• No results found

HOOFSTUK 4: KOMMUNIKASIE IN KSV

4.2 UITGANGSPUNTE VAN KOMMUNIKASIE IN KSV

4.2.1 Dialoog

Deur middel van dialoog kry mense van verskillende agtergronde die geleentheid om eerstens na mekaar te luister, en tweedens om idees en inligting te deel en mekaar moontlik te oorreed (Gumucio-Dagron & Tufte, 2006:xiv; Servaes, 2008a:15; 2008b:202; Gumucio-Dagron,

2008:81). Dialoog kan in die konteks van die betrokke studie beskryf word as ʼn proses waardeur mense vasstel wie hulle is, wat noodsaaklik is en wat hulle wil hê om hulle lewe te verbeter. In hierdie proses word gemeenskappe of bevoordeeldes die belangrikste rolspelers in hulle eie ontwikkeling (Gumucio-Dagron & Tufte, 1996:xix). Soos gemeld, word daar in die huidige studie betoog dat kommunikasie in KSV dieselfde doelwitte as ontwikkelingskommunikasie het (sien 1.2.2). Gevolglik is die eienskappe van dialoog, soos dit binne die konteks van ontwikkelingskommunikasie uitgewys word, relevant vir ʼn model wat kommunikasie in KSV rig.

Drie van die belangrikste denkers oor dialoog, wie se werk binne die konteks van ontwikkelingskommunikasie toegepas kan word, naamlik Freire, Buber en Rahim, se beskouing van dialoog word individueel bespreek. Daarna word dit met dié van ander outeurs binne die veld geïntegreer om die aard van dialogiese kommunikasie uiteen te sit.

4.2.1.1 Freire

Freire word as die vader van dialoog in die ontwikkelingskonteks beskou en hy beklemtoon die noodsaaklikheid van dialogiese kommunikasie in ontwikkeling. Dialoog word algemeen as normatiewe teorie grondliggend tot deelnemende kommunikasie erken (Servaes, 1995:46; 1996b:17; Theranian, 1996:44; Barranquero, 2005: 922; Gumucio-Dagron & Tufte, 2006:xxii; Chang & Jacobson, 2010:662).

Freire se perspektief op ontwikkeling spruit uit die kritiese teorie (sien 1.2.2) waarin bevryding van onderdrukking nagestreef word. Binne hierdie metateoretiese tradisie word die doel van ontwikkeling as bemagtiging beskou, en dít kan slegs deur bevryding van onderdrukking bereik word.

In hierdie benadering tot ontwikkeling word van die standpunt uitgegaan dat alle individue daartoe in staat is om oor hulle eie situasie te reflekteer, abstrak te dink en te konseptualiseer. Dit sluit die vermoë in om besluite te neem, alternatiewe te kies en om sosiale verandering te kan beplan om hulleself te ontwikkel. Die belemmering (in hierdie konteks) word beskou as interne en eksterne onderdrukking wat mense verhoed om dit te kan doen (Thomas, 1994:50; Melkote & Steeves, 2001:35; Melkote, 2002:420; Steeves, 2002:528). Hierdie argument weerspieël die basiese uitgangspunte van die afhanklikheidsbenadering (sien 2.6.1.3) waarin die kapitalistiese sisteem as die grootste oorsaak van onderontwikkeling uitgewys is. Die rede is dat ontwikkeling

en onderontwikkeling twee kante van dieselfde munt is waar ontwikkeling in kernstate tot onderontwikkeling in randstate lei – weens die afhanklikheid van die randstate.

