• No results found

HOOFSTUK 4: KOMMUNIKASIE IN KSV

4.2 UITGANGSPUNTE VAN KOMMUNIKASIE IN KSV

4.2.4 Bemagtiging tot selfonderhoud

Verskeie outeurs stem saam oor die verhouding tussen deelname en bemagtiging (sien Childers, 1990:389; Melkote, 1991:237; Nair & White, 1993:51; Servaes, 1996b:15; Cohen, 1996:226; Snyder, 2002:4623; Dorsner, 2004:366; Yoon, 2004:4; Mefalopulos & Grenna, 2004:26). Hulle betoog is dat mense deur deelname aan ontwikkelingsinisiatiewe in staat gestel word om self beheer te neem van hulle eie groei en ontwikkeling en dus deur hierdie deelname bemagtig kan word tot selfonderhoud en selfbestuur.

Die konsep bemagtiging kan nie bespreek word sonder om eerstens die konsep mag in ag te neem nie. Mag behoort een van die belangrikste oorwegings te wees wanneer kommunikasie in KSV gekonseptualiseer en toegepas word (sien Wilkins, 2000:868; Servaes, 2008a:27). Daar bestaan egter verskeie definisies van mag, aangesien teoretici wat hierdie konsep uit verskillende perspektiewe bestudeer dit ook uiteenlopend konseptualiseer en definieer (Wilkins, 2000:868). Melkote en Steeves (2001:36) asook Servaes (1996a:89) ondersteun Foucault (1980) se siening van mag. Hierdie beskouing aanvaar dat mag slegs binne die konteks van sosiale verhoudings betekenis het en dat dit oorheersing oor ander veronderstel. Soos Servaes (1996a:89) dit treffend opsom:

As coercion implies freedom, power is only exercised over free subjects and only insofar as they are free.

Foucault (1980:119) beklemtoon dat mag nie noodwendig negatief is nie, aangesien mag ook tot kennis en diskoers kan bydra. Wanneer mag dinamies geïnterpreteer word, kan geredeneer word dat beide die “magtige” en die “magtelose” partye mag oor mekaar uitoefen, aangesien mag beide kan “produseer” en “onderdruk”. Dus kan betoog word dat almal op die een of ander manier mag besit en mag behoort te besit, sodat elkeen tot die skep van kennis en diskoers kan bydra.

Die huidige studie deel Wilkins (2000) se beskouing van mag, wanneer sy Luke (1986) se vlakke van mag saamvoeg om aan te dui dat mag die vermoë behels om sosiale konteks te vorm deurdat dit beide besluitnemingsmag en die mag om aktiwiteite te voorkom, omsluit. Daar word dus aanvaar dat die individue, groepe of instansies wat oor mag beskik, deur hulle besluitneming die sosiale konteks beïnvloed en bepaal waarbinne ander leef, terwyl magteloses nie hierdie vermoë het om die konteks (en gevolglik hulle eie situasie) te verander nie.

In hierdie studie word aanvaar dat mense mag oor hulle eie situasie behoort uit te oefen, aangesien hulle nie “ontwikkel” kan word nie, maar slegs ondersteun kan word om hulleself te ontwikkel. In aansluiting hierby word geredeneer dat daar ʼn gebalanseerde verspreiding van mag in samelewings (en in verhoudings) behoort te wees vir sosiale verandering, ontwikkeling en bemagtiging om te kan plaasvind (Servaes, 1995:46; 1996b:16; Servaes & Malikhao, 2002:21; 2008:169; Servaes, 2008a:27; 2008b:202).

