• No results found

HOOFSTUK 1: KONTEKS, PROBLEEMSTELLING EN

2.3 EIENSKAPPE VAN MAATSKAPPY-GEORIËNTEERDE KSV-

KOMMUNIKASIE TEENOOR ONTWIKKELING-GEORIËNTEERDE KSV- KOMMUNIKASIE

Binne die konteks van maatskappye wat maatskappy-georiënteerde KSV – en by implikasie maatskappy-georiënteerde KSV-kommunikasie – toepas, behoort meestal van eenrigtingkommunikasie of asimmetriese tweerigtingkommunikasie gebruik gemaak te word. Die rede is dat hierdie vorme van kommunikasie op die oog af en op korttermyn meer voordelig vir maatskappye kan voorkom.

2.3.1 Asimmetriese kommunikasie

Maatskappye met asimmetriese wêreldbeskouings behoort oor die algemeen geneig te wees om asimmetriese kommunikasie toe te pas. Gevolglik word in hierdie studie van die standpunt uitgegaan dat sulke maatskappye meestal behoort te kies om maatskappy-georiënteerde KSV toe te pas. Daarom is dit belangrik om die eienskappe van maatskappye met asimmetriese wêreldbeskouings te noem, sodat die verband tussen hulle wêreldbeskouings en die aard van KSV-kommunikasie duidelik word. Grunig (1989:32-33) wys sewe eienskappe uit van maatskappye wat asimmetriese wêreldbeskouings handhaaf:

Interne oriëntasie behels dat die maatskappye slegs hulle eie siening van hulleself handhaaf en hulle nie noodwendig dieselfde sien en beoordeel soos buitestaanders sou maak nie.

ʼn Geslote sisteem behels dat inligting slegs uit die organisasie vloei, maar dat inligting nie ook by die organisasie invloei nie.

Effektiwiteit en beheer word belangriker as innovering geag.

Elitisme beteken dat die leiers van ʼn maatskappy glo dat hulle die beste weet en dat hulle gevolglik nie by hulle belangegroepe hoef te leer nie.

Konserwatisme behels dat verandering as negatief beskou word en dat die maatskappy sover moontlik verandering sal teenstaan.

Tradisie word as belangrike deel van die maatskappy beskou wat stabiliteit bevorder en die maatskappy help om ʼn eiesoortige kultuur te handhaaf.

Sentrale beheer veronderstel dat beheer in die hande van enkele topbestuurders gesentreer is, wat behels dat werknemers min outonomie het en die maatskappy as outokrasie bestuur word.

Asimmetriese kommunikasie is ongebalanseerd omdat dit poog om grootliks die maatskappy se beste belang te bevorder. Hierdie soort kommunikasie veronderstel dat die belangegroepe en samelewing moet aanpas en verander op maniere wat die maatskappy bevoordeel, terwyl die maatskappy self onveranderd met hulle aktiwiteite kan voortgaan (Grunig & Grunig, 1992:287; 289; Grunig & White, 1992:39; Dozier et al., 1995:95). Grunig (1989:18) dui daarop dat kommunikasiebestuur binne ʼn asimmetriese benadering beskou kan word as strategie om belangegroepe tot voordeel van die maatskappy te manipuleer en te oorreed. Kommunikasie word dus ingespan om te verseker dat belangegroepe dink en optree soos die maatskappy van hulle verwag, sonder om daardie groepe se belange te bevorder. Volgens hierdie benadering tot kommunikasie word veronderstel dat belangegroepe moet “verloor” sodat die maatskappy kan “wen” (Dozier et al., 1995:12). Die gebruik van asimmetriese kommunikasie kan gevolglik tot onetiese en onverantwoordelike kommunikasiepraktyke lei, aangesien aanvaar word dat die maatskappy altyd reg is en weet wat die beste vir hulleself asook die belangegroepe is. Gevolglik probeer ʼn maatskappy in sulke omstandighede belangegroepe oorreed om by die maatskappy se werkwyse in te val (Grunig, 1989:30-31).

Asimmetriese kommunikasie veronderstel meestal eenrigtingkommunikasie, maar kan ook tweerigtingkommunikasie behels. Eenrigtingkommunikasie word in afdeling 2.3.3 bepreek, voordat tweerigtingkommunikasie in afdeling 2.3.4 behandel word.

Maatskappye wat ontwikkeling-georiënteerde KSV en by implikasie soortgelyke KSV- kommunikasie toepas, behoort egter meer geneig te wees om simmetriese kommunikasie na te streef, aangesien dit op die lang termyn daartoe kan bydra dat beide die maatskappy en belangegroepe se belange bevorder en beskerm word. Indien ʼn maatskappy ʼn interafhanklike verhouding met die samelewing erken, sou ʼn simmetriese benadering tot kommunikasie die mees logiese opsie wees.

