• No results found

In hierdie hoofstuk het ek - na ‘n omvattende bestudering van die literatuur rakende mentorskap as deel van professionele ontwikkeling - tot die gevolgtrekking gekom dat die kompleksiteit van mentorskap en die diverse konseptualisering daarvan bydra tot die hoeveelheid mentorskapnavorsing wat die literatuursoektog opgelewer het. Die evolusionêre aard en verskillende diskoerse in mentorskap was opvallend. As mentorskap egter van al die diskoerse gestroop word, blyk dit ‘n dinamiese, interaktiewe ontwikkelingproses te wees met veelvoudige leergeleenthede tussen twee individue met verskillende vlakke van kennis, vaardighede en ervaringe en ʼn kragtige stimulus vir individuele professionele leer en ontwikkeling (§2.5) (Bush, 2009; Clutterbuck, 2004; Departement van Onderwys, 2008(b); Klasen & Clutterbuck, 2002; Ontario Ministry of Education, 2011; Ragins & Kram, 2007).

Ongeag die diskoers en perspektief op mentorskap blyk die kern van mentorskap gesetel te wees in drie elemente (§2.4). Eerstens is dit gesetel in ‘n verhouding waar ‘n mentor en/of mentee, die mentorskapverhouding inisieer en lei. Tweedens is dit gesetel in die dimensies van

hulpverlening. Hierdie dimensies van hulpverlening kan wissel vanaf bevelend teenoor selfontdekking tot versorgend teenoor selfstandig en laastens lê die kern van mentorskap opgesluit in die behoefte(s) van die mentee. Voorgenoemde elemente onderskei mentorskap van ander mentorskapverwante aspekte soos afrigting, skaduwaarneming en raadgewing. Dit sal ook ‘n invloed uitoefen op die mentorskapstyl en -tegnieke wat gedurende die mentorskaptydperk gebruik word (§2.4) (Baugh & Fagenson-Eland, 2007, Clutterbuck, 2004).

Dit is ook die bovermelde kernelemente wat mentorskap, as onontbeerlike deel van die professionele ontwikkeling van die skoolleier, waardevol maak (§2.8.3) (Bush et al., 2011; Louis et al., 2009; Msila, 2012; Ontario Ministry of Education, 2011; Peters, 2012; Sundli, 2007). Binne die skoolomgewing bring konstante verandering asook ʼn aandrang vir doeltreffende skoolbestuur, -leierskap, onderrig en verbeterde prestasie mee dat daar toenemend druk op skoolleiers is om hulle taak optimaal uit te voer (§2.8.3, 2.9.2). Die professionele ontwikkeling van skoolleiers en die invloed wat dit op skooleffektiwiteit uitoefen, geniet in die 21ste eeu hoë prioriteit (§1.2.2.7.1). Die literatuurstudie bevestig dat die teoretiese opleiding van skoolleiers nie voldoende is nie en dat formele mentorskap van waarde kan wees in die leiding en ondersteuning van skoolleier in hulle daaglikse bestuur en leierskapstaak (Moorosi, 2012; Seong, 2013; Van Jaarsveld et al., 2015). Vanuit die literatuurstudie blyk dit verder dat hulpverlening en leiding binne die formele mentorskapverhouding aan die skoolleier die geleentheid bied om eiesoortige behoefte(s) binne die veranderende en uitdagende skoolomgewing, aan te spreek (§2.7).

Ten spyte van die geïdentifiseerde belangrikheid en waarde van formele mentorskap as deel van die professionele ontwikkeling van skoolleiers, blyk daar ʼn gebrek aan literatuur te wees rakende formele mentorskapprogramme as integrale deel van skoolleier-opleidingsprogram (§2.11). Verskeie konteks-, situasie- en behoeftespesifieke mentorskapmodelle kon vanuit die literatuur geïdentifiseer word. Opmerklik was egter die gebrek aan wetenskaplik-gefundeerde navorsing wat fokus op mentorskap as integrale deel van ʼn skoolleier-opleidingsprogram.

ʼn Wetenskaplik-gefundeerde studie wat fokus op mentorskap as integrale deel van ʼn skoolleier- opleidingsprogram, toon die belangrikheid van deeglike beplanning, besluitneming en ontwerp van die integrale mentorskapkomponent (§2.11.1). Dit blyk dat organisatoriese sowel as mentorskapdoelstellings en doelwitte gestipuleer moet wees. Situasionele en kontekstuele omstandighede wat die bestuurbaarheid van mentorskapmomente bemoeilik, vereis deeglike navorsing alvorens elk van die mentorskapmomente, naamlik identifisering, sifting en seleksie van mentees, mentor-mentee-passing, mentor-mentee-opleiding en ondersteuning beplan, ontwerp en geïmplementeer word.