Binne die konteks van kommunikasie in KSV word van die standpunt uitgegaan dat werklike verandering (en bemagtiging) nie moontlik is wanneer daar groot magsverskille tussen die maatskappye en die bevoordeeldes bestaan nie. Daar word dus aanvaar dat bemagtiging slegs kan plaasvind wanneer ʼn gelyke magsverdeling tussen die betrokkenes is. In hierdie konteks sou dit beteken dat maatskappye doelbewus mag aan bevoordeeldes moet afstaan. Maatskappye behoort egter nie geredelik tot hierdie verspreiding van mag in te stem nie, aangesien dit beteken dat hulle van hulle eie bestaande mag moet prysgee om bevoordeeldes te bemagtig (sien Mowlana & Wilson, 1987:143; Servaes, 1995:46; 1996b:16; Arnst, 1996:112; White, 1999:33; Melkote & Steeves, 2001:36; Servaes & Malikhao, 2008:169).

Heelwat kommunikasiekundiges reken voorts dat daar eers strukturele veranderings in samelewings moet plaasvind, voordat kommunikasie deelnemend kan geskied. Die rede hiervoor is dat kommunikasiebeleide gereeld ʼn weerspieëling van die politieke, ekonomiese en kulturele praktyke binne ʼn samelewing is. Solank hierdie situasies ongebalanseerd is, sal kommunikasiebeleide dit ook so weerspieël (Mowlana & Wilson, 1987:143; Servaes, 1995:46;

Servaes & Malikhao, 2008:170). Hierdie argument sluit aan by die kritiese tradisie wat die metateoretiese onderbou van die deelnemende benadering vorm, aangesien dit op sosiale verandering, gelyke magsverdeling en bevryding fokus en beklemtoon gevolglik die argument dat die deelnemende benadering in die kritiese tradisie gesetel is. Die rede hiervoor is dat bemagtiging algemeen as een van die belangrikste uitkomste van die deelnemende benadering geag word.

Melkote en Steeves (2001: 37) kombineer Rappaport (1981) asook Zimmerman en Rappaport (1988) se definisies van bemagtiging soos volg: Bemagtiging behels die proses waardeur individue, organisasies en gemeenskappe beheer en seggenskap oor sosiale en ekonomiese toestande asook oor demokratiese deelname in hulle gemeenskappe en hulle eie stories verkry. Mefalopulos (2004) sluit baie nou hierby aan deur aan te dui dat bemagtiging daarop fokus om mense wat voorheen passiewe, of slegs gedeeltelike aktiewe ontvangers van ontwikkelingsinisiatiewe was, beheer oor hulle eie lewe en omstandighede te gee. Hieruit blyk die verhouding tussen mag en bemagtiging duidelik, aangesien bemagtiging daarop fokus om mense beheer en seggenskap (en dus mag) oor hulle eie lewe en konteks te gee. Freire se beskouing van mag sluit volgens Wilkins (2000:870) ook by hierdie lyn van denke aan, aangesien hy bemagtiging beskou as evolusionêre proses, wat verandering in magsverhoudings veronderstel. Sy voorstel is om dialoog te gebruik as proses waardeur onderdrukking in die eerste plek uitgeken kan word. Eers dan kan gepoog word om onderdrukking wat oor magteloses uitgeoefen word teen te staan (Wilkins, 2000:870).

White (2003:830) ondersteun ook hierdie gedagte wanneer hy dit stel dat bemagtiging beteken om die waardigheid en waarde van iemand se eie identiteit asook dié van die plaaslike kultuur te bevestig. Vir bemagtiging om te kan plaasvind, moet die bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe se waardigheid, identiteit en “gelykheid” dus erken word. Daar bestaan dus ʼn interafhanklike verhouding tussen bemagtiging, dialoog en deelname en in hierdie studie word geargumemteer dat bemagtiging nie behoort te kan geskied sonder ware deelname en dialoog nie. Hierdie beginsels berus immers op die aanname dat maatskappye en bevoordeeldes gelyke vennote in die KSV-proses behoort te wees.

