• No results found

HOOFSTUK 3: KOMMUNIKASIE OOR KSV

3.2 KEUSE VAN PRAKTYKGERIGTE DOKUMENTE

Buiten akademiese benaderings en modelle vir kommunikasie, bestaan daar ook nasionale en internasionale instrumente, verslae, dokumente, standaarde en riglyne wat maatskappye kan gebruik om hulle kommunikasie met belangegroepe te rig. Die doel van hierdie dokumente is meestal om maatskappye te ondersteun dat hulle optimaal met belangegroepe kan kommunikeer. Daarom word praktiese riglyne en beginsels verskaf wat maatskappye kan aanwend, sonder dat hulle self die teorie daaragter hoef te bestudeer. Dié dokumente word egter volgens teoretiese beginsels opgestel en word in die meeste gevalle mettertyd verfyn en afgerond, namate dit in die praktyk aangewend word (sien 1.2.1). Die vier gekose dokumente word by die studie ingesluit op grond daarvan dat dit nasionaal of internasionaal as betroubaar, toepaslik, relevant en geldig beskou word. Hierdie dokumente stem ook met die basiese teoretiese uitgangspunte van dié studie ooreen (sien 1.2.1). In hierdie hoofstuk word die uitgangspunte van die King III-verslag, die GRI-raamwerk, die ISO 26000-riglyne asook die AA1000-standaarde wat relevant is vir kommunikasie oor KSV, met dié van die kommunikasiebestuursbenaderings geïntegreer.

3.2.1 King III

Die tweede King-verslag (King II) wat op korporatiewe beheer gefokus het, is in 2002 in Suid- Afrika gepubliseer. Hierdie verslag het voortgebou op die eerste King-komiteeverslag wat in 1994 gepubliseer is.6 King II het groot klem gelê op die drieledige-basislyn (soos in 1994 deur Elkington voorgestel, sien Tabel 1.1). Dit fokus op hoe maatskappye die ekonomiese, sosiale en omgewingsaspekte van hulle aktiwiteite kan balanseer (IoD, 2002:9). Hierdie verslag het voorts ʼn belangegroepbenadering tot korporatiewe beheer voorgestaan (IoD, 2002:6-7; SAGA, 2002:8) en het beklemtoon dat maatskappye verhoudings met hulle belangegroepe behoort te bou deur doeltreffende kommunikasie met alle belangegroepe (IoD, 2002:39).

King II het betoog dat KSV ʼn hoofeienskap van goeie korporatiewe beheer is en dat maatskappye dus hulle sosialeverantwoordelikheid moet nakom om goeie korporatiewe beheer te kan toepas en as goeie korporatiewe burgers beskou te kan word (IoD, 2002:12, 19; SAGA, 2002:5).

Die “nuwe” Maatskappyewet (71 van 2008) asook die verandering in denkwyses oor korporatiewe beheer het die behoefte aan ʼn aangepaste King-verslag in Suid-Afrika laat onstaan om te verseker dat Suid-Afrika op die voorgrond bly van internasionale ontwikkelings oor korporatiewe beheer (IoD, 2009:7). In 2009 is die derde King-verslag gepubliseer. In hierdie verslag word die volkome vrywillige benadering tot korporatiewe beheer (en by implikasie KSV) vervang deur ʼn apply or explain-benadering. Hierdie benadering stel voor dat die raad van direkteure kan besluit hoe om die voorgestelde beginsels toe te pas, of selfs om ander beginsels in die plek daarvan in te span, solank verduidelik kan word waarom die besluite wat geneem word wel in die maatskappy se beste langtermynbelang is (IoD, 2009:12).

Die King III-verslag word tans as die belangrikste riglyn vir korporatiewe beheer in Suid-Afrika beskou en word algemeen in Suid-Afrikaanse maatskappye nagevolg. Enige maatskappy wat op die Johannesburg se Effektebeurs (JSE) wil noteer, is verplig om gehoor te gee aan die King III- riglyne vir korporatiewe beheer. King III word selfs internasionaal as maatstaf vir goeie korporatiewe beheer erken, en die Stockholm Accords is maar een van die uitvloeisels van dié verslag (De Beer, 2013).

