• No results found

Skoolprestasie bogemiddeld.

5.4 PROSESSERING EN ANALISERING VAN DIE KWALITATIEWE DATA

5.4.2 Bewerkstellig ‘n terapeutiese verhouding en kontak met kinders – sessie

Die navorser verskaf aan elke deelnemer „n houer en verduidelik dat dit hul spesiale houer is. Hulle kan hul foto‟s en kunswerke wat gedurende die intervensie gemaak word, daarin bêre. Die navorser bied aan elke deelnemer die geleentheid om sy/haar naam met kleurvolle plakkers op die houer te plak. „n Gesprek oor elke deelnemer se naam en waar dit vandaan kom, volg. Die navorser maak van die geleentheid gebruik om die deelnemers bewus daarvan te maak dat hulle uniek is. Deur kinders se selfkonsep te bevorder voel hulle beter oor hulself en dit opsigself kan „n verskil maak in die kinders se gedrag en verhoudings (sien 2.3.2.1).

Die benutting van ballonne en metafore

Die navorser maak van ballonne gebruik om aan elke deelnemer die belangrikheid van doeltreffende asemhaling te demonstreer. Die navorser stem saam met Van der Merwe (1999:334) dat ballonspel goed is vir die versterking van die terapeutiese verhouding omdat dit meewerk tot bereiking van ander prosesdoelwitte, bv. die aanmoediging van deelnemers om aan aktiwiteite deel te neem. Die navorser verduidelik aan die deelnemers dat „n pap ballon nie kan bars nie: eers as dit baie styf opgeblaas is, kan dit bars. Die navorser vra hulle om die ballon op te blaas en na elke blaas iets te noem wat hulle kwaad maak. Die navorser vra wat die maklikste gaan wees: om die opgeblaaste ballon te bars of die pap een. Die navorser verduidelik dat mense ook so werk. As „n mens nie oor al die dinge gesels wat jou kwaad maak nie, kan jy voel of jy gaan bars soos die ballon. Die navorser verduidelik ook dat die deelnemers saam met die navorser aan maniere moet dink om “af te blaas” voor hulle ontplof. Hierbo maak die navorser gebruik van „n metafoor om oordrag tussen die storie oor die ballon en die kind te laat plaasvind. Barker (1996:11) het die metafoor soos volg gedefinieer: “Metaphors consists in giving the

thing a name that belongs to something else; the transference being either from genus to spesies from species to species, or a ground of analogy”. Metafore het „n

kragtige effek om „n situasie, verhoudings en emosies te herdefinieer. Dit benut kinders se kreatiewe denke om kinders logies en rasionaal te laat dink (Barker, 1996:42). Dit sluit aan by die middelkinderjarige kind se konkreet-operasionele denke (sien 2.3.4.1). Die deelnemers het verskillend op die oefening gereageer:

Deelnemer 1 kies die oranje ballon om mee te speel. Hy sukkel om die ballon op te blaas. Hy lag as die navorser ook sukkel. Hy noem dat hy nog nooit vantevore „n ballon opgeblaas het nie. Die navorser laat toe dat hy vir „n rukkie probeer terwyl die navorser hom baie aanmoedig. Hy geniet dit om die ballon op te blaas totdat dit bars. Hy lag uit sy maag. Terwyl deelnemer 1 die ballon opblaas, voel dit vir hom asof hy fluit. Sy kop raak seer en hy voel duiselig. Hier begin die kind reeds sy “warm- knoppies” identifiseer en kan rekordhouding van faktore wat aanleiding gee tot aggressie reeds vroeg gedurende die program begin. Hy noem dat sy kop ook soms pyn as mense te hard praat of as hy kwaad raak. Hy dink jy kan hard skree as jy kwaad word om te keer dat jy bars. Hy noem maats se name wat met hom lelik is. Hy raak ook kwaad as ander mense heeltyd goed vir hom wil kies sonder om hom te vra.

Deelnemer 2 maak melding van die ballonne gedurende die laaste gesprekvoeringsessie as hy gevra word hoe hy sal reageer om „n maatjie met aggressie te help: “Hy moet stop voor hy in die moeilikheid kom en die ander kinders nie meer met hom wil speel nie. Hy kan ook ballonne bars soos wat ons gedoen het”.

