• No results found

HOOFSTUK 6: KSV IN DIE SUID-AFRIKAANSE LANDBOUSEKTOR

6.2 GRONDHERVORMING IN SUID-AFRIKA

As gevolg van Apartheid was daar teen 1994, met Suid-Afrika se oorgang na ʼn demokratiese bedeling, ingrypende ongelykheid in die verspreiding van grondbesit tussen wit en swart Suid- Afrikaners. Op daardie tydstip was na raming ongeveer 87% van alle landbougrond onder wit eienaarskap, en het slegs 13% aan swart eienaars behoort (DLA, 1997; Hall, 2007:89; Thwala & Khosa, 2008:36; Lahiff, 2008b:162; WB, 2011). Om hierdie ongelykhede in die besit van grond aan te pak, is in 1994 ʼn omvangryke grondhervormingsprogram van stapel gestuur. ʼn Verdere doel van hierdie program was om mense wat deur die vorige staatsbestel van grond ontneem is, vir hulle verlies te vergoed (Lahiff, 2008a:2; Böhler, 2008:1).

Artikel 25 van die Grondwet (1996) maak spesifiek vir ʼn uitgebreide grondhervormingsprogram voorsiening. Grondhervorming is gevolglik grondwetlik gefundeer en geniet beskerming onder die Grondwet. Kragtens artikel 25 van die Grondwet word voorsiening gemaak vir drie duidelik geformuleerde bene van grondhervorming:

 Artikel 25(7) maak voorsiening vir die restitusieprogram.

 Artikel 25(5) bring die herverdelingsprogram op die been.

Hierdie drie pilare van grondhervorming is in 1997 deur die Witskrif op Grondbeleid bevestig (DLA, 1997).

Die verblyfregsekerheidsprogram fokus op verblyfreg vir diegene wat byvoorbeeld reeds lank op plase woon, maar nie die grond besit nie. Die doel van die program is om, indien hulle aan spesifieke vereistes voldoen, aan okkupeerders wat nie wetlike verblyfreg het nie, wel sodanige verblyfreg te verskaf (DLA, 1997). Deur die verblyfregsekerheidsprogram word gepoog om die verhouding tussen grondeienaars en plaasbewoners te reguleer, om te verseker dat mense nie hulle verblyfreg op plase verloor terwyl hulle geen ander heenkome het nie (Hall, 2007:95). Hierdie program word grootliks gereguleer deur die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg 62 van 1997 (SA, 1997).

Die doel van die restitusieprogram is om voorheen benadeelde Suid-Afrikaners te vergoed vir die grond wat hulle tydens die Apartheidsjare verloor het weens wette of praktyke wat op grond van ras gediskrimineer het. Hierdie vergoeding kan die vorm aanneem van hulle oorspronklike grond, soortgelyke grond of finansiële kompensasie (SA, 1994; DLA, 1997; Hall, 2004:656; Kloppers, 2012:55). Tydens hierdie program word deurlopend gepoog om die produktiwiteit van plase so min moontlik te versteur. Dit het daartoe gelei dat vergoeding gereeld finansieel is, eerder as dat dit funksionerende kommersiële grond insluit (Hall, 2007:92). Hierdie program maak voorsiening vir vergoeding aan diegene wat ná 19 Junie 1913 as deel van diskriminerende wette en praktyke hulle grond ontneem is (Grondwet, 1996; DLA, 1997; Miller & Pope, 2000:319-320; De Villiers, 2003:51; Rugege, 2004:287-289; Badenhorst et al., 2006:629). Die program waarvolgens slagoffers van ontneming vergoed word, word deur die Wet op Herstel van Grondregte 22 van 1994 gefasiliteer (SA, 1994).

Die herverdelingsprogram fokus spesifiek daarop om ʼn meer gebalanseerde eienaarskap van landbougrond in Suid-Afrika teweeg te bring. Die doel van hierdie program is om teen 2014 (tydens die skryf van hierdie proefskrif), 30% van kommersiële landbougrond wat in die besit van wit boere is, aan swart persone oor te dra (DLA, 1997). Die herverdelingsprogram se mikpunt is ook om aan swart Suid-Afrikaners die geleentheid te bied om grond te besit en om toegang tot die ekonomie te verkry, deur die landbougrond vir landbouaktiwiteite in te span (DLA, 1997; Miller & Pope, 2000:398; Rugege, 2004:295; Lahif, 2008a:2, Thwala & Khosa, 2008:38; Mostert et al., 2010:120-130). Die Departement van Grondsake dui die doel van die herverdelingsprogram soos volg aan:

The redistribution of land to landless poor, tenants farm workers and emerging farmers for residential and productive use, to improve their livelihoods and quality of life (DLA, 1997:36).

Die herverdelingsprogram word beskou as die belangrikste poging om ʼn meer gebalanseerde verspreiding van grond teweeg te bring en is ook die grootste van die drie programme vir grondhervorming (Lahiff, 2008b:164).

Aangesien die verblyfregsekerheidsprogram nie gevolge vir KSV het nie, word in die huidige studie slegs op die restitusie- en herverdelingsprogramme gefokus. Die restitusieprogram is feitlik afgehandel, aangesien 95% van alle grondeise teen 2008 gefinaliseer is (Lahiff, 2008a:13; De Villiers, 2008:4-5; Kloppers, 2012:58). Aan die ander kant is daar nog min vordering met die herverdelingsprogram gemaak (sien Kloppers, 2012:76-77).

