• No results found

1.3 AANNAMES VAN DIE STUDIE

1.6.1 Die voor en nadele van die enkelstelselontwerp

Die voor- en nadele van die benutting van die enkelstelselontwerp sluit volgens Strydom (2011:167-169) en Yegidis en Weinbach (2009:332-335) die volgende in:

Voordele:

Die enkelstelselontwerp laat die navorser toe om die totale hulpverleningsproses stap-vir-stap te dokumenteer. Daar is individueel met elke deelnemer gewerk en daarom kon die navorser verbale en nie-verbale kommunikasie dokumenteer. Deur gebruik te maak van die enkelstelselontwerp kan veranderinge in „n individu dus opgemerk word. Hulpverlening kon binne die Gestaltraamwerk aangepas word om by elke deelnemer te pas. Nie net was dit voordelig vir elke deelnemer nie, maar is genoemde ook „n beginsel vanuit die Gestaltteorie. Na afloop van elke sessie het die navorser meer geleer van elke deelnemer en die moontlike oorsake van die deelnemer se aggressie. In hierdie verband noem Johnston en Smith (2010:4) dat die enkelstelselontwerp as metodologie belangrik is in „n professie wat geldige geïndividualiseerde intervensieprogramme moet ontwikkel. Die outeurs verwys spesifiek in hierdie verband na die arbeidsterapie professie, maar die navorser meen dat dit in ander professies ook van toepassing is. Die outeurs noem verder dat professionele persone wat met inividue werk nie noodwendig belangstel of „n intervensie oor die algemeen effektief is nie, maar wil weet of dit „n effek gehad het op die individu wat daarby betrokke was (Johnston & Smith, 2010:5).

Kenmerkend van die enkelstelselontwerp is dat navorsing direk geskied. Dit impliseer dus dat resultate onmiddelik beskikbaar is (Strydom, 2011:167; Yegidis & Weinbach, 2009:333). Voor en na elke hulpverleningsessie kon die navorser „n idee vorm oor die vlakke van aggressie teenwoordig by elke deelnemer. Die navorser kon sodoende bepaal hoeveel tyd spandeer moes word aan aggressie- ontladingstegnieke om aan deelnemers se behoeftes te voldoen. Genoemde het ook as motivering vir die navorser gedien omdat resultate onmiddellik sigbaar was. Die enkelstelselontwerp is ook teorie-neutraal, m.a.w. die teoretiese raamwerk waaruit die navorser werk beïnvloed nie die uitkoms van die navorsing nie. Enige hulpverlening wat deelnemers kan beïnvloed kan geëvalueer word (Artelt et al., 2003:169). Weens die teoretiese begronding van hierdie studie in die Gestaltterapie- teorie is die resultate uiteraard meer gerig op hulpverleners met opleiding in

Gestaltspelterapie, maar die diagrammatiese hulpmiddels behoort wyer benuttingswaarde te hê, selfs by diegene wat nie die Gestaltagtergrond het nie.

Die enkelstelselontwerp is praktyk gebaseerd (Strydom, 2011:168), wat aanleiding daartoe gee dat die ontwikkelde hulpverleningsprogram deur meeste hulpverleners benut kan word. „n Nadeel (soos hieronder bespreek) van die enkelstelselontwerp is dat daar probleme met eksterne en interne geldigheid bestaan. Johnston en Smith (2010:5) argumenteer hierdie punt as hulle noem dat perfekte geldigheid van geen waarde dien as uitkomste van navorsing nie praktyk gebaseerd is nie.

Die ontwerp verhoog doelgerigtheid in beide die hulpverlener en die kliënt omdat die hulpverlener en die kliënt voortdurend fokus op die aggressievlakke van die kliënt. Implimentering van die ontwerp is koste-effektief (Yegidis & Weinbach, 2009:333) omdat navorsing direk deur die hulpverlener gedoen word, wat beteken dat daar geen veldwerkers of assistente nodig was tydens die uitvoering van die navorsing nie. Slegs die navorser was betrokke in die implimentering en uitvoering van die hulpverleningsprogram, wat kostes laag gehou het. Die navorser het dus nie opgetree as „n onsigbare neutrale binne die veld nie, maar deelgeneem aan die proses (Flick, 2007:7). Aggressie as verskynsel is direk deur die navorser ondersoek en gee aanleiding tot beter begrip van die probleem (Rowley, 2002:18).

