• No results found

HOOFSTUK 4: KOMMUNIKASIE IN KSV

4.2 UITGANGSPUNTE VAN KOMMUNIKASIE IN KSV

4.2.3 Deelname

Daar bestaan verskillende menings oor die doel wat deelname in ontwikkelingsinisiatiewe vervul. Sommige outeurs beskou deelname as ʼn manier om ʼn bepaalde ontwikkelingsdoelwit te bereik, terwyl ander deelname as uitkoms in eie reg beskou.

Indien deelname as middel tot ʼn doel beskou word, word gemeenskappe/bevoordeeldes by ontwikkelingsinisiatiewe betrek om die sukses van die inisiatiewe te verhoog (Oakley, 1991:7-8; Melkote, 1991:237; Cohen, 1996:231-232; Huesca, 2002:505-506; 2008:185-188). Gevolglik word die uitkoms eerder as die proses van deelname beklemtoon (Cohen, 1996:231). Wat kommunikasie betref, kan hierdie soort deelname na eenrigtingkommunikasie, of tweerigting- asimmetriese kommunikasie lei (sien 2.4.1, 2.4.3, 2.5.1). Dit veronderstel dat bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe ingelig, opgelei of gekonsulteer word om hulle insette te verkry, sonder dat dit noodwendig tydens besluitneming ingespan sal word (WB, 2003).

Diegene wat deelname as uitkoms in eie reg beskou, redeneer dat deelname die reg van elke mens is. Die gevolg is dat mense, deur deelname, reeds bevoordeel kan word en dat die blote proses van deelname tot bemagtiging bydra (Oakley, 1991:7-8; Melkote, 1991:237; Cohen, 1996:231-232; Huesca, 2002:505-506; Melkote, 2002:428; Huesca, 2008:185-188). Binne hierdie konteks word deelname as proses van samewerking en selfbestuur beskou waar die

bevoordeeldes by alle fases en fasette van die KSV-proses betrokke is – uit eie keuse en nie omdat hulle gedwing of gemanipuleer word om deel te neem nie (Cohen, 1996:232).

In diskoers oor die deelnemende benadering word deelname as uitkoms op sigself as die ideaal beskou, aangesien aanvaar word dat dit tot bemagtiging behoort te lei (Melkote, 1991:237; Rahim, 1994:130; Huesca, 2002:505; Melkote, 2002:428; Huesca, 2008:187-188). Dit is egter nie in alle gevalle moontlik dat bevoordeeldes of gemeenskappe van die begin af as gelykes kan deelneem nie. Soms het hulle nie van meent af reeds kennis of ervaring rakende ʼn bepaalde onderwerp nie, en soms neem ander rolspelers as kenners op die bepaalde gebied deel aan die gesprek, met die doel om ʼn opleidingsrol te vervul.

In die huidige studie word betoog dat ʼn mens deelname in die KSV-inisiatiewe beide as ʼn middel tot ʼn doel en doel as sodanig behoort te benader. Die rede hiervoor is dat die bevoordeeldes moontlik deur die proses van deelname bemagtig kan word om in ʼn groter mate deel te neem aan die ontwikkelingsproses as wat aanvanklik vir hulle moontlik sou wees. Hierdie redenasie spruit uit die feit dat daar gewoonlik ʼn groot magsverskil tussen die maatskappye en die bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe bestaan. Dit beteken dat die bevoordeeldes moontlik nie van die begin af as gelyke vennote in die KSV-proses kan deelneem nie, maar dat hulle deur hulle deelname aan die proses wel daartoe bemagtig kan word.

Servaes (1996a:82) onderskei tussen deelnemende ontwikkeling (soos in die deelnemende benadering voorgestaan word) en niedeelnemende ontwikkelingsinisiatiewe (soos ʼn mens dit in modernisering sien). Hy doen dit deur aan te dui dat in deelnemende ontwikkeling dinge nie vir mense gedoen word om hulle te help nie, maar dat ontwikkeling deur die “bevoordeeldes” self uitgevoer word. As aanvaar word dat die bevoordeeldes self vir ontwikkeling verantwoordelik is, volg dit vanselfsprekend dat hulle moet deelneem aan al die betrokke fases en fasette van die ontwikkelingsproses.

Binne die konteks van kommunikasie in KSV word deelname beskou as ʼn proses waartydens die maatskappye en bevoordeeldes as ontwikkelingsvennote met mekaar in interaksie is. Dit behels die volgende aksies: wedersydse kommunikasie, die deel van inligting en kennis met mekaar, gesamentlike besluite oor die kwessies wat aandag moet geniet asook die manier waarop dit gedoen kan word en hoe hulle dit saam kan hanteer (sien Huesca, 2002:502).

Binne die huidige studie word die bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe as intelligente mense beskou wat op grond van hulle eie ervaring van hulle situasie waardevolle kennis en insig in die

situasie en oor hulle eie behoeftes het. Verder word geglo dat die bevoordeeldes self weet wat die beste vir hulle is en hoe om aan die KSV-prosesse deel te neem (sien Xavier Institute, 1980:11; White, 1994:482, 484; Servaes, 1995:46; 1996b:15; White, 1999:43; Servaes & Malikhao, 2002:21; Servaes & Malikhao, 2008:169). In die betrokke studie word egter ook aanvaar dat bevoordeeldes nie noodwendig van die begin af voldoende kennis en ervaring het van die bepaalde fokus van die KSV-inisiatief nie. Om hierdie rede word daar ook aanvaar dat ander rolspelers soms op grond van hulle kundigheid op ʼn bepaalde gebied die leiding sal neem wanneer bevoordeeldes opleiding op die betrokke gebied benodig.

