• No results found

Persoonlikheidsaspekte wat aanleiding kan gee tot aggressiewe gedrag Soos reeds genoem word persoonlikheid vanuit „n Gestaltperspektief beskou as

AGGRESSIEWE GEDRAG IN DIE MIDDELKINDERJARE

2.3 ONTWIKKELING VAN KINDERS IN DIE MIDDELKINDERJARE MET SPESIFIEKE VERWYSING NA DIE ONTWIKKELING VAN AGGRESSIE

2.3.1 Fisiese en biologiese ontwikkeling

2.3.2.3 Persoonlikheidsaspekte wat aanleiding kan gee tot aggressiewe gedrag Soos reeds genoem word persoonlikheid vanuit „n Gestaltperspektief beskou as

kinders se vermoë om kontak te maak met die omgewing gebaseer op die kinders se definisie van die self. As kinders hulself dus beskou as aggressief sal hulle kontak maak met hul omgewing op „n ander wyse as kinders wat hulself as nie-aggressief beskou.Aggressie is nie „n emosie nie, maar „n persoon se reaksie op „n gevoel van woede (sien 2.2). Aggressiewe kinders koester dikwels diep gevoelens van woede, verwerping, depressie, onsekerheid en angs, en het dikwels „n swak selfbeeld (De Klerk & Le Roux, 2006:12; Van der Wal, 2005:117). Aggressiewe kinders se vermoë om te onderskei tussen hul emosies en om hierdie emosies verbaal uit te druk, is swak. Hulle beskik ook nie oor die vermoë om die self te kalmeer nie, m.a.w hul selfreguleringsvaardighede is oneffektief (Seifert, 2006:63).

Indien kinders nie oor die vermoë beskik om hulle woede of aggressie te beheer en te bestuur nie, gee dit aanleiding tot frustrasie omdat hulle nie so suksesvol soos die

ander kinders is in die regulering van emosies of soos wat hul ouer(s) van hulle verwag nie. Dit gee weer aanleiding tot gevoelens van onsekerheid en eensaamheid. Hierdie onsekerheid en eensaamheid hou „n bedreiging in vir kinders se gevoel van bemeestering, wat beskou kan word as „n belangrike ontwikkelingstaak gedurende die middelkinderjare. Plummer (2008:21, 24) brei uit op die teenwoordigheid van frustrasie by alle kinders as die outeur noem dat die meeste kinders leer om hul frustrasies te hanteer, maar as frustrasievlakke baie hoog is, langdurig voorkom of kinders nie emosioneel buigbaar is nie, is die resultaat van die frustrasie woede wat gerig word op die self of ander. Die outeur handhaaf die siening dat voortdurende woede kan lei tot verwarring omdat onvanpaste uitdrukking van woede negatiewe response van volwassenes en die portuurgroep ontlok.

Leary et al. (2006:126) voer aan dat kinders verbaal en fisies aggressief kan raak wanneer hulle voel dat ander persone hulle ignoreer. Die aggressiewe respons het dus ten doel om „n reaksie (enige reaksie) uit te lok van die partye wat die kinders ignoreer. Die outeurs voer verder aan dat kinders ook aggressief kan optree in „n poging om ander persone terug te betaal vir die gevoelens van verwerping wat hulle ervaar.

Soos reeds genoem groei kinders in die middelkinderjare emosioneel baie vinnig, aangesien hulle verskillende emosies begin verstaan. Hierteenoor ervaar proaktiewe aggressiewe kinders gebeure as „n bedreiging en ervaar hulle voortdurende woede as „n resultaat. Kinders wat slegte emosies ervaar wil ontslae raak van die emosies. Woede wat nie uitgedruk word nie kan onaangenaam voel vir kinders. Aggressiewe uitlewing is dus „n manier waarop kinders ontslae raak van die gevoelens (Leary et

al., 2006:125). As gevolg van die aggressiewe gee-en-neem-verhouding wat die

kinders met ander mense het, kan die kinders beide woede ervaar en uitlok (Reis, Trockel & Mulhall, 2007:324). Verskille in die manier waarop families praat oor hul emosies hou verband met die verskille waarop kinders uitdrukking gee aan hul gevoelens en die groeiende vermoë om hul emosies te reguleer en die gevoelens van ander te verstaan (Webster-Stratton, 2005:288). Aggressiewe gedrag van kinders kan dus voorkom as gevolg van kinders se onvermoë om uitdrukking te gee aan sekere gevoelens.

Die bogenoemde besprekings dui daarop dat aggressie verband hou met drie aspekte van emosionele ontwikkeling, naamlik swak emosionele regulering van veral woede, beperkte insig in emosies en onvoldoende impulsbeheer. Kinders met swak

impulsbeheer vind dit moeilik om hul onmiddellike reaksies te beheer of te dink voor hulle optree (Mash & Wolf, 2005:114). Aggressie is grotendeels „n impulsiewe reaksie wat verligting kan bring vir „n kort tydjie, maar lei na negatiewe gevolge. Die vermoë om te voorsien wat die langtermyngevolge van aggressie kan wees, kan aanleiding gee tot kinders se vermoë om aggressiewe aksies te reguleer (Leary et

al., 2006:128). Webster-Stratton (2005:256) voeg verder by dat onvoldoende

impulsbeheer lei tot aggressiewe response, swak probleemoplossing, gebrek aan empatie en „n onvermoë om die moontlike gevolge van hul dade te oorweeg. Beperkte insig in ander se emosies lei daartoe dat kinders verkeerdelik ander se intensies as vyandig beskou, wat moontlik ook die bron van hul aggressiewe optredes kan wees (Webster-Stratton, 2005:284). Proaktiewe aggressiewe kinders neig om verbale en fisieke aggressie as positiewe gebeure te interpreteer en kom met wanaangepaste oplossings vir probleme te voorskyn (Reis et al., 2007:324). Ross en Fontao (2007:554, 563) het in hul studies bevind dat selfregulering „n belangrike rol speel in die fenomenologie van menslike aggressie en dat begrip van selfreguleringsisteme noodsaaklik is in die uitbreiding van begrip en psigopatologie van gewelddadige gedrag. Die moeder dien as die rolmodel vir die regulering van emosies. As die moeder nie kinders se emosies erken en aanvaar nie, kan dit tot frustrasie by die kinders lei, wat weer tot aggressie en woede aanleiding kan gee. Plummer (2008:21) bevestig dat, indien kinders nie die geleentheid gegun word om hul ware emosies tot uiting te bring nie, hulle nie die vaardighede aanleer om emosies te reguleer nie. Die kinders kan onbewus raak van wat hulle voel, nie net wanneer hulle kwaad is nie, maar ook wanneer hulle aangename emosies ervaar (Meyer et al., 2008:382).

Aggressiewe kinders is dikwels onbewus van die volle omvang van hul aggressiewe gedrag. Sulke kennis sal heel moontlik daartoe lei dat kinders skaamte, skuldgevoelens en angs sal ervaar. Kinders maak egter gebruik van verdedigingsmeganismes om hulle teen die emosies te beskerm. Rasionalisering is een van die verdedigingsmeganismes waardeur kinders met aggressiewe gedrag die illusie skep dat hul aggressie geregverdig kan word. Aggressiewe kinders neig om staat te maak op redenering om hul aggressiewe aksies te regverdig sodat ander se aksies bevraagteken kan word. Aggressiewe kinders gebruik dus die illusie van rasionele analisering om „n verdedigingsmeganisme te skep as „n rede vir hulle om ander skade te berokken (James & LeBreton, 2010:30-33).