Binne die konteks van KSV kan die plaaslike gemeenskap se eie hulpbronne en sosiale kapitaal as een van die belangrikste faktore beskou word wat in berekening gebring en tot voordeel van die KSV-inisiatief aangewend kan word. Die ideale situasie vir ontwikkeling ontstaan wanneer bevoordeeldes op hulle eie hulpbronne en energie kan staatmaak (Childers, 1990:389; Ayee,

1993:47; White, 1994:483; Servaes, 1995:43; White, 1999:43). Bemagtiging behoort gevolglik daarop te fokus om bevoordeeldes van hulle eie sterk punte en hulpbronne bewus te maak, en hulle te ondersteun om dit doeltreffend te gebruik en daarop te steun, eerder as slegs op hulpbronne en inligting van buite aan hulle te verskaf.

Uit die bostaande argumente kan gesien word dat bemagtiging nie eenvoudig is nie. Dit verg meer as om bloot vaardighede of kennis aan bevoordeeldes oor te dra en dan te glo dat hulle bemagtig is om onafhanklik te kan funksioneer. Bemagtiging kan slegs spruit uit ʼn erkenning dat bevoordeeldes die reg het om self beheer oor hulle omstandighede te neem, daartoe in staat is en deur die maatskappy toegelaat word om dit te doen (sien Childers, 1990:389; White, 1994:482-483; Melkote, 2002:432). Bemagtiging veronderstel dus dat die maatskappye wat groter magsposisies beklee, bereid moet wees om mag aan die “magtelose” bevoordeeldes oor te dra om hulle deur wedersydse vertroue en respek te kan bemagtig.

Wanneer bemagtiging as doelwit van ontwikkeling gestel word, het dit bepaalde implikasies vir die aard van kommunikasie. Om bevoordeeldes werklik te bemagtig, kan kommunikasie nie vir oorreding gebruik word nie, maar moet die kommunikasieproses deel van die bemagtigingsproses uitmaak (Childers, 1990:389; White, 1994:482-483). Daar word aanvaar dat die partye wat by ʼn ontwikkelingsinisiatief betrokke is, aan die kommunikasieproses moet kan deelneem sodat magsverskille hanteer word (Melkote & Steeves, 2001:38-39; Melkote, 2002:432). In die betrokke studie word daar van die standpunt af uitgegaan dat die aard van die kommunikasieproses werklik dialogies behoort te wees ten einde die doelwit van bemagtiging te kan bereik.

Die uiteindelike doelwit van KSV-inisiatiewe behoort die selfontwikkeling van die bevoordeeldes te wees. Deur hulle deelname aan die KSV-proses behoort bevoordeeldes bemagtig te word tot selfonderhoud en selfbestuur (sien Childers, 1990:389; White, 1994:482- 483; Servaes, 1995:39; 1996a:85, 105; Melkote, 2002:431).

Uit hierdie bespreking kan dus afgelei word dat deelname, dialoog en bemagtiging onlosmaaklik verbind is. Die rede is dat geredeneer kan word dat mense deur hulle deelname bemagtig kan word, maar ook andersom: dat mense op grond van die feit dat hulle bemagtig word, in staat gestel word om aan ontwikkeling deel te neem. Die noodsaaklikheid van dialoog om bemagtiging mee te bring, blyk ook duidelik uit die bostaande bespreking waarin aangetoon is dat ʼn gelyke verspreiding van mag (insluitend in die kommunikasieproses) en wedersydse respek (as beginsel van dialoog) onontbeerlik is vir bemagtiging. Vanuit die bespreking van

bemagtiging binne die konteks van kommunikasie in KSV kan die onderstaande teoretiese stelling geformuleer word:

Teoretiese stelling 10:

Bemagtiging binne die konteks van kommunikasie in KSV

Bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe behoort beheer en seggenskap oor hulle eie omstandighede oor te neem en aktief deel te neem aan die proses van bemagtiging waarin ʼn gebalanseerde verspreiding van mag tussen hulleself en maatskappye nagestreef word sodat hulle op hierdie manier bemagtig kan word tot selfonderhoud.