• No results found

HOOFSTUK 5: TEORETIESE KSV-KOMMUNIKASIEMODEL

5.4 KONSTRUKTE VAN KSV-KOMMUNIKASIE

5.4.3 Kommunikasie in en oor KSV

Betreffende KSV-kommunikasie is ondersoek ingestel na die konstrukte van kommunikasie in en oor KSV, en daardie konstrukte wat vir albei soorte KSV-kommunikasie relevant is, word gevolglik as die konstrukte van KSV-kommunikasie gereken.

Eerstens word geredeneer dat bevoordeeldes, sowel as ander belangegroepe as gelyke vennote met maatskappye in gesprekvoering aangaande KSV moet kan optree. Ten einde as gelyke vennote aan die kommunikasieproses te kan deelneem, word aanvaar dat ʼn gebalanseerde magsverspreiding noodsaaklik is. Om hierdie rede word die konstruk van gebalanseerde magsverspreiding met dié van gelyke vennote geïntegreer en die konstruk gelyke vennote word as toepaslik vir albei tipes KSV-kommunikasie beskou.

Betreffende kommunikasie in KSV is aangedui dat gedeelde begrip vir mekaar se situasie, belange, behoeftes, vermoëns en verwagtings noodsaaklik is. By kommunikasie in KSV veronderstel gedeelde begrip dat die bevoordeeldes en maatskappye deur die proses van dialogiese kommunikasie werklik begrip vir hulle eie en mekaar se realiteit bekom, en dat hierdie begrip die bevoordeeldes in staat stel om hulle voorhande werklikheid te beskryf en

moontlik te kan verander. Aansluitend hierby is die konstruk kontekstueel waar beklemtoon word dat bevoordeeldes én maatskappye behoort te ervaar dat hulle konteks begryp en verreken word wanneer kommunikasie plaasvind.

Tydens die bespreking van kommunikasie oor KSV is wedersydse begrip uitgewys as belangrik vir die verhouding tussen maatskappye en hulle belangegroepe asook die samelewing en wedersydse begrip is ook as einddoel vir kommunikasie oor KSV geïdentifiseer.

In die huidige studie word betoog dat gedeelde begrip nie slegs relevant is vir kommunikasie tussen maatskappye en bevoordeeldes nie, maar ook vir kommunikasie met ander belangegroepe, aangesien hulle as gelyke vennote in die KSV-kommunikasieproses erken word. Maatskappye en ander belangegroepe behoort dus ook gedeelde betekenis te skep oor die KSV-inisiatief asook die redes en motiverings daarvoor. Hierdie gedeelde betekenis moet ook geld vir mekaar se konteks, realiteit, belange, behoeftes, vermoëns en die verwagtings van mekaar.

Aansluitend by hierdie argument word betoog dat wedersydse begrip relevant is vir kommunikasie tussen maatskappye en bevoordeeldes, aangesien gedeelde betekenis nie sonder wedersydse begrip geskep kan word nie.

Om hierdie redes word wedersydse begrip en gedeelde begrip word as relevant vir alle vorme van KSV-kommunikasie beskou, en die konstruk kontekstueel word hierby geïntegreer aangesien gedeelde begrip en wedersydse begrip vir mekaar se konteks noodsaaklik is.

In beide kommunikasie oor KSV en in KSV word geredeneer dat die aard van die kommunikasie tweerigting en simmetries behoort te wees. Die konstrukte hiervan is gebalanseerde horisontale kommunikasie. Hieruit kan die afleiding gemaak word dat gebalanseerde, horisontale kommunikasie ʼn belangrike konstruk van KSV-kommunikasie in die algemeen behoort te wees. Gebalanseerde horisontale kommunikasie sluit ʼn tweerigtingvloei van kommunikasie in. Daarom word die konstrukte inligting aan belangegroepe asook inligting vanaf belangegroepe by die konstruk gebalanseerde horisontale kommunikasie ingesluit.

Aangesien die konstruk voortdurende proses in beide kommunikasie oor KSV en in KSV beklemtoon word, word aanvaar dat KSV-kommunikasie met bevoordeeldes en alle ander belangegroepe ʼn voortdurende proses behoort te wees, om sodoende ʼn wedersydse gesprek te kan volhou.

By kommunikasie in KSV is geredeneer dat aangeleenthede wat vir maatskappye of belangegroepe relevant is, vir bespreking op die tafel geplaas moet kan word. Daarby behoort alle kwessies as ewe belangrik beskou en hanteer te word. Binne die konteks van gebalanseerde horisontale kommunikasie tussen gelyke vennote word egter betoog dat hierdie konstruk vir alle vorme van KSV-kommunikasie geldig behoort te wees: dat alle kwessies wat vir enige belangegroep belangrik is, bespreek moet kan word. Die konstruk, alle kwessies kan bespreek word, word dus as relevant beskou vir kommunikasie in KSV, maar ook vir kommunikasie oor KSV.

