• No results found

Fase 3: Data-analise

1.7 UITVOERBAARHEID VAN DIE NAVORSING

Wanneer intervensie beplan word, is dit noodsaaklik om studies van ander navorsers op hierdie gebied te raadpleeg en inligting in te win wat verband hou met die verkose navorsingsprobleem. Inligtinginsameling sluit die identifisering en selektering van relevante informasiebronne in (De Vos & Strydom, 2011:480). Doeltreffende inligting- insameling verseker dat die navorsingsproses glad verloop en dat die navorser se kennis rakende die probleem wat ondersoek word uitgebrei en verfyn word. Die volgende is „n bespreking van die wyse waarop informasie versamel is.

1.7.1 Kwalitatiewe tegnieke

In-diepte semi-gestruktureerde onderhoude is met die deelnemers en hul ouer(s) afgelê. Kwalitatiewe inligting is versamel deur kinders met aggressiewe gedrag en hul ouer(s) by die hoofondersoek te betrek, waartydens hulle as deelnemers die diagrammatiese intervensie deurloop het. Deelnemers is ook na verloop van die hulpverleningsproses individueel in „n gesprek betrek waar hulle die diagrammatiese hulpmiddels hersien het en hul menings daaroor gegee het.

1.7.2 Kwantitatiewe tegnieke

Kwantitatiewe inligting is versamel deur benutting van veelvuldige bronne om diepte aan die studie te verleen:

 Voor- en natoetsing deur benutting van vraelyste (Aggressie-vraelys van Buss en Perry) met ouer(s) en kinders (Bylae 2).

 Elektroniese vraelyste is aan hulpverleners wat vanuit die Gestalt-benadering spelterapie doen gestuur om die benutting van diagrammatiese hulpmiddels in die kontekss van aggressie in die praktyk te bestudeer (Bylae 7).

1.7.3 Benutting van bestaande inligtingsbronne

„n Literatuurstudie is onderneem om inligting rondom kinders met aggressiewe gedrag, die middelkinderjare, diagrammatiese hulpmiddels en die Gestalt- spelterapeutiese benadering te bekom. Die doel van ʼn literatuurstudie is om vir die navorser ʼn raamwerk te skep vanwaar navorsing uitgebrei en gerig kan word (Lues & Lategan, 2006:8). Vir hierdie doel het die navorser resente sowel as ouer bronne geraadpleeg, omdat baie van die teorie en oorspronklike literatuur belangrik is. Daar was in die vorige eeu belangrike ontwikkelinge rakende die grondslagteorie van spelterapie en ook rakende aggressie. Ouer literatuur word dus doelgerig benut om sodanige grondslagteorieë te ondersoek. Belangrike werk aangaande die praktiese aanwending van spelterapie is in die tagtigerjare gedoen in onder meer met die werk van Schaefer en O‟Connor (1983). Ander literatuur verwys sekondêr na hierdie werk, maar die navorser verkies om terug te gaan na die primêre historiese bronne. Beide plaaslike en internasionale bronne, asook resente vakkundige tydskrifartikels wat handel oor die hoofkonsepte van die navorsing, is bestudeer om aggressie as internasionale verskynsel te ondersoek. Vakreferente by die biblioteek van die Universiteit van Suid-Afrika, die Universiteit van die Vrystaat en Noord-Wes

Universiteit is geraadpleeg in verband met die identifisering van bronne en insameling van inligting. Toepaslike bronne op die internet is ook geraadpleeg. Kamar (2005:30) maak „n belangrike opmerking oor literatuurstudies as die outeur die paradoks daarin uitlig. Die outeur noem dat die literatuurstudie sinneloos is sonder „n goed geformuleerde navorsingsprobleem, maar dat die literatuurstudie weer help met die formulering van die navorsingsprobleem. De Vos en Strydom (2011:482) maak die voorstel dat die navorser ander programme wat dieselfde probleem aanspreek moet ondersoek. Bruikbare riglyne kan geïdentifiseer word wat diepte aan die hulpverleningsprogram kan verleen. Dit is ook moontlik dat die navorser sekere struikelblokke kan identifiseer wat stremmend op die program kan inwerk.

1.7.4 Konsultasie met kundiges

Onderhoude is met verskeie professionele persone gevoer om inligting te bekom oor aggressiewe gedrag by kinders in die omgewing. Die onderhoude dien as „n waardevolle bron van inligting (De Vos en Strydom, 2011:481). Onderhoude is met die volgende persone gevoer gedurende die uitvoer van die studie:

 Mev J. Els - ondersteunende opvoeder in die Bloemfontein-area,

 Mej T. van Zyl - ondersteunende opvoeder in Bloemfontein-area,

 Mev B. van der Vlies - pastoor wat spesialiseer in spelterapie.

