• No results found

AGGRESSIEWE GEDRAG IN DIE MIDDELKINDERJARE

2.2 AGGRESSIE AS VERSKYNSEL

Aggressie is „n breë term wat gebruik word om uiteenlopende gedrag te beskryf. Aggressiewe kinders presenteer gewoonlik vroeg al met aggressiewe gedrag. Indien intervensie nie vroegtydig plaasvind nie, eskaleer kinders se aggressiewe gedrag dikwels namate hulle ouer word (Seifert, 2006:64). Die teenwoordigheid van aggressiewe gedrag in „n persoon kan dus oor al die lewensfases strek. Nida en Pierce (2005:444) is van mening dat aggressie op ongeveer een- en tweejarige ouderdom te voorskyn kom. Volwassenes word altyd as aggressief bestempel as hulle handgemeen raak met „n ander persoon; hierteenoor word dieselfde aggressiewe uitlating gedurende die middelkinderjare in „n minder ernstige lig beskou vanweë die ontwikkelingsfase waarin kinders hulself bevind. Kinders word dus nie as aggressief beskou as hulle nou en dan aggressief optree nie. Die fokus van die studie is egter op kinders wat hulself op „n gereelde basis skuldig maak aan aggressiewe gedrag. Die term sluit nie net fisieke aggressie in nie, maar ook verbale aggressie, vyandigheid en woede. Die navorser het waargeneem dat kinders in die skoolomgewing gebruik maak van verskillende maniere om hul aggressie uit te druk. Sommige kinders gebruik vuiste en ander woorde of woedebuie. Kratochwill en

Morris (1991:173) noem dat die doel van aggressie egter dieselfde bly, naamlik om pyn te veroorsaak en om mag te kry. Die navorser wil beklemtoon dat dit belangrik is om aandag te gee aan lae-vlak aggressie (vloek, woedebuie, spot, skinder), omdat navorsing toon dat die genoemde kan ontwikkel in hoë-vlak aggressie. Lae-vlak aggressie dien dieselfde doel as hoër vlakke van aggressiewe gedrag, naamlik om ander skade te berokken deur hul sosiale verhoudings te beskadig. Hierdie subtiele vorme van aggressie word dikwels gedefinieer as sosiale aggressie, indirekte aggressie of verhoudingsaggressie, en kom algemeen in die middelkinderjare voor (Leenaars & Rinaldi, 2010:132; Meyer, Moore & Viljoen, 2008:319; Neal, 2010:123; Pagani, Japel, Vaillancourt & Tremblay, 2009:2).

Die terme aggressie en woede word dikwels gebruik om dieselfde verskynsel te beskryf. Dit is egter belangrik om te onderskei tussen woede en aggressie. Niolin (2000:2) maak die volgende onderskeid tussen die twee begrippe: “ ... anger is not

the same thing as aggression. Anger is a feeling, while aggression is a class of behaviours. Anger is a temporary emotional state caused by frustration; aggression is often an attempt to hurt a person or to destroy property”. Dit blyk dus dat woede „n

emosie is (Leary, Twenge & Quinlivan, 2006:112), terwyl aggressie die persoon se reaksie op die gevoel van woede impliseer. Sommige kinders word nie geleer hoe om woede te hanteer op „n manier wat sosiaal aanvaarbaar is nie en gee sodoende uiting daaraan in die vorm van aggressiewe gedrag. Woede wat binne kinders opbou voel onaangenaam en aggressie kan verligting bring aan die intense emosie (Leary

et al., 2006:125). Uit ervaring as opvoeder het die navorser besef dat sommige

kinders dikwels nie die kragtige emosie wat hulle ervaar, in woorde kan beskryf nie. Hulle beskik nie oor die emosionele woordeskat om op „n aanvaarbare wyse te verduidelik hoe hulle voel nie, en gaan spontaan oor tot aggressie. Hulle “praat” letterlik met hul vuiste.