6

Daar kan ook heelwat ooreenkomste uitgewys word tussen King II en die Commomwealth Associaltion for Corporate Governance (CACG) se riglyne vir korporatiewe beheer in die statebond. ʼn Moontlike rede vir hierdie ooreenkomste is die feit dat Regter King ook die president van die CACG was tydens die samestelling van die riglyne vir korporatiewe beheer. Die sterk ooreenkomste tussen die King II- en die CACG-dokumente het gesorg dat Suid-Afrikaanse denke oor korporatiewe beheer met die res van die statebond sʼn ooreenstem.

Hierdie verslag fokus veral op volhoubaarheid om goeie korporatiewe beheer toe te pas. Dit beklemtoon onder meer die belangrikheid van goeie verhoudings tussen maatskappye en hulle belangegroepe as deel van volhoubaarheid en goeie korporatiewe beheer. Dit hou verband met die argument dat maatskappye se voortbestaan van belangegroepe afhang. King III verskaf gevolglik ook riglyne aan maatskappye oor kommunikasie met belangegroepe.

Twee hoofstukke van die King III-verslag wat by uitstek vir hierdie studie van belang is, is die hoofstuk wat fokus op geïntegreerde verslagdoening aan maatskappye se belangegroepe (hoofstuk 9) en die een wat die bestuur van verhoudings met belangegroepe in die oog het (hoofstuk 8).

In die huidige studie word van die uitgangspunt uitgegaan dat die riglyne vir geïntegreerde verslagdoening nie slegs vir formele verslae relevant is nie, maar ook vir ander maniere waarop maatskappye met hulle belangegroepe kommunikeer. Om hierdie rede word die riglyne van geïntegreerde verslagdoening wat toepaslik vir kommunikasie oor KSV kan wees, ook by die uitgangspunte aangaande kommunikasie oor KSV ingesluit. Die King III-verslag se belang en aansien in die Suid-Afrikaanse besigheidsektor maak dit ʼn onontbeerlike deel van die huidige studie.

3.2.2 GRI

Die King III-verslag dui aan dat die Global Reporting Initiative (GRI) se riglyne as internasionale standaard erken word vir verslaggewing oor volhoubaarheid. Gevolglik behoort Suid-Afrikaanse maatskappye ook hierdie riglyne te volg om oor volhoubaarheids- aangeleenthede verslag te doen (IoD, 2009:216).

Die GRI fokus op volhoubaarheidsverslagdoening, en verskaf riglyne vir verslagdoening wat ook vir ander tipes kommunikasie met belangegroepe toepaslik is. Aangesien die GRI internasionaal erken word as dié riglyn vir volhoubaarheidsverslagdoening wat wêreldwyd die mees bekende is en die wydste gebruik word (Willis, 2003:43; Owen & O‟Dwyer, 2006:394; Brown et al., 2009:571, 577; IoD, 2009:216) en die toepassing daarvan ook deur die King III-verslag aanbeveel word (IoD, 2009:216), word dit in die studie ingesluit.

Binne die konteks van kommunikasie oor KSV dien die GRI as ʼn gepaste raamwerk, aangesien dit eerstens versoenbaar is met die UN Global Compact, wat gereeld gebruik word om maatskappye se KSV te rig (Isaksson & Steimle, 2009:175). Tweedens word die GRI as ʼn sinvolle raamwerk beskou, aangesien dit prestasies rakende volhoubaarheid in perspektief plaas en só ʼn raamwerk bied om werklike prestasies te weerspieël (Kolk, 2004:60).

Die GRI se missie is om ʼn betroubare en geloofwaardige raamwerk vir verslaggewing oor volhoubaarheid daar te stel op grond van die drieledige-basislyn wat organisasies van verskillende groottes, sektore en ligging kan gebruik. Hierdie raamwerk is deur multi- belangegroepbenadering saamgestel om te verseker dat dit die belange en behoeftes van ʼn wye verskeidenheid rolspelers dien (GRI, 2011:2-3). Hierdie inisiatief het reeds in 1997 ontstaan en sedertdien word die raamwerk gereeld hersien en opgedateer om te verseker dat dit internasionaal toepaslik en relevant bly.