Nadele:

Dit is belangrik vir die navorser om objektief te bly teenoor enige verandering in die gedrag van die deelnemers. Om hierdie rede moes alle ander veranderlikes so ver as moontlik gekontroleer word (Johnston & Smith, 2010:6, 7; Strydom, 2011:168). Die bogenoemde was vir die navorser problematies omdat dit onmoontlik was om alle veranderlikes in die deelnemers se lewe te kontroleer. Die deelnemers het almal beweeg na „n volgende skooljaar, met „n nuwe opvoeder en maats in die klas, en een van die deelnemers het medikasie begin drink vir simptome van aandagtekort- hiperaktiwiteitsversteuring. Genoemde faktore kon bygedra het tot die vermindering van die deelnemers se aggressie. Deelnemers se direkte terugvoering oor hul belewenis van die tegnieke was dus belangrik ten einde „n waardebepaling van die intervensie te doen.

Volgens Johnston en Smith (2010:5) en Marlow (in Strydom, 2011:169) bestaan „n oortuiging dat daar probleme bestaan met interne en eksterne geldigheid binne enkelstelselstudies en dit is minder geldig as „n goed ontwerpte groepstudie. Die

navorser se subjektiewe waarneming kan beïnvloed word omdat daar op „n individuele basis met elke deelnemer gewerk is. Alhoewel hierdie benadering koste- effektief is, soos hierbo genoem, kan dit baie tyd in beslag neem en veralgemenings kan nie gemaak word van enkelstelselstudies nie, veral aangesien daar „n gebrek aan vergelykings bestaan (Strydom, 2011:169).

„n Verdere nadeel van die enkelstelselontwerp is dat dit slegs gebruik kan word om gedragsveranderinge aan te dui. Indien die hulpverlener die probleem en die hulpverlening egter duidelik definieer en verseker dat beide gekoppel word aan die doelwitte vir die hulpverlening, kan hierdie ontwerp goed benut word (Strydom, 2011:169).

Opvolgstudies van gevalle waar die hulpverlening getermineer is, moet gereeld in die toekoms plaasvind ten einde te bepaal of die spesifieke hulpverlening effektiwiteit behou het (Strydom, 2011:169). Om hierdie rede het die navorser besluit om die meetinstrument weer met die deelnemers en hul ouer(s) af te lê onderskeidelik 3 maande en „n jaar na afloop van die hulpverleningsprogram.

1.6.2 Navorsingsprosedure

Navorsingsprosedure verwys direk na die data-insamelingsproses (Punch, 2006:53). Soos hierbo beskryf, is daar in hierdie studie van die enkelstelselontwerp as navorsingsprosedure gebruik gemaak. Alhoewel hierdie prosedure sekere voordele inhou, is daar soos hierbo gesien ook sekere nadele betrokke by die benutting van die prosedure. Rowley (2002:16) meld egter dat die enkelstelselontwerp dikwels benut word as gevolg van die insig wat deur die prosedure verkry word, wat dikwels nie moontlik is met ander prosedures nie. Strydom (2011:160-165) bied „n volledige uiteensetting van die kenmerke en die stappe van die enkelstelselontwerp. Om uitgerekte besprekings aangaande die enkelstelselontwerp te beperk, gaan die kenmerke en stappe van hierdie ontwerp vervolgens gesamentlik bespreek word, omdat beide die kenmerke en stappe baie met mekaar oorvleuel (Strydom, 2011:160-165). Die betrokke studie is opgedeel in 3 verskillende dele, sodat logiese opeenvolging van die studie moontlik sou wees. Vervolgens word gepoog om die kenmerke en stappe van die enkelstelselontwerp te verdeel soos wat die navorser die studie uitgevoer het: