• No results found

DIE GEBRUIK VAN DIAGRAMMATIESE HULPMIDDELS IN SPELTERAPIE BINNE „N GESTALTBENADERING

4.2 DIE SISTEEMTEORIE EN GESTALT-VELDTEORIE

Ongeveer 20 jaar nadat Freud (1856-1939) die psigo-analitiese benadering begin ontwikkel het, het die algemene sisteemteorie (1946) ontwikkel om te voorsien in die behoeftes van verskillende dissiplines as „n manier om komplekse situasies van interaksie te analiseer (Hartman, 1995:111). Reeds voor die bekendstelling van die sisteemteorie aan maatskaplike werkers lê mense soos Perls, Goodman, Hefferline en Fromm die grondslag vir die Gestaltbenadering (Yontef, 1993:8). Die sisteemteorie en veldteorie moet nie as wisselterme vir dieselfde benadering beskou word nie. Alhoewel beide teorieë sekere raakvlakke met mekaar het, het hulle ook verskillende oorspronge en teoretiese uitgangspunte. Gestalt-veldteorie het raakpunte met die sisteembenadering omdat die veldteorie alle gebeurtenisse beskou as „n funksie van die verhoudings tussen veelvuldige interaktiewe kragte of sisteme. Interaktiewe kragte vorm „n veld waarin elke deel van die veld die geheel beïnvloed en die geheel elke deel van die veld beïnvloed. Geen gebeurtenis vind in

isolasie plaas nie. Die hele veld bepaal gebeurtenisse binne die veld, terwyl sommige kragte as figuurvoorgrond funksioneer en ander kragte in die agtergrond (Yontef, 2002:19; Yontef & Fairfield, 2005:5). Kinders wat met erge aggressie presenteer, se aggressie beïnvloed dus almal rondom hulle. Die waarskynlikheid bestaan ook dat die kinders se aggressie veroorsaak word deur die veld waarin die kinders lewe. Vervolgens sal die sisteemteorie en die Gestalt-veldteorie kortliks bespreek word.

4.2.1 Agtergrond

Verskeie beroepsgroepe neem lank reeds kennis van die feit dat „n individu nie as enkele identiteit beskou kan word binne intervensie nie. Algemene sisteemteorie, soos beskryf deur Von Bertalanffy (1968), bied grondslagteorie vir verskillende benaderings en verskeie beroepsgroepe. Die teorie bied in effek „n konseptuele raamwerk waarvolgens inligting oor individue, gesinne, groepe en gemeenskappe byeengebring kan word met die aanname van wedersydse interaksie en interafhanklikheid. Kinders wat sukkel met aggressie moet noodwendig binne „n sistematiese raamwerk gesien, geëvalueer en gehelp word. Indien sulke kinders in isolasie gesien word met enkelvoudige fokus op simptoomverligting, sal insette waarskynlik nie blywende gevolge hê wanneer sodanige kinders in hul omgewing met die vele invloede van daar moet funksioneer nie.

Die toonaangewende werk van Germain en Gitterman (1980; 2008) beklemtoon die sosiale konteks en ekologiese konsepte wat fokus op die interaksie tussen persoon en omgewing. In hierdie verband is die ekologiese sisteemteorie, soos beskryf deur Bronfenbrenner (1977), ook relevant, met die fokus op transaksionele denke en waarnemings. Dit is juis in hierdie transaksies tussen kind en omgewing waar oorsaaklikheid van aggressie mag lê. In hierdie verband word die waarde van diagrammatiese hulpmiddels ondersoek in die blootlegging van oorsaaklike interaksie in sisteemverband.

Binne die onderwys speel verskillende sisteme noodwendig ook „n rol in terme van kinders se leer en funksionering. Dit is algemeen bekend dat die huisomgewing „n positiewe of negatiewe invloed op leer kan hê. Samelewingstendense speel ook „n rol, soos onder meer geïllustreer kan word met die negatiewe impak van stakings deur onderwysers (Rademeyer, 2010) op kinders se leerprosesse. Daar is dus geen deel binne kinders se sistemiese wêreld wat hulle nie op die een of ander manier beïnvloed nie.

