• No results found

GESTALSPELTERAPIE MET AGGRESSIEWE KINDERS IN DIE MIDDELKINDERJARE

3.3 BEGINSELS VANUIT DIE GESTALTBENADERING MET AGGRESSIEWE KINDERS IN DIE MIDDELKINDERJARE

3.3.4 Bewustheid/Selfbewustheid

Bewustheid is die hartklop van Gestaltteorie en -metodologie. Die doel van Gestaltterapie is om kinders bewus te maak van hul eie prosesse (sien 3.3.11) (Blom, 2006:51). Bewustheid is „n sensoriese, affektiewe en kognitiewe proses (Yontef, 1993:140). Die proses sluit observasie van eie en ander se gedrag in, met „n bewustheid van die keuses wat gemaak word in die hier-en-nou. In hierdie verband verwys Perls (1992:64) na die “Now and How”, wat hy as die kern van Gestaltterapie beskou. Die nou verwys na alles wat bestaan in die oomblik. Perls beskryf dit verder: “Now includes the balance of being here, is experiencing,

involvement, phenomenon, awareness. How covers everything that is structure, behaviour, all that is actually going on – the ongoing process”. Hierdie stelling van

Perls beskryf die belangrikheid van bewustheid in die huidige oomblik. Die volgende stelling van Perls (2002:64) beklemtoon die verdere belangrikheid van bewustheid vanuit „n Gestaltperspektief: “Everything is grounded in awareness. Awareness is

the only basis of knowledge, communication, and so on”. Bewustheid is egter nie

net van belang binne die veld van Gestalt nie, maar is een van die kernbevoegdhede van emosionele intelligensie (Hughes, Patterson & Terrel, 2005:15).

Bewustheid word beter verstaan as dit voorgestel word as „n kontinuum. Op die een punt van die kontinuum is slaap en op die ander punt is volle bewustheid. Mense se posisie op die kontinuum wissel van oomblik tot oomblik (Joyce & Sills, 2010:31; Woldt & Toman, 2005:87). Alhoewel bewustheid in die hier-en-nou plaasvind, is die inhoud van bewustheid dikwels uit die verlede of gefokus op die toekoms (Yontef, 1993:140). Bewustheid sluit mikro-bewustheid in, wat dui op kinders se vermoë om hul aandag te fokus op „n spesifieke behoefte, sowel as bewustheid van die bewustheidsproses, wat dui op die vermoë om bewus te wees van verskillende keuses (Henderson & Thompson, 2007:228). Namate kinders se bewustheid ontwikkel kan hulle begin om met verskillende opsies en keuses te eksperimenteer en alternatiewe gedragswyses uit toets (Oaklander, 2007:59). Bewustheid gee aanleiding daartoe dat kinders besit neem, met ander woorde dat kinders bewus raak van dinge waaroor hulle beheer het, keuses, en verantwoordelikheid aanvaar vir hul eie gedrag en gevoelens (Yontef, 1993:140). Groter bewussyn van kinders se eie prosesse behoort kinders in staat te stel om verantwoordelikheid vir hul eie gedrag te aanvaar. Op hierdie wyse behoort bewussyn van kinders „n hulpmiddel te wees vir die hulpverlener gedurende die hulpverleningsproses. Bewustheid speel dus „n groot rol in kinders se vermoë om keuses uit te oefen en verantwoordelikheid te aanvaar vir hul aggressiewe gedrag. Om hierdie rede het die navorser gedurende die ontwerp van die betrokke intervensieprogram elke sessie begin met sensoriese aktiwiteite wat daarop gemik is om die kinders met aggressiewe gedrag se sensoriese bewustheid te verhoog. Die benutting van „n emosieboekie was daarop gerig om bewustheid rondom gevoelens te bewerkstellig.

Alhoewel bewustheid holisties van aard is, het Perls (1969) bewustheid metafories verdeel in drie verskillende sones in „n poging om bewustheid as holistiese beginsel beter te verstaan.

 Die innerlike sone van bewustheid dui op die innerlike wêreld van kinders wat dikwels onsigbaar vir die hulpverlener is. Dit sluit sensasies, asemhaling, spierspanning, hartklop en emosies in.

 Die uiterlike sone sluit bewustheid van kontak met die buitewêreld in. Dit sluit kinders se gedrag, spraak, aksies en kontakfunksies in. Die verhouding tussen die eksterne wêreld en die interne wêreld speel „n belangrike rol in die organisme se ervaring van „n sin vir self (Grobler, 2009:32). Yontef (1993:140) lê klem op die interpersoonlike proses van bewustheid: “Meaningfull awareness is of a self in the world, in dialogue with the world.

And with awareness of the Other – it is not an inwardly focused introspection”. Hierdie aanhaling is besonders rigtinggewend vir hierdie

studie, waar juis van diagrammatiese hulpmiddels soos die ekokaart en genogram gebruik gemaak word om hierdie uitwaartse bewustheid by kinders met aggressiewe gedrag in die middelkinderjare aan te help.

 Die middelsone bestaan uit denke, herinneringe, fantasieë en verwagtinge. Die middelsone is die area waar betekenis geheg word aan interne en eksterne sensoriese insette (Joyce & Sills, 2010:32-36). Soos reeds genoem is hierdie verdeling van bewustheid slegs metafories, maar kan dit die hulpverlener behulpsaam wees in die effektiewe ontwikkeling van kinders met aggressiewe gedrag se bewustheidsvlakke.

