• No results found

Skoolprestasie bogemiddeld.

5.4 PROSESSERING EN ANALISERING VAN DIE KWALITATIEWE DATA

5.4.1 Kennismaking en voltooiing van skale met kinders en hul ouer(s) sessie

Doel van die sessie

Die sessie het ten doel gehad om die hulpverleningsprogram aan die ouer(s) en kinders te verduidelik. Sekere grense is reeds gedurende die eerste sessie vasgestel, soos byvoorbeeld die tye en plek waarop die hulpverlening sou geskied. Gedurende die eerste sessie word kontak met die kinders alreeds bewerkstellig. Vanuit hoofstuk 3 is dit duidelik dat die terapeutiese verhouding wat die hulpverlener met die kinders het, van kardinale belang beskou behoort te word.

Voltooiing van skale (Aggressie-vraelys van Buss en Perry)

Tydens die sessie het beide die ouer(s) en die deelnemers die skale (Bylae 2) voltooi. Die skaal neem ongeveer 10 - 15 minute om te voltooi. Die navorser het die skale met die ouer(s) en die kinders afsonderlik voltooi, sodat beide die ouer(s) en die kinders die geleentheid gebied is om eerlik te wees oor hul gevoelens. Die navorser het ook van die geleentheid gebruik gemaak om „n semi-gestruktureerde onderhoud (Bylae 4) met die ouer(s) af te lê.

Hantering van videokamera

Dit is belangrik vir die hulpverlener om kennis te dra van die feit dat die videokamera intimiderend kan wees vir die kinders sowel as die ouer(s). Dit is gewens om aan hulle te verduidelik dat die videobande slegs gebruik sal word om aantekeninge en notas te maak. Die navorser bied aan die deelnemers die geleentheid om die speelkamer met die videokamera te verken. Deelnemer 2 lag baie as hy sy ma op die videokamera sien. Die navorser is van mening dat die videokamera suksesvol aangewend is, omdat deelnemers die speelkamer leer ken het en tegelykertyd vertroud geraak het met die videokamera.

Waarnemings van deelnemers tydens die aanvangsfase van die eerste sessie

Deelnemer 1 het senuweeagtig voorgekom. Hy het oogkontak met die navorser vermy en herhaaldelik sy lippe gelek en swaar gesluk. Alhoewel deelnemer 1 gespanne voorgekom het, het hy al die vrae op die oog af eerlik beantwoord. Die navorser maak hierdie afleiding vanuit die deelnemer se verleë laggie wat hy gegee het nadat hy vrae gevra is waarop die antwoorde nie positief was nie. Deelnemer 1 se konsentrasievlakke blyk hoog te wees gedurende die verloop van die hele sessie. Alhoewel dit nog in die vroeë stadium van die intervensie was, blyk dit dat die vertrouensverhouding tussen deelnemer 1 en die navorser besig was om te ontwikkel as sy oorwegende goeie samewerking met die navorser in ag geneem word. Vanuit hoofstuk 3 (sien 3.3.13) is dit duidelik dat emosionele kontakmaking reeds begin sodra die hulpverlener kinders vir die eerste keer ontmoet en hierdie verhouding dra by tot die sukses van die hulpverleningsproses.

Deelnemer 2 het regdeur die sessie rusteloos voorgekom. Hy vermy oogkontak met die navorser en sy aandag dwaal baie. Deelnemer 2 vind dit oënskynlik moeilik om hier-en-nou-kontak te bewerkstellig. Vanuit „n Gestaltperspektief word daar na kontak verwys as kinders se vermoë om interaksie met die omgewing te bewerkstellig. Die navorser vermoed dat hy „n vorm van weerstand toon. In die Gestaltbenadering word weerstand erken. Dit word nie verstaan as iets wat ongewens is nie (Blom, 2006:59- 61; Yontef, 1993:12). Kinders word bewus gemaak van hul weerstand en word ondersteun om deur die weerstand te werk. Weerstand word slegs as ongesond gesien as dit buite die kinders se bewustheid plaasvind en nie deel is van die kinders se kreatiewe aanpassingsproses nie (Yontef, 1993:28; Yontef & Fairfield, 2005:7). Ginger (2007:5) definieer kreatiewe aanpassing as “creative adaption of the

organism to its environment”.

Deelnemer 3 kom senuweeagtig voor, maar openbaar goeie konsentrasie gedurende die aflê van die skale (Bylae 2). Deelnemer 4 is baie in haar skik om na die navorser te kom. Sy noem dat sy baie daarna uitgesien het en dat sy amper nie die vorige aand kon slaap van opgewondenheid nie. Sy gee haar volle samewerking tydens die aflê van die skale (Bylae 2). Die navorser merk op dat deelnemer 4 se spraak dalk „n aanduiding kan wees van „n ontwikkelingsagterstand.