„n Verdere doel van die navorser se verhouding met bogenoemde persone was om toegang te verkry tot die populasie van die studie, soos uiteengesit in 1.7.5. Die persone is personeel by die primêre skool waar die studie uitgevoer is en kinders met aggressiewe gedrag is deur hulle verwys. Die betrokke persone is telefonies gekontak en versoek om kinders met aggressiewe gedrag te verwys as moontlike deelnemers aan die navorsing. Die navorser het ook „n brief aan hulle gestuur om die doel van die navorsing duidelik te maak (Bylae 6). Vir die doel van triangulering het die navorser ook „n elektroniese vraelys (Bylae 7) aan verskeie professionele persone met spesialis opleiding in spelterapie gestuur. Die inligting wat bekom is uit die vraelys is geanaliseer en in die studie opgeneem. Triangulering kan beskryf word as die benutting van verskeie metodes of data om „n onderwerp te bestudeer (Punch, 2006:157). Data vanuit verskillende bronne kan dus gebruik word om navorsing te bevestig, uit te brei of te verlig (De Vos & Strydom, 2011:420). Die term kristalisasie

(Merriam in Maree, 2010:38) word meer algemeen benut by kwalitatiewe studies en was dus ook relevant by die kwalitatiewe gedeelte van die studie.

1.7.5 Omskrywing van universum, afbakening van steekproef en wyse van steekproefneming

Die populasie word gedefinieër as die teikengroep waaroor inligting versamel wil word, maar wat nie direk bestudeer kan word nie, en daarom maak navorsers „n steekproef vanuit die populasie (Holt & Walker, 2009:25; Punch, 2006:155). Die populasie is dus elke moontlike geval wat aan die vereistes vir die studie voldoen. Yegidis en Weinbach (2009:196) verwys ook na die toeganklike populasie wat dui op persone wat potensieel toeganklik is, onder meer op geografiese gebied. Die populasie vir die studie sluit Afrikaanssprekende kinders, tussen die ouderdom van 6 – 9 jaar, by „n primêre skool in Bloemfontein in.

Daar kan volgens Grinell en Williams (1990:119) en Welman, Kruger en Mitchell (2005:56) tussen twee hoofgroepe steekproewe onderskei word, naamlik waarskynlikheidseleksie en nie-waarskynlikheidseleksie. Die navorser benut in die betrokke studie die nie-waarskynlikheidseleksie omdat deelnemers willekeurig gekies is. Die steekproef vir die studie is gekies met spesifieke kenmerke in gedagte en daarom is daar gebruik gemaak van die doelbewuste seleksiemetode (Teddlie & Yu, 2007:199).

Vir die eerste fase van die studie is moontlike kandidate verwys na die navorser deur die ondersteuningspersoneel by „n primêre skool in die Bloemfontein-area. Hierdie kinders se ouer(s) is telefonies gekontak om die doel van die studie te verduidelik. ʼn Brief (Bylae 1) is daarna aan die ouer(s) gestuur waarin hulle skriftelik moes aandui of hulle belangstel om hul kind by die studie te betrek. Die ouer(s) wat skriftelik toestemming verleen het se kinders is ingesluit by die navorsing. Seleksie het op die volgende kriteria berus:

 Geslag: Beide geslagte

 Taal: Afrikaanssprekendes

 Ouderdom: Middelkinderjare (6 – 9 jaar)

 Probleem: Aggressiewe gedrag by kinders in hul middelkinderjare

 Die kind moes „n skolier van die betrokke primêre skool wees.

Vir die tweede fase van die studie is „n elektroniese vraelys (Bylae 7) wat handel oor aggressiewe gedrag en die benutting van diagrammatiese hulpmiddels gestuur aan professionele persone met spesialis opleiding in spelterapie. Die universum het bestaan uit Afrikaans- of Engelssprekende hulpverleners met toegang tot die internet. Die e-posadresse is verkry vanaf die Instituut vir Kinder-, Jeug- en Familiestudies (UNISA) wat nagraadse opleiding in Gestaltspelterapie aanbied. Die populasie moes aan die volgende kriteria voldoen:

 Deelnemers moet vanuit die Gestaltbenadering werk.

 Deelnemers moet „n nagraadse kwalifikasie in spelterapie hê.

 Deelnemers moet toegang hê tot die internet om die elektroniese vraelys te ontvang.

 Deelnemers moet Afrikaans- of Engels magtig wees.