• No results found

HOOFSTUK 1: KONTEKS, PROBLEEMSTELLING EN

2.4 BENADERINGS TOT MAATSKAPPY-GEORIËNTEERDE TEENOOR

2.5.2 Ontwikkeling-georiënteerde kommunikasie in KSV

In die huidige studie word daar van die standpunt af uitgegaan dat ontwikkeling-georiënteerde kommunikasie in KSV aan die uitgangspunte van die deelnemende benadering tot

ontwikkelingskommunikasie behoort te voldoen (sien 1.2.2). Die rede hiervoor is dat die deelnemende benadering reeds sedert die 1980‟s as dié normatiewe benadering tot ontwikkelingskommunikasie erken word, op grond van substansiële navorsing in hierdie teoretiese veld (sien 1.2.2).

2.5.2.1 Die deelnemende benadering

Die deelnemende benadering het in ʼn groot mate die basiese uitgangspunte van die veelvuldigheidsbenadering oorgeneem en dit vorm ook die basis van hierdie benadering se konseptualisering (Servaes, 2008a:21; Servaes & Malikhao, 2008:163). Die deelnemende benadering tot ontwikkelingskommunikasie beklemtoon onder meer die volgende aspekte:

 ʼn Gebalanseerde verspreiding van mag (Servaes, 1995:46; White, 1999:33, 43; Gumucio- Dagron & Tufte, 2006:xx; Servaes & Malikhao, 2008:169-170; Servaes, 2008b:202; Gumucio-Dagron, 2008:71).

 Bemagtiging (Servaes, 1995:46; White, 1999:33; Gumucio-Dagron & Tufte, 2006:xx; Servaes, 2008a:18; 2008b:202; Servaes & Malikhao, 2008:169-170).

 Die beskouing dat bevoordeeldes/gemeenskappe as gelyke vennote in die ontwikkelingsproses moet deelneem (White, 1999:32, 43; Gumucio-Dagron & Tufte, 2006:xx; Servaes, 2008a:21; Gumucio-Dagron, 2008:71).

 Die belange van ʼn gemeenskap en die gemeenskap se behoeftes (Servaes, 1995:46; 1996a:83; White, 1999:32, 43; Servaes, 2008a:15, 21; 2008b:202; Servaes & Malikhao, 2008:169-176; Colle, 2008:149; Gumucio-Dagron, 2008:71).

 Die belang van deelname van die bevoordeeldes/gemeenskap by besluitmening waar ontwikkeling ter sprake is (Servaes, 1995:45; 1996a:83; White, 1999:33, 43; Servaes, 2008a:18, 21; 2008b:202; Servaes & Malikhao, 2008:169; Colle, 2008:149; Gumucio- Dagron, 2008:71).

 Eerbiediging van kulturele identiteit (Servaes, 1995:45; 1996a:83, 88; White, 1999:43; Gumucio-Dagron & Tufte, 2006:xx; Servaes, 2008a:18, 21; 2008b:202; Servaes & Malikhao, 2008:169).

 Dialoog tussen rolspelers (Servaes, 1995:46; White, 1999:43; Gumucio-Dagron & Tufte, 2006:xx; Servaes, 2008a:15; 2008b:202; Gumucio-Dagron, 2008:71).

 Demokrasie (Servaes, 1995:45; 2008a:15; 2008b:202).

 Wederkerigheid (Servaes, 1995:45; 2008a:21).

 Die idee dat mense vir hulle eie ontwikkeling verantwoordelik is (Servaes, 1995:46; 1996a:83, 85; White, 1999:31; Gumucio-Dagron & Tufte, 2006:xx; Servaes, 2008a:18, 21).

 Selfontwikkeling met die doel van selfonderhoud (Servaes, 1995:46; 1996a:83, 105; White, 1999:31, 43; Servaes, 2008a:18, 21).

 Wedersydse begrip wat op wedersydse respek gebaseer is (Servaes, 1995:45; 2008a:15, 21- 22; Servaes & Malikhao, 2008:169).

