• No results found

HOOFSTUK 1: KONTEKS, PROBLEEMSTELLING EN

1.5 SPESIFIEKE NAVORSINGSVRAE

Spesifieke navorsingvrae wat uit die algemene navorsingsvraag voortvloei, en gesamentlik bydra tot die beantwoording daarvan, kan soos volg uiteengesit word:

1.5.1 Watter uitgangspunte van simmetriese tweerigtingkommunikasie, die reflektiewe paradigma, strategiese kommunikasiebestuur, King III, ISO 26000, AA1000 en GRI kan gebruik word om ʼn KSV-kommunikasiemodel daar te stel vir kommunikasie oor KSV?

1.5.2 Watter uitgangspunte van die deelnemende benadering tot ontwikkelingskommunikasie kan gebruik word om ʼn KSV-kommunikasiemodel daar te stel vir kommunikasie in KSV?

1.5.3 Wat is die aard van kommunikasie tussen maatskappye binne die landbousektor en opkomende asook kommersiële boere in terme van hul KSV-inisiatiewe?

1.5.4 Wat is die persepsies van opkomende en kommersiële boere oor die wyse waarop maatskappye binne die landbousektor tans met hulle kommunikeer in terme van hul KSV-inisiatiewe?

1.5.5 Hoe behoort maatskappye binne die landbousektor met opkomende en kommersiële boere in terme van hul KSV-inisiatiewe te kommunikeer om aan beide die boere se behoeftes, sowel as die riglyne in die literatuur gestel, te voldoen?

1.6 DOELSTELLINGS

Om die bostaande navorsingsvrae te kan beantwoord, word die volgende doelstellings vir die studie gestel:

1.6.1 Algemene navorsingsdoelstelling

Om ʼn model vir KSV-kommunikasie (in die landbousektor) te ontwikkel ten opsigte van kommunikasie oor en in KSV.

1.6.2 Spesifieke navorsingsdoelstellings

Uit die algemene navorsingsdoelstelling vloei die volgende spesifieke doelstellings voort:

1.6.2.1 Om deur ʼn literatuurstudie vas te stel watter uitgangspunte van die reflektiewe paradigma, strategiese kommunikasiebestuur, simmetriese tweerigtingkommunikasie asook King III, ISO 26000, AA1000 en GRI gebruik kan word om ʼn model vir kommunikasie oor KSV daar te stel.

1.6.2.2 Om deur ʼn literatuurstudie vas te stel watter uitgangspunte van die deelnemende benadering tot ontwikkelingskommunikasie gebruik kan word om ʼn model vir kommunikasie in KSV daar te stel.

1.6.2.3 Om deur semigestruktureerde onderhoude met kommunikasiebeamptes van maatskappye asook kwalitatiewe inhoudsanalise van dokumente verbandhoudend tot KSV-inisiatiewe en KSV-kommunikasie vas te stel wat die aard van kommunikasie tussen die

landboumaatskappye en opkomende asook kommersiële boere rakende hulle KSV- inisiatiewe behels.

1.6.2.4 Om deur semigestruktureerde onderhoude en fokusgroepe met beide opkomende en kommersiële boere vas te stel wat die persepsies van hierdie boere is oor die manier waarop maatskappye binne die landbousektor tans met hulle rakende hulle KSV- inisiatiewe kommunikeer.

1.6.2.5 Om deur die ontleding van inligting vas te stel hoe maatskappye binne die landbousektor met opkomende en kommersiële boere rakende hulle KSV-inisiatiewe behoort te kommunikeer om te voldoen aan albei groepe boere se behoeftes, sowel as aan die riglyne wat in die literatuur gestel word.

1.7 RIGTINGGEWENDE ARGUMENTE

In die huidige studie word die aanname gemaak dat KSV vir die betrokke maatskappy strategiese voordeel behoort in te hou, terwyl dit terselfdertyd tot volhoubare ontwikkeling bydra. Om hierdie oënskynlik uiteenlopende doelwitte te bereik moet daar met belangegroepe in en ook oor KSV gekommunikeer word.

In meer besonderhede veronderstel dit dat KSV-kommunikasie op die volgende rigtinggewende argumente gebaseer is:

Kommunikasie oor KSV behoort te berus op die uitgangspunte van die simmetriese tweerigtingbenadering, die reflektiewe paradigma en strategiese kommunikasiebestuur (kommunikasiebestuursbenaderings), wat grootliks binne die metateoretiese tradisie van kubernetika gewortel is.