Vanuit „n Gestaltperspektief word verandering beskou as iets wat betekenisvol is vir die persoon wat die verandering ondergaan. „n Belangrike deel van die veranderingsproses is die bewuswording van wat belangrik is en wat nie (Woldt & Toman, 2005:88). Dit is belangrik vir hulpverleners om te onthou dat dit wat vir hulle van belang is nie noodwendig vir kinders met aggressiewe gedrag van ewe groot belang is nie. Bewustheid is dus subjektief en verskil van mens tot mens (Woldt & Toman, 2005:121). Bewustheid word gesien as die roete na begrip van die “hoe” van gedrag (Joyce & Sills, 2010:34; Woldt & Toman, 2005:120). Dit is „n produk van die veld waarin kinders funksioneer en is onderworpe aan verskillende toestande in die veld wat kontak ondersteun sodat dit kinders se aandag trek (Yontef & Fairfield, 2005:7). Hierdie konsep sluit nou aan by die konsep van holisme (3.3.1) wat daarop dui dat kinders uit verskillende entiteite bestaan en dat hierdie entiteite onderskeibaar, maar geensins skeibaar van mekaar is nie. Die totale veld van kinders met aggressiewe gedrag moet in aanmerking geneem word tydens intervensie met hierdie kinders. Goed aangepaste kinders kan egter hul bewustheid handhaaf sonder om afgelei te word deur verskillende stimuli vanuit die omgewing. Kinders met hoë vlakke van bewustheid aangaande hul behoeftes en die omgewing waarin hulle funksioneer weet watter probleme en konflikte hulle kan oplos en watter

nie. Gesonde kinders fokus op een behoefte (figuur) en beskou ander behoeftes as agtergrond. Wanneer hierdie behoefte bevredig word val dit terug om agtergrond te word en „n nuwe gestalten vorm (Henderson & Thompson, 2007:224, 225). Bewustheid bevorder ook organismiese selfregulering omdat dit aanleiding daartoe gee dat kinders bewus raak van keuses wat hulle kan maak ten opsigte van maniere waarop hulle optree (Blom, 2006:27, 29). Die navorser is van mening dat kinders met aggressiewe gedrag in hierdie opsig ondersteun moet word om bewus te word van alternatiewe maniere van optrede. Kinders met aggressiewe gedrag moet egter ondersteun word om deur bewustheid self hierdie alternatiewe te identifiseer.

In die vorming van „n sin vir die self dien die reaksie van ander mense dikwels as „n spieël vir kinders se gedrag. Die weerkaatsing wat kinders ontvang vanuit hierdie spieël is belangrik vir normale groei en ontwikkeling. Kinders leer wie hulle is en wat hulle kan verwag van ander mense deur hierdie weerkaatsing wat deur ander gebied word (Woldt & Toman, 2005:91). Dit is veilig om tot die gevolgtrekking te kom dat kinders ook leer wat van hulle verwag word, m.a.w. wat hul verantwoordelikhede is. Vanuit „n Gestaltperspektief word verantwoordelikheid hoog aangeslaan (Blom, 2006:58). Namate bewustheid groei kom kinders tot die besef dat, alhoewel hulle nie verantwoordelik is vir alles wat met hulle gebeur nie, hulle verantwoordelik is vir die manier waarop hulle voel oor dit wat met hulle gebeur en die keuses wat gemaak word (Yontef, 1993:141). Aanvaarding en besitneming van eie verantwoordelikheid lei tot „n betekenisvolle lewe (Joyce & Sills, 2010:36). Gestaltterapie teorie tref „n duidelike onderskeid tussen dit wat deur die self gekies word en wat gegee word deur die veld van kinders (Yontef, 1993:141). Elke oomblik maak kinders keuses om te reageer of nie te reageer nie en kinders is verantwoordelik vir die keuses wat hulle maak (Clarkson, 2004:29). Yontef en Fairfield (2005:7) voeg egter by dat keuses dikwels beperk word tot die onmiddellike grond en die konteks van „n persoon se ervarings. Dit is die opinie van die navorser dat kinders veral dikwels deel vorm van velde waaroor hulle geen beheer het nie. Kinders wat byvoorbeeld in gewelddadige gemeenskappe grootword beskik dikwels nie oor die vermoë om hierdie velde van hulle te kan verander nie. Dit is dus belangrik dat hulle besef hulle kan dalk nie hul omgewing kies nie, maar dat hulle verantwoordelik is vir die manier waarop hulle reageer binne hierdie velde.

Bewustheid gee aanleiding daartoe dat kinders kan leer, hul gedrag kan verander, kreatief kan wees, kan eksperimenteer met nuwe gedrag, bewus kan wees van die resultate van hul gedrag en die omgewing kan verander sodat hul behoeftes beter

bevredig kan word (Woldt & Toman, 2005:86. 87). Vanuit „n Gestaltperspektief word bewustheid dus gesien as „n vergestalte van emosionele gesondheid (Henderson & Thompson, 2007:224). Bewusmaking in die betrokke studie vind op „n speelgerigte wyse plaas sodat kinders met aggressiewe gedrag begelei kan word op die pad na emosionele gesondheid. Kinders met aggressiewe gedrag funksioneer dikwels met onopgeloste kwessies vanuit die verlede en hierdie kwessies gee aanleiding daartoe dat kinders met aggressiewe gedragwe gedrag presenteer. Vanuit „n Gestaltbenadering word daar na hierdie onopgeloste kwessies verwys as onvoltooidhede.