Freire het die conscientization method voorgestaan wat daarop fokus om individue in staat te stel om krities oor hulle eie lewensomstandighede te reflekteer en sodoende die “kultuur van stilte” onder onderdruktes te verbreek. Hy beklemtoon dat die reg op deelname en emansipasie ʼn fundamentele reg van elke individu is (Freire, 1983:76). Om dit te kan bereik word aangeneem dat die sosiale strukture asook sosiale én interpersoonlike verhoudings wat tot onderdrukking lei, moet verander sodat mense vry is om aan die ontwikkelingsdiskoers deel te neem (Servaes, 1996a:98). Hy het verder geredeneer: Wanneer mense oor hulle realiteit begin praat, kan hulle makliker die oorsaaklike verbande tussen kwessies raaksien. Hierdie kritiese bewussyn van hulle voorhande situasie behoort mense in staat te stel om die bestaande realiteit te kan verander (Freire, 1969:40).

Refleksie en aksie word deur Freire (1970:44) as belangrike, interafhanklike dimensies van dialoog beskou. Hierdie aspekte lei gesamentlik tot die proses van conscientizacao, waar mense aktief oor hulle eie situasie reflekteer. Deur kritiese refleksie tydens die proses van dialoog kan mense gevolglik die werklikheid self ontdek, eerder as om ander se weergawes daarvan te aanvaar (Thomas, 1994:51). Freire beklemtoon die noodsaaklikheid van dialoog met die oog op ontwikkeling deur die volgende uitspraak:

If it is in speaking their word that people, by naming the word, transform it, dialogue imposes itself as the way by which they achieve significance as human beings. Dialogue is thus an existential necessity (Friere, 1970:45).

Hoewel Freire se werk binne die konteks van volwasse-onderrig tot stand gekom het (sien Freire, 1969:40), is die basiese beginsels daarvan, en die manier waarop bevoordeeldes (leerders), asook hulle rol in KSV (onderrigproses) beskou word, toepaslik vir kommunikasie in KSV. Die rede hiervoor is dat Freire gedemonstreer het dat kommunikasie in die vorm van dialoog gebruik kan word vir mense om hulleself te bemagtig en sodoende te ontwikkel, terwyl volhoubare ontwikkeling deur bemagtiging as een van die belangrikste doelwitte van KSV beskou word. Freire se konsep van dialoog bestaan uit drie elemente. Die eerste is respek, waar hy betoog dat bevoordeeldes te alle tye as gelykes erken moet word, niemand die proses van dialoog mag oorheers nie en dat almal die reg het om gehoor te word (Freire, 1970:45-46). Freire redeneer voorts dat ʼn proses van horisontale kommunikasie nodig is om dialoog te bereik en dat

kommunikasie nooit “top down” behoort te wees nie, maar eerder “inside out”, wat veronderstel dat die gemeenskap (of bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe) die leidende rol in die kommunikasieproses behoort te speel (Freire, 1969:40).

Die tweede belangrike element van dialoog is die skepping van ‟n kollektiewe bewussyn wat kan lei tot die moontlikheid om die bestaande werklikheid te verander (Freire, 1970:44-45). Hier word die idee van gemeenskapsdeelname, eerder as individuele deelname beklemtoon en word erkenning gegee aan die realiteit dat mense nie in ʼn vakuum funksioneer nie, maar as deel van ʼn sosiale sisteem optree.

Derdens betoog Freire dat mense deur dialoog bemagtig kan word om die wêreld en hulle voorhande werklikheid te kan beskryf (“naming the world”), en daardeur in staat gestel word om dit ook te kan verander (Freiere, 1970:45). Hieruit blyk die belang van dialoog in die KSV- proses waarvolgens mense self hulle probleme en situasie kan beskryf, eerder as dat ander dit namens hulle doen. Freire (1979:45) beklemtoon die reg van elke individu en groep om deel te wees van die kommunikasieproses, aangesien deelname as basiese mensereg beskou word. Freire en ander voorstaanders van dialoog wys daarop dat die proses van dialoog kan lei tot ʼn hoër vlak van bewustheid en mag. Sodoende word mense in staat gestel om self daardie kwessies wat vir hulle van belang is te identifiseer en te ondersoek (Melkote & Steeves, 2001:39) en deur hierdie proses bemagtig te kan word.