Deelnemer 3 geniet dit as die navorser die ballon bars. Die navorser sê dat „n mens jou asemhaling kan gebruik om jou te help “afblaas”. Deelnemer 3 noem dat hy “rustiger” voel na die asemhalingsoefening. Die deelnemer moet dan die ballon opblaas en na elke blaas een van die dinge noem wat hom kwaad maak. Hy bars die ballon wat hy opgeblaas het. Die navorser vra of hy al gevoel het dat hy so kwaad word dat hy wil bars. Hy noem dat wanneer hy baie kwaad word vir iemand, dit voel asof hy opblaas. Deelnemer 4 is bewus van haar liggaamlike reaksie op woede. Sy noem dat sy soos die ballon opblaas. Sy noem dat sy op die maats skree en hulle selfs soms slaan. Gedurende die laaste gesprekvoeringsessie is sy van mening dat sy ook van die ballonne gebruik sal maak om ander kinders met aggressiewe gedrag behulpsaam te wees: “Ek sal haar leer om diep asem te haal soos juffrou (die navorser) my geleer het met die ballon”. Deelnemer 5 noem dat sy sussies, sy

maats, sy ma, geterg, en geboelie hom kwaad maak. Hy blaas sy ballon totdat dit bars. Hy noem dat dit voel of hy wil bars as hy op ander skree. Hy vra of hy nog ballonne kan bars en die navorser laat hom toe.

Deelnemer 5 geniet die asemhalingsoefening. Hy reguleer sy asemhaling baie goed. Hy sê dit voel asof sy liggaam kalmeer.

Gedurende „n volgende sessie het die navorser aan elkeen van die deelnemers „n ballon gegee om op te blaas. Sy herinner hulle aan die asemhalingsoefeninge wat reeds gedoen is tydens die vorige sessies. Hulle kry die geleentheid om op die ballon te spring totdat dit bars. Sommige deelnemers hou nie van die harde geluid wat die ballon maak as dit bars nie en kan dan eerder „n ballongeveg met die hulpverlener hou. Van der Merwe (1999:334) noem dat aktiwiteite soos ballongevegte aan die deelnemers aanvaarbare maniere wys om hul aggressie te hanteer.

Deelnemer 5 geniet dit om die ballonne stukkend te trap. Hy is glad nie bang vir die harde geluid wat die ballonne maak as hulle bars nie. Hy vra of hy die woord “slaan” op die ballonne kan skryf, want hy wil nie meer die ander kinders slaan nie.

Gedurende „n ander sessie is die sessie weer begin deur ballonne op te blaas. Die navorser deel die deelnemers mee dat sy en die deelnemers „n kompetisie gaan hou deur te kyk wie die ballon die langste in die lug kan hou deur dit te blaas.

Deelnemer 2 vra of hy en die navorser die ballonne vir mekaar kan slaan. Hy geniet die aktiwiteit en sê dat hy wen omdat sy ballon die langste in die lug was.

Kinders oor die algemeen geniet aktiwiteite waar van ballonne gebruik gemaak word. Dit is egter belangrik dat die hulpverlener deur die kinders gelei word en dat kinders sodanig gemaklik voel met die aktiwiteit.

Asemhalingsoefeninge

Die navorser sit „n sonbril met „n papierstrook daaraan vas op haar gesig en blaas die papierstrook wat voor haar neus hang. Die navorser verduidelik aan elke deelnemer dat hulle „n kompetisie gaan hou om te kyk wie kan die strokie papier die langste in die lug hou deur gebruik te maak van hul asems. Die navorser wil waarsku dat nie alle deelnemers gemaklik voel om die brille op te sit nie. In sulke gevalle kan die hulpverlener van „n ballon gebruik maak wat die deelnemers in die lug moet hou

deur net te blaas (soos hierbo bespreek). Die navorser verduidelik aan die deelnemers dat hulle nou „n speletjie gaan speel. Die speletjie het ten doel om liggaamsbewustheid te bevorder. Dit word die asof-speletjie genoem, wat eenvoudige opdragte behels, byvoorbeeld: Loop asof jy „n reus is. Die deelnemers en die navorser maak beurte om opdragte aan mekaar te lees wat elkeen dan moet uitvoer. Daarna hou hulle „n watteblaaskompetisie. Twee wattebolletjies word op die tafel geplaas en die navorser en deelnemers moet die watte blaas tot aan die einde van die tafel. Die persoon wie se watte eerste die “wenpaal” bereik, wen. Die genoemde aktiwiteite bevorder asemhaling en leer deelnemers die waarde van sinvolle asemhaling.

Deelnemer 4 geniet die watteblaaskompetisie baie. Sy is ontspanne en vertel van al die lekker dinge wat sy die naweek gedoen het. Sy wil dit in haar emosieboekie by gelukkig skryf.