Deelnemer 5 noem dat hy uitsien om weer na die navorser te kom. Sy energievlakke is hoog. Sy moeder verduidelik dat hy baie aggressief word as hy nie sy sin kry nie, maar hy aanvaar volgens haar nie verantwoordelikheid vir sy aggressiewe gedrag

nie. Deelnemer 5 bevestig die stelling wat deur sy moeder gemaak word, wanneer hy erken dat hy aggressief word, maar noem dat dit nie sy skuld is nie. Vanuit hoofstuk 2 (sien 2.3.2.3) is dit duidelik dat kinders met aggressiewe gedrag dikwels beperkte insig in ander se emosies toon en ander kinders se intensies beskou as vyandig. Hulle regverdig dus hul aggressiewe gedrag deur die skuld op ander kinders te pak as gevolg van hul verkeerde interpretasies. Deelnemer 5 het goeie samewerking tydens die invul van die skale gegee (Bylae 2). Hy het die vrae verstaan en kon maklik sy keuses deurgee.

Prosesdoelstellings

Aan die begin en einde van elke sessie is dit nodig om aandag te gee aan prosesdoelstellings wat op die hulpverleningsproses fokus. Elke sessie word afgesluit deur te begin om aan die legkaarte te bou wat tydens die laaste sessie voltooi sal word. Die navorser verduidelik aan die deelnemers dat hulle aan die einde van elke sessie aan die legkaart gaan bou. As die legkaart voltooi is, gaan die sessies klaar wees. Dit berei die deelnemers voor op terminering, omdat hulle elke keer kan sien dat die stukkies van die legkaart minder word. Gedurende die finale fase van elke intervensiesessie help legkaarte (ontspannende spel) om terapeutiese intensiteit te verminder. Die navorser is van mening dat die tegniek goed werk om die kinders voor te berei op terminering en op „n kindervriendelike manier die verloop van die intervensieproses aan hulle te wys. Die volgende beskrywing dui aan hoe deelnemers die legkaart benut het:

Gedurende een van die sessies het deelnemer 4 self die oorblywende stukke opgetel om uit te werk hoeveel sessies nog oor is. Sy noem dat sy nie kan glo dat sy alreeds vyf keer by die navorser was nie. Tydens die laaste gesprekvoeringsessie met deelnemer 4 het sy ook weer verwys na die legkaart: “Ek onthou ons het elke keer „n bietjie van die legkaart gebou tot hy klaar was”. Deelnemer 3 maak ook tydens die laaste gesprekvoeringsessie melding van die legkaart: “Dit was lekker om elke keer „n stukkie van die puzzle te bou”.

Die navorser vind dit nuttig om elke sessie te begin met „n aggressie- ontladingstegniek. Op hierdie manier word die deelnemers nie net bewus gemaak van hul aggressie nie, maar leer hulle ook aanvaarbare maniere om aan die aggressie uiting te gee. Kinders moet ook geleenthede gegun word om hul aggressiewe energie uit te woed voordat goeie gevoelens na die voorgrond kan tree

(sien 3.7). Uit inligting wat die navorser bekom het vanuit die elektroniese vraelyste (Bylae 7) gebruik hulpverleners die volgende speelgerigte maniere waarop kinders uitting aan aggressiewe energie kan gee: “Poolnoodle-play” (wanneer kinders „n

“poolnoodle” gebruik wat van „n tipe spons gemaak word om uiting aan aggressie te

gee): opskeur van telefoonboeke, trap op bottels: gebruik van watergewere, slaan van kussings, benutting van speelklei, sand en verf, swaardgevegte, slaan van „n bokssak, skeur papier in klein stukkies, maak van papierbomme met koerante, spring op ballonne, waterballonne, plastiekstoele met kussings te slaan, laat kinders prente teken van hul aggressie, rubberhamer op kussing slaan, laat kinders toe om te skree hoe hulle voel en waarom hulle so voel en houtwerk (slaan van spykers in „n houtblok).

Tydens sessie 4 het die navorser met elke deelnemer gedeel dat hulle heel eerste gaan boks voor hulle aan die diagramme gaan werk. Die deelnemers se reaksie op die aktiwiteit was uiteenlopend. Ten einde „n aanduiding te gee van die deelnemers se verskillende reaksies, bied die navorser „n opsomming van elkeen se reaksie:

Deelnemer 1 kom baie opgewonde voor, maar begin egter deur die slaansak baie versigtig te boks, maar later gee hy alles. Hy hou aan slaan totdat hy totaal uitgeput is. Die navorser vra hom nou om die sak vas te hou terwyl sy slaan. Die navorser vra aan deelnemer 1 of hy aan iemand gedink het terwyl hy die sak so hard geslaan het. Hy antwoord dat hy aan sy pa gedink het. In sulke gevalle kan die hulpverlener gebruik maak van „n aggressie-barometer sodat kinders kan aandui op „n skaal van 1 – 10 hoe kwaad hulle voel.

