• No results found

Die verhouding tussen die verskillende aspekte van die KSV-kommunikasiemodel

HOOFSTUK 5: TEORETIESE KSV-KOMMUNIKASIEMODEL

5.4 KONSTRUKTE VAN KSV-KOMMUNIKASIE

5.5.2 Die verhouding tussen die verskillende aspekte van die KSV-kommunikasiemodel

Die verskillende aspekte van KSV-kommunikasie staan ook in ʼn interafhanklike verhouding met mekaar. So mag die inhoud waaroor gekommunikeer word, eerstens ʼn invloed hê op die aard van kommunikasie in en oor KSV.

Die aard van kommunikasie en die beginsels waaraan hierdie kommunikasie voldoen is tweedens nou aan mekaar verwant. Om hierdie rede kan ʼn mens byvoorbeeld aanneem dat ʼn voortdurende proses van gebalanseerde horisontale kommunikasie waar alle deelnemers as gelyke vennote aan die kommunikasieproses deelneem, gekenmerk sal word deur eerlikheid, akkuraatheid, openlikheid, toeganklikheid, toepaslikheid, tydigheid, verstaanbaarheid, wesenlikheid, deursigtigheid, balans, opregtheid en kulturele sensitiwiteit. Hierteenoor sou ʼn mens kon argumenteer dat kommunikasie wat nie akkuraat, eerlik, openlik, toeganklik, toepaslik, opreg, deursigtig en wesenlik is nie, nie gebalanseerd of horisontaal kan wees nie.

In die derde plek word die aanname gemaak dat die inhoud van kommunikasie, asook die aard en beginsels daarvan ʼn beslissende invloed op die einddoel van KSV-kommunikasie kan hê. Hierdie aanname word gegrond op die relevansie van kommunikasie vir die fasilitering van gedeelde/wedersydse begrip (sien 2.4.2, 3.3.1, 4.2.4); bemagtiging tot selfonderhoud (sien 4.2.4); asook vir die skepping en handhawing van wedersydsvoordelige verhoudings; verbeterde beeld

en reputasie; ʼn mededingende voordeel; en die verkryging van ʼn bedryfslisensie (sien 2.4.2, 3.3.1). In dieselfde asem kan betoog word dat maatskappye in die praktyk hulle KSV- kommunikasie behoort te konseptualiseer en operasionaliseer ten einde die gestelde doelwitte van KSV-kommunikasie te kan bereik.

5.6 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is die konstrukte van kommunikasie oor KSV, sowel as dié van kommunikasie in KSV eerstens vanuit die teoretiese stellings geïdentifiseer, voordat beredeneer is watter van hierdie konstrukte vir beide kommunikasie in en oor KSV, of slegs vir een vorm van KSV-kommunikasie toepaslik is. Op grond van hierdie bespreking is ʼn tabel opgestel om die verdeling visueel voor te stel, waarna ʼn teoretiese KSV-kommunikasiemodel voorgestel is. Die teoretiese KSV-kommunikasiemodel is die uitkoms van afdeling A van die studie.

In die voorgestelde teoretiese KSV-kommunikasiemodel is onderskeid getref tussen beginsels wat vir kommunikasie in en oor KSV relevant is en daardie beginsels wat slegs vir kommunikasie oor, of in KSV toepaslik is.

Die KSV-kommunikasiemodel fokus op die konteks waarbinne KSV-kommunikasie plaasvind, sowel as op die inhoud, aard, beginsels en einddoele van hierdie kommunikasie. In die bespreking van die toeretiese KSV-kommunikasiemodel is aangedui dat die konteks van KSV- kommunikasie ʼn bepalende invloed kan hê op al die ander aspekte van kommunikasie.

Hierdie potensiële invloed kan soos volg opgesom word:

Die verhouding wat daar tussen maatskappye en hulle belangegroepe bestaan asook die metateoretiese raamwerk waarbinne die kommunikasie geskied kan ʼn invloed hê op: die inhoud van kommunikasie in KSV; die aard van kommunikasie in en oor KSV; die beginsels van kommunikasie in en oor KSV; en die einddoel van kommunikasie in en oor KSV.

Die tipe kwessie wat deur die KSV-inisiatief aangespreek word asook wat met hierdie inisiatief bereik wil word, kan ʼn invloed hê op: die inhoud van kommunikasie in en oor KSV; en die einddoel van kommunikasie in en oor KSV.

Belangegroepe se kennis en persepsie van, en houding teenoor die kwessie wat deur die KSV- inisiatief aangespreek word, kan die volgende beïnvloed: die inhoud van kommunikasie in en

oor KSV; die aard van kommunikasie in en oor KSV; die beginsels van kommunikasie in en oor KSV; en die einddoel van kommunikasie oor KSV.

