• No results found

GESTALSPELTERAPIE MET AGGRESSIEWE KINDERS IN DIE MIDDELKINDERJARE

3.3 BEGINSELS VANUIT DIE GESTALTBENADERING MET AGGRESSIEWE KINDERS IN DIE MIDDELKINDERJARE

3.3.7 Hier-en-nou

Die hier-en-nou tydsone verwys na die totale veld van kinders op „n spesifieke oomblik in tyd. Die konsep sluit fantasieë en planne vir die toekoms in, sowel as herinneringe en verwagtinge vanuit die verlede. Hierdie gebeure word herleef in die huidige oomblik (Clarkson, 2004:28; Yontef, 1993:59). Gedurende die terapeutiese proses word kinders dus toegelaat om te dink en te praat oor gebeure vanuit die verlede of toekomstige gebeure. Die hulpverlener moet egter kinders bewus maak van hoe hulle op daardie spesifieke oomblik oor die gebeure voel en dink (Congress, 2011:257).

Vanuit „n Gestaltperspektief kan die werklikheid nie ten volle verstaan word nie, maar slegs daardie deel van die werklikheid wat ervaar word in die hier-en-nou (Woldt & Toman, 2005:37). „n Basiese beginsel vanuit Gestaltterapie teorie impliseer dat die huidige die verlede insluit en ook die toekoms beïnvloed. Alles wat ons geleer en ervaar het beïnvloed die manier waarop ons in die huidige oomblik optree (Woldt & Toman, 2005:104, 105). Alhoewel die Gestalthulpverlener nie direk fokus op gebeure vanuit die verlede of toekoms nie, word hierdie gebeure nie ontken nie. Hierdie gebeure word slegs beskou as handelinge wat plaasvind in die hier-en-nou (Yontef, 1993:55). Tydens die hulpverleningsproses met kinders met aggressiewe gedrag sal kinders dus gemotiveer word om van gebeure, wat aanleiding gegee het tot aggressie, te praat soos wat hulle daaroor voel in die hier-en-nou. Die Gestalthulpverlener stel dus belang in die manier waarop onvoltooidhede uit die verlede kinders in die hier-en-nou beïnvloed.

Om te dink aan die verlede of die toekoms te probeer voorspel gebeur in die hier-en- nou. In die nou kan mense behoeftes ervaar en hulpbronne identifiseer. Uit ervaring weet die navorser dat kinders met aggressiewe gedrag dikwels ander mense vir hul aggressiewe uitbarstings blameer. Dit is in sulke omstandighede dus nodig om kinders se aandag te fokus op die hier-en-nou, m.a.w. hoe voel hulle nou oor wat toe gebeur het, wat dink hulle nou sou „n beter manier gewees het om op te tree. Dit is „n dinamiese proses en dit wat vir die persoon relevant is kom tot die voorgrond. Die konsep illustreer die belangrikheid daarvan om “in die nou” te wees. Namate gestalten voltooi word, vorm groter gestalten en word insig bevorder (Woldt &

Toman, 2005:90). Kinders se leefwêreld maak dus vir hulle meer sin en hulle kan hul behoeftes meer geredelik bevredig.

3.3.8 Polariteite

Polariteite kan eenvoudig beskryf word as twee kante van dieselfde muntstuk, m.a.w. twee teenstrydige komponente. In ons daaglikse lewens ervaar ons dikwels „n worsteling tussen hierdie twee teenstrydighede, byvoorbeeld die worsteling tussen ongeduld en geduld, liefde en haat, werk en rus. Yontef (1993:143) beskryf polariteite vanuit „n Gestaltbenadering as verskillende dele van „n geheel. Polariteite kan dus beskryf word as daaglikse interne konflikte wat uitgeklaar behoort te word.