Uit hierdie uitgangspunte van die deelnemende benadering behoort dit duidelik te wees dat hierdie benadering in die kritiese tradisie gewortel is. In die deelnemende benadering word daar, soos in die kritiese tradisie, geredeneer dat kommunikasie gebruik kan word as instrument vir kritiese refleksie op mense se situasie sowel as op die samelewing in geheel. Hierdie benadering, streef verder, soos die kritiese tradisie, na verdeling van mag sodat individue mag oor hulle eie situasie verkry en sodoende bemagtig word; asook na sosiale verandering en bevryding (sien 1.2.2). Bogenoemde uitgangspunte word in hoofstuk 4 meer volledig bespreek. Vanuit die genoemde uitgangspunte is dit duidelik dat die deelnemende benadering ʼn ontvanger- georiënteerde benadering, eerder as ʼn kommunikeerder-georiënteerde benadering is. Hierdie fokus hou belangrike implikasies vir die aard van kommunikasie binne dié benadering in. Die huidige studie fokus op KSV-kommunikasie en daarom is dié vertrekpunt met betrekking tot kommunikasie by uitstek vir die studie relevant. Die implikasie van ʼn ontvanger-georiënteerde benadering tot kommunikasie is dat die inhoud van kommunikasie bepaal word deur ontvangers (in hierdie studie die bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe) se inligtingsbehoeftes. Soos Servaes dit baie juis opsom:

...one is no longer attempting to create a need for the information disseminated, but instead, information is disseminated for which there is a need (Servaes, 1996:16).

Hierdie vertrekpunt vorm die kern van die tweede teoretiese stelling van die studie, wat fokus op die inhoud van kommunikasie in KSV:

Teoretiese stelling 2:

Inhoud van kommunikasie in KSV

Die inhoud waaroor daar gekommunikeer word binne die konteks van kommunikasie in KSV behoort deur die bevoordeeldes se inligtingsbehoeftes bepaal te word.

2.5.2.2 Gevolgtrekking oor ontwikkeling-georiënteerde kommunikasie in KSV

Maatskappye wat op ontwikkeling-georiënteerde KSV-kommunikasie ingestel is, behoort volhoubare ontwikkeling as eerste prioriteit te sien en kommunikasie in KSV só te benader dat hierdie doelwit nagestreef word. Indien aanvaar word dat maatskappye wat op hierdie vorm van KSV-kommunikasie fokus, meestal ʼn meer simmetriese wêreldbeskouing het en dus tweerigtingkommunikasie toepas, kan betoog word dat so ʼn maatskappy eerder ʼn deelnemende benadering tot kommunikasie in KSV behoort te kies. Vanuit die simmetriese wêreldbeskouing behoort sodanige maatskappye te erken dat bevoordeeldes self die meeste kennis oor hulle eie omstandighede en probleme het en dat dit nie noodwendig die maatskappy se prerogatief is nie. Volgens hierdie wêreldbeskouing word bevoordeeldes voorts as gelyke vennote in die ontwikkelingsproses beskou en word sodoende erken dat die maatskappy ook van hulle kan en behoort te leer. Wat tweerigtingkommunikasie betref, word veronderstel dat die bevoordeeldes net soveel geleentheid tot kommunikasie as die maatskappy behoort te hê, dat hulle insette ewe belangrik is en dat besluite gesamentlik geneem kan word op grond van horisontale, dialogiese kommunikasie.

Soos reeds in hoofstuk 1 aangedui (sien 1.2.2), word in die huidige studie geredeneer dat die uitgangspunte van die deelnemende benadering tot ontwikkelingskommunikasie toepaslik is vir ontwikkeling-georiënteerde kommunikasie in KSV. Die rede is dat ontwikkelingskommunikasie die maatskappy kan help om die ontwikkelingsdoelwitte van KSV te bereik. Gevolglik kan die deelnemende benadering as norm aanvaar word vir kommunikasie in sodanige ontwikkelingsinisiatiewe. Soos uit die bespreking van die uitgangspunte van die deelnemende benadering gesien kan word (sien 2.5.2.1), is hierdie benadering in die metateoretiese raamwerk van die kritiese tradisie gewortel, wat bevryding en ʼn gelyke verspreiding van mag nastreef. In die huidige studie word daar van die standpunt af uitgegaan dat die bereiking van hierdie doelwitte noodsaaklik is vir ontwikkeling en sosialeverandering om te kan geskied. Hierdie, en

ander uitgangspunte van die deelnemende benadering wat relevant is vir kommunikasie in KSV, word in hoofstuk 4 bespreek.