4.2.1.2 Buber

In terme van ontwikkelingskommunikasie het Freire voortgebou op Buber se idee van interaksie en gevolglik ook kommunikasie binne verhoudings (Thomas, 1994:52; Huesca, 2002:502). Buber betoog dat daar twee soorte verhoudings tussen mense kan bestaan, naamlik ʼn Ek-Dit of ʼn Ek-Jy-verhouding. ʼn Ek-Dit-verhouding getuig van monoloog, ongelykheid, objektiwiteit en mense wat los van mekaar, die natuur en God funksioneer (Thomas, 1994:52). ʼn Ek-Jy- verhouding is aan die anderkant een waarin dialoog gevoer word, mense wedersydse respek vir mekaar koester, daar oopheid bestaan en mense bereid is om te gee en neem. Hierdie soort verhouding behoort die basis vir kommunikasie te wees, wat dan tot gemeensaamheid kan lei aangesien mense mekaar aanvaar, ondersteun en hulle interafhanklikheid van mekaar erken (Thomas, 1994:52). Wanneer mense in ʼn Ek-Jy-verhouding met mekaar staan, kan ontwikkeling en bemagtiging geskied, wat nie moontlik sou wees binne ʼn ongelyke verhouding nie. Maatskappye behoort dus die bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe as gelykes te erken en hulle te

respekteer om sodoende daardie soort verhouding te skep waarin ware dialoog gevoer en die bevoordeeldes bemagtig kan word. Hierdie saak word ook as deel van bemagtiging bespreek (sien 4.2.4).

4.2.1.3 Rahim

ʼn Derde belangrike rolspeler in die konseptualisering van dialoog is Rahim, wat gedurende die 1990‟s gepoog het om dialoog binne die konteks van ontwikkelingskommunikasie te konseptualiseer deur idees, konsepte en die teorie van die veld van letterkunde daarop toe te pas. Rahim (1994:118, 120) sluit by Freire aan deur te beklemtoon dat ontwikkelingsinisiatiewe nie op individue behoort te fokus nie, maar eerder op gemeenskappe. Sy bekende woorde “there is no communication without community, and no community without communication”, beklemtoon hierdie fokus asook die noodsaaklikheid van kommunikasie binne so ʼn konteks. Hy redeneer dat ontwikkelingsisteme uit gemeenskappe en hulle hulpbronne bestaan, en dat individue saam met die res van daardie gemeenskap vasstel wat ontwikkeling is en wat elkeen se rol binne hierdie proses behels. Deur hierdie kommunikasieproses word die groep se ontwikkelingsideologie geskep, as basisteorie wat die betekenis en die waarde van ontwikkeling bepaal. Deeglike kennis van verskillende aspekte van die gemeenskap is dus noodsaaklik voordat enige ontwikkelingsinisiatiewe onderneem kan word (Rahim, 1994:135). Die inhoud en vorm van kommunikasie is onlosmaaklik verbind, en albei aspekte word gevorm deur die sosiale konteks waarbinne die kommunikasie plaasvind.

Rahim (1994:119) stel voor dat mense binne gemeenskappe gesamentlik moet besluit wat gedoen behoort te word om hulle situasie te verbeter, maar beklemtoon dat ʼn unieke soort kommunikasie nodig is om hierdie mikpunt te kan bereik. Sy voorstel is ʼn soort dialoog wat beide intern en ekstern gerig is, sodat mense nuwe idees binne hulle bestaande ideologiese raamwerk kan interpreteer, en in die proses daardie raamwerk by die nuwe idees kan aanpas. Individuele kommunikeerders is te alle tyd betrokke by dialoog met hulleself en met ander, en die aard van dialoog word beïnvloed deur die “stemme” van ander waarmee hulle reeds kennis gemaak het (Rahim, 1994:120-121). Twee vorme van dialoog word as deel van die dialogiese proses geïdentifiseer:

Eerstens is individue voortdurend besig met interne dialoog waartydens elkeen in gesprek met hom-/haarself is. Tydens hierdie gesprek probeer individue om ander se standpunte te

verstaan en hulle eie standpunte te analiseer binne die konteks van al die ander “stemme” wat hulle idees oor die betrokke onderwerp gevorm het.

