• No results found

GESTALSPELTERAPIE MET AGGRESSIEWE KINDERS IN DIE MIDDELKINDERJARE

3.3 BEGINSELS VANUIT DIE GESTALTBENADERING MET AGGRESSIEWE KINDERS IN DIE MIDDELKINDERJARE

3.3.6 Figuur en grond

Die figuur word beskou as dit wat uitstaan teenoor die agtergrond, m.a.w. dit wat vir kinders meer relevant en belangrik is. Die grond verwys na dit waarop kinders nie direk gefokus is nie (Blom, 2006:25; Clarkson, 2004:6; Henderson & Thompson, 2007:224, 225; Woldt & Toman, 2005:88). Die verhouding tussen figuur en grond is die Gestaltterapie definisie van betekenis. Belangstelling bepaal wat sal figureer en wat op die agtergrond sal bly (Yontef & Fairfield, 2005:7). Die figuur en grond vorm dus „n betekenisvolle geheel. So sal kinders in die klas op die les wat aangebied word konsentreer, maar sodra iets in die klas gebeur wat hul belangstelling meer prikkel word die les agtergrond en die nuwe belangstelling figureer. „n Figuur word elke oomblik dominant en val dan weer terug na die agtergrond om plek te maak vir „n nuwe figuur. Dit is „n voortdurende veranderende proses en maak „n belangrike deel uit van bewustheid. Persone leer uit ervaring in die omgewing of uit kontak met ander watter figuur goeie uitkomste tot gevolg het en watter nie (Woldt & Toman, 2005:90). Kinders moet dus oor die vermoë beskik om te leer uit vorige ervarings en dat behoeftebevrediging „n dinamiese, altyd veranderende proses is. „n Goeie figuur is duidelik en onderskeibaar van die agtergrond (Clarkson, 2004:6). Dit gebeur egter dat kinders meer as een behoefte op dieselfde tyd ervaar. So byvoorbeeld kan kinders dors voel terwyl hulle sport beoefen, maar wil hulle ook die sportoefening voltooi voordat hulle gaan water drink. Die gesonde organisme sal egter voorkeur gee aan die mees dominante behoefte op „n spesifieke oomblik in tyd (Blom,

2006:25). Kinders fokus hul sintuie, gedagtes, kognisie en gedrag rondom daardie behoefte todat dit bevredig is (Blom, 2006:25). Wanneer die figuur en grond geskei word, ervaar kinders „n figuur wat buite konteks voorkom of „n konteks sonder enige fokus (Yontef, 1993:143). Kinders met aggressiewe gedrag kan dus „n dominante behoefte daaraan hê om maats te maak en vriendskappe te bou. Hierdie behoefte is dus figurerend in hierdie kinders se lewens. Hulle kan dit egter moeilik vind om hul egosentriese gedrag (byvoorbeeld: “Ons moet speel wat ek wil speel”.) van hul dominante behoefte te skei. Die gevolg is dat die dominante behoefte nie bevredig word nie omdat kinders se aggressie moontlik die fokus vanaf die dominante behoefte verskuif.

Onder normale omstandighede word ervaring of betekenis gevorm deur die dominante behoefte van die organisme. Hierdie behoeftes lê die grondslag vir die vorming van kinders se persepsies (Yontef & Fairfield, 2005:5). Genoemde feit verskaf moontlik „n verduideliking vir verskillende interpretasies aangaande dieselfde situasie wat dikwels deur kinders gemaak word. Kinders se interpretasie van „n situasie wat aanleiding gee tot sekere persepsies is afhanklik van elkeen se dominante behoefte op „n gegewe oomblik in tyd. Dit gebeur soms dat dit wat „n persoon die nodigste het nie toegelaat word om op die voorgrond te tree nie of dat dit wat nodig is slegs vlugtig figureer en ware insig nie kan ontwikkel nie. In paradoks hiermee word „n figuur dikwels in bewustheid gehou en nie toegelaat om na die agtergrond te tree nie. Die resultaat is dat nuwe figure nie na die voorgrond kan tree nie en behoeftes dus nie bevredig kan word nie (Woldt & Toman, 2005:90). Kinders wat dus van die opinie is dat iemand heeltyd die mes vir hulle in het kan aggressief optree omdat hul aggressiewe respons heeltyd figureer en hulle nie hulself toelaat om te ontspan nie.

