• No results found

Onderhoudskedule en die onderhoudvoering

4.3 Navorsingsontwerp

4.4.4.2 Onderhoudskedule en die onderhoudvoering

In beide die individuele en fokusgroeponderhoude is van ‘n semigestruktureerde onderhoudskedule gebruik gemaak (Bylaag A: Addendum 4.6). Die aard van die spesifieke vrae gedurende die onderhoud is volgens die paradigmatiese perspektief van die navorser en

die studiekonteks gestel. Die vrae vir elke onderhoud is stelselmatig en konsekwent, dog nie rigied nie, gestel. Dit het daartoe aanleiding gegee dat deelnemers gedurende die individuele en fokusgroeponderhoude vrylik konteksspesifieke inligting met my gedeel het. Voorgenoemde word beskou dat effektiewe rapport met die deelnemers bewerkstelling is wat deelname en ryk inligting moontlik gemaak het. Die volgende generiese vrae, gebaseer op die teoretiese raamwerk en begronding, het gedien as vertrekpunt tydens die semigestruktureerde individuele en fokusgroeponderhoude. Om sover moontlik dieselfde datastel te genereer is sover moontlik probeer om by die generiese vraagbank te bly maar die vrae so te bewoord dat dit die deelnemerprofiel in ag neem. Vrae is aan die deelnemers gestel waarna elkeen daarop kon reageer:

Vraag 1: Wat verstaan u onder mentorskap?

Vraag 2: Watter fundamentele eienskappe dra volgens u by tot effektiewe mentorskap van skoolleiers in die GOS SL-program?

Vraag 3: Hoe dink u, dra mentorskap by tot die professionele ontwikkeling van die skoolleier?

Vraag 4: Watter mentorskapaspekte het gedurende die beplanning- en ontwerpfase van die integrale mentorskapkomponent aandag geniet?

Vraag 5: Hoe word die identifisering, sifting en seleksie van mentore vir die GOS SL- program (by u instelling) behartig?

Vraag 6: Hoe word die mentor-mentee-passing vir die GOS SL-program (by u instelling) behartig?

Vraag 7: Hoe word die mentor-mentee-opleiding vir die GOS SL-program (by u instelling) behartig?

Vraag 8: Hoe behartig u deurlopende ondersteuning aan die mentorskappaar gedurende die skoolleier-opleidingsprogram?

Vraag 9: Hoe behartig u die refleksie rakende mentorskap in die GOS SL- opleidingsprogram?

Vraag 10: Watter aspekte - voel u, kan ‘n invloed op die integrale mentorskapkomponent van die GOS SL-program, uitoefen?

Vraag 11: Enige ander kommentaar?

Met die aanvang van die individuele of fokusgroeponderhoud het ek myself aan die deelnemer(s) voorgestel en die deelnemer(s) bedank vir hul deelname. Die doel van die navorsing is verduidelik. Om data-akkuraatheid te verseker is die deelnemer(s) gevra of die onderhoud met behulp van ʼn digitale stemopnemer opgeneem kan word. Die onderhoudsprosedure is aan die deelnemer(s) verduidelik. Die deelnemer(s) is in kennis gestel

dat die onderhoud ongeveer sestig minute sal duur en dat daar van die deelnemer(s) verwag sal word om ongeveer elf semigestruktureerde vrae (soos verskaf aan die deelnemer(s) (Bylaag A, Addendum 4.6) te beantwoord, wat beteken dat die deelnemers hul insette kan omskryf asook dat die navorser moontlik opklarende vrae kan vra ten einde ‘n beter begrip te kry (Corbin & Strauss, 2008; Creswell, 2008).

Die onderhoudsproses is daarna aan die deelnemer(s) verduidelik. Vanweë die interpersoonlike verskille tussen die deelnemer(s) in die studie is gepoog om gemeenskaplike grondreëls vir vertroue, respek en begrip tydens die onderhoud neer te lê (Banks, 2006; Bouma & Ling, 2004; Creswell, 2008; Denscombe, 2010; Dimmock, 2007; King & Horrocks, 2010; Marczyk et al., 2005; Robinson-Pant, 2005). Die proses wat die volgende verduideliking insluit, is aan die deelnemer(s) gekommunikeer: Die navorser stel die vraag. In die geval van

fokusgroepe sal die dieselfde vraag aan elke deelnemer in die groep gestel word na die beantwoording daarvan deur ‘n vorige deelnemer (Barbour, 2007). Deelnemer(s) het die

geleentheid gekry om seker te maak die vraag word duidelik geïnterpreteer. As die deelnemer(s) tevrede met die interpretasie (verstaan) van die vraag was, kon hulle die vraag beantwoord. In die geval van fokusgroepe is ‘n nommerkaartjie voor die deelnemers

aangebring. Deelnemers is versoek om vir transkriberingsdoeleindes van die nommers gebruik te maak. In fokusgroepe is vraagstelling en beantwoording kloksgewys gehanteer en elke deelnemer is die geleentheid gebied om die vraag te beantwoord asook om gesamentlik aan die gespreksessie deel te neem (Barbour, 2007). Die deelnemer(s) is ook ingelig rondom die

gebruik van opvolgvrae om groter duidelikheid te verkry (Corbin & Strauss, 2008).

