• No results found

HOOFSTUK 6: KSV IN DIE SUID-AFRIKAANSE LANDBOUSEKTOR

6.5 SENWES

Die eerste landboumaatskappy wat deel van hierdie studie vorm, is Senwes (voorheen bekend as Sentraal-Wes) met hulle hoofkantoor in Klerksdorp in die Noordwesprovinsie. Senwes is ʼn gevestigde landboumaatskappy wat reeds in 2009 hulle 100ste bestaansjaar gevier het. Die maatskappy is een van die leiers op die gebied van diensverskaffing in die landboubedryf en opereer in die Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Noord Kaap (Senwes, 2011:28; 2012a). Die maatskappy se visie is om die agri-onderneming in Suid-Afrika te wees wat die grootste bewondering afdwing. Hulle slagspreuk Breek nuwe grond is ʼn aanduiding van die maatskappy se strewe na innovering en uitnemendheid (Senwes, 2012a).

Hoewel daar nie op Senwes se webwerf of in hulle jaarverslae enige formele definisie van KSV verskaf word nie, blyk dit uit die maatskappy se aktiwiteite dat Senwes wel ʼn goeie idee het van wat KSV behels. Voorts wil dit voorkom of die maatskappy hulle verantwoordelikheid teenoor die belangegroepe verstaan en probeer nakom, terwyl hulle ook transformasiedoelwitte nastreef (Kloppers, 2012:137).

Senwes se sakestrategie fokus op diversifisering van hulle kernbesigheid, waarde ontsluiting, SEB en finansiële prestasie (Senwes, 2012a). SEB wat in die maatskappy se strategie uitgesonder word, beklemtoon hulle verbintenis tot transformasie asook ondersteuning van die Nasionale Sektor Plan vir Landbou wat betref gelyke toegang en deelname, globale mededingendheid en winsgewendheid asook die volhoubare bestuur van hulpbronne (Du Toit, 2009).

6.5.1 Senwes se SEB

Senwes beskou SEB as ʼn belangrike dryfveer vir ekonomiese en sosiale transformasie in Suid- Afrika en dus ook as integrale deel van die maatskappy se sakebedryf. Senwes glo dat SEB noodsaaklik is waardeur swart persone die geleentheid kry om op ʼn betekenisvolle manier aan die land se ekonomie deel te neem. Sodoende word ook ekonomiese stabiliteit asook volhoubare ekonomiese groei en ontwikkeling verseker. Die maatskappy glo voorts dat dit van deurslaggewende betekenis is om die ongelykhede van die verlede te hanteer, ook in die onderneming se eie belang. Senwes verbind hulle tot die skep en ontwikkeling van ʼn instaatstellende omgewing vir doeltreffende SEB binne die maatskappy. Hulle benader SEB op

ʼn geïntegreerde manier deur te fokus op die sewe elemente soos die SEB Gedragskode dit uiteensit (sien SA, 2005; SA, 2008; Senwes, 2012b).

In hulle SEB-beleid verbind die maatskappy hulle tot die Suid-Afrikaanse beleid hieroor en implementering daarvan. Die maatskappy herbevestig hulle verbintenis as verantwoordelike korporatiewe “burger” om by te dra tot die verbetering en ontwikkeling van die gemeenskap se lewenskwaliteit en om volhoubare inisiatiewe vir gemeenskapsontwikkeling in samewerking met die regering en ander groepe te ondersteun. Verder dui Senwes aan dat hulle hulself en hulle hulpbronne tot die SEB-doelwitte en -doelstellings verbind soos dit in die SEB-beleid vervat is. Laastens bevestig hulle dat hierdie doelwitte en doelstellings in ooreenstemming met die maatskappy se visie, missie en strategiese doelwitte gedoen sal word om te verseker die maatskappy behou hulle karakter, besigheidsfokus, waardes, prestasie standaarde en aandelewaarde (Senwes, 2012b).

Uit die maatskappy se SEB-sleutelbeginsels en strategiese doelwitte kan afgelei word dat hulle nie slegs poog om SEB binne Senwes as maatskappy te bevorder nie, maar in die land as geheel. As deel van hierdie poging om tot SEB in Suid-Afrika by te dra verskaf Senwes hulp en ondersteuning aan opkomende boere.

