• No results found

GESTALSPELTERAPIE MET AGGRESSIEWE KINDERS IN DIE MIDDELKINDERJARE

3.3 BEGINSELS VANUIT DIE GESTALTBENADERING MET AGGRESSIEWE KINDERS IN DIE MIDDELKINDERJARE

3.3.13 Die terapeutiese verhouding

Reeds in 1969 het Axline die terapeutiese verhouding beklemtoon as een van die kernbeginsels in kindgesentreerde spelterapie. Die helende krag van die terapeutiese verhouding dien as grondslag van verskillende benaderings tot direkte werk en spelterapie met kinders. Allen en Taft (in Dorfman, 1951:326) het Rank se algemene verhoudingsbenadering, wat in die dertigerjare beslag gekry het, uitgebou en aangepas sodat dit geskik is vir intervensie met kinders. Taft het dit “verwantskapsterapie” genoem en die verhouding met die kind beklemtoon. Soos die Gestaltbenadering het die verhoudingsbenadering sterk wortels in die psigo- analise. Vanuit Gestaltterapie word die eerste paar sessies gefokus op die bou van „n terapeutiese verhouding met kinders. Die navorser poog om deur middel van die gebruikmaking van die diagrammatiese hulpmiddels „n terapeutiese verhouding met die kinders te vestig. Dit impliseer dat die diagrammatiese hulpmiddels reeds in die eerste of tweede sessie gebruik kan word. Indien die hulpverlener ook deelneem aan die aktiwiteite, behoort dit nie deur kinders as bedreigend beleef word nie.

Die verhouding wat die Gestalt-hulpverlener met kinders het, het dus nie ten doel om kinders te verander nie (Congress, 2011:258), soos hierbo bespreek. Vanuit „n eksistensiële oogpunt is die doel van die verhouding om kinders te ontmoet in die hier-en-nou, waardeur gedeelde begrip van kinders se lewensituasies „n produk is wat voortvloei vanuit die interaksie tussen die hulpverlener en kinders (Yontef, 2007:18, 20). Emosionele kontakmaking begin die oomblik wat die hulpverlener in die teenwoordigheid van kinders kom (Blom, 2006:54). Dit is daarom belangrik dat die hulpverlener van die begin af ten volle teenwoordig is in die terapeutiese verhouding. Hierdie verhouding tussen kinders en die hulpverlener is so belangrik dat Yontef (1993:111) noem dat die verhouding beskou kan word as die grootste bydraende faktor tot die sukses van die terapie. Oaklander (1997:293; 2000:28-29) brei verder uit op die belangrikheid van hierdie verhouding as die outeur noem dat die verhouding opsigself helend kan wees. Verskeie ander outeurs deel hierdie siening en is dit eens dat die ek-jy-verhouding eers tot stand moet kom voordat kinders gemaklik en veilig sal voel (Aronstam, 1989:640; Blom, 2006:54-57;

Congress, 2011:256; Landreth, 1991:157; Robinson, 1999:273; Schoeman, 1996:29-39).

Vanuit „n Gestaltperspektief vind verandering plaas as „n resultaat van die kontak tussen die hulpverlener en kinders. Die ontmoeting met kinders is opreg en word nie gemanipuleer om kinders in enige rigting te lei nie. Die kwaliteit van die kontak bepaal die effektiwiteit van die hulverleningsproses. Kontak soos gedefinieer vanuit „n Gestaltperspektief neem vier eienskappe aan (Woldt & Toman, 2005:95, 96; Yontef, 1993:127). Daar word dikwels na hierdie eienskappe verwys as die beginsels van dialoog (Yontef, 2002:24). Die eienskappe is egter ewe tuis by beide begrippe, omdat dialoog gebruik word om kontak te maak. Daar word dikwels verwys na hierdie unieke manier van kontakmaking as “dialogiese kontak”.