2.3.2 Simmetriese kommunikasie

Maatskappye wat ʼn meer simmetriese wêreldbeskouing voorhou, behoort makliker simmetriese kommunikasie na te streef as maatskappye wat ʼn asimmetriese wêreldbeskouing handhaaf. Die wyse waarop sulke maatskappye die verhouding tussen hulleself en hulle belangegroepe asook

die samelewing sien, behoort ʼn belangrike invloed te hê op die aard van hulle KSV-inisiatiewe en dus KSV-kommunikasie. Dit is gevolglik belangrik om ʼn simmetriese wêreldbeskouing te begryp, sodat die verhouding tussen hierdie soort wêreldbeskouing en die twee soorte KSV- kommunikasie duidelik sal wees. Grunig (1989:38-39) wys tien eienskappe uit van maatskappye wat ʼn simmetriese wêreldbeskouing handhaaf:

Interafhanklikheid veronderstel dat die maatskappybestuur hulle nie van hulle omgewing isoleer nie, maar eerder erken dat hulle belangegroepe nodig het om te kan funksioneer, net soos belangegroepe die maatskappy nodig het.

Oop sisteme beteken dat die maatskappy bereid is om vrylik inligting met ander sisteme uit te ruil.

Bewegende ekwilibrium behels dat die maatskappy daarna streef om ‟n staat van ekwilibrium met ander sisteme te handhaaf. Volgens die simmetriese wêreldbeskouing beteken dit dat die maatskappy bereid is om aan te pas by ander sisteme indien dit nodig blyk te wees.

Gelykheid veronderstel dat die maatskappy erken alle persone behoort as medemense gerespekteer te word – ʼn ingesteldheid wat ʼn potensiële waardevolle bydrae tot die maatskappy kan lewer.

Outonomie behels die erkenning dat mense meer konstruktief en selfvervullend funksioneer wanneer hulle beheer oor hulle eie doen en late neem – die maatskappy laat werknemers gevolglik toe om outonoom te werk.

Innovasie beteken dat die maatskappy nuwe idees en buigbare denke beklemtoon, eerder as om bloot tradisie en gebruiklike metodes aan te hang.

Gedesentraliseerde bestuur beteken dat bestuur kollektief geskied en dat bestuurders grootliks as koördineerders optree, om sodoende werknemers te help dat hulle outonoom en vernuwend kan funksioneer.

Verantwoordelikheid veronderstel dat die maatskappy verantwoordelikheid aanvaar vir die invloed op hulle belangegroepe en streef om negatiewe invloede te vermy.

Konflikoplossing behels die maatskappy poog om konfliksituasies deur onderhandeling en kommunikasie op te los, eerder as deur manipulasie of dwang.

Bevryding van belangegroepe beteken dat die maatskappy bereid is om tot oop onderhandeling met belangegroepe toe te tree, en die belange van daardie groepe te erken en respekteer.

Binne die konteks van simmetriese kommunikasie word die rol van kommunikasie beskou as onderhandeling en ʼn manier om kompromieë aan te gaan, eerder as ʼn magstryd tussen maatskappye en hulle belangegroepe. Die metateoretiese tradisie van kubernetika kom hier na vore aangesien daar gestreef word na balans en ʼn ekwilibrium in die kommunikasiesisteem, eerder as ʼn bevraagtekening van of verandering in mag. Simmetriese kommunikasie verskil egter van kubernetika in die sin dat daar in hierdie benadering na oop sisteme gestreef word, waarin die maatskappy ook bereid is om te verander indien dit nodig sou wees.

Die doel van simmetriese kommunikasie is om ʼn “wen-wen”-situasie vir beide die maatskappy en die belangegroepe daar te stel. Simmetriese kommunikasie kan dus omskryf word as gebalanseerde kommunikasie tussen maatskappye en hulle belangegroepe, wat poog om gebalanseerde uitkomste te bereik wat tot voordeel van beide die maatskappy en belangegroepe strek. Langtermyn, positiewe, verhoudings tussen maatskappye en hulle belangegroepe wat wedersyds voordelig is, word as hoogste prioriteit nagestreef. Sodanige verhoudings word bereik deur wedersydse begrip vir mekaar se situasie, belange en verwagtings deur kommunikasie te skep. Wanneer maatskappye simmetriese kommunikasie navolg, erken hulle dat daar wel ʼn interafhanklike verhouding tussen hulleself en die belangegroepe bestaan. Dit toon ook dat maatskappye besef albei partye moet aanpas en verander om te verseker dat die verhouding tussen hulle positief en voordelig is en bly (Grunig & Grunig, 1992:287; 289; Grunig & White, 1992:39; Dozier et al., 1995:13, 95; Grunig et al., 2002:11, 306; Grunig, 2006b:156). Simmetriese kommunikasie word meestal binne die konteks van tweerigtingkommunikasie aangetref. Wat KSV-kommunikasie betref, sou maatskappye egter op grond van hulle wêreldbeskouing en die soort KSV-kommunikasie wat hulle toepas, van beide eenrigting-, of tweerigtingkommunikasie, of ʼn kombinasie daarvan gebruik kon maak.