Volgens artikel 25(5) van die Grondwet is die staat verplig om, met hulle hulpbronne in ag geneem, die geleentheid te skep vir voorheen benadeeldes om op ʼn gelyke basis toegang tot grond te verkry (Grondwet, 1996). Soos reeds genoem, is die teiken wat deur die regering gestel is, om teen 2014 reeds 30% van grond onder wit besit aan voorheen benadeeldes oor te dra (DLA, 1997; De Villiers, 2008:1; Lahif, 2008a:21). Teen 2008 was egter minder as 5% van landbougrond aan swart boere oorgedra (Böhler, 2008:1), en teen 2012 is minder as 10% van die aanvanklike teiken vir grondhervorming bereik (Kloppers, 2012:76-77). Uit hierdie swak vordering kan gesien word dat dit ʼn uiters stadige proses is, en dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die teiken van 30% grond teen einde 2014 bereik sal wees (Lahiff, 2008b:165).

Grondhervormingsprogramme is voorts geweldig kontroversieel aangesien daar heelparty voorbeelde is waar so ʼn strategie onsuksesvol was en waar die bevoordeeldes nie volhoubare boerderye kon bedryf nie (sien Kirsten & Machete, 2005; CDE, 2008: 45; De Villiers, 2008: 11; Cook, 2009; Nkwinti, 2010; Du Toit, 2010). Daar word tans beraam dat meer as 90% van die grond wat deur grondhervormingsprogramme aan swart eienaars oorgedra is, nie produktief aangewend word nie (SAPA, 2010). Daarby is teen 2011 reeds sowat 20 miljoen hektaar van die byna 60 miljoen hektaar (30% van die totaal) grond wat deur die regering gekoop en aan nuwe eienaars oorgedra is, aan die vorige wit eienaars terugverkoop (AFP, 2011; Van Wyk, 2011). Hierdie probleme met grondhervorming word in ʼn uiters ernstige lig beskou, aangesien dit belangrike gevolge inhou vir die land se ekonomie, sowel as voedselsekerheid (De Villiers, 2008:6-9; Lahiff, 2008a:6). Deel van die probleme wat in grondhervorming ondervind word, word veroorsaak deur onrealistiese verwagtings van nuwe grondeienaars. In die woorde van Lahiff:

A defining characteristic of the South African land reform policy is that beneficiaries – no matter how poor or how numerous – are required to step into the shoes of former white owners and continue to manage farms as unitary, commercially oriented enterprises, while alternative models, based on low inputs and smaller units of production are actively discouraged. This inappropriate model, and the tensions within

beneficiary groups that emerge from it, are largely responsible for the high failure of land reform projects (Lahiff, 2008b:174).

Die belangrikste redes vir die mislukking van grondhervorming sluit die volgende in: ʼn gebrek aan ondersteuning, ʼn tekort aan kapitaal asook gebrekkige boerderykennis en landbouvaardighede. Gebrekkige na-vestigingsondersteuning (“post-settlement support”) word algemeen as dié belangrikste rede uitgewys waarom opkomende boere gereeld nie tot kommersiële boere ontwikkel nie (Jacobs, 2003:7; Manhenshe & Lahiff, 2007:25; De Villiers, 2008:8-9; Lahiff, 2008a:37; 2008b: 174; Böhler, 2008:1; Thwala & Khosa, 2008:42; BuaNews, 2012). Die opkomende boere wat grond deur die grondhervormingsprogram ontvang het, het baie keer nie die nodige kennis, vaardighede of ervaring om ʼn suksesvolle boerdery te bedryf nie. Dit maak hulle kanse uiters skraal om sonder hulp kommersiële boere te word (De Villiers, 2008:8; Du Plessis et al., 2009:151).

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat opkomende boere hulp en ondersteuning nodig het om ʼn sukses van hulle boerdery te kan maak. Daarby is die landbousektor strategies geposisioneer om hierdie hulp en ondersteuning te kan verleen. Maatskappye binne die landbousektor het die nodige deskundigheid en hulpbronne om opkomende boere wat in die betrokke gebiede boer, te kan ondersteun en bemagtig (Kloppers, 2012:462). Die Centre for Development and Enterprise (CDE), gaan so ver as om te beweer dat die privaatsektor (en by implikasie die landbousektor) in ʼn groot mate die sukses of mislukking van grondhervorming kan bepaal (CDE, 2005:24).

Die manier waarop maatskappye in die landbousektor tot grondhervorming in die besonder en transformasie in die breë kan bydra, is deur hulle KSV-inisiatiewe op die ondersteuning van swart opkomende boere te fokus. Sodoende kom daardie maatskappy hulle sosiale- verantwoordelikheid na deur tot ontwikkeling by te dra, en word opkomende boere oor die langtermyn bemagtig om selfonderhoudend te kan wees.

Dit is egter nie net in belang van die opkomende boere dat landboumaatskappye hulle ondersteun nie, maar ook ter wille van die maatskappye self. Dit is immers tot die maatskappye se voordeel as die opkomende boere kommersiële boere word. Voorts kan sulke inisiatiewe ook die maatskappye se verhouding met die regering verstewig, wat op die langtermyn ʼn belangrike strategiese prioriteit is (sien 1.3). Ook kan tegelyk aan die regering se vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging voldoen word.