• No results found

HOOFSTUK 3: KOMMUNIKASIE OOR KSV

3.3 UITGANGSPUNTE OMTRENT DIE AARD VAN KOMMUNIKASIE OOR

3.3.3 Kommunikasie oor KSV kragtens die drieledige-basislyn

Die King III-verslag dui aan dat finansiële resultate in perspektief geplaas kan word deur ook aan te dui watter invloed die maatskappy, positief of negatief, uitgeoefen het op die ekonomie van die samelewing waarbinne dit funksioneer (IoD, 2009:7). Daar kan betoog word dat kommunikasie oor KSV, net soos finansiële inligting, in perspektief en binne ʼn bepaalde konteks behoort te geskied. Volgens die GRI-raamwerk moet maatskappye inligting oor hulle volhoubaarheidsinisiatiewe (soos inligting oor KSV) binne die breë konteks van volhoubaarheid kommunikeer (GRI, 2011:11).

Die King III-verslag beklemtoon dat maatskappye deel van die samelewing is en daarom dieselfde mate van burgerskap as ʼn natuurlike persoon geniet. Daar word dus van maatskappye verwag om as verantwoordelike “burgers” te funksioneer. Om verantwoordelik op te tree, moet maatskappye kan bewys dat hulle volhoubaar funksioneer. Dit veronderstel dat hulle verantwoordelike besluite neem wat hulle invloed op ekonomiese, sosiale en omgewingskwessies betref (IoD, 2009:22, 36). Die ekonomiese, sosiale en omgewingskwessies vorm saam die drieledige-basislyn, wat in 1994 deur Elkington geïdentifiseer is (sien Tabel 1.1). Die ISO 26000-riglyne (2010:9) verduidelik die verband tussen volhoubaarheid, die drieledige- basislyn en KSV soos volg:

Social responsibility is closely linked to sustainable development. Because sustainable development is about the economic, social and environmental goals common to all people, it can be used as a way of summing up the broader expectations of society that need to be taken into account by organizations seeking to act responsibly. Therefore, an overarching objective of an organization‟s social responsibility should be to contribute to sustainable development.

Volgens die ISO 26000-riglyne (2010:vi, 6) is maatskappye se invloed op die samelewing waarbinne hulle funksioneer, sowel as hulle invloed op die natuurlike omgewing, uiters belangrik. Dit is tans kritiese aspekte van maatskappye se algehele prestasie en hulle vermoeë om volhoubaar te funksioneer.

Al drie aspekte van die drieledige-basislyn, eerder as slegs die ekonomiese een, moet dus in ag geneem word wanneer enige besluite geneem word (IoD, 2009:22). Volgens Tomorrow’s Company (soos aangehaal deur IoD, 2009:22) is die sukses van maatskappye tans afhanklik van hierdie drie interafhanklike subsisteme. Gevolglik moet maatskappye besef dat hulle ʼn invloed

op al drie sisteme uitoefen, en ooreenkomstig al drie sisteme nodig het om te kan voortbestaan, aangesien hierdie sisteme interafhanklik en verweef is.

Binne die konteks van strategiese kommunikasiebestuur word geredeneer dat die drieledige- basislyn ʼn integrale deel behoort van strategiese kommunikasiebestuur behoort te vorm (Steyn, 2007:139; Steyn & De Beer, 2012:29). Steyn en De Beer (2012:38) stel dit dat die drieledige- basislyn ʼn manier is om oor maatskappye se KSV te besin. Daarom behoort die inagneming van die breë filosofie onderliggend aan die drieledige-basislyn deel uit te maak van maatskappye se beheerstrukture, bestuursinstrumente, ensovoorts, om te verseker dat al drie aspekte, eerder as slegs die ekonomiese sy in ag geneem word.