Kommunikasie in KSV behoort gerig te word deur die uitgangspunte van die deelnemende benadering tot ontwikkelingskommunikasie wat uit die kritiese tradisie voortvloei.

Die eiesoortige sienings van kommunikasie volgens die twee metateoretiese tradisies bemoeilik egter die samestelling van ʼn enkele KSV-kommunikasiemodel waarin die uitgangspunte van die kommunikasiebestuursbenaderings asook dié van die deelnemende benadering geïntegreer word.

1.8 WETENSKAPLIKE BYDRAE

Die teoretiese bydrae van die studie is ʼn voorgestelde model vir KSV-kommunikasie. ʼn Model is ʼn vereenvoudigde weergawe van die werklikheid wat die mees ooglopende aspekte

beklemtoon en op die verbande tussen hierdie aspekte fokus. ʼn Model kan dus beskou word as die eerste stap in ʼn proses van teoriebou in ʼn veld waar daar tans min algemeen aanvaarde teoretiese raamwerke bestaan. Aangesien die veld van KSV-kommunikasie betreklik nuut is, is ʼn model ʼn gepaste konseptuele raamwerk. Die rede is dat die heuristiese funksie van ʼn model geskik is om nuwe navorsingsvelde te kan ontgin asook om nuwe fokuspunte vir navorsing te beklemtoon (sien Mouton & Marais, 1992:143-147; De Vos, 2005:36). Die doel van ʼn KSV- kommunikasiemodel is dus om die tipiese konsepte wat relevant is vir kommunikasie oor en in KSV op ʼn vereenvoudigde wyse uit te beeld terwyl verbande tussen hierdie konsepte ook aangedui word.

Bestaande navorsing oor KSV-kommunikasie is meestal vanuit ʼn Westerse konteks gedoen en verreken nie noodwendig die fokus en eise van KSV-kommunikasie in ontwikkelende lande nie. Die bestaande kommunikasieteorieë sal dus krities benader moet word, om sodoende vas te stel watter uitgangspunte hiervan vir KSV-kommunikasie in Suid-Afrika relevant is. Dit is binne hierdie konteks wat die huidige studie poog om ʼn teoretiese model vir KSV-kommunikasie daar te stel deur op die volgende basisteorieë voort te bou:

 simmetriese tweerigtingkommunikasie, die reflektiewe paradigma en strategiese kommunikasiebestuur binne die veld van kommunikasiebestuur wat relevant is vir kommunikasie oor KSV;

die deelnemende benadering tot ontwikkelingskommunikasie as deel van kommunikasie in KSV.

Die teoretiese bydrae van die studie is tweeledig. Die eerste doelwit is om ʼn teoretiese KSV- kommunikasiemodel uit die literatuur saam te stel. Die tweede doelwit is om hierdie KSV- kommunikasiemodel deur die empiriese studie te verfyn en op die landbousektor toe te pas, en daarmee ʼn toegepaste KSV-kommunikasiemodel voor te stel. Hoewel die empiriese deel van die studie op die landbousektor fokus, behoort die model wat uit die studie voortspruit, toepaslik te wees vir ʼn verskeidenheid sektore in Suid-Afrika. Hierdie voorgestelde model sou ook empiries in ander sektore getoets kon word in verdere pogings om die teoretiese veld van KSV- kommunikasie te verbreed.

Op praktiese vlak poog hierdie studie om ʼn bydrae te lewer tot die verbetering van verhoudings tussen landboumaatskappye en kommersiële asook opkomende boere as belangegroepe binne die landbousektor. Binne die konteks van grondhervorming bestaan daar tans baie gespanne

verhoudings in die landbousektor en ontoereikende kommunikasie kan uitgewys word as ʼn bydraende faktor tot hierdie situasie. Die konseptuele aard van dié studie kan ook verdere studies aanspoor wat nouer fokus op praktiese implementering van strategieë.

1.9 NAVORSINGSMETODES

ʼn Uitgebreide literatuurstudie is deurlopend gedoen, terwyl die empiriese navorsing op ʼn kwalitatiewe manier aangepak is.