Volgens die sisteemteorie is die familie „n sisteem wat bestaan uit „n aantal subsisteme, maar die familie self is „n subsisteem binne „n groter sfeer. Die sisteem bestaan uit verskeie dele wat volgens geordende beginsels saamwerk. Daar is die individu binne sy familie, binne die uitgebreide familie, wat woon in die plaaslike omgewing en deel uitmaak van die groter samelewing. Die teorie plaas kinders dus binne „n omgewingskonteks. Nie net is elke individu betrokke by die komplekse hier- en-nou situasie van alledaagse lewe nie, maar elke individu is ook deel van „n groter familie sfeer, binne „n komplekse menslike sisteem wat ontwikkel het oor baie generasies (Hartman, 1995:118; McGoldrick, Gerson, Petry, 2008:15). Hierdie ketting is sensitief, aangesien die gebeure binne een subsisteem „n invloed het op die funksionering binne die ander subsisteme. Hierdie teorie ondersteun opnuut dat kinders se aggressie dus nie geïsoleerd voorkom nie, omdat daar „n voortdurende interaksie tussen al die sisteme en subsisteme en die ekologiese konteks bestaan. Kinders met aggressiewe gedrag moet daarom holisties beskou word en daar moet daarteen gewaak word om nie die kinders bloot te etiketteer as “stout” nie. Moeite moet gedoen word om ondersoek in te stel na die impak van verskillende sisteme op kinders se gedrag. Reeds in hoofstuk 2 word melding gemaak van Bandura se sosiale leerteorie (2.2). Volgens hierdie teorie word gedrag aangeleer vanuit die omgewing waarin kinders hulself bevind. Die impak van die omgewing kan dus nie onderskat word tydens hulpverlening aan kinders met aggressiewe gedrag nie. Elke laag van die ekologiese sisteem staan in „n interaktiewe verhouding met die ander lae van die sisteem, dit wil sê dit word beïnvloed deur die ander lae (Donald, 2002:48; Du Toit, Booyse, Dednam, Landsberg & Van Wyk, 1994:8). Kommunikasie tussen die interaktiewe sisteme is belangrik in die begeleiding van kinders met aggressiewe gedrag tot op die punt waar hulle in gesonde balans met hul aggressiewe gedrag kan omgaan.

Bronfenbrenner (1979:22) beskryf die verhoudings wat kinders met mense in hul omgewing het as die mikrosisteem. Hy beskryf die mikrosisteem as volg: “A pattern

of activities, roles, and interpersonal relations experienced by the developing person in a given setting with particular physical and material characteristics”. Die

mikrosisteem van kinders word in die betrokke studie verken deur die benutting van die genogram en ekokaart. Die geslag van die kinders en die posisie van die kinders in die familie is sleutelfaktore, wat die verhouding wat die kinders met hul sibbe het beïnvloed (McGoldrick et al., 2008: 14-15). Die navorser is van mening dat die diagramme „gebou‟ moet word deur te begin by die indekspersoon (IP) en geleidelik uitgebrei moet word na die kinders se gesinne en families, vanwaar daar na die

plaaslike gemeenskappe waarin die kinders hulself bevind, beweeg word. Die navorser poog om dit te bewerkstellig deur eers gebruik te maak van die genogram en dan die genogram uit te brei deur gebruik te maak van die ekokaart en ander diagrammatiese hulpmiddels.

4.2.3 Gestalt-veldteorie

Volgens die navorser se eie ondervinding is dit maklik om kinders se velde buite rekening te laat binne die geïsoleerdheid van die speelkamer. Diagrammatiese hulpmiddels bring egter kinders se verskillende velde na die hier-en-nou en die hulpverlener kan waardevolle inligting versamel rondom kinders se verlede en huidige omstandighede, wat andersins verlore kon gegaan het. Yontef (2002:19) verduidelik dat kinders se probleme gegrond is in hul velde en dat oplossings dus gesoek moet word binne die velde. Deur die benutting van die diagrammatiese hulpmiddels word die hulpbronne wat kinders tot hul beskikking het geïdentifiseer sodat probleme wat kinders ervaar hanteer kan word. Die diagrammatiese hulpmiddels kan kinders verder help om hul verlede te aanvaar en om realistiese verwagtinge te ontwikkel van hul eie verantwoordelikheid in die huidige omstandighede in die hier-en-nou. Intervensie binne die Gestaltraamwerk fokus op die oomblik-tot-oomblik belewenisse van kinders (Yontef, 2007:17). Die uitdaging vir hierdie navorsing is om diagrammatiese hulpmiddels, wat op die oog af heel liniêer voorkom, wel meer dinamies te benut sodat kinders se bewussyn daardeur verhoog kan word.