Betreffende die aard van KSV-kommunikasie word binne die konteks van kommunikasie in KSV sterk klem geplaas op die belangrikheid van kulturele sensitiwiteit. In die huidige studie word egter betoog dat alle vorme van kommunikasie, insluitend dié oor KSV, kultureel-sensitief behoort te geskied, sodat wedersydse begrip bevorder kan word. Veral in ʼn multikulturele land soos Suid-Afrika, kan die belangrikheid van kultuur asook die inagneming van ander se kultuur tydens kommunikasie nie oorbeklemtoon word nie. Die konsep kultureel-sensitief word gevolglik as relevant beskou vir kommunikasie in en oor KSV.

In beide kommunikasie oor en in KSV word aangedui dat kommunikasie deurlopend verstaanbaar behoort te wees, en dat inligting wat gekommunikeer word akkurate waarheid behoort te wees, met ander woorde, feitelik korrek en nie verdraai nie. Verstaanbaarheid en akkuraatheid (waarby die konstruk waarheid ingesluit word) word dus as konstrukte van alle vorme van KSV-kommunikasie gereken.

Binne die konteks van kommunikasie in KSV word aangedui dat kommunikasie toepaslik en opreg behoort te geskied. Hierdie twee konstrukte, wat elemente van ʼn ideale gespreksituasie is, is egter ook relevant vir kommunikasie oor KSV, om ʼn gebalanseerde horisontale gesprek te kan fasiliteer. Toepaslikheid en opregtheid word daarom as konstrukte van kommunikasie in KSV en oor KSV beskou.

Die konstrukte van deursigtigheid en duidelikheid, soos binne die konteks van kommunikasie oor KSV gedefinieer, is baie nou verwant; daarom word hierdie twee geïntegreer onder die konstruk deursigtigheid.

Deursigtigheid, volledigheid, balans, tydigheid, toeganklikheid en wesenlikheid is geïdentifiseer as konstrukte van kommunikasie oor KSV. Hierdie konstrukte is egter ook relevant vir kommunikasie in KSV, aangesien dit as belangegroep- en samelewing-georiënteerde

kommunikasie beskou word. Betreffende kommunikasie in KSV kan dus geredeneer word dat bevoordeeldes belangrike belangegroepe is, en dat kommunikasie met hulle belangegroep- georiënteerd behoort te wees. Bogenoemde konstrukte word dus as relevant beskou vir alle vorme van KSV-kommunikasie.

In Tabel 5.1 word ʼn opsomming gegee van die konstrukte van KSV-kommunikasie soos dit in die huidige studie geïdentifiseer is om duidelik te maak watter konstrukte vir watter tipe KSV- kommunikasie as relevant beskou word.

Tabel 5-1: Konstrukte van kommunikasie in KSV, kommunikasie in en oor KSV en kommunikasie oor KSV

Kommunikasie in KSV Kommunikasie in en oor KSV Kommunikasie oor KSV

 Bevoordeeldes se inligtingsbehoeftes

 Bevoordeeldes neem

aktief aan alle fases en fasette deel

 Bevoordeeldes as hoofrolspelers

 Deelname as middel tot ʼn doel en ʼn doel opsigself  Bemagtiging tot selfonderhoud  Gelyke vennote (gebalanseerde magsverspreiding)  Wedersydse/Gedeelde begrip (kontekstueel)  Gebalanseerde horisontale kommunikasie (inligting aan belangegroepe & inligting vanaf belangegroepe)

 Voortdurende proses

 Alle kwessies kan bespreek word  Verstaanbaarheid  Akkuraatheid (waarheid)  Toepaslikheid  Opregtheid  Deursigtigheid (duidelikheid)  Volledigheid  Balans  Tydigheid  Toeganklikheid  Wesenlikheid  Kultuur-sensitief  Positiewe, wedersyds voordelige verhoudings  Verbeterde beeld en reputasie  Mededingende voordeel  Bedryfslisensie  Ekonomiese invloed  Sosiale invloed  Omgewingsinvloed

5.5 TEORETIESE KSV-KOMMUNIKASIEMODEL

In die teoretiese KSV-kommunikasiemodel word konstrukte wat relevant is vir kommunikasie oor asook in KSV in pers aangedui, terwyl die konstrukte wat slegs vir kommunikasie oor KSV relevant is in pienk aangedui word, en daardie konstrukte wat slegs relevant is vir kommunikasie in KSV, in blou aangetoon word.