Insluiting beteken dat die hulpverlener totaal betrokke raak by die ondervindings en perspektiewe van kinders sonder om „n sin vir self te verloor. Dit gee aanleiding daartoe dat die kinders voel dat hulle verstaan word, maar begin ook om hulself beter te verstaan. Die hulpverlener ervaar dus soveel as moontlik van dit wat deur die kinders ervaar word (Woldt & Toman, 2005:95, 96; Yontef, 1993:36; Yontef, 2002:24; Yontef, 2007:21; Yontef & Fairfield, 2005:15). Wanneer die hulpverlener hom-/haarself in die skoene van kinders met aggressiewe gedrag plaas, raak die ondervindinge vir die hulpverlener „n werklikheid (Yontef, 2002:24).

Bevestiging vind plaas deur die toepassing van insluiting omdat die hulpverlener hierdeur kinders se bestaan bevestig. Bevestiging van kinders se totale bestaan en wese is belangrik en nie net die manifestasie van kinders soos hulle op daardie spesifieke oomblik is nie. Hierdie bevestiging van kinders is die kern van die paradoksale teorie van verandering (sien 3.3.12) (Woldt & Toman, 2005:95, 96).

Die hulpverlener moet ten volle teenwoordig wees as „n persoon. Die hulpverlener moet die self bekend maak soos wat die self werklik is, en omgee vir die ander persoon behoort dus opreg te wees (Yontef & Fairfield, 2005:17). Woldt en Toman (2005:xix) is van mening dat hierdie tipe teenwoordigheid een van die mees basiese vaardighede is waaroor die Gestalt-hulpverlener moet beskik, maar ook een van die moeilikste. Die

genoemde outeurs noem dat ware teenwoordigheid bestaan wanneer die hulpverlener nie die ander persoon probeer beïnvloed nie. Hulpverleners moet verder in staat wees om met hul hele wese betrokke te raak in die interaksie wat plaasvind binne die verhouding. Yontef (2007:21) brei uit op hierdie begrip van teenwoordigheid as hy noem dat die Gestalt-hulpverleners hulself verbind tot die hele reeks van gedrag en emosies wat tydens die verhouding ervaar word. Hulpverleners wys hul teenwoordigheid verbaal en nie-verbaal.

Die hulpverlener moet toegewy wees aan die dialoog wat plaasvind gedurende die terapeutiese proses. Dit beteken dat die dialoog opreg en eerlik is, sonder enige vooropgestelde idees. Die hulpverlener moet dus geen verwagtinge koester met betrekking tot elke sessie nie. Beide die hulpverlener en die kinders moet oop wees vir verandering (Blom, 2006:56; Woldt & Toman, 2005:95, 96; Yontef & Fairfield, 2005:17). Alhoewel hierdie studie gebaseer is op voorafbeplande diagrammatiese hulpmiddels, moet die hulpverlener daarteen waak om rigiede uitkomste van elke sessie te verwag. Die hulpverlener moet kinders toelaat om leiding te neem en die dialoog wat voortspruit uit elke sessie moet opreg en sonder enige beplande rigting wees.

Binne die terapeutiese verhouding is een van die belangrikste take van die hulpverlener om kinders se bewustheid van hul gedagtes, gevoelens, gedrag, liggaamsbewustheid, sintuie, proses van kontakmaking, verhouding met ander mense en impak op die omgewing te verhoog. Die hulpverlener bereik die doelwit deur aan kinders dít wat hulle hoor te reflekteer, deur aan hulle te vra hoe hulle voel en deur kinders se waardesisteem saam met hulle te ondersoek (Joyce & Sills, 2010:32). Die hulpverlener moet dus bereid wees om „n verkenningstog saam met kinders met aggressiewe gedrag aan te pak, waartydens kinders hulself vind en leer ken soos hulle werklik is. Die diagrammatiese hulpmiddels verskaf wel „n struktuur waarvolgens hierdie verkenningstog aangepak word, maar die kinders verskaf die rigting en die tempo van die verkenningstog. Alhoewel die fokus van hierdie studie op die benutting van diagrammatiese hulpmiddels is in die konteks van aggressie, neem die navorser dus kennis van die belang van die terapeutiese verhouding en sal die verhouding „n kernaspek van intervensie vorm.