Om aggressie as verskynsel verder te ondersoek, kan nog „n belangrike verskil beklemtoon word. Binne die studieveld van aggressiewe gedrag kan twee funksies van aggressie onderskei word. Die funksies van aggressie verwys na die motief vir die aggressiewe gedrag, en „n onderskeid word gemaak tussen reaktiewe en proaktiewe aggressie (Card & Little, 2006:467):

 Reaktiewe of vyandige aggressie, waar die besering van die slagoffer die hoofmotief van die aggressor is (Nida & Pierce, 2005:444; Shaffer, 2002:494). Vyandige aggressie het ten doel om iemand opsetlik leed aan te doen, soos

om die persoon te slaan, skop of beledig. Berkowitz (1993) verkies die term emosionele aggressie, aangesien dit plaasvind wanneer kinders gevoelens van woede ervaar en iemand wil leed aandoen. Reaktiewe aggressie hou verband met die frustrasie-aggressie hipotese wat aandui dat aggressie „n vyandige reaksie is op „n waargenome bedreiging (Card & Little, 2006:467, 468; Fite, Stoppelbein & Greening, 2009:482). Aggressie is in so „n situasie nie „n middel tot „n doel nie, maar die doel opsigself. Verwerping deur die portuurgroep kan aanleiding gee tot situasies waarin kinders kwaad voel en reageer op die portuurgroep se provokasie. Verwerping word ook gesien as die rede waarom reaktiewe aggressie dikwels verbind word met negatiewe emosies in kinders (Fite, Raine, Stouthamer-Loeber, Loeber & Pardini, 2009:142). Die aggressie is dus dikwels impulsief en emosioneel van aard en staan bekend as “warm aggressie” (Fite et al., 2009:142; Seifert, 2006:12; Tanaka, Raishevich & Scarpa, 2010:2). Die navorser is van mening dat kinders met ATHV (Aandagtekort-Hiperaktiwiteitsversteuring) dikwels in hierdie groep val as gevolg van hul impulsiewe neigings. ATHV word later in die hoofstuk (sien 2.3.1.2) verder bespreek as moontlike faktor wat aanleiding kan gee tot aggressiewe gedrag.

 Proaktiewe of instrumentele aggressie, wat sterk emosies kan insluit en waar die motivering primêr is om die ander persoon se welsyn, eerder as die slagoffer self, te benadeel. Daar word na instrumentele aggressie verwys as „n middel tot „n doel of as „n instrument om iets te bekom of te bereik (Fite et

al., 2009:141, 482; Nida & Pierce, 2005:444; Shaffer, 2002:490). Proaktiewe

aggressors het dus uit ervaring geleer dat hulle aggressie kan gebruik om te kry wat hulle wil hê. Proaktiewe aggressie is gewortel in Bandura se sosiale leerteorie (Card & Little, 2006:467; Fite et al., 2009:482). Volgens die teorie leer kinders gedrag en kognitiewe strategieë aan deur die observasie van ander mense se gedrag, en die strategieë word aangeleer sonder dat dit direk versterk word (Green & Piel, 2002:224). Kinders wat tot die besef kom dat hul aggressiewe optredes tot beloning kan lei, is meer geneig om die optredes te herhaal (Meyer et al., 2008:319). Proaktiewe aggressie is doelbewuste, moedswillige gedrag met die doel om „n instrumentele of sosiale doelwit te bereik. Hierdie tipe aggressie is dus beplan en vind nie op die ingewing van die oomblik plaas nie, daarom word daar ook dikwels na die tipe aggressie verwys as “koue aggressie” (Seifert, 2006:12; Tanaka et al., 2010:2).

Reaktiewe aggressie, maar nie proaktiewe aggressie nie, is verbind met portuurgroepverwerping, depressie, ongelukkigheid, lae frustrasietoleransie, swak emosionele regulering, angs en selfmoordneigings (Fite et al., 2009:142; Fite, Stoppelbein & Greening, 2009:482; Morrow, Hubbard, McAuliffe, Rubin & Dearing, 2006:241, 242;). Tanaka et al. (2010:3) noem dat verskeie studies reeds die verband tussen familiefaktore en aggressie aangedui het. Die outeurs noem dat ouer(s) wat dwelms misbruik, gesinsgeweld en enkelouergesinne verband hou met proaktiewe aggressie, waarteenoor fisiese mishandeling van kinders verband hou met die ontwikkeling van reaktiewe aggressie by kinders. Fite et al. (2009:142) voer aan dat verskeie studies „n verband getrek het tussen proaktiewe aggressie en psigopatiese kenmerke. Fite, Stoppelbein & Greening (2009:482) se bevindinge is teenstrydig met hierdie bevindinge as hulle noem dat beide reaktiewe en proaktiewe aggressie verband hou met eienskappe van psigopatie. Fite et al. (2009:142) voer verder aan dat daar „n verband bestaan tussen beide vorme van aggressie en dwelmmisbruik. Die outeurs verduidelik dat die onderliggende meganismes vir die assosiasie van beide vorme van aggressiewe gedrag met dwelmmisbruik egter verskil. Reaktiewe aggressie is impulsief van aard, en impulsiwiteit word algemeen aanvaar as een van die oorsaaklike faktore van dwelmmisbruik. Reaktiewe aggressors ervaar ook „n spektrum van negatiewe emosies, en dwelmmisbruik kan moontlik dien as ontvlugtingstaktiek om ontslae te raak van die negatiewe emosies. In teenstelling hiermee word proaktiewe aggressie verbind met dwelmmisbruik as gevolg van die progressiewe ontwikkeling van antisosiale gedrag. Die outeurs voer ook aan dat proaktiewe aggressiewe individue gefokus is op die positiewe uitkomste van hul aggressiewe dade en dikwels sig verloor op die moontlike negatiewe gevolge van die gedrag. Die volgende tabel tref duidelik onderskeid tussen die twee funksies van aggressie.

Tabel 2.1 Uiteensetting van die verskille tussen reaktiewe aggressie en proaktiewe

aggressie

Reaktiewe of vyandige aggressie Proaktiewe of instrumentele aggressie

Die doel met reaktiewe aggressie is om die slagoffer opsetlik te beseer.

Proaktiewe aggressie het ten doel om die slagoffer se welsyn, eerder as die slagoffer self, te benadeel.

Reaktiewe aggressie is nie „n middel tot „n doel nie, maar die doel opsigself. Die aggressor het dus geen versteekte agenda met die aggressiewe gedrag nie.

Proaktiewe aggressie word beskou as „n middel tot „n doel en aggressors benut hierdie tipe aggressie om te kry wat hulle wil hê. Die aggressors het dikwels „n versteekte agenda met die aggressie. Die aggressie hou verband met die

frustrasie-aggressie hipotese.

Die aggressie is gewortel in Bandura se sosiale leerteorie.

Die aggressie is impulsief en emosioneel van aard, en staan daarom bekend as “warm aggressie”.

Die aggressie vind doelbewus plaas en is vooraf beplan, en staan daarom bekend as “koue aggressie”.

Navorsing het die volgende faktore verbind met reaktiewe aggressie:

 Dwelmmisbruik

 Portuurgroepverwerping

 Depressie

 Ongelukkigheid

Navorsing het die volgende faktore verbind met proaktiewe aggressie:

 Psigopatologie

 Dwelmmisbruik

 Dwelmmisbruik deur die ouer(s)

 Lae frustrasietoleransie

 Swak emosionele regulering

 Angs

 Selfmoordneigings

 Psigopatologie

 Fisiese mishandeling

 Enkelouergesinne

Die twee subtipes van aggressie neig om gesamentlik voor te kom by die meeste kinders met aggressiewe gedrag (Fite et al., 2009:141). Fite et al. (2009:482) werp lig op die bogenoemde stelling as hulle noem dat, alhoewel die twee subtipes van aggressie wel eenders is in gedragsmanifestasie, die subtipes tog verskillende onderliggende doelwitte het, sowel as verskillende oorsake, korrelate en gevolge.

Seifert (2006:64) noem dat aggressiewe en gewelddadige kinders dikwels sekere kenmerkende gedrag toon. Die outeur noem dat die kinders dikwels verwerp word, impulsief optree en rebelleer. Hulle het ook dikwels positiewe houdings en oortuigings aangaande antisosiale gedrag. Hulle glo in die regverdiging van aggressie as „n middel tot „n doel. Die kinders leer nie uit hul foute nie, en hulle kan ook nie gratifikasie uitstel nie. Baie van die kenmerkende gedrag van kinders met aggressiewe gedrag word verder in die hoofstuk bespreek, met die doel om moontlik te verduidelik waarom kinders met aggressiewe gedrag so optree.

2.3 ONTWIKKELING VAN KINDERS IN DIE MIDDELKINDERJARE MET