Ten spyte daarvan dat die GRI op verslaggewing oor volhoubaarheid fokus, is die betoog in die huidige studie dat die beginsels en riglyne wat in die dokument verskaf word, ook vir kommunikasie oor KSV toepaslik kan wees. Gevolglik word die kommunikasiebeginsels uitgelig wat vir kommunikasie oor KSV relevant kan wees.

3.2.3 ISO 26000

In 2010 het die International Organization for Standardization (ISO) hulle Guidance on Social Responsibility gepubliseer. Dit was die gevolg van ʼn multibelangegroepbenadering waarin kenners van meer as 90 lande en 40 verskillende organisasies betrokke was (ISO, 2010:v). Hierdie dokument is net so in Suid-Afrika aanvaar en is in identiese formaat in November 2010 deur die SABS uitgegee met die kode SANS 26000:2010. Die inhoud en definisies hiervan word ook in die King III-verslag weerspieël.7

Die ISO 26000-dokument fokus op sosialeverantwoordelikheid en verskaf beginsels en riglyne vir kommunikasie met belangegroepe oor KSV-inisiatiewe, wat by uitstek vir die huidige studie relevant is. Hierdie dokument word deur die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) as die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard (SANS) vir KSV in Suid-Afrika aanvaar, en ook deur die King III-verslag onderskryf. Hierdie feite beklemtoon die relevansie daarvan vir dié studie.

3.2.4 AA1000

Hoewel die AccountAbility se AA1000 Stakeholder Engagement Standard grootliks fokus op die betrokkenheid van belangegroepe, verskaf dit riglyne vir kommunikasie met belangegroepe wat vir die huidige studie toepaslik is. Dit word by hierdie studie ingesluit op grond van twee oorwegings: eerstens die praktiese riglyne wat dit bied en tweedens die feit dat hierdie internasionaal aanvaarde standaard vir verantwoordbaarheid en betrokkenheid van belangegroepe versoenbaar is met die teoretiese raamwerk van dié studie.

7 In die huidige studie sal na die dokument as die ISO 26000 verwys word, aangesien die ISO die oorsponklike outeur daarvan is.

AccountAbility is ʼn internasionale organisasie wat poog om maatskappye se verantwoordbaarheid in terme van volhoubaarheid te bevorder (AA, 2008a:2). AccountAbility het op grond van intensiewe navorsing ʼn aantal werkdokumente, standaarde en bestuursinstrumente saamgestel wat maatskappye kan gebruik om hulle sake-ondernemings verantwoordelik te bestuur (AA, 2008a:2).

Een van hierdie dokumente is die AA1000 Stakeholder Engagement Standard 2011 wat maatskappye ondersteun om betrokkenheid van belangegroepe te fasiliteer. Die AA1000 Framework Standard wat in 1999 gepubliseer is, het inklusiwiteit as een van die belangrikste beginsels van verantwoordbaarheid uitgewys. Daar is ook geredeneer dat dit noodsaaklik is om belangegroepe by die maatskappy te betrek om só inklusief te kan wees. Om hierdie rede is reeds in die AA1000 Framework Standard van 1999 riglyne ingesluit om betrokkenheid van belangegroepe aan te moedig. Teen 2005 is die eerste AA1000 Stakeholder Engagement Standard gepubliseer, waarna die dokument in 2008 hersien en die tweede weergawe in 2011 die lig gesien het (AA, 2011:4). Hierdie dokument is deur middel van ʼn breë basis, multibelangegroepbenadering saamgestel sodat dit toepaslike, algemene riglyne vir belangegroepbetrokkenheid kon daarstel. Die dele van die betrokke dokument wat op kommunikasie met belangegroepe fokus en vir kommunikasie oor KSV relevant is, sal in hierdie hoofstuk bespreek en ook vervat word in die KSV-kommunikasiemodel wat hierdie studie gaan konstrueer.

Soos aangedui, het die literatuurstudie veral gefokus op die simmetriese tweerigtingbenadering, die reflektiewe paradigma, strategiese kommunikasiebestuur, die King III-verslag, die GRI- raamwerk, die ISO 26000-riglyne asook die AA1000-standaard. Uit hierdie literatuurstudie is vyf uitgangspunte oor die aard van kommunikasie oor KSV uitgewys.