Bordspel

Ten einde kontak met die deelnemers te bewerkstellig en om hul bewustheid te verhoog, maak die navorser gebruik van „n bordspel. Plummer (2008:27) voer aan dat speletjies struktuur en voorspelbaarheid aan kinders verskaf, wat „n veilige omgewing skep waarin die kinders hul emosies kan verken. Die outeur noem verder dat speletjies waardevolle leergeleenthede verskaf in verskillende sosiale en persoonlike ontwikkelingsareas. Dit word, volgens die outeur, vir kinders „n aangename ervaring, omdat hulle nie nodig het om hulself te openbaar nie en hulle ervaar dit daarom minder bedreigend. Die outeur noem verder dat dit tydens die speel met „n bordspel moontlik is om waarnemings te maak ten opsigte van kinders se denke, gevoelens, gedrag en die uitdrukking daarvan, asook verbale vaardighede, aandag, persepsie, liggaamstaal, doelgerigtheid en die ontwikkelingsvlak van kinders. Baloyi (2006:18) sluit hierby aan deur te noem dat speel die natuurlike medium is waardeur kinders hulself uitdruk en kommunikeer. Die hulpverlener help deur middel van spel kinders om meer omtrent hulself te leer. Terselfdertyd leer kinders die nodige vaardighede aan om hul gevoelens en gedagtes uit te druk. Belangstelling in speletjies met reëls begin ontwikkel tussen die ouderdom van sewe en elf jaar, m.a.w. tydens die middelkinderjare. Dit is belangrik om aan elke kind presies te verduidelik hoe die spel werk sodat die kind dit kan bemeester en veilig voel.

Deelnemer 1 lees die vrae op die kaartjies baie goed. Hy hou daarvan om die dobbelsteentjie hoog in die lug te gooi. Deelnemer 2 geniet die bordspel terwyl hy aan die wenkant is, maar sodra die navorser hom verbysteek, onttrek hy homself. Die navorser laat hom voorloop om aan hom beheer te gee. Deelnemer 2 se kompeterende aard kom gedurende die bordspel sterk na vore. Deelnemer 4 geniet die spel. Sy sukkel om die vrae te lees, maar dring daarop aan dat sy op haar eie sal probeer. Lees is „n belangrike kognitiewe taak wat bemeester moet word gedurende die middelkinderjare. Deelnemer 4 se onvermoë om vlot te lees kan moontlik tot gevoelens van frustrasie aanleiding gee wat as aggressiewe gedrag kan manifesteer (sien 2.3.4.4). Tydens die bordspel is dit vir deelnemer 5 baie belangrik om te wen. Dit is dalk belangrik vir hom om in beheer te voel, omdat hy magteloos voel as gevolg van sy swak skolastiese vordering.

Lewensappel met pla-wurms

Hierdie tegniek word benut gedurende sessie 2 en word volledig bespreek in hoofstuk 6. Die navorser gee vir elke deelnemer „n appel om na te kyk en aan te ruik. Die navorser verduidelik dat die appel soos mense se harte is. Van ver af lyk die appel pragtig, maar van naderby het dit kneusplekke en vrot kolle wat veroorsaak word deur pla-wurms. Die deelnemers word versoek om hul eie pla-wurms te maak. Hulle kan self besluit hoe die wurms moet lyk. Volgens Oaklander (1997:288) kan kinders se innerlike krag versterk word deur die skep van verskeie geleenthede vir hulle om keuses te maak. Sy voeg by dat sy soveel moontlike nie-bedreigende keuses aan kinders bied as wat sy kan. Dit was dan ook deel van hierdie aktiwiteit. Deelnemers is vervolgens gevra watter pla-wurm die grootste hap uit hul lewensappels eet. Die navorser verskaf daarna aan elke kind „n prent van „n bottel. Sy vertel dat dit „n gifbottel is wat al die pla-wurms kleiner sal maak. Hulle moet aan planne dink om die wurms kleiner te maak en die planne op die bottel skryf. Volgens Van der Merwe (1999:308) help dié tegniek deelnemers om hul probleme te eksternaliseer sodat hulle afstand van die probleme kry. Die navorser stem saam met die genoemde outeur dat dit die deelnemers help om „n gevoel te kry dat hulle losgemaak word van hul probleme. Om aan te dui hoe die eenvoudige tegniek elke deelnemer meer bewus gemaak het van sy pla-wurms, verskaf die navorser „n opsomming van elke deelnemer se reaksie:

