• No results found

HOOFSTUK 4: KOMMUNIKASIE IN KSV

4.2 UITGANGSPUNTE VAN KOMMUNIKASIE IN KSV

4.2.2 Ideale gespreksituasie

Een van die bydraes tot die konseptualisering van deelnemende kommunikasie is deur Habermas se ontwikkeling van die teorie van kommunikasie-aksie. Hoewel Habermas nie soseer op

deelnemende kommunikasie gefokus het nie, is sy werk binne hierdie konteks toegepas om die idealistiese konsep van deelname te probeer konkretiseer.

Die element van hierdie teorie wat by uitstek geskik is vir die konseptualisering van ʼn model wat kommunikasie in KSV rig, is dié van die ideale gespreksituasie. Habermas het ʼn aantal konkrete beginsels geïdentifiseer wat nodig is dat die ideale gespreksituasie kan bestaan. Die beginsels van die ideale gespreksituasie kan gebruik word om ʼn raamwerk te skep waarin kommunikasie in KSV beide teoreties gedefinieer, asook empiries geëvalueer kan word op grond van die konkrete riglyne vir kommunikasie wat hierin verskaf word (sien Jacobson & Kolluri, 1999:266- 267; Jacobson & Storey, 2004:101; Jacobson, 2007). Die beginsels van die ideale gespreksituasie sou dus deel kon uitmaak van die teoretiese model vir kommunikasie in KSV. Om ʼn ideale gespreksituasie te definieer waarbinne dialoog kan geskied, het Habermas vier geldigheidsvereistes uitgewys waaraan die individuele deelnemers aan die kommunikasieproses moet voldoen: verstaanbaarheid, waarheid, toepaslikheid en opregtheid (Habermas, 1979:2, 58- 59; 1984:301; 2007:447).

Verstaanbaarheid behels dat daar só gekommunikeer word dat die maatskappye en

bevoordeeldes mekaar kan verstaan en werklik begryp wat die ander bedoel wanneer hulle hulself uitdruk (Habermas, 1979:2, 58-59; 1984:301; 2007:448). Om ʼn gesprek te analiseer moet vasgestel word of die partye aan hierdie geldigheidsvereiste voldoen. Sodoende kan bepaal word of die partye se kommunikasie verstaanbaar vir ander is, veral in die lig van die kulturele konteks en die samestelling van die boodskap (Jacobson & Kolluri, 1999:274). Kommunikasie in KSV behoort dus so geformuleer te word dat die maatskappy en bevoordeeldes die inhoud daarvan werklik kan begryp, ten spyte van verskille weens taal, kultuur, tegniese kennis en die konteks van die spesifieke KSV-inisiatief. Die gebruik van gespesialiseerde vaktaal of unieke uitdrukkings sou byvoorbeeld daartoe kon bydra dat maatskappye en bevoordeeldes mekaar nie ten volle kan begryp nie.

Waarheid fokus op die feitelike korrektheid en akkuraatheid van die feite wat oorgedra word.

Daar word aanvaar dat die inhoud van kommunikasie die waarheid moet weerspieël, eerder as dit verdraai (Habermas, 1979:2, 58-59; 1984:301; 2007:448). Sprekers voldoen aan hierdie vereiste wanneer hulle kan bewys dat dít wat hulle sê op feite gebaseer is (Chang & Jacobson, 2010:664). Binne die konteks van kommunikasie in KSV sou dit beteken dat beide die maatskappy en die bevoordeeldes die ware feite van die situasie met mekaar sal deel eerder as om te poog om mekaar te mislei of om dele van die waarheid stil te hou.

Toepaslikheid veronderstel dat die partye in die spesifieke konteks en binne die raamwerk van

kulturele norme, toepaslik met mekaar kommunikeer (Habermas, 1979:2, 58-59; 1984:301; 2007:448). Sprekers voldoen aan hierdie vereiste wanneer hulle seker maak dat die boodskap wat hulle kommunikeer, aan sosiale norme en kulturele waardes voldoen. Om te kan vasstel of iemand se kommunikasie toepaslik en gepas is, kan gefokus word op die geldigheid van hierdie kommunikeerder se rol binne die konteks van ander individue, groepe, en instansies se deelname aan die kommunikasie (Jacobson & Kolluri, 1999:274). Hierdie vereiste vir geldigheid behoort met groot omsigtigheid binne die konteks van kommunikasie in KSV gehanteer te word, juis omdat hierdie vorm van kommunikasie gereeld oor taal en kulturele grense heen geskied waar almal nie noodwendig dieselfde sosiale norme deel nie. As voorbeeld kan die ouderdom of geslag van deelnemers in sommige kulture meer gewig dra as in ander. Dit sou daartoe kon lei dat deelnemers voel dat daar is nie toepaslik binne hulle kulturele konteks gekommunikeer nie.