Die gestalten (figuur-/grondproses) word gevorm deur „n dominante behoefte van die persoon en die omgewing. Dit wat betekenisvol is vir die persoon stimuleer die proses van figuurformasie wat aanleiding daartoe gee dat dit wat in bewustheid behoort te wees op die voorgrond tree en die persoon motiveer om oor te gaan tot aksie sodat behoeftes bevredig kan word (Woldt & Toman, 2005:89). Hierdie proses kan jare neem om te voltooi of enkele sekondes (Clarkson, 2004:7). Wanneer die behoefte bevredig word verkeer kinders in „n toestand van rus of balans totdat „n nuwe behoefte figureer en dan begin die siklus van voor af (Blom, 2006:25). Uit die bogenoemde blyk dit dus dat kinders voortdurend streef na die bevrediging van behoeftes. Sommige behoeftes word vinnig bevredig, soos kinders se behoefte aan

„n sjokolade, terwyl ander behoeftes langer kan neem om te bevredig, soos kinders se behoefte om op die leerderraad van „n skool te dien. Kinders wat hul behoeftes meer effektief kan bevredig kan meer gefokus en ontspanne voorkom omdat hulle meer dikwels in „n toestand van rus verkeer.

Wanneer die figuur-/grondproses goed funksioneer word kinders se behoeftes bevredig, kan hulle hulpbronne uitsoek en hul aandag op take fokus. Dit gee aanleiding daartoe dat kinders nie meer besig bly met die figuur nie en „n nuwe figuur kan na die voorgrond tree (Blom, 2006:25; Woldt & Toman, 2005:89). „n Goed ontwikkelde gestalten gee dus aanleiding daartoe dat kinders groei en ontwikkel. Wanneer kinders verhoed dat sekere behoeftes na die voorgrond tree, word die behoeftes agtergrond geraas. Hierdie agtergrond geraas word ervaar as liggaamspanning, ‟n affektief of „n kognitiewe preokkupasie. Die moontlikheid bestaan dus dat kinders met aggressiewe gedrag sekere behoeftes mag hê wat hulle onderdruk. Hulle kan dalk „n behoefte hê aan vaderlike liefde, maar as gevolg van verskeie omstandighede word die behoefte nie bevredig nie. Hierdie behoefte presenteer dan as liggaamspanning (hoofpyne, maagpyn) of „n affektiewe (kind huil sonder verklaarbare rede) of kognitiewe (kind kan nie konsentreer nie) preokkupasie. Indien kinders nie reageer op „n behoefte nie kan dit aanleiding gee tot frustrasie (Woldt & Toman, 2005:89). Die verband tussen frustrasie as moontlike oorsaak van aggressie is reeds bespreek in hoofstuk 2. Kinders wat dus sekere gevoelens onderdruk omdat die samelewing hulle leer dat hierdie emosies nie uitgedruk mag word nie, ervaar hierdie onderdrukking van emosies as agtergrond geraas. So kan kinders dikwels woede onderdruk omdat hulle van kleins af geleer word dat dit verkeerd is om kwaad te raak. Hierdie onderdrukking van woede kan dikwels reeds die oorsaak wees van kinders se aggressiewe uitbarstings.

Deur bewustheid van die figuur-/grondproses vind groei plaas en word wysheid verkry. Hierdie wysheid lei tot optimale groei van die organisme. Wanneer die bewustheid nie ontwikkel nie kan die organisme nie optimaal funksioneer nie en word alle behoeftes nie bevredig nie. Dit gee aanleiding tot die agteruitgang van die organisme en in sommige gevalle selfs psigopatologie (Woldt & Toman, 2005:90). Net soos ander kinders het kinders met aggressiewe gedrag ook verskeie behoeftes wat ontstaan en wat bevredig moet word. Dit is die mening van die navorser dat kinders met aggressiewe gedrag dikwels nie toegerus is met die vaardighede om hierdie behoeftes te bevredig nie. Aggressie word in sulke omstandighede gebruik

as hanteringstrategieë om te kompenseer vir „n gebrek aan hierdie basiese vaardighede.