Die implementering van die model wat mentorskap, as integrale deel van die skoolleier- opleidingsprogram aanspreek, vereis ook ʼn faset van deurlopende en summatiewe refleksie om leemtes aan te spreek en te bepaal of gestelde doelwitte bereik is (§2.11.1). Om hierdie literatuurhoofstuk af te sluit gee ek ʼn diagrammatiese uiteensetting (Figuur 2.8) van die belangrikste aspekte wat bestudeer is in die ondersoek om ʼn geheelbeeld te kry van mentorskap as deel van professionele ontwikkeling. Na die diagrammatiese voorstelling volg hoofstuk 3 waarin ‘n wetenskaplik-gefundeerde ondersoek geloods word na die aard en kompleksiteit van elk van die mentorskapmomente wat die boustene in modelontwikkeling vorm.

Figuur 2.8 Belangrikste aspekte van ondersoek na mentorskap as deel van professionele ontwikkeling

HOOFSTUK 3

MENTORSKAPMOMENTE AS BOUSTENE VAN ‘N

MENTORSKAPMODEL

3.1 Inleiding en konteksskepping

Alvorens ‘n mentorskapmodel as integrale deel van ‘n opleidingsprogram vir die professionele ontwikkeling van skoolleiers ontwikkel kan word (§1.4) is dit noodsaaklik om die mentorskapmomente te ondersoek wat die boustene van ‘n mentorskapmodel vorm. Derhalwe is die doel van hierdie hoofstuk om meer lig te werp op mentorskapmomente as boustene van ’n mentorskapmodel. Hoofstuk 2 eindig met ’n bespreking van ’n wetenskaplik-gefundeerde model wat deur die Singapoer Nasionale Instituut van Onderwys gebruik word in die integrering van formele mentorskap as deel van ’n professionele opleidingsprogram vir skoolleiers. Uit die analise, sowel as in samehang met die literatuurstudie in hoofstuk 3, is verskeie mentorskapmomente geïdentifiseer wat verdere ondersoek regverdig. Hoofstuk 3 begin met ’n bespreking van fundamentele eienskappe en veranderlikes wat mentorskapmodelle deel. Voorgenoemde word opgevolg met ’n bespreking van elk van die mentorskapmomente. Dit begin by die bestudering en bespreking van die beplanning- en ontwerpfase van die integrale mentorskapmoment. Voorgenoemde is noodsaaklik, omdat die beplanning- en ontwerpfase ’n invloed uitoefen op besluitneming rakende elkeen van die mentorskapmomente. Beplanning en ontwerp behoort geskoei te wees op deeglike mentorskapnavorsing wat die besluitnemingsproses rakende elkeen van die mentorskapmomente rig. Die identifisering, sifting en seleksie van mentore en mentees vir die integrale mentorskapmoment verg deeglike beplanning omdat dit die effektiwiteit van die mentorskapverhouding bepaal.

Vervolgens word die kompleksiteit van die mentor-mentee-passingsproses bespreek. As een van die sleutelelemente in die daarstelling van ‘n effektiewe mentorskapproses- en -verhouding word hierdie mentorskap deur verskeie veranderlikes beïnvloed. Die interafhanklikheid tussen die seleksie- en passingsproses word in hierdie verband uitgewys. Mentorskap kom nie in alle gevalle natuurlik vir alle mense nie. Derhalwe word die belangrikheid van mentorskap-opleiding beklemtoon in verskeie mentorskapaspekte met betrekking tot die mentorskappaar. Literatuur toon dat - alhoewel mentorskapopleiding ’n positiewe impak op die mentorskapproses- en - verhouding kan uitoefen - dit nie op sigself genoeg is nie. Volgehoue mentorskapondersteuning aan die mentorskappaar gedurende die mentorskaptydperk is nodig om behoeftes aan te spreek wat kan ontstaan.

Laastens word die belangrikheid van deurlopende refleksie in die voltooiing van mentorskapsiklus bespreek om te bepaal of gestelde doelwitte bereik is en om die effektiwiteit van elkeen van die mentorskapmomente te bepaal. Die hoofstuk wat ʼn dieperliggende begrip rakende die mentorskapmomente verskaf, dien as raamwerk en vertrekpunt vir die ontwikkeling van ‘n mentorskapmodel (§1.4) wat as integrale deel van opleidingsprogramme vir die professionele ontwikkeling van skoolleiers gebruik kan word.

In samehang met die bogenoemde bespreking dien die volgende diagrammatiese uiteensetting as oorsig van die literatuurstudie wat mentorskapmomente as boustene van ‘n mentorskapmodel ondersoek.

Figuur 3.1 Visuele oorsig van hoofstuk 3: Mentorskapmomente as boustene van ‘n mentorskapmodel