Opregtheid veronderstel dat die kommunikeerders goeie bedoelings teenoor mekaar en die

proses het en dat hulle kommunikasie ook hierdie “goedgesindheid” (goodwill) sal weerspieël (Habermas, 1979:2, 58-59; 1984:301; 2007:448). Hier word aanvaar dat sprekers aan die vereiste van opregtheid voldoen indien hulle kommunikasie ʼn eerlike weerspieëling van hulle ware bedoelings is (Chang & Jacobson, 2010:664). Om hierdie geldigheidsvereiste te analiseer, kan vasgestel word of die inligting opreg en in goedertrou gedeel word, sonder dat gepoog word om die ander party te manipuleer (Jacobson & Kolluri, 1999:274). Binne die konteks van kommunikasie in KSV sou dit onder meer beteken dat die maatskappy opreg sal kommunikeer wanneer erken word wat die maatskappy self uit die KSV-inisiatief wil put, of dat die bevoordeeldes eerlik sal wees oor hulle behoeftes en beskikbare hulpbronne.

Daar word soos volg geredeneer: Indien enige van die geldigheidsvereistes in ʼn gesprek afwesig is, moet aanpassings in die verhouding en die kommunikasie gemaak word, aangesien in daardie geval nie ʼn ideale gespreksituasie bestaan nie (Jacobson & Kolluri, 1999:275). Binne die konteks van kommunikasie in KSV is dit noodsaaklik dat ʼn ideale gespreksituasie bestaan wanneer die maatskappy en bevoordeeldes met mekaar kommunikeer. Sodoende word verseker dat betekenis gedeel word en ware behoeftes betreffende ontwikkeling toepaslik gehanteer word. Behalwe vir die vereistes wat aan individuele kommunikeerders gestel word om ʼn ideale gespreksituasie te skep, word ook riglyne uitgewys waaraan die gesprek moet voldoen (Jacobson, 2004:6; 2007; 2012).

Eerstens word voorgestel dat daar ʼn simmetriese verdeling van geleenthede moet wees om aan die gesprek deel te neem (Habermas, 1990:88-89). Dit veronderstel egter nie dat almal ewe veel moet bydra en dat daar van partye verwag word om teen hulle sin deel te neem nie, maar wel dat hulle die geleentheid het, indien hulle dit wou benut.

Tweedens moet beide partye die geleentheid kry om enige kwessies in die gesprek te kan opper (Habermas, 1990:88-89). Dit veronderstel dus dat daar geen “taboe-onderwerpe” kan wees nie, en dat beide die bevoordeeldes en die maatskappye vry is om te kan praat oor enige kwessie of onderwerp wat hulle as belangrik beskou. Hierdie riglyn bestaan om “swakker” partye (soos die bevoordeeldes) in gesprekke kans te gee om ook daardie sake wat vir hulle belangrik is te kan ophaal, eerder as dat die gesprekke slegs handel oor onderwerpe en kwessies wat dominante partye (in hierdie geval maatskappye) as relevant beskou.

Laastens word voorgestel dat alle kwessies of onderwerpe wat bespreek word gelyke behandeling sal ontvang en dus as ewe belangrik beskou moet word (Habermas, 1990:88-89). Hierdie riglyn vereis dat sekere onderwerpe nie bloot geïgnoreer, of “van die tafel gevee” kan word nie, terwyl ander in groter besonderhede bespreek moet word. Die bedoeling van hierdie riglyn is om te verseker dat al die onderwerpe wat vir die individuele kommunikeerders van belang is, dieselfde relevansie en ewe veel aandag geniet. Hierdie riglyn wil verseker dat die gesprek nie slegs fokus op die onderwerpe en kwessies wat vir dominante groepe (maatskappye) van belang is nie. Ook moet daar nie slegs op vooraf vasgestelde onderwerpe gefokus word nie, maar op sake wat vir beide die bevoordeeldes en die maatskappy relevant kan wees.

Jacobson en mede-outeurs (Jacobson & Kolluri, 1999:271; Jacobson 2012; Jacobson et al., 2012) wys daarop dat Habermas die vorm van kommunikasie wat op wedersydse begrip gerig is van ander vorme van kommunikasie onderskei. Die geldigheidsvereistes en riglyne vir die ideale gespreksituasie word beskou as prosesse wat sprekers kan volg om wedersydse begrip tussen die betrokke partye te skep (Habermas, 1979:1; 1984:285-286; Jacobson & Storey, 2004:1013; Jacobson, 2007). Soos reeds aangedui, is die doel van die huidige studie om ʼn model daar te stel wat help om wedersydse begrip tussen die bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe en die maatskappye te skep. Daarom word hierdie konseptuele bydrae van Habermas as relevant tot die studie beskou.

Vanuit die bespreking van die ideale gespreksituasie binne die konteks van kommunikasie in KSV is die volgende teoretiese stelling geformuleer.

Teoretiese stelling 8:

Die ideale gespreksituasie binne die konteks van kommunikasie in KSV

Binne die konteks van kommunikasie in KSV behoort beide die bevoordeeldes en die maatskappy op ʼn verstaanbare en toepaslike wyse met mekaar te kommunikeer, deur die waarheid met mekaar in opregtheid te deel, terwyl almal ewe veel geleentheid het om aan die gesprek deel te neem, alle kwessies wat enige deelnemer opper bespreek moet word en gelyke aandag as ander kwessies geniet.

Die ideale gespreksituasie veronderstel dat almal wat by die situasie betrokke is aan die gesprek deelneem, aangesien dit nie moontlik is om wedersydse begrip te skep sonder dat alle betrokke partye geïnkorporeer is nie. Gevolglik word die konsep “deelname” van nader ondersoek.