6.5.2 Senwes se ondersteuning aan opkomende boere

Senwes beklemtoon die geweldige behoefte aan ondersteuning en bemagtiging van opkomende boere binne die kommersiële landboubedryf (Senwes, 2012c). Ten spyte van baie uitdagings glo Senwes dat die kommersialisering van opkomende boere ʼn langtermynbelegging is waarin die maatskappy wil en moet belê.

6.5.2.1 Doel van ondersteuning aan opkomende boere

Senwes dui aan dat hulle daartoe verbind is om ʼn positiewe bydrae te lewer tot die bevordering en ontwikkeling van opkomende boere wat toegewyd is, integriteit toon en die ambisie koester om binne ʼn redelike tydperk (3-5 jaar) produktiewe kommersiële boere te word (Du Toit, 2009a). Die doel van hierdie programme is om opkomende boere te ondersteun dat hulle winsgewende boerderye bedryf deur die beste landboupraktyke na te volg (Senwes, 2008:114; 2011:36). Gevolglik beskou Senwes bemagtiging as die oorkoepelende doelwit van hulle ondersteuning aan opkomende boere (Senwes, 2012c; Du Toit, 2013).

6.5.2.2 Die proses en aard van ondersteuning aan opkomende boere

Senwes ondersteun boere wat binne ʼn bepaalde geografiese area boer en verskaf tegniese ondersteuning oor graanproduksie van die gewasse wat binne daardie geografiese gebied verbou

word. Hulle bied ook ondersteuning aan boere wat met beeste, skape, varke of hoenders boer (Du Toit, 2013; Senwes-landboukundiges, 2013).

Volgens du Toit (2013) asook die Senwes-landboukundiges (2013), ontstaan ʼn verhouding tussen Senwes en opkomende boere meestal wanneer hierdie boere die maatskappy vir tegniese ondersteuning nader. Voordat besluit word of Senwes daardie boer kan ondersteun, word ʼn deeglike evaluering gedoen om die lewensvatbaarheid van die boer se onderneming vas te stel. Verskeie faktore word in ag geneem om te bepaal of Senwes die boer wel kan ondersteun. Hierdie faktore sluit in:

 of die boer reeds grond besit;

 wat die opbrengspotensiaal en drakrag van die grond is;

 watter toerusting en infrastruktuur tot sy/haar beskikking is;

 watter soort befondsing vir die persoon beskikbaar is;

 hoeveel kennis, boerderyvaardighede, ervaring en entrepreneursvaardighede die persoon reeds het;

 hoe toegewyd, en ontvanklik vir advies daardie persoon is; en

 wat die boer wil bereik.

Hierdie evaluering geskied in samewerking met die boer waarna ʼn sakeplan vir die betrokke boer opgestel word (Du Toit, 2013; Senwes-landboukundiges, 2013).

Verdere stappe in die proses bestaan uit die analise en beplanning van die ondersteuning wat nodig is, fondsaansoeke en die toekenning van ʼn toegewyde mentor. Die belangrikheid van volgehoue ondersteuning en opleiding word beklemtoon en Senwes verbind hulle op ʼn langtermynbasis aan hierdie boere. Senwes glo ook dat omvattende ondersteuning nodig is om te verseker dat opkomende boere oor ʼn wye spektrum gebiede toegerus en ondersteun word om só produktiewe, kommersiële boere te word (Du Toit, 2009a).

Senwes bied ondersteuning aan opkomende boere in vennootskap met ander instansies, waarvan die ander vennote sekere kursusse aanbied en help met opleiding, vaardigheidsontwikkeling en kapasiteitsbou (Du Toit, 2013). Die soort ondersteuning wat aan opkomende boere verskaf

word, verskil van individu tot individu, op grond van elkeen se unieke behoeftes, kennis en ervaring. Senwes se ondersteuning aan opkomende boere sluit in tegniese ondersteuning, opleidingsprogramme, graanversekering, koopkontrakte, toegang tot kapitaal, produksiefasiliteite en mentorskap om te verseker dat hierdie boere toegang tot die mark verkry (Senwes, 2012b).