Deelnemer 1 maak sy pla-wurm. Hy kom baie trots voor op sy eindproduk. Hy neem sy tyd terwyl hy die wurm maak en doen alles baie presies. „n Gesprek volg oor die

dinge wat hom pla. Hy noem dat sy pa hom baie pla. Nadat deelnemer 1 die woord “Pappa” op die pla-wurm geskryf het, laat hy sy kop hartseer sak. Dit maak hom kwaad dat sy pa nooit vir hom kom kuier nie en dit maak hom ook hartseer, want hy sal graag vir hom wil sê dat hy hom mis. Hy demonstreer op die xilofoon hoe kwaad en hartseer voel. Deelnemer 1 hou daarvan om kwaad op die xilofoon te speel. Hy noem dat hy sy speelgoed gooi as hy so kwaad word. „n Gifbottel vir die pla-wurm word daarna gemaak. Hy skryf op die bottel dat hy iets kan doen waarvan hy baie hou, soos om sy pa te bel of te sms. Hy hou ook daarvan om met sy gunsteling speelgoed te speel. Deelnemer 1 sukkel om verbaal uiting aan sy emosies te gee. Die navorser vra hom om op die xilofoon te demonstreer hoe hartseer en kwaad voel. Hy gebruik sy hele liggaam om die xilofoon te slaan. Deelnemer 2 maak sy pla- wurm en neem baie lank om te besluit hoe hy die wurm wil maak. Deelnemer 2 skryf al die goed wat hom pla op die wurm: sy sussie en maats. Hy toon weerstand en die navorser voel dat daar in daardie stadium nog nie goeie kontak tussen haar en deelnemer 2 gemaak is nie. Deelnemer 3 gesels spontaan met die navorser oor allerhande dinge terwyl hy sy wurm maak. Nadat deelnemer 3 sy wurm gemaak het, vra die navorser dat hulle al die dinge wat hom pla op sy pla-wurm moet skryf. Hy verbreek kontak en sê dadelik dat niks hom pla nie. Hy sê wel later dat hy nagmerries kry oor slange en dat hy dit op die wurm wil skryf. Die navorser herinner hom daaraan dat hy tydens die opblaas van die ballonne vertel het van kinders wat hom kwaad maak. Die navorser vra of dit hom ook pla. Hy sê: “Ja, die kwaadgeit pla my baie”. Die navorser moedig hom aan om asem te haal soos hulle geoefen het. Hy glo dat dit sal help. Deelnemer 4 skryf dat dit haar pla as sy nie soos die ander kinders kan klaarkry met haar werk in die klas nie. Hierdie stelling bevestig weereens haar gevoelens van magteloosheid en minderwaardigheid, wat sy op „n daaglikse basis beleef in die klaskamer. Dit pla haar as haar boetie en maats haar spot. Dit pla haar as die maats nie met haar wil speel nie. Deelnemer 4 en die navorser dink saam aan hanteringswyses vir haar probleme. Sy kan self aan planne dink en sê ook as sy dink die navorser se voorstelle sal nie werk nie. Die wurmtegniek het geslaag daarin om deelnemer 4 bewus te maak van haar doelwitte, behoeftes en verwagtinge van die terapeutiese proses. Die navorser vra vir deelnemer 5 om „n wurm te maak. Hy noem dat dit hom pla as hy maats slaan. Rook en drink pla hom ook. Hy sê dat sy pa rook, maar nie drink nie. Sy oupa het gedrink. As maats hom terg, pla dit hom ook. Hy wil nie op die wurm skryf nie, en die navorser voorsien hom van „n bladsy om op te skryf. Deelnemer 5 kan aan „n hele paar alternatiewe dink vir sy aggressie eerder as om te slaan. Dit is nie die doel van die hulpverlener om aan kinders advies te verskaf nie, maar om die kinders te lei om hul eie alternatiewe en oplossings vir „n

probleem te vind (Schoeman, 2005:177). Die lewensappel met pla-wurm tegniek is opgevolg met „n hersiening van die asemhalingsoefeninge en deelnemer 5 het ook „n kussing geslaan. Hy noem dat dit hom beter laat voel. Hy noem verder dat hy vinnig afkoel as hy kwaad was. Hy sê sy ma bly lank kwaad, maar nie hy nie.

Figuur 5.1 Voorbeelde van die deelnemers se pla-wurms

Hierdie tegniek kan suksesvol benut word om vas te stel wat kinders se voorgrondbehoeftes blyk te wees. Die hulpverlener kan reeds vroeg vasstel of kinders se aggressiewe gedrag wel op hul voorgrond is. Dikwels is dit nodig om eers aandag te gee aan ander behoeftes voordat kinders se aggressiewe gedrag figureer.

5.4.3 Die kind leer emosies ken deur gebruik te maak van kleur-jou-lewe-in