Deelnemers het deurlopend die geleentheid gehad om enige addissionele inligting by enige antwoord of by die antwoord van enige ander deelnemer te voeg. In die geval van fokusgroepe

is deelnemers versoek om weereens van die nommers voor hulle gebruik te maak. Deelnemers

is die versekering gegee dat hul reg op privaatheid gerespekteer sal word, alle inligting vertroulik hanteer sal word en anonimiteit verseker sal word. Identifiseerbare verwysings soos name is verwyder en met nieverwante skuilname of simbole vervang. Deelnemers is ingelig dat hulle onder geen verpligting is om enige van die semigestruktureerde vrae te beantwoord nie en op enige tydstip van die navorsing kan onttrek. ‘n Konfidensialiteitsklosule en agtergrondvraelys is aan die deelnemer(s) voorgehou. Sou die deelnemer(s) vertroud en gemaklik met die inhoud daarvan wees, is hulle gevra om die dokumentasie te voltooi en te teken (Bylaag A: Addendum 4.8). Laasgenoemde is vertroulik gehanteer en word in ‘n plek van veilige bewaring gestoor.

Na die verduideliking van die onderhoudsprosedure is deelnemer(s) weer gevra of hulle enige vrae of opmerkings het alvorens die onderhoudvoering kon begin. Deelnemers is gevra of hulle gemaklik is met die navorsingsprosedure, en eers na bevestiging is voortgegaan met die proses. Individuele en fokusgroeponderhoude het plaasgevind in ʼn geallokeerde lokaal verskaf deur die deelnemer(s). Alle steurings soos telefone en lugverkoeling ensovoorts is aangespreek om sodoende seker te wees van deelnemer(s) se onverdeelde aandag. Die digitale stemopnemer is aangeskakel en daarna het ek met die semigestruktureerde onderhoudvoering begin.

In die onderhoudvoering was ek as navorser verantwoordelik om te verseker dat élke deelnemer die geleentheid gekry het om hulle algehele mening te gee (Bouma & Ling, 2004; Corbin & Strauss, 2008). Daar is deur opvolgvrae gepoog om direkte, eerlike antwoorde op die vraagstelling te verkry. Omdat my reaksies deelnemers kon beïnvloed, is gepoog om my liggaamshouding, gesigsuitdrukkings en stemtoon so neutraal moontlik te hou. As fasiliteerder was ek deurlopend in beheer van die onderwerp, rigting en tempo van die onderhoud en het ek gepoog om deelnemers wat afgewyk het van die besprekingspunt, te lei met opvolgvrae na die punt van bespreking. Daar is voortdurend gepoog om ‘n hartlike, ontspanne atmosfeer daar te stel (Bui, 2009; Creswell, 2008). Deelnemers is voortdurend aangemoedig om weldeurdagte, ernstige antwoorde te verstrek (Dunne et al., 2005).

Aan die einde van elke onderhoud is die deelnemers vir hul deelname bedank en weereens die versekering gegee dat alle data streng vertroulik hanteer sal word. Die verifikasieproses van die ingesamelde data is aan die deelnemers verduidelik. Deelnemers is versoek om deur die getranskribeerde onderhoud te lees en verandering aan te bring indien daar die behoefte bestaan. Hulle is ook versoek om die waarheid en getrouheid van getranskribeerde onderhoude te verifieer (Creswell, 2003) (Bylaag A: Addendum 4.11).

Vanweë die suksesvolle gebruik van metanotas (“meta notes”) in vorige navorsing het ek in hierdie studie weer daarvan gebruik gemaak om meer inligting aangaande die omgewing waarin deelnemers funksioneer, ongeskrewe kontekstuele faktore en aspekte wat ek gedurende die navorsing opgemerk het, vas te vang (Barbour, 2007; Silverman, 2000; Watling & James, 2007). Daar is deurlopend gepoog om ‘n gedetailleerde, akkurate beskrywing te gee en om teen bevooroordeelde stellings te waak (Creswell, 2003; Watling & James, 2007). Metanotas is tydens en direk na die afloop van elke onderhoud neergeskryf sodat ek my onverdeelde aandag tydens die onderhoud aan die deelnemers kon gee. Alhoewel daar vanuit die metanotas geen addissionele inligting geïdentifiseer is wat die die waarneming en denkrigting beïnvloed het nie,

is die metanotas met transkribering en data-analise deurlopend in ag geneem (Creswell, 2003; Gay & Airasian, 2003; Gray, 2004; Silverman, 2000).