Ondersteuning en vaardigheidsopleiding fokus op die tegniese aspekte van boerdery asook op ander relevante aspekte soos beplanning, rekordhouding en bemarking van produkte. Van die belangrikste dienste wat Senwes aan opkomende boere lewer is bystand om toegang te kry tot befondsing wat staatsubsidies, AgriSeta-befondsing en ander soorte subsidies kan insluit (Du Toit, 2013; Senwes-landboukundiges, 2013).

Die tegniese ondersteuning wat Senwes aan die opkomende boere bied, word behartig deur die maatskappy se landboukundiges. Hulle sluit in ʼn akkerboukundige, veekundige en ekonoom wat uitsluitlik op opkomende boere fokus (Du Toit, 2013; Senwes-landboukundiges, 2013).

Vaardigheidsontwikkeling word gebaseer op praktiese ondersteuning en die opkomende boere leer deur wat hulle self doen. Kapasiteitsbou geskied volgens die volgehoue verbeteringsbeginsel. Tegniese en finansiële ondersteuning word verskaf op grond van verskillende analises waartydens die betrokke opkomende boer se hulpbronne, vaardigheid en kans op sukses bepaal word (Du Toit, 2009a).

Senwes doen gereeld naseisoense beoordelings (“post-season assessments”) waar teruggekyk word op die seisoen wat verby is voordat die boer terugvoer kry oor positiewe aspekte, sowel as daardie wat nog aandag benodig. Die maatskappy poog om die boere wat hulle ondersteun geleidelik te “speen” eerder as om plotseling uit die proses te onttrek. Senwes begroot dat dit tussen drie en vyf jaar se ondersteuning neem voordat so ʼn boer onafhanklik kan boer. In die meeste gevalle bied Senwes twee jaar lank intensiewe ondersteuning, waarna hulle dit begin afskaal (Du Toit, 2013).

Senwes beklemtoon die noodsaaklikheid van volgehoue kommunikasie en terugvoer in die sukses van die program asook die belangrikheid van ʼn mentor. Gevolglik fasiliteer Senwes ʼn mentorsisteem waardeur ervare boere as mentors vir opkomende boere optree en hulle só begelei en ondersteun (Senwes, 2008:114; Senwes, 2011:36).

6.5.2.3 Die rol van die regering in die ondersteuning aan opkomende boere

Senwes stel eerstens in samewerking met opkomende boere individuele sakeplanne op. Daarna word hierdie sakeplan voorgelê aan die Departement van Grondsake wat op grond van ʼn eie stel keurkriteria besluit of staatsbefondsing aan die opkomende boer toegeken kan word. Indien befondsing toegeken word, kan die staat Senwes as mentor vir ʼn opkomende boer aanstel wat behels dat fondse in ʼn rekening geplaas word wat Senwes en die boer gesamentlik bestuur. Hierdie sakeplan moet volgens die voorgestelde skedule geïmplementeer word, terwyl gereeld aan die staat verslag gedoen word oor vordering en die implementering (Du Toit, 2013; Senwes- landboukundiges, 2013). Volgens Du Toit (2013) heers ʼn baie positiewe verhouding tussen Senwes en die regering wat die maatskappy se ondersteuning aan opkomende boere betref. Hoewel hierdie inisiatiewe ʼn finansiële las op die maatskappy plaas, kry Senwes ook vergoeding vir hierdie dienste vanaf die staat. Dit help om die risiko vir die maatskappy te verlaag.

6.5.2.4 Kommunikasie in die proses van ondersteuning aan opkomende boere

Die drie landboukundiges van Senwes wat direk met opkomende boere werk is swart mans, wat in die boere se moedertaal en kultureel-sensitief met hulle kommunikeer (Du Toit, 2013; Senwes-landboukundiges, 2013). Gedurende die tyd wat opkomende boere deur Senwes ondersteun word, geskied kommunikasie hoofsaaklik direk tussen die boere en die landboukundiges. Die landboukundiges tree in groot mate op as “middelman” wat die opkomende boere ook met nie-tegniese aspekte help, byvoorbeeld om toegang tot lenings, versekering en ʼn mark vir hulle produkte te kry. Só verskaf hulle ʼn “een-stop”-diens aan opkomende boere.