1.9.1 Literatuurstudie

Die volgende databasisse is in literatuursoektogte geraadpleeg: Nexus, RSAT, Ferdinand Postma Katalogi, SA Media, Ebscohost en MCB Emerald. Hoewel daar nie uitgebreide literatuur oor KSV-kommunikasie beskikbaar was nie, het die soektog aangetoon dat daar wel voldoende inligting bestaan het vir die uitvoering van hierdie studie, aangesien daar genoeg inligting oor ander teoretiese velde was wat moontlik tot die samestelling van ʼn KSV-kommunikasiemodel kon bydra.

Morsing en Schultz (2006, 2008) se modelle vir KSV-kommunikasie is van die min pogings tot dusver om teoretiese KSV-kommunikasiemodelle voor te stel. Hierdie modelle fokus egter nie op die ontwikkelingsdoelwitte van KSV nie, en verskaf ook nie genoegsame besonderhede oor die aard van KSV-kommunikasie nie.

In Suid-Afrika is verskeie nagraadse studies oor KSV onderneem. Hierdie studies is egter grootliks in die velde van bedryfsielkunde, besigheidsadministrasie, regte en sosiologie uitgevoer (sien Viljoen, 2007; Akindoju, 2008; Nel, 2008; Sieberhagen, 2008; Van Wyk, 2009). Die enkele studies wat wel binne die veld van kommunikasie gedoen is, fokus merendeels op die kommunikasie oor KSV-projekte na afloop daarvan, eerder as op kommunikasie in die KSV- proses (sien Konar, 1989; Lubbe, 1989; Roodt, 1989; Bishop, 1990; Roux, 1991; Jansen van Rensburg, 2007).

Daar is heelwat navorsing gepubliseer oor die deelnemende benadering as deel van ontwikkelingsprojekte, maar die skakel tussen KSV-aktiwiteite en die deelnemende benadering is nog nie genoegsaam bestudeer nie. Burger (2008) se doktorale studie, getiteld Businesses’ social engagement, public relations and social development: A beyond modernist conceptual model, is een van min studies waar beide die velde van kommunikasiebestuur asook

ontwikkelingskommunikasie met maatskappye se sosiale verantwoordelikheid in verband gebring word.

Binne die veld van kommunikasiebestuur is beduidend gepubliseer oor simmetriese tweerigtingkommunikasie, die reflektiewe paradigma en strategiese kommunikasiebestuur, maar hierdie navorsing is ook nog nie voldoende binne die konteks van KSV ondersoek en toegepas nie. Die Pretoria denkskool het die afgelope tyd ondersoek ingestel na die posisionering van strategiese kommunikasiebestuur in die KSV-domein (sien Steyn, 2007; Steyn & Niemann, 2010; Steyn & De Beer, 2012), terwyl Burger (2009) die toepaslikheid van die reflektiewe paradigma binne die konteks van KSV bestudeer het. Die artikels wat uit hierdie navorsing voortgespruit het, is egter nog nie voldoende vir die samestelling van ʼn KSV- kommunikasiemodel nie. Dit beklemtoon gevolglik juis dat meer navorsing op hierdie terrein nodig is.

Laastens is daar in Suid-Afrika uitgebreide navorsing oor die mynbousektor se KSV-inisiatiewe gedoen, maar nog min navorsing hieroor is in die landbousektor onderneem.

Die doel van die literatuurstudie is om ʼn teoretiese KSV-kommunikasiemodel voor te stel wat fokus op beide kommunikasie oor asook in KSV. Hierdie teoretiese KSV-kommunikasiemodel kom in hoofstuk 5 aan die orde.

1.9.2 Empiriese studie

Die twee landboumaatskappye waarvan die KSV-kommunikasie in hierdie studie ondersoek is, is Senwes en NWK. Hierdie spesifieke landboumaatskappye is gekies omdat albei reeds bestaande KSV-programme in werking het wat hulp aan opkomende boere verskaf. Die genoemde maatskappye funksioneer verder in naastenby dieselfde plattelandse gebiede, bied soortgelyke dienste aan hulle kliënte en is vergelykbaar kragtens hulle aandeelhouer- en kliëntestrukture. Die manier waarop hierdie twee maatskappye ondersteuning aan opkomende boere verskaf is ook redelik dieselfde. Dit beteken dat inligting wat by albei maatskappye en die boere ingesamel is, as eenheid gehanteer kon word. Die doel van die studie was nie om die twee maatskappye op enige manier met mekaar te vergelyk nie. Tog is hierdie ooreenstemmings belangrik om te verseker dat geldige afleidings en gevolgtrekkings gemaak kon word.

Die empiriese aspek van die studie is volgens ʼn kwalitatiewe navorsingsbenadering aangepak en die navorsingsmetodes, was semigestruktureerde onderhoude, fokusgroepe en kwalitatiewe inhoudsanalise.

1.9.1.1 Die kwalitatiewe benadering

Die kwalitatiewe benadering tot navorsing is in hierdie studie gebruik omdat gepoog is om indiepte-insig te kry in boere se ervaring van kommunikasie asook die landboumaatskappye se redes en oorwegings vir die maniere waarop gekommunikeer word. Die kwalitatiewe benadering is by uitstek geskik om indiepte-insig te verkry in die perspektief van diegene wat deel van die navorsing uitmaak (Babbie & Mouton, 2001:53; Du Plooy, 2009:35).

1.9.1.1.1 Semigestruktureerde onderhoude

Semigestruktureerde onderhoude is gevoer met die bestuurders van ontwikkelende landbou asook met diegene wat pertinent ondersteuning aan opkomende boere bied, naamlik die landboukundiges. Op hierdie manier is ondersoek ingestel na die aard van kommunikasie tussen die landboumaatskappye en die opkomende boere in KSV. Die persepsie van opkomende boere oor die aard van kommunikasie in KSV is ook deur semigestruktureerde onderhoude verken. Daar is ook semigestruktureerde onderhoude gevoer met persone wat in beheer staan van kommunikasie met kommersiële boere, om hulle kommunikasiestrategie oor KSV te ondersoek. Die rede waarom vir semigestruktureerde onderhoude gekies is, is tweeledig. Enersyds is hierdie soort onderhoude gestruktureerd genoeg om vergelyking en integrasie van die resultate van verskillende onderhoude te kan bied. Andersyds is hierdie metode ook buigbaar genoeg om aan die navorser kans te gee dat hy/sy bykomende opvolgvrae kan vra en temas by die onderhoude insluit wat nie vooraf voorsien is nie (Greef, 2005:296; Du Plooy, 2009:1988).

1.9.1.1.2 Fokusgroepe

Fokusgroepe is met kommersiële boere gehou om hulle persepsies van landboumaatskappye se kommunikasie oor KSV-aktiwiteite te verken en hulle die geleentheid te gee om insette te lewer wat waarde kon toevoeg tot die ontwikkeling van ʼn kommunikasiemodel vir doeltreffende kommunikasie oor KSV. Daar is op fokusgroepe besluit, aangesien hierdie navorsingsmetode inligting kan genereer wat ryk is aan idees omdat respondente met mekaar in gesprek tree en op mekaar se voorstelle en idees kan bou (sien Greef, 2005:299; Babbie & Mouton, 2001:292; Du Plooy, 2009:199). Daar is deurgaans gepoog om ʼn KSV-kommunikasiemodel op te stel waarmee hierdie boere gemaklik is. Gevolglik was dit belangrik om aan hulle die geleentheid te bied om die aangeleentheid met mekaar te bespreek en oor hulle voorstelle te redeneer.

1.9.1.1.3 Kwalitatiewe inhoudsanalise

Die metodiek van kwalitatiewe inhoudsanalise is by uitstek geskik om temas asook denotatiewe en konnotatiewe betekenisnuanses in boodskappe te identifiseer (Du Plooy, 2009:219). Gevolglik is besluit om relevante dokumente met behulp van hierdie navorsingsmetode te ontleed. Babbie en Mouton (2001:383) beklemtoon die veeldoeligheid van inhoudsanalise deur te sê hierdie vorm van ontleding op die meeste vorme van kommunikasie toegepas kan word. Hierdie veeldoelige aard van inhoudsanalise was belangrik vir die betrokke studie, aangesien uiteenlopende soorte dokumente en inligting ontleed is om ʼn eenheidsbegrip te vorm wat deur ʼn KSV-kommunikasiemodel uitgebeeld kon word.

Die volgende materiaal is op ʼn kwalitatiewe manier ontleed: dokumente wat verband hou met die landboumaatskappye se KSV-beleide, KSV-inisiatiewe en KSV-kommunikasie. Kwalitatiewe inhoudsanalise is verder ingespan om voorbeelde van KSV-kommunikasie te ontleed. Die transkripsies van die semigestruktureerde onderhoude en fokusgroepe is ook aan die hand van teoretiese riglyne deur hierdie navorsingsmetode ontleed.