• No results found

Fase 3: Data-analise

1.10 DEFINISIE VAN HOOFKONSEPTE

Begrippe wat relevant is vir hierdie studie word verduidelik met die doel om duidelikheid te verkry oor presies wat met die begrippe bedoel word. Die begrippe word slegs kortliks bespreek, omdat uitgebreide verduideliking van hierdie begrippe verder in die studie gegee word.

1.10.1 Aggressie

Oaklander (2007:206) verduidelik dat sommige kinders as aggressief beskou word wanneer hulle slegs uiting gee aan direkte, spontane energie. In die studie verwys aggressie egter nie na die spontane ontlading van aggressiewe energie nie, maar na die beskadiging/besering van ander, die self of voorwerpe in „n aggressiewe uitbarsting op „n gereelde basis. Die Aggressie-vraelys van Buss en Perry (Bylae 2) wat in hierdie studie benut is, deel aggressie in vier komponente, naamlik vyandigheid, verbale aggressie, fisieke aggressie en woede. Vir die doel van hierdie studie verwys die term aggressie dus na al die genoemde elemente.

1.10.2 Middelkinderjare

Kinders bevind hulself in die middelkinderjare tussen die sesde en twaalfde lewensjare. In hierdie fase is kinders in „n stadium van ontwikkeling en groei, reeds omdat hulle gewoonlik tydens hierdie stadium skool toe gaan en hul sosiale netwerke aansienlik uitgebrei word. Vir die doel van die studie kan die middelkinderjare dus gedefinieer word as die tydperk tussen die ouderdom van 6 – 9 jaar.

1.10.3 Diagrammatiese hulpmiddels

Diagrammatiese hulpmiddels vind hul oorsprong vanuit die familie sisteemteorie. Die diagrammatiese hulpmiddels word gewoonlik gebruik vir assesseringsdoeleindes (Child Welfare Manual, 2007). Tydens die studie is die Genogram, Ekokaart, Tydlyn,

Kleur jou lewe/Liggaamskartering en Identifisering van Gedragspatrone as diagrammatiese hulpmiddels benut. Elkeen van die diagrammatiese hulpmiddels vind aanklank by die Gestaltmetodiek en ekologiese sisteemteorie waarmee kinders begelei kan word om deur middel van bewuswording hul emosionele konflikte uit te sorteer. Elkeen van die hulpmiddels word volledig bespreek in hoofstuk 4 en word net kortliks hieronder genoem.

1.10.3.1 Die genogram

Die genogram fokus op aspekte in die kinders se gesinne wat aanleiding kan gee tot aggressie. Die kinders word ondersteun om bewus te word van die aspekte deur die benutting van “kwaad-knoppies” op die genogram. Die genogram het „n sterk konneksie met familiekartering en sommige outeurs gebruik die term genogram en familiekaart as sinonieme (Gerlach, 2010:1). Die genogram word saamgestel deur die benutting van verskillende simbole of prente om „n visuele voorstelling te maak van mense wat geneties en emosioneel deel uitmaak van „n betrokke familie. Die genogram beeld die aard van die verhouding tussen lede van die gesin op „n visuele manier uit (Gerlach, 2010:1).

1.10.3.2 Die ekokaart

Die ekokaart fokus op ander aspekte in die kind se veld of lewensruimte wat aanleiding tot aggressie kan gee. Ander invloede buite die familie wat „n invloed het op die funksionering van die kinders, word aangedui op die ekokaart (Child Welfare Manual, 2007:25; Hoffman, 2000:100; McCormick, Strickin, Nowak & Rous, 2008:17).

1.10.3.3 Kleur jou lewe/Liggaamskartering

Die tegniek word benut om die kinders te help om interne prosesse beter te verstaan en om kinders bewus te maak van die manier waarop hulle reageer op interne prosesse. Die twee tegnieke word benut tydens die samestelling van al die ander diagramme in die vorm van „n emosie-boekie, en het spesifiek ten doel om kinders se bewustheid rakende hul eie emosies te verhoog. Dit bied kinders die geleentheid om emosionele belewenisse in die boekie aan te bring deur gebruik te maak van kleur en hul liggame se reaksie op emosies wat hulle ervaar tydens die ontwerp van die diagramme. Die kleur-jou-lewe-tegniek is as die “Colour your life”- tegniek reeds in 1983 deur O‟Connor (1983:274-280) beskryf.

Die tydlyn fokus op die manier waarop lewensgebeure kan bydrae tot kinders se aggressie. Die tydlyn word gebruik om belangrike gebeurtenisse in die lewe van die kinders aan te dui. Deur die gebeure op „n horisontale lyn aan te dui, kan die diagrammatiese voorstelling gebruik word om bydraende faktore in die ontstaan van die kinders se aggressie te identifiseer. Die tydlyn dui ook aan wat voor en na die ontstaan van die probleem in die lewe van die kinders aangegaan het (Child Welfare Manual, 2007:25).

1.10.3.5 Identifisering van Gedragspatrone

Die tegniek word gebruik om kinders bewus te maak van hul negatiewe gedragspatrone en hoe denke kinders se gedrag beïnvloed. Gedragspatrone wat verband hou met kinders se aggressiewe gedrag word diagrammaties voorgestel op „n sirkel. Dit help kinders om situasies of gebeure wat aanleiding gee tot aggressie te vermy of te verander.

1.10.4 Gestaltspelterapie

Gestaltterapie kan beskou word as „n fenomenologiese-eksistensiële benadering wat fokus op die hier-en-nou belewing van kinders. Die benadering neem die totale wese van kinders in ag, en kan dus beskryf word as „n holistiese benadering. Gestaltterapie fokus op die persoonlikheid en behoeftes van die terapeut, die kinders en die omstandighede waarin hulpverlening plaasvind. Die fokus is op die proses (wat gebeur) eerder as die inhoud (wat bespreek word) (Yontef, 1993:57, 84, 117, 123-124). Gestaltspelterapie kan beskou word as „n psigoterapeutiese tegniek wat onderskryf word met die beginsels en tegnieke van Gestaltterapie. Verskillende vorme van spel en tegnieke word benut gedurende die terapeutiese proses (Blom, 2006:20), wat dien as kinders se taal en woorde (Landreth, 2002:14), omdat hulle nog nie oor die nodige verbaliseringsvermoëns beskik om uiting aan gevoelens te gee nie. Spelterapie voorsien in kinders se behoeftes om voortdurend aktief te wees (Landreth, 2002:11). Vir die doel van die studie word Gestaltspelterapie dus beskou as „n holistiese benadering wat fokus op die totale wese van elke kind sowel as bewustheid, dialoog en proses.