Sommige polariteite is duidelik, soos die uiterstes sterk en swak, terwyl ander meer subtiel is, soos „n rasionale benadering teenoor „n meer instinktiewe benadering en dikwels ook uniek tot elke persoon se fenomenologie. Gesonde funksionering behels dat kinders in staat is om te beweeg tussen die polariteite soos wat elke situasie verwag (Blom, 2006:41; Joyce & Sills, 2010:127, 128). Sinay (1997:170) definieer die genoemde term as volg: “Characteristics of human behaviour, for example love-

hate, aggresiveness-tenderness, reason-intuition, courage-fear and so forth, those, harmonious integration is Gestalt‟s objective. Gestalt does not pursue the elimination of one in favour of the other, not the finding of the „exact mean‟; it pursues complementation”. Rigiede polarisering vind dus plaas wanneer die individu

grotendeels met een stel van teenoorgestelde eienskappe identifiseer, en die ervaring van die teenoorgestelde pool ontken. Meer energie word bestee om hierdie pool waarmee hy identifiseer in stand te hou. Die uitdaging vir die hulpverlener lê daarin om kinders met aggressiewe gedrag te ondersteun om hierdie polariteite binne hulself te identifiseer en te verstaan. Kinders met aggressiewe gedrag worstel dikwels met polariteite binne hulself, miskien omdat hulle so gewoond geraak het daaraan om met een aspek van „n polariteit te identifiseer. Dit het dalk vir hulle „n outomatiese respons geword om met woede te reageer in „n konfliksituasie, eerder as om te beweeg na die ander polariteit, wat „n vredevolle respons sou insluit. Om hierdie rede is dit noodsaaklik vir kinders met aggressiewe gedrag om met alternatiewe maniere van “wees” in die veiligheid van die speelkamer te eksperimenteer.

Uit die bogenoemde is dit duidelik dat polarisering dikwels fragmentering tot gevolg het, aangesien kinders nie geïntegreerde lewens lei nie. Organismiese selfregulering gee aanleiding tot die integrasie van polariteite (Blom, 2006:40). Kinders se interne

en eksterne wêrelde moet dus verstaan word voordat hierdie polariteite geïntegreer sal word. Hierdie interne en eksterne wêrelde van kinders word vanuit „n Gestaltperspektief kinders se unieke velde genoem. Die velde van kinders met aggressiewe gedrag word gedurende hierdie studie verken met die benutting van die diagrammatiese hulpmiddels soos die ekokaart en genogram. Op „n speelse manier kry kinders dus die geleentheid om die polariteite waarmee hulle vanuit hul velde gekonfronteer word te verken en te integreer.

3.3.9 Veldteorie

Die veld is „n metafoor wat help met die verduideliking van komplekse verbandhoudende interne en eksterne gebeure en behoeftes (Woldt & Toman, 2005). Die interne wêreld van kinders, die eksterne wêreld of omgewing en die veranderde verhouding tussen die twee aspekte staan bekend as die veld van kinders. Velde van kinders bestaan dus uit veelvuldige aspekte en die hulpverlener moet die kinders ondersteun om verskillende dele van die veld te verken (Joyce & Sills, 2010:27; Woldt & Toman, 2005:50). Verkenning van verskillende aspekte van die veld kan kinders met aggressiewe gedrag bewus maak van moontlike oorsake en gevolge van hul aggressiewe gedrag. Vanuit die veldteorie word daar na alle gebeurtenisse gekyk as „n funksie van die verhouding tussen verskeie samewerkende kragte. Hierdie samewerkende kragte vorm „n veld waar elke deel van die veld die totale veld beïnvloed en die totale veld „n invloed het op elke deel daarbinne (Yontef, 1993:125; Yontef, 2002:19). Die veld is nie staties nie, maar word herhaaldelik herskep en kan dramaties in „n enkele oomblik verander (Woldt & Toman 2005:43, 49, 241). Die maniere waarop kinders se velde herskep en georganiseer word moet dus gedurende die hulpverleningsproses ondersoek word (Woldt & Toman, 2005:48). Dit is ook noodsaaklik dat kinders se vermoë om by hierdie dinamiese veld aan te pas ondersoek word. Soos reeds genoem (sien 3.3.7) is dit egter belangrik vir hulpverleners om te fokus op die hier-en-nou van kinders en die velde van kinders te ondersoek soos dit op die spesifieke oomblik in tyd is (Woldt & Toman, 2005:49). Kinders is deel van die veld waarin hulle funksioneer en is dus afhanklik van hulpbronne vanuit die veld om hul behoeftes te bevredig en die self te reguleer (Yontef & Fairfield, 2005:5). Indien die hulpverlener nie die veld van kinders in aanmerking neem en kinders ondersteun om hulpbronne vanuit die omgewing suksesvol te benut nie, sal enige intervensie doelloos wees. Die hulpverlener staan nie apart van die veld van kinders nie, maar maak deel uit van elke kind se veld (Woldt & Toman, 2005:47). Denke vanuit „n veldperspektief is holisties van aard. Dit impliseer dat die Gestalthulpverlener moet fokus op die liggaam, omgewing en

sisteme in kinders se lewens omdat kinders nie geïsoleerde wesens is nie (Joyce & Sills, 2010:28; Woltd & Toman, 2005:93; Yontef, 2002:19). Uit hierdie stelling is dit duidelik dat mense interafhanklik van mekaar funksioneer en nooit volkome selfonderhoudend kan funksioneer nie (Yontef, 2002:19). Yontef (2002:19) verduidelik dat die kind en sy veld nie „n aparte entiteit is wat saamgebring word nie. Kinders funksioneer dus nie “in „n veld” nie, maar is eerder “van „n veld”. Alhoewel die doel van Gestaltterapie is om kinders se selfondersteuning te ontwikkel (Blom, 2006:52) beteken dit nie dat kinders nie ander persone nodig het nie, maar dat hulle verantwoordelikheid vir die self moet aanvaar. Die term selfondersteuning dui dus eerder op selfkennis en selfaanvaarding (Yontef, 1993:26) as onafhanklikheid van ander mense.

Die term ervaringsveld word vanuit „n Gestaltperspektief beskou as die veld van „n persoon se bewustheid. Die term dui op dit wat werklik of uniek is vir „n betrokke persoon. Die term veld dui op alles – elke voorwerp, situasie en verhouding in die groter konteks waarin „n persoon hulself bevind. Die term sluit ook gebeure in wat buite „n persoon se bewustheid plaasvind (Joyce & Sills, 2010:28). Gedurende die samestelling van die diagrammatiese hulpmiddels wat gedurende hierdie studie benut word, leer die hulpverlener die velde van kinders ken. Die hulpverleningsproses word dus aangepas om in die behoeftes van elke kind te voldoen, wat kenmerkend is van die Gestaltbenadering. Alhoewel die intervensieriglyne van hierdie betrokke studie gestruktureerd is, moet die hulpverlener nooit vergeet dat die kind en sy/haar behoeftes, proses en voorgrond die fokus is van enige Gestaltbenadering nie.

Vanuit „n Gestaltveldperspektief word persepsie beskou as „n produk van „n individu wat optimaal funksioneer wanneer denke gefokus word op die kontakgrens (sien 3.3.3). Vanuit hierdie persepsie word beide interne (behoeftes en ondervindings) en eksterne (uitdagings in die omgewing) aspekte in aanmerking geneem wanneer die hulpverlener met kinders werk. Vanuit „n Gestalt-veldperspektief word die self dus gesien as die middelpunt tussen die organisme en die omgewing (Woldt & Toman, 2005:26). Persepsie is relatief en geensins absoluut of objektief nie. Die veld van „n persoon word dus altyd gesien vanuit „n spesifieke invalshoek (soos gevorm deur die hulpverlener se eie persepsies) eerder as om universeel en objektief te wees (Woldt & Toman, 2005:93). Dit is dus nodig vir Gestalt-hulpverleners om te besef dat hul persepsies, oortuigings en oordele nie die enigste is wat reg is nie. Gestaltfilosofie bevorder respek en waardering vir individuele verskille (Yontef,

2002:17). Alle persepsies is dus betekenisvol (Yontef & Fairfield, 2005:4). Die vaardigheid om „n persoon se eie vooropgestelde idees oor die werklikheid eenkant te plaas staan bekend as inperking. Die vaardigheid lei daartoe dat die hulpverlener nie oorhaastige besluite maak oor die betekenis van kinders se ervarings nie (Woldt & Toman, 2005:94; Yontef, 1993:219; Yontef, 2007:19; Yontef & Fairfield, 2005:11). Die fenomenologiese aanslag van die Gestalt-hulpverlener gee aanleiding daartoe dat die hulpverlener nuuskierig is en dus wil verstaan wat kinders ervaar. Die hulpverlener neem nie die rol van “geneesheer” aan nie en die ingesteldheid gee aanleiding daartoe dat kinders minder krities raak oor hulself en meer geïnteresseerd in hul eie wêrelde (Yontef, 2007:19). Kinders besef dus dat die hulpverlener nie daarop uit is om hulle te “genees” nie, maar meer belangstel om „n ware verhouding met hulle te ontwikkel gegrond op wedersydse respek en opregte dialoog. Die hulpverlener en kinders met aggressiewe gedrag ontmoet mekaar met ander woorde op gelyke voet.

Ontwikkeling word beskou as „n funksie van die totale veld waarin kinders hulself bevind (Woldt & Toman, 2005:56). Die ontwikkeling van aggressiewe gedrag behoort dus ook beskou te word as „n funksie van die veld waarin kinders funksioneer. Kinders met aggressiewe gedrag kan dus net verstaan word in verhouding tot die konteks waarin hulle lewe (Clarkson, 2004:8; Woldt & Toman, 2005:84). Kinders se identiteite word gevorm en onderhou, uitgebrei en belemmer deur die totale veld. ‟n Begrip van “ek” word dus gevorm deur kontak met, en differensiasie tussen, die res van die veld (Woldt & Toman, 2005:84). Alles wat in die veld gebeur is van ewe groot belang (horisontaal). Dit is dus belangrik dat die hulpverlener nie aannames maak i.v.m. die belangrikheid van sekere gebeure bo die van ander nie. Dit is ook belangrik dat hulpverleners nie iets wat hulle opmerk ignoreer nie. Indien iets op die hulpverleners se voorgrond tree gedurende die hulpverleningsproses moet dit as horisontaal beskou word met ander fenomena (Joyce & Sills, 2010:22; Yontef & Fairfield, 2005:12). Die hulpverlener behoort dus nie sy/haar eie voorgrondbehoeftes eerste te stel gedurende die hulpverleningsproses nie. Soos reeds genoem beïnvloed die totale veld die gebeure binne die veld, maar sommige kragte binne die veld sal vir kinders voorgrond wees, terwyl ander kragte in die agtergrond funksioneer (Yontef, 2002:19). Dit is belangrik dat die hulpverlener nie self besluit wat op kinders se voorgrond behoort te wees en wat nie. Die hulpverlener moet kinders toelaat om te eksperimenteer met dit wat op hul voorgrond is, sodat homeostase bereik kan word en kinders nuwe gestalten kan vorm.

Vanuit die veldperspektief word verandering gesien as „n produk van die totale konteks waarin kinders hulself bevind. Verandering in enige deel van die veld beïnvloed alle subsisteme van die veld. Sisteme binne die veld funksioneer afhanklik van mekaar. Kinders verander dus hul omstandighede deur aksie te neem binne die velde waarin hulle funksioneer (Woldt & Tolman, 2005:84, 85; Yontef, 1993:57). Deur die benutting van diagrammatiese hulpmiddels kan kinders ondersteun word om op „n speelse manier aksie te neem binne hul velde en hierdie aksies se moontlike gevolge te bespreek voordat daar van hulle verwag word om die aksies te implimenteer in hul werklike lewens.