Die navorser gee vir deelnemer 2 bokshandskoene om aan te trek. Deelnemer 2 vertel dat hy dieselfde bokssak by die huis het. Hy noem dat dit hom help om te boks as hy kwaad is en vertel dat die sak al stukkend geslaan is. Die navorser vestig deelnemer 2 se aandag op die feit dat hy alreeds aan „n alternatiewe manier tot aggressiewe gedrag kan dink. Hy geniet dit om die sak te slaan en slaan amper die navorser (wat die sak vashou) teen die grond. Daarna vra die navorser deelnemer 2 om die sak vas te hou terwyl sy die sak slaan. Die navorser motiveer hom om weer die sak te slaan terwyl hy aan almal en alles dink wat hom kwaad maak. Tydens die aggressie-ontladingstegniek het baie van deelnemer 2 se opgehoopte aggressie na vore gekom. Hy het die slaansak vir etlike minute aanhoudend en met baie geweld geslaan. Die navorser handhaaf die siening dat dit een van die min kere is waar deelnemer 2 toestemming ontvang het om op „n fisiese manier van sy gevoelens van

woede ontslae te raak. Volgens sy klasopvoeder kom hy dikwels in die moeilikheid gedurende pouses omdat hy aggressief optree. Daar word dus van hom verwag om gedurende interaksie met ander kinders sy aggressie te onderdruk omdat hy nie bewus is van gepaste maniere om uiting aan hierdie gevoelens te gee nie. Nadat hy die oefening voltooi het, het hy meer energiek en opgewonde voorgekom. Hy kon ook tydens die slaan van die slaansak aan „n situasie of persoon dink wat hom kwaad maak, alhoewel hy dit nie met die navorser wou deel nie. Bewustheid, wat „n prosesdoelwit van Gestaltterapie is (Blom, 2006:51; Yontef, 1993:124), van sy woede is dus bewerkstellig. Bewustheid is „n uitkoms van Gestaltterapie wat aanleiding gee tot kreatiewe integrasie van die probleem (Yontef, 1993:51), wat in hierdie geval die kind se aggressie blyk te wees. Tydens die laaste gesprekvoeringsessie het deelnemer 2 op die vraag: “Wat onthou jy die beste?”, gereageer met: “Ek onthou die bokssak die beste. Mamma het vir my ook een in my kamer opgesit en ek slaan die sak as ek kwaad word by die huis”.

Die navorser en deelnemer 3 maak beurte om die slaansak met bokshandskoene te slaan. Deelnemer 3 spog dat hy die sterkste in die klas is. „n Studie deur Unnever en Cornell (2003:143) bevestig dat kinders wat gerapporteer het dat hulle sterker as die portuurgroep blyk te wees, dikwels ander kinders boelie (sien 2.3.1.3). Deelnemer 3 sê hy voel “lekker” nadat hy die slaansak geslaan het. Deelnemer 3 sê dat die slaan van die slaansak “nare goed” laat uitkom. Die navorser vra hom meer uit. Hy sê “nare goed” is soos om maatjies seer te maak. Die slaan van die slaansak bied dus

aan deelnemer 3 die geleentheid om ontslae te raak van sy aggressiewe gedrag sodat dit nie meer vir hom nodig is om maats seer te maak nie. Tydens die laaste gesprekvoeringsessie het deelnemer 3 weer verwys na sy positiewe ondervinding met die slaansak: “Ek onthou die slaansak die beste. Dit was baie lekker. Dit laat my beter voel”.

Tydens die aggressie-ontladingstegniek is deelnemer 4 se energievlakke baie hoog. Met aanmoediging van die navorser kom daar van haar onderdrukte aggressie na vore. As die navorser haar vra om aan iemand te dink wat haar kwaad maak, raak sy baie aggressief. Die navorser verskaf aan haar die geleentheid om al die aggressie uit te woed.

Deelnemer 5 het dit geniet om die slaansak te boks. Sy aggressie is duidelik op sy voorgrond. Hy vertel van „n ander seun wat sy bal gevat het net voordat hy na die

navorser moes kom. Die aktiwiteit duur langer as gewoonlik as gevolg van deelnemer 5 se intense aggressie.

Die aktiwiteit was suksesvol in die sin dat die deelnemers op „n aanvaarbare wyse uiting aan hul aggressie kon gee binne „n veilige omgewing. Die doel van die aktiwiteit was reeds om deelnemers aan te moedig om uiting aan onderdrukte aggressie te gee. Die hulpverlener moet egter ten alle tye kinders se aandag daarop fokus dat „n kussing of „n slaansak aanvaarbaar is om te slaan, maar dat ander kinders nooit geslaan mag word nie.

5.4.2 Bewerkstellig ‘n terapeutiese verhouding en kontak met kinders