Daar is

soveel goed wat ʼn nuwe skoolhoof nie weet nie. En dit verander ook so vinnig dat ek ook nie dink jy net ʼn mentor aan die begin of net in die GOS moet hê nie (P7:134:150).

As deel van personeelontwikkeling meld ʼn deelnemer dat mentorskap aan hulle die geleentheid gebied het om die nodige vaardighede en insigte aan te leer wat die nuwe taak of die nuwe posisie gaan vereis (P3:92:95). Deelnemers het ook gevoel dat die integrale mentorskapkomponent gelei het tot groter doeltreffendheid (P2:43:44, P3:104:106), leierskapontwikkeling (P13:177:178) en groter produktiwiteit (P4:96:99)

Uit die onderhoude wat gevoer is, het die deelnemers aangedui dat die mentorskap wat hulle in die GOS SL-program ontvang het, hulle gehelp het met die voorbereiding vir ʼn nuwe pos (P7:39:43, P3:92:95, P11:162:164). Een van die deelnemers (P11:147:150) meld dat mentorskap ten doel het om aan mentees die geleentheid bied om die kennis wat hulle in die GOS SL-program opgedoen het, in die skoolpraktyk toe te pas. Mentorskap bring ook groter doeltreffendheid teweeg (P2:43:44, P3:104:106) en dra by tot leierskapontwikkeling (P13:177:178) en groter produktiwiteit (P4:96:99). Opmerklik was dat deelnemers slegs melding gemaak het van hul positiewe belewinge rondom die waarde van mentorskap in die GOS SL-program as deel van personeel-, persoonlike en professionele ontwikkeling. Voorgenoemde bevestig die waarde van mentorskap en benadruk die belangrikheid van deeglike beplanning, besluitneming en ontwerp rakende mentorskap as integrale deel van ʼn skoolleier-opleidingsprogram (§3.2.1).

5.5.4.2 Mentorskap in die GOS SL-program as deel van persoonlike ontwikkeling

Die integrale mentorskapkomponent van die GOS SL-program kan aan die skoolleier die geleentheid bied om binne ‘n veilige vertrouensverhouding selfkennis in te win en gestelde persoonlike doelwitte te bereik. Binne die mentorskapverhouding kan skoolleiers ook die geleentheid gebied word om strategieë en aksieplanne rakende hulle sosiale vaardighede, talente, gesondheid, geestelikheid, lewenstyl sowel as die verbetering van kwaliteit van lewe met die mentor te klankbord (§2.8.2). In die onderhoude kon slegs een verwysings na die rol wat die mentor in die persoonlike ontwikkeling van die mentee speel, geïdentifiseer word:

Daar was kere wat sy swaar gekry het. Persoonlike goed. En dan het ons gesels daaroor omdat ons al ʼn lang pad saamgestap het en ons mekaar kon vertrou (P7:107:109).

Bogenoemde aanhaling stem ooreen met die literatuur dat mentorskap, as deel van die persoonlike ontwikkeling van die mentee, poog om ontwikkeling in liggaam, siel en gees in te sluit. Die aanhaling dui ook daarop dat die mentorskappaar persoonlike aspekte kon bespreek

het omdat daar ‘n vertrouensverhouding was wat oor ‘n lang tydperk ontstaan het. ‘n Indiepte- analise van die onderhoude het getoon dat in onderhoude waar die deelnemers die aspek van persoonlike ontwikkeling aangeraak het (P7:107:109, P9:238:243), die een-tot-een- mentorskapmodel gebruik is, waar die mentee die mentor-identifisering en -seleksie self hanteer het. Verbandhoudende aanhalings kon nie vanuit onderhoude waar die groepmentorskapmodel gebruik word, geïdentifiseer word nie. Of daar ‘n verband is tussen die tipe mentorskapmodel wat gebruik word en die persoonlike ontwikkeling van die mentee asook hoe en in watter mate die integrale mentorskapkomponent van die GOS SL-program daarin slaag, kon nie vanuit die onderhoude bepaal word nie. Ek meen dat ʼn gefokusde studie op die persoonlike ontwikkeling van die mentee in die GOS SL-program groter duidelikheid kan verskaf.

5.5.4.3 Mentorskap in die GOS SL-program as deel van professionele ontwikkeling

Mentorskap word wêreldwyd al hoe meer gesien as ʼn onontbeerlike deel van professionele ontwikkeling (§1.2, 2.8.3). Dit is dan ook iets wat in die onderhoude verwoord is (P3:270:273, P9:200:202, P10:86:89, P8:160:165). Vanuit die onderwysomgewing behels professionele ontwikkeling ‘n toegewyde benadering tot lewenslange selfontwikkeling wat praktykgebaseerde leer, opleiding, netwerk, mentorskap, persoonlike groei en ontwikkeling sowel as bemagtigingsgeleenthede in die onderwysloopbaan insluit (§2.8.3). Die belangrikheid wat mentorskap as deel van die professionele ontwikkeling van die skoolleier speel, is oor die breë spektrum van deelnemers in hierdie studie bevestig (P6:267:271, P8:160:165, P4:67:68, P2:269:272). Professionele ontwikkeling is in wese gefokus op doelwitstelling en –bereiking en is derhalwe resultaatgerig. Dit maak die meting van die proses moontlik deurdat daar tussen die beginstadium en voltooiingstadium onderskei kan word. Een deelnemer stel dit onomwonde dat mentorskap definitief bydra tot die professionele ontwikkeling van die skoolleier en dat die ontwikkeling oor die twee jaar sigbaar is (P2:269:272) terwyl ‘n ander deelnemer meld dat mentorskap die antwoord is vir die professionele ontwikkeling van skoolleiers in Suid-Afrika is (P6:267:271).

Wêreldwyd word die beskouing gedeel dat toenemende druk vir effektiewe skoolbestuur en - leierskap sowel as veranderende bestuurs- en leierskaptendense binne die onderwysomgewing, voortdurende investering in die professionele ontwikkeling van skoolleiers noodsaak (§2.7.1, 3.2.1.2). In die konteks van hierdie studie lig een deelnemer (P3:270:273) hierdie punt ook uit en meld dat die integrale mentorskapkomponent van die GOS SL-program die hulpkreet aanspreek van skoolleiers om formele mentorskap as deel van hul behoefte aan professionele ontwikkeling (P13:140:143).

Vanweë die hoë prioriteit wat die professionele ontwikkeling van skoolleiers in die eeu geniet, is die kwaliteit van mentorskap in opleidingsprogramme as deel van professionele ontwikkeling van belang. Soos dit blyk uit die literatuur (§2.8.3) sowel as die onderhoude (P2:269:272, P3:270:273, P6:267:271, P8:160:165, P9:200:202, P10:86:89, P13:140:143) kan mentorskap bydra tot die effektiewe voorbereiding, bemagtiging en ontwikkeling van skoolleiers. Die mentorskap in die GOS SL-program skep geleenthede vir leer en vorm deel van die skoolleier se "journey of learning", soos een deelnemer dit noem (P11:301:302).

Gesien die belangrikheid wat mentorskap in die professionele ontwikkeling van skoolleiers speel, kan dit ‘n risiko wees om skoolleier-opleidingsprogramme aan kans of toeval oor te laat (§2.8.3). Bogenoemde spreek direk tot die navorsingsvraag in hierdie studie (§1.3). Modelontwikkeling vereis deeglike beplanning en ontwerp om te verseker dat dit die persoonlike en professionele ontwikkeling van die mentee in die opleidingsprogram, aangespreek word.

5.6 Hoe word die integrale mentorskapkomponent as deel van ‘n nasionale,