Die aard van die maatskappy, asook watter beeld en reputasie die maatskappy graag wil skep, behoort ʼn invloed uit te oefen op: die inhoud van kommunikasie oor KSV; en die einddoel van kommunikasie oor KSV.

Al die fasette van die konteks kan ʼn ingrypende invloed op die inhoud, aard, beginsels en einddoele van KSV-kommunikasie uitoefen. Uit die bespreking wil dit egter voorkom asof

 die verhouding wat tussen maatskappye en hulle belangegroepe bestaan, asook die metateoretiese raamwerk waarbinne die kommunikasie geskied; sowel as

 die belangegroepe se kennis en persepsie van, en houding teenoor die kwessie wat deur die KSV-inisiatief aangespreek word,

die belangrikste fasette van die konteks is wat die grootste invloed op KSV-kommunikasie kan uitoefen.

Verder is aangedui dat die verskillende aspekte van KSV-kommunikasie, naamlik die inhoud, aard, beginsels en einddoel interafhanklik van mekaar is en mekaar kan beïnvloed soos in Figuur 5.1 aangedui is.

In die bespreking van die model het dit na vore gekom dat daar op metateoretiese vlak belangrike verskille tussen die kritiese tradisie en kubernetika rakende die aard en rol van kommunikasie is. Hoewel dit blyk dat kommunikasie in en oor KSV in ʼn groot mate ooreenstem wanneer dit geoperasionaliseer word, wil dit voorkom asof die metateoretiese verskille ʼn beduidende invloed kan hê op KSV-kommunikasie in die praktyk.

In afdeling B, wat op hierdie hoofstuk volg, word die empiriese deel van die studie bespreek. In die empiriese deel van die studie word ondersoek ingestel na die oënskynlike verskille en ooreenkomste met betrekking tot kommunikasie in en oor KSV. Die geïdentifiseerde konstrukte vir KSV-kommunikasie, soos in Tabel 5.1 weergegee is, sal gebruik word om die empiriese deel van die studie te rig.

AFDELING B:

EMPIRIESE STUDIE

In Afdeling A is die teoretiese deel van die studie hanteer en die uitkoms van daardie afdeling is ʼn teoretiese KSV-kommunikasiemodel waarin die konstrukte wat relevant is vir kommunikasie in KSV, oor KSV of vir beide in en oor KSV saamgevat is.

Die empiriese deel van die studie word in Afdeling B bespreek. Hier word die teoretiese KSV- kommunikasiemodel as voorgestelde kommunikasiemodel op die Suid-Afrikaanse landbousektor toegepas om die toepaslikheid daarvan te bepaal en om aanpassings aan die model aan te bring ten einde ʼn toegepaste KSV-kommunikasiemodel te kan voorstel.

Die landbousektor is ʼn belangrike sektor in die Suid-Afrikaanse ekonomie, wat tans nog nie voldoende binne die veld van kommunikasie bestudeer word nie (sien 1.9.1). Om hierdie rede is ʼn oorsig oor die situasie waarin die landbousektor homself bevind onontbeerlik, voordat KSV- kommunikasie binne hierdie sektor empiries bestudeer kan word.

In hierdie studie word daar van die standpunt af uitgegaan dat die toegepaste KSV- kommunikasiemodel ook relevant en toepaslik vir ander sektore behoort te wees, hoewel die huidige studie die model slegs in die landbousektor toepas (sien 1.8). Die rede vir hierdie aanname is die sterk teoretiese onderbou van die model wat bydra tot ʼn relatief generiese KSV- kommunikasiemodel wat met inagneming van die spesifieke konteks, vir verskeie sektore toepaslik kan wees.

Hoofstuk 6 bevat die bespreking van KSV binne die Suid-Afrikaanse landbousektor. Die fokus

is op grondhervorming in die land asook die betrokke landboumaatskappye, Senwes en NWK, se KSV-aktiwiteite om sodoende die konteks te verskaf waarbinne KSV-kommunikasie geskied.

Hoofstuk 7 beskryf die navorsingsproses wat in die studie gevolg is, deur eerstens die

kwalitatiewe navorsingsbenadering te bespreek en daarna die navorsingskedule asook die spesifieke navorsingsmetodes onder die loep te neem.

Hoofstuk 8-9 sit die resultate van die studie uiteen volgens die onderskeid tussen kommunikasie

oor en in KSV. Navorsingsvrae 1.5.3 en 1.5.4 word in hierdie hoofstukke beantwoord.

Hoofstuk 10 trek die gevolgtrekkings van die studie deur, waarna die toegepaste KSV-

kommunikasiemodel aan die orde kom. In hierdie hoofstuk word spesifieke navorsingsvraag 1.5.5, asook die algemene navorsingsvraag van die studie beantwoord.