2.3.3 Eenrigtingkommunikasie

Eenrigting dui daarop dat kommunikasie slegs vanaf die maatskappy aan die belangegroepe oorgedra word, meestal deur die media, en ook as monoloog beskou kan word. Kommunikasie word dus nie gebruik om ook inligting vanaf belangegroepe te verkry nie omdat hulle insette blykbaar nie as belangrik gereken word nie. Hierdie vorm van kommunikasie word as “a craft”

(vaardigheid) beskou, aangesien kommunikasietegnieke slegs gebruik word om boodskappe te formuleer, sonder dat dit binne ʼn strategie vir langtermynkommunikasie bestuur word (Grunig & Grunig, 1992:288; 289; Dozier et al., 1995:13, 42). Die gebrek aan aktiewe betrokkenheid van belangegroepe tydens navorsing in hierdie soort kommunikasie dra verder by tot die persepsie dat so ʼn kommunikasiestrategie nie as professioneel beskou kan word nie. Eenrigtingkommunikasie word tans binne die konteks van kommunikasiebestuur gekritiseer as ʼn onvoldoende, ontoepaslike en selfs onetiese manier om met belangegroepe te kommunikeer.

2.3.4 Tweerigtingkommunikasie

Tweerigtingkommunikasie daarteenoor dui daarop dat die maatskappy inligting aan belangegroepe kommunikeer, maar tegelyk kans gee dat belangegroepe op hulle beurt ook inligting aan die maatskappy kan kommunikeer. Hierdie kommunikasie kan ook as ʼn vorm van “dialoog” beskou word. Wanneer kommunikasie op ‟n tweerigting wyse benader word, wend die maatskappy ʼn doelbewuste poging aan om inligting vanaf belangegroepe te ontvang en aan laasgenoemde die geleentheid te bied om ook met die maatskappy te kommunikeer. Dit toon dat die maatskappy hulle belangegroepe se insette as belangrik beskou (Grunig & Grunig, 1992:288; 289; Dozier et al., 1995:13).

Navorsing word as belangrike eienskap van tweerigtingkommunikasie uitgewys. Voorts word geredeneer dat kommunikasiebestuurders op formele sowel as informele maniere navorsing behoort te doen en sodoende inligting oor belangegroepe in te samel. Hierdie inligting kan op ʼn simmetriese of asimmetriese manier gebruik word om die maatskappy se kommunikasiestrategie te rig.

Inligting kan asimmetries gebruik word om belangegroepe te manipuleer en te oorreed om te dink en op te tree soos die maatskappy wil hê, terwyl die maatskappy nie self op grond van die ingesamelde inligting verander nie.

Inligting behoort egter as ideaal simmetries gebruik te word om langtermynverhoudings met belangegroepe te skep, met hulle te onderhandel en om die maatskappy se strategieë aan te pas om daardie belangegroepe se behoeftes en verwagtings te akkommodeer (Dozier et al., 1995:21; Grunig et al., 2002:25).

Tweerigtingkommunikasie word as “professioneel” beskou, aangesien die toepassing daarvan bepaalde bestaande kennis asook verskillende tegniese vaardighede vereis om die strategiese doelwitte van sodanige kommunikasie te kan bereik. Hierdie strategiese langtermyndoelwitte

sluit konflikhantering en die bou van langtermyn positiewe verhoudings in, wat nie bereik kan word sonder professionele kennis en navorsingsvaardighede nie (Dozier et al., 1995:21).

Maatskappye wat ontwikkelingsgeoriënteerde KSV en KSV-kommunikasie toepas, sal waarskynlik kies om grootliks van tweerigtingkommunikasie gebruik te maak. Die rede is dat hulle die belang van belangegroepe en die samelewing se insette erken en respekteer. In hierdie konteks behoort tweerigtingkommunikasie gebruik te word om ʼn wedersydse gesprek tussen die maatskappy en die belangegroepe asook met die samelewing te fasiliteer.

Daarteenoor behoort ondernemings wat maatskappy-georiënteerde KSV-kommunikasie toepas, meestal te kies om van eenrigting- of tweerigtingkommunikasie gebruik te maak. Eenrigtingkommunikasie behoort gebruik te word om belangegroepe te oorreed en in te lig. Daarteenoor behoort tweerigtingkommunikasie binne hierdie konteks ingespan te word om inligting van belangegroepe in te samel sodat die maatskappy die oorredingstrategie kan verbeter.

In die volgende afdeling word eenrigting-, asimmetriese tweerigting- asook simmetriese tweerigtingbenaderings tot kommunikasie bespreek om bostaande argument verder uit te bou.