Die term “veldteorie” is sterk onderliggend tot die Gestaltperspektief en verskaf „n raamwerk waarbinne enige gebeurtenis, ondervinding, objek, organisme of sisteem bestudeer kan word. Yontef (1993:295) definieer die veld soos volg: “A totality of

mutually influencing forces that together form a unified interactive whole”. Die veld

kan dus beskryf word as „n holistiese en interaktiewe geheel waarin alle gebeure die res van die veld beïnvloed. Die veld bestaan altyd uit veelvuldige faktore met komplekse interverhoudings (Clarkson & Mackewn, 2006:42; O‟Connor & Schaefer, 1994:61; Yontef, 1993:287, 298, 300, 301). Bestudering van kinders se veld en die dinamika van die veld, deur gebruik te maak van diagramme, kan insig verskaf in die oorsprong en aard van kinders se aggressiewe gedrag. Volgens Yontef en Fairfield (2005:5) beïnvloed toestande van die huidige veld kinders se vermoë om te kan aanpas en verander. Indien die hulpverlener dus die huidige veld van kinders buite rekening laat, belemmer hulle kinders se vermoë om veranderinge in hul eie lewens aan te bring. As kinders slegs gefokus bly op hul huidige velde, ontstaan die

moontlikheid dat hulle nie aan hulself kan dink as selfondersteunende wesens nie. Deur die benutting van die diagrammatiese hulpmiddels soos die lewenslyn word kinders bewus gemaak van die feit dat aggressiewe gedrag „n klein deeltjie uitmaak van hul funksionering op die oomblik, maar dat hulle oor die potensiaal beskik om hierdie gedrag te verander op „n gesonde en selfondersteunende manier.

Vanuit „n veldperspektief word mense beskou as afhanklik van mekaar, eerder as selfonderhoudend. Mense is nie in „n veld nie, maar van „n veld (Yontef, 2002:19). Yontef (2002:19) vat bogenoemde soos volg saam: “Any process, problem, creative

advancement, solution to a problem is a funtion of the relationship between the people „of the field‟ and the field as a whole”.

Die familie word beskou as „n emosionele eenheid. Kennis aangaande die manier waarop die emosionele sisteem funksioneer in kinders se families onthul nuwe en meer doeltreffende opsies vir probleemoplossing in daardie families. Kinders erf verskillende tipes probleme (sowel as sterkpunte) vanuit die verhouding wat hulle met die ouers het. Die probleme kan die kinders se lewe en verhoudings beïnvloed (Bowen Theory, 2004). „n Groot deel van kinders se begrip van die wêreld waarin hulle leef, gedragspatrone en hul hanteringsmeganismes word by die familie aangeleer (sien 2.3.3.1). Dit is belangrik dat die hulpverlener die familie sal aanmoedig om volle verantwoordelikheid te aanvaar vir hul eie verandering. Die moontlikheid bestaan ook dat die hulpverlener families op „n sensitiewe manier sal moet begelei om tot die besef te kom dat hulle moontlik bydra tot kinders in die familie se aggressiewe gedrag. „n Selfregulerende persoon aanvaar verant- woordelikheid vir dit wat gedoen word vir die self, wat deur ander gedoen word vir die self en wat vir ander gedoen word deur die self. Die persoon het interaksie met die omgewing, maar ondersteuning vir regulering vir die persoon se bestaan is deur die self. Wanneer die individu nie hiervan bewus is nie, word eksterne ondersteuning „n plaasvervanger vir selfondersteuning eerder as „n bron van bevrediging vir die self (Yontef, 1993:145). „n Terapeutiese doelwit van intervensie binne „n Gestaltraamwerk is om kinders te ondersteun om te beweeg van omgewingsondersteuning tot selfondersteuning (Blom, 2006:52). Selfondersteuning impliseer gesonde kontak met ander persone in die veld. Van kritiese belang hier is die voortgesette benutting van die sensoriese-motoriese modaliteite van die organisme in bewuste kontak met die omgewing, wat uiteindelik lei tot integrasie (Yontef, 1993:55). Kinders moet dus hul sintuie, sowel as hul motoriese stelsels, kan benut om sin te maak van die wêreld rondom hulle. Alledaagse, menslike aktiwiteite word beskou as „n funksie van die

organismiese omgewingsveld. Daar bestaan dus geen “ek” sonder die veld nie, en geen veld sonder „n “ek” nie.

Die navorser kom dus tot die slotsom dat geen persoon of probleem, of die oplossing tot probleme, in isolasie bestaan nie. Verskillende sisteme beïnvloed hoe mense dink, voel en optree. Daar moet tydens hulpverlening na kinders en hul totale velde gekyk word as „n doeltreffende hanteringswyse vir aggressiewe gedrag gevind wil word. Kinders is „n produk van die velde waarin hulle beweeg. As hul omstandighede nie saam met hulle ondersoek word nie, kan verandering belemmer word.

4.3 DIE OORSPRONG VAN DIAGRAMMATIESE SPEELTEGNIEKE IN