Die deelname van die bevoordeeldes word veral beklemtoon, aangesien geredeneer word dat hierdie partye deur hulle deelname en deur dialoog (soos in 4.2.1 bespreek) bemagtig kan word tot selfbestuur sodat hulle oor die langtermyn oor hulle eie ontwikkeling beheer kan neem (Melkote, 1991:237; Nair & White, 1993:51; White, 1994:482-483; Servaes, 1996b:15; Melkote, 2002:428; Dorsner, 2004:366; Yoon, 2004:4; Mefalopulos & Grenna, 2004:26; Gumucio- Dagron, 2008:70).

Daar word van die standpunt uitgegaan dat bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe behoort deel te neem aan die navorsing, beplanning, implementering en evaluering van ontwikkelings- inisiatiewe. Dit wil sê, dat hulle nie slegs gekonsulteer moet word nie, maar daadwerklik moet deelneem aan besluitneming rakende hierdie inisiatiewe (sien Cohen & Uphoff, 1980:219; Thomas, 1994:54; Servaes, 1996a:98-99; Yoon, 1996:799-800; Servaes, 1996b:15; Jacobson & Kolluri, 1999:268; White, 1999:33,43; Snyder, 2002:463; Gumucio-Dagron & Tufte, 2006:xxv; Servaes, 2008b:215; Cohen & Uphoff, 2011:43-44).

As deel van die beplanning van KSV-inisiatiewe, behoort die bevoordeeldes deel te neem aan die uitwys van ontwikkelingsindikatore. Hierdie indikatore verteenwoordig die ideale en doelwitte van die KSV-inisiatiewe, en kan nie geïdentifiseer word sonder die insette van diegene wat daardeur bevoordeel behoort te word nie (Tehranian, 1996:46). Dus, indien die maatskappye eerder as die bevoordeeldes, die ontwikkelingsindikatore uitwys, behoort die ontwikkelingsproses nie te kan slaag nie. Die doelwitte waarheen gestreef word asook maatstawwe waaraan die inisiatief gemeet word sal bloot die betrokke maatskappy se persepsies weerspieël, in plaas van die bevoordeeldes se persepsies, ervarings, behoeftes en kundigheid. In hierdie benadering tot onwikkeling word voorts aanvaar dat die KSV-strategie nie slegs die behoeftes van die bevoordeeldes behoort te weerspieël nie, maar dat dit grootliks deur hulle gekonseptualiseer moet word, aangesien hulle in hierdie proses as die “hoofrolspelers” van

ontwikkeling beskou word (Servaes, 1996a:105; 1996b:15; White, 1999:33,43; Snyder, 2002:463). Die aktiewe deelname van die bevoordeeldes, reeds vanaf die beplanningsfase van die KSV-inisiatiewe, is dus onontbeerlik om te verseker dat hierdie inisiatiewe in die gestelde ontwikkelingsdoelwitte slaag.

Deelname in besluitneming word as die belangrikste vorm van deelname beskou, aangesien dit aan mense op voetsoolvlak beheer oor hulle eie lewe en omgewing gee. Daarby leer mense deur die proses van deelname nuwe vaardighede aan vir probleemoplossing en neem eienaarskap oor die projek – wat beide noodsaaklik is vir die sukses van ontwikkelingsinisiatiewe (Yoon, 1996:800; Servaes, 2008a:21; Servaes & Malikhao, 2008:163). Die bevoordeeldes van KSV- inisiatiewe behoort dus deel te neem aan die besluitneming in al die fases wat hierdie inisiatiewe volg, sodat hulle ook deur die proses van deelname bemagtig kan word, in plaas van slegs deur die uitkomste van die KSV-inisiatiewe.

Deelname deur, en die belangrike rol van bevoordeeldes in die KSV-inisiatief, beteken egter nie dat kennis van buite nie as relevant tot die ontwikkelingsproses beskou behoort te word nie. In sekere gevalle en by sekere ontwikkelingskwessies is wetenskaplike kennis oor die kwessie noodsaaklik vir die oplossing of hantering van die ontwikkelingsprobleem. Binne die konteks van KSV kan dit veral gebeur dat die maatskappy gespesialiseerde en deskundige kennis oor die onderwerp het wat hulle aan die bevoordeeldes moet oordra. Die aard van kommunikasie en die KSV-inisiatief behoort egter steeds deelnemend te wees deurdat bevoordeeldes aktief aan hulle eie ontwikkeling deelneem.

Binne die konteks van kommunikasie in KSV word voorts geredeneer dat die partye wat by ontwikkelingsinisiatiewe betrokke is, sekere verantwoordelikhede behoort te hê en ook verantwoordbaar behoort op te tree. Wanneer mense aan die ontwikkelingsproses kan deelneem sonder om enige verantwoordelikheid te aanvaar, sou geredeneer kon word dat hulle nie werklik as gelyke vennote beskou of genoeg vertrou kan word om ook verantwoordelikheid te aanvaar nie. Die bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe kan dus nie slegs as passiewe “ontvangers” optree nie. Hulle behoort aktief besig te wees om hulle deel van die verantwoordelikhede binne die proses na te kom.

Laastens word van beide die maatskappye en bevoordeeldes verwag om aan die kommunikasieproses deel te neem, sodat kollektiewe besluitneming, as die vernaamste uitkoms van kommunikasie in KSV kan geskied (sien Servaes, 1996b:17).

Die teoretiese stelling oor deelname binne die konteks van kommunikasie in KSV word op grond van bostaande bespreking soos volg geformuleer.

Teoretiese stelling 9:

Deelname binne die konteks van kommunikasie in KSV

Binne die konteks van kommunikasie in KSV behoort deelname as middel tot ʼn doel asook doel opsigself beskou te word; die bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe behoort aktief deel te neem aan alle fases en fasette van die KSV-proses en sodoende as hoofrolspelers van besluitneming erken te word.