Tweedens tree individue in eksterne dialoog met mekaar, en “bring elkeen sy interne dialoog saam”, wanneer so iemand dan met ander oor die onderwerp kommunikeer (Rahim, 1994:130-131).

Ander se menings en argumente uit die hede en verlede, beïnvloed hoe individue self dink en redeneer, en het gevolglik ook ʼn impak op die proses van dialoog waarin elkeen betrokke is. Kommunikasie kan dus nooit los staan van die konteks van die gemeenskap nie, omdat die gemeenskap die ideologiese raamwerk van ontwikkeling skep wat individue se denke beïnvloed en wat bepaal hoe inligting geïnterpreteer word. Die konteks waarbinne dialoog plaasvind is gevolglik ewe belangrik as enige ander faktor in die proses en behoort dus so in ag geneem te word (Rahim, 1994:134-135).

Rahim (1994:131) sluit by Freire en Buber aan deur dialoog binne die konteks van ontwikkelingskommunikasie te definieer as die aanvaarding van, en respek vir ander wat as individue by die proses betrokke is. Binne hierdie soort dialoog het almal gelyke reg om hulle mening te deel en gehoor te word, en te verwag dat hulle stemme nie deur ander oorheers gaan word, of bloot daarmee moet saamsmelt nie. Hierdie vorm van dialoog kan egter nie van buite gefasiliteer word nie, maar moet in die proses van dialoogvoering ingebou wees. Dialoog gaan gevolglik meer oor die aard van die verhouding tussen mense, as bloot oor die manier waarop hulle met mekaar in gesprek tree.

Rahim wys verder daarop dat, hoewel inligting en nuwe idees van buite belangrik is om ontwikkeling mee te bring, die konsep van betekenisskepping binne die sosiale sisteem sentraal tot die ontwikkelingsproses staan (Rahim, 1994:134). Op grond van hierdie redenasie behoort ontwikkelingskommunikasie te fokus op die vorming van betekenis en waardes binne gemeenskappe, eerder as om bloot inligting oor te dra.

Rahim (1994:136) beklemtoon ook (soos Freire) die belangrikheid van horisontale kommunikasie tussen groepe van die gemeenskap, voordat ander vorme van kommunikasie oorweeg kan word. Hy dui verder aan dat nuwe aktiwiteite van kommunikasie as deel van die tradisionele aktiwiteite aangewend kan word sodat dit verstaanbaar en bekend vir mense sal wees.

Vanuit Freire, Buber en Rahim se uitgangspunte oor dialoog kan ʼn mens betoog dat eerstens ʼn verhouding van wedersydse respek tussen maatskappye en die bevoordeeldes van KSV- inisiatiewe geskep moet word, voordat dit vir hulle moontlik is om dialogies te kommunikeer. Tweedens behels dialoog gebalanseerde, horisontale kommunikasie tussen gelykes. Dialoog word in die huidige studie as noodsaaklike element van bemagtiging en ontwikkeling beskou waarsonder KSV-inisiatiewe nie in die gestelde ontwikkelingsdoelwitte kan slaag nie.

Behalwe vir die standpunte van hoofrolspelers in die konseptualisering van dialoog, soos Buber, Freire en Rahim, het baie ander teoretici ook bygedra die konseptualisering van die aard van dialogiese kommunikasie binne die konteks van ontwikkelingskommunikasie. Hulle standpunte word hieronder oorsigtelik deurgegee.

4.2.1.4 Die aard van dialogiese kommunikasie binne die konteks van kommunikasie in KSV

Dialoog as ʼn beginsel van kommunikasie in KSV veronderstel dat kommunikasie horisontaal, eerder as vertikaal behoort te geskied, en tipies ʼn proses van tweerigtinginteraksie behoort te wees. Binne kommunikasie in KSV word geredeneer dat inligting en kennis tussen die betrokkenes gedeel moet word, en veronderstel dat hulle soveel wedersydse vertroue sal toon dat die onderskeie partye as gelykes in die ontwikkelingsproses kan deelneem. Hieruit word gesien dat alle betrokke partye, dus die maatskappy én die bevoordeeldes van KSV-inisiatiewe, as sender en ontvanger van inligting moet optree terwyl hulle voortdurend met mekaar in gesprek staan (sien McQuail, 1983:97; Servaes, 1996b:16; Jacobson & Kolluri, 1999:268).

Dialoog binne die konteks van kommunikasie in KSV veronderstel ʼn proses van gebalanseerde tweerigting, horisontale kommunikasie tussen maatskappye en bevoordeeldes. Dit is waar die maatskappy en die bevoordeeldes se sienings gelyke gewig dra, almal dieselfde geleenthede het om te kommunikeer en waar hierdie geleenthede tot interaksie ook benut word. Luister staan sentraal in hierdie proses, asook om mekaar se standpunte te respekteer, aangesien dit die kern van dialoog vorm (sien Servaes, 1995:45; 1996b:15, 24; Mefalopulos & Grenna, 2004:27; Gumucio-Dagron & Tufte, 2006:xiv; Servaes & Malikhao, 2008:169).

Binne kommunikasie in KSV veronderstel dialoog onder meer dat die maatskappy en bevoordeeldes saam oor die relevante ontwikkelingskwessies moet dink, die situasie analiseer, ontwikkelingsbehoeftes identifiseer en saam besluit hoe om die situasie te hanteer (sien Nair &

White, 1993:51; Servaes, 1995:46; 2008a:15; Huesca, 2002:502; Mefalopulos & Grenna, 2004:27; Gumucio-Dagron & Tufte, 2006:xix; Servaes & Malikhao, 2008:169).

Die belangrikste uitkoms van dialogiese kommunikasie word as gedeelde begrip beskou, nie slegs vir die ontwikkelingsituasie nie, maar ook vir mekaar as individue. Hoewel gespreksgenote nie gedeelde begrip kan vorm sonder om inligting, kennis, ervarings en persepsies met mekaar te deel nie, is dit tog noodsaaklik om hierdie gedeelde begrip as doelwit na te streef, eerder as bloot die oordra van inligting (Rahim, 1994:118; Servaes, 1995:46; 1996b:16; 2008a:15; Jacobson & Kolluri, 1999:268; Huesca, 2002:502; Mefalopulos & Grenna, 2004:27; Servaes & Malikhao, 2008:170; Tufte & Mefalopulos, 2009:13). Een van die eerste stappe om gedeelde begrip te skep, behels dat die bevoordeeldes en maatskappye hulle eie agendas, belangstellings en doelstellings kan identifiseer en erken, sodat hulle vanaf hierdie basis van ʼn gemene deler met mekaar kan saamwerk (sien Fugelsang & Chandler, 1986, soos aangehaal deur Jacobson & Kolluri, 1999:26).

Die onderstaande teoretiese stelling is uit die bespreking oor dialoog binne die konteks van kommunikasie in KSV geformuleer.

Teoretiese stelling 7:

Dialoog binne die konteks van kommunikasie in KSV

Dialoog tussen bevoordeeldes en maatskappye behoort gekenmerk te word deur ʼn voortdurende proses van gebalanseerde horisontale kommunikasie waarin die bevoordeeldes en die maatskappy as gelyke vennote beskou word en optree om gedeelde begrip te vorm binne hul bepaalde konteks.

ʼn Tweede uitgangspunt van die deelnemende benadering tot ontwikkelingskommunikasie wat by dialoog aansluit en vir kommunikasie in KSV relevant is, is die ideale gespreksituasie wat vervolgens ondersoek gaan word.