3.3.10 Dialoog

Dialoog is „n belangrike komponent van Gestaltterapie teorie en die waarde van opregte dialoog kan waargeneem word wanneer daar met kinders met aggressiewe gedrag gewerk word. Hierdie kinders is dikwels gewoond aan veroordelings en kry nie baie die geleentheid om hul kant van „n storie te vertel nie. Die hulpverlener kan dus aanvaar dat sommige kinders met aggressiewe gedrag nie gewoond sal wees aan dialoog waar hul kant van die storie net soveel gewig dra as dié van die hulpverlener nie. Die Gestalt-hulpverlener se deelname aan dialoog is egter opreg en ongereserveerd (Congress, 2011:260; Woldt & Toman, 2005:xix), wat „n verfrissende ervaring vir kinders met aggressiewe gedrag kan wees. Die stelling impliseer dat die hulpverlener nie kinders probeer manipuleer om te sê en te dink wat die hulpverlener wil hê hulle moet nie, maar dat die hulpverlener eerlik en ten volle teenwoordig (sien 3.3.13) reageer op kinders se dialoog. Soos reeds genoem kan hierdie konsep vreemd wees vir kinders met aggressiewe gedrag omdat hulle dikwels geforseer word om slegs om verskoning te vra en hul gevoelens en persepsies nie geëksploreer word nie.

Woldt en Toman (2005:xix) noem dat ongereserveerde dialoog nie stiltes gedurende die dialogiese proses uitsluit nie, maar dat die stiltes „n opregte respons van die hulpverlener moet wees en nie benut moet word om die hulpverlener of die kinders te beskerm van selfekspressie nie. Dialoog verwys ook nie slegs na verbale dialoog nie, maar kan dans, sing, woorde, nie-verbale gebare of enige ander modaliteit insluit wat gebruik word om die self uit te druk (Yontef, 1993:128). Hulpverleners wat vanuit „n dialogiese verhouding met kinders kontak maak moet ten volle teenwoordig wees as „n persoon, met begrip en opregtheid vir die kinders (Joyce & Sills, 2010:45; Yontef, 1993:35). Soos reeds genoem is kinders met aggressiewe gedrag dikwels

nie gewoond aan iemand wat met begrip in dialoog met hulle tree nie. Die hulpverlener kan dus in hierdie verband as rolmodel dien vir kinders met aggressiewe gedrag en kinders met aggressiewe gedrag kan moontlik die hulpverlener se opregte dialogiese belangstelling in ander mense en hul gevoelens buite terapeutiese verband naboots.

Vanuit „n Gestaltperspektief word dialoog gesien as gedeelde fenomenologie of ervaring. Wanneer beide partye ten volle teenwoordig is, word die geleentheid vir dialoog geskep (Yontef, 1993:23, 39). Dialoog wat getipeer word deur die kenmerke soos hierbo beskryf skep die geleentheid vir die hulpverlener en kinders om „n “I- Thou” oomblik met mekaar te deel. Die “I-Thou” oomblik kan beskryf word as „n ware ontmoeting tussen twee unieke individue waarin beide die menslikheid van mekaar respekteer (Clarkson, 2004:20). Dit is dus te verstane dat Yontef (1993:144) na dialoog vewys as een van die pilare, tesame met bewustheid, waarop Gestaltterapie teorie gegrond is. Die “I-Thou” verhouding impliseer dat kinders en die hulpverlener as gelykes beskou word, ongeag van aspekte soos ouderdom en status (Blom, 2006:54; Congress, 2011:259). Yontef (1993:28) verwys na hierdie tipe verhouding as „n horisontale verhouding. Binne Gestalt-metodologie dui dialoog op die hulpverlener se bereidwilligheid om ten volle teenwoordig te wees as „n persoon tydens die ontmoeting van twee persone met verskillende perspektiewe. Die hulpverlener maak dus kontak met die totale wese van kinders soos wat die kinders werklik is deur met die hele wese betrokke te raak by die kinders. Die totale wese van kinders sluit hul swakpunte en probleme ook in. Hulpverleners kan nie betrokke raak by ware dialoog as hulle nie bereid is om aangeraak en verander te word deur dit wat tussen hulle en die kinders gebeur nie (Yontef, 2002:24; Yontef & Fairfield, 2005:17). Die navorser wil in hierdie verband byvoeg dat die hulpverlener oop moet wees om met kinders met aggressiewe gedrag te werk. Indien die hulpverlener sekere vooropgestelde idees oor kinders met aggressiewe gedrag koester sal dit belangrik wees om eers hierdie idees en vooropgestelde persepsies uit te sorteer voordat die hulpverlener betrokke kan raak in „n ware dialogiese verhouding met kinders met aggressiewe gedrag.