Binne die drieledige-basislynbenadering word geredeneer dat die inagneming van omgewings- en sosiale kwessies maatskappye se potensiaal verhoog om ekonomiese waarde te skep, aangesien dit verseker dat die maatskappy die nodige hulpbronne het om te kan voortbestaan. In die drieledige-basislynbenadering word erken dat maatskappye ʼn invloed op die samelewing en die natuurlike omgewing uitoefen en gevolglik verantwoordelikheid vir hierdie twee sfere moet neem. Om dus as verantwoordelike korporatiewe “burger” op te tree, moet die maatskappy hierdie drie sfere beskerm, dit verbeter en daarin belê (IoD, 2009:42). Maatskappye behoort voorts ʼn holistiese benadering tot hierdie aangeleenthede te volg en dit in hulle kern sakestrategie in te sluit (IoD, 2009:45).

Wat KSV betref, moet maatskappye dus hulle verantwoordelike korporatiewe burgerskap kan bewys, deurdat hulle hul invloed op die ekonomie, omgewing en sosiale sisteme erken en in ag neem. Vir belangegroepe om maatskappye se verantwoordelikheid te kan beoordeel, benodig hulle inligting oor die betrokke maatskappy se prestasie en invloed op die drieledige-basislyn. Gevolglik word in die huidige studie betoog dat kommunikasie oor KSV behoort te fokus op die drieledige-basislyn, en dus inligting aangaande prestasies op ekonomiese, sosiale en omgewingsterrein behoort te kommunikeer (sien IoD, 2009:41, 213; ISO, 2010:vi, 6, 9; King, 2011:5, 12; GRI, 2011:2, 11; Steyn & De Beer, 2012:38). Beide die positiewe en negatiewe aspekte rakende die drieledige-basislyn behoort uitgelig te word. Maatskappye behoort aan te dui hoe hulle beoog om hulle positiewe punte te verbeter en die negatiewe aspekte te verminder (IoD, 2009:215; GRI, 2011:3). Daarby moet maatskappye ook kommunikeer oor wesenlike kwessies wat nog nie hanteer is nie en die redes daarvoor, om sodoende werklik deursigtig te wees, soortgelyk aan die apply or explain-benadering wat in die King III-verslag voorgestaan word (AA, 2008a:47; IoD, 2009:12).

Deur deursigtig te wees oor hulle impak op ekonomiese, sosiale en omgewingsgebiede, kan maatskappye kommunikeer oor volhoubaarheid en hulle bydrae tot volhoubare ontwikkeling (GRI, 2011:11). Maatskappye behoort deur kommunikasie oor KSV aan te toon dat hulle aandag gee aan volhoubaarheidskwessies en dan bewys te lewer van hoe hierdie sake binne die maatskappy se langtermynstrategie geïnkorporeer is. Deur kommunikasie oor KSV behoort die maatskappy die verbande tussen hierdie volhoubaarheidskwessies só te kommunikeer dat belangegroepe die maatskappy se langtermynstrategieë vir volhoubaarheid en KSV kan begryp (sien IoD, 2009:212-213; King, 2011:5, 7).

Maatskappye behoort oor die volgende aspekte te kommunikeer: hulle verbintenis, bestuursbenadering, doelwitte, huidige strategie, prestasies, standaarde, aktiwiteite, besluite en resultate asook oor toekomstige doelwitte en strategieë (sien AA, 2008a:48; 2008b:6; IoD, 2009:213-214; King, 2011:12, 14; GRI, 2011:3). Deur kommunikasie oor KSV behoort maatskappye aan te dui wat die werklike en potensiële invloed van hulle besluite op hulle belangegroepe, die samelewing asook die ekonomie en omgewing is (sien ISO, 2010:11).

Bostaande bespreking oor die toepaslikheid van die drieledige basislyn vir kommunikasie oor KSV maak dit moontlik om die volgende teoretiese stelling te formuleer.

Teoretiese stelling 5:

Kommunikasie oor KSV kragtens die drieledige-basislyn

Wanneer maatskappye oor KSV kommunikeer, behoort hulle te fokus op hulle prestasie en invloed op ekonomiese, sosiale en omgewingsaspekte.