• No results found

Hoofstuk 3: Stedelike tuistes en bewegende stedelinge in Room 207 (2006) deur Kgebetl

3.2 Literêre tradisies

3.2.1 Room 207 en die “Jim comes to Joburg”-troop

Beide Room 207 en Werfsonde word deur sommige literatore gesien as ’n voortsetting van bepaalde literêre tradisies, terwyl ander weer die romans sien as die negering van daardie tradisies. In die geval van Room 207 voer sommige literatore aan dat die roman se verhaallyn ’n moderne weergawe is van die “Jim comes to Joburg”-troop, terwyl ander dit juis karakteriseer as ’n inskryf teen hierdie troop. Soos bespreek in hoofstuk 1 (sien bladsy 13) is dié troop te vinde in romans en rolprente uit die twintigste eeu wat handel oor ’n naïewe swart man wat, op soek na rykdom en kulturele kapitaal in die vorm van moderniteit, na die stad (gewoonlik Johannesburg) gaan en daar gekorrupteer word. Die ses hoofkarakters van Room 207 (D’nice, Malamo, Matome, Modishi, Noko en S’busiso, ook bekend as Zulu-boy) woon reeds vir elf jaar in Hillbrow (13), maar kom almal oorspronklik van die platteland en beskou hulle verblyf in die middestad as tydelik. Hulle het na die stad gekom om te

studeer, maar almal, behalwe D’nice, het uiteindelik hulle studies gestaak (17). Die redes waarom die hoofkarakters en al die ander mense in Hillbrow (volgens die verteller) na Johannesburg gekom het, is dieselfde as in die klassieke troop: “Respect and worship are the ultimate goals; everybody here is running away from poverty.” (19).

Matome verwys nooit na sy verlede nie en hy lewe asof hy dit heeltemal getransendeer het: “It was like he gave birth to himself” (26). Sy landelike verlede word egter openbaar wanneer die roman se verteller, Noko, saam met hom gaan na sy ma se begrafnis in Bolobedu (29). D’nice se spesifieke oorsprong word nie genoem nie, maar daar word gesê dat sy familie arm is, dat hy vier sibbe het en na ’n landelike hoërskool gegaan het (34-35). Soos reeds genoem, is D’nice die enigste van die ses hoofkarakters wat ’n graad het. Hy het goeie posisies by groot maatskappye losgeslaan, maar het dit opgegee om sy drome in die musiekbedryf na te jaag (39).

Malamo het ook ’n goeie werk as ’n trokbestuurder gehad, maar sy paranoïese vrees dat die ander bestuurders hom wil doodmaak het veroorsaak dat hy bedank het (40-41). Die spesifieke area waar hy vandaan kom, word ook nie genoem nie; daar word wel gesê dat hy in armoede grootgeword het op ’n plaas (45-46). Modishi kom ook van ’n plaas af, maar is nie arm nie. Sy familie besit etlike hektaar grond wat hulle laat vergaan ter wille daarvan om rykdom en opwinding in die stad na te streef (49). Zulu-boy word beskryf as die enigste ware inwoner van Hillbrow (64). Tog kom hy van landelike Zoeloeland (210) en het hy na die stad gekom om klankingeneurswese by ’n technikon te studeer (64). Noko se verlede word ook nie in besonderhede beskryf nie. Teen die einde van die roman verlaat hy Johannesburg en gaan terug na sy tuiste waar daar nie veel te doen is nie (233). Die karakters leef dus elkeen ’n variasie van dieselfde “sad black story” (189) (een van vele wat in die teks beskryf word).

Is hierdie storie dus dieselfde “Jim comes to Joburg”-verhaal wat generasies van fiktiewe (en werklike) swart mans beleef het? Soos O’Shaughnessy (2008c:78) beweer, is die karakters van

Room 207 se grootstaddrome dieselfde as dié van Jim: die stad as “a gateway to material success,

self-empowerment, access to a capitalist, modern urban lifestyle, and generally a release from the shackles of the past.” Die Johannesburg wat hulle betree, is egter anders as dié van die verlede: apartheid is verby en teoreties gesproke is die hulpbronne van die stad nou beskikbaar vir die swart jeug. Die verlede is egter nog steeds teenwoordig in die stad: “the inner city bears the traces and continuations of the past inequalities and inconsistencies in such a way that [...] dreams and aspirations are often limited by the harsh reality of this urban environment” (O’Shaughnessy, 2008c:78).

O’Shaughnessy impliseer dus dat die karakters (veral weens die invloed van die verlede op die hede) nie die interne logika van die “Jim comes to Joburg”-verhaallyn kan ontsnap nie. Tog kan daar beweer word dat die karakters se verhaallyne nie almal op dieselfde negatiewe manier eindig nie. Matome is die eerste een wat kamer 207 verlaat (187). Hy koop ’n huis in Victory Park (198) en trou met Molamo se voormalige meisie, die dokter Basedi (200). Sy verhaal het ’n gelukkige einde aangesien hy sy doel bereik het en Hillbrow verlaat – alhoewel hy soms sê dat dit ’n ruimte is wat hy sowel liefhet as haat (189).

D’nice verlaat kamer 207 wanneer hy besluit om sy voormalige werk terug te neem en in te trek by sy swanger meisie, Lebogang (202-203). Sy einde is egter minder gelukkig as dié van Matome: Noko lig ons in dat D’nice al hoe meer begin drink en gewelddadig raak (203) en dat hy en Lebogang nie eers meer na mekaar kan kyk nie (204). Ook Modishi raak gewelddadig en begin om sy meisie, Lerato, te slaan (206), nadat hy intrek in haar woonstel in Illovo en, uiteindelik, ’n huis in Midrand (207). Wanneer Noko hulle daar besoek, dink hy dat hulle lewe goed lyk, maar dat onheil besig is om te broei in die paradys (208-209).

Ook Molamo eindig in die voorstede, wanneer hy die moeder van sy kind, Tebogo, in Khayalami besoek en sy hom met ’n geweer dreig indien hy haar sou verlaat (217). Ten spyte hiervan is sy einde oënskynlik relatief gelukkig: hy voel vir die eerste keer in sy lewe uitgerus (219), terwyl Noko sê dat alhoewel Molamo nie nou gelukkig is nie, hy sal leer hoe om gelukkig te wees (226). Zulu-boy bly tot aan die einde lief vir Hillbrow, en droom nie soos die res daarvan om dit te verlaat nie (210). Hy raak egter verlief op ’n prostituut en sterf uiteindelik weens VIGS-verwante komplikasies (212). O’Shaughnessy (2012:151) sien die feit dat Zulu-boy na sy landelike oorsprong terugkeer om begrawe te word, as ’n kritiek op die narratief waarvolgens die post-apartheid stad ’n plek van gemeenskap en hernuwing is. Sy sien dit as ’n teken dat die bande wat gesmee word in die middestad slegs tydelik is. Zulu-boy bly egter tot aan die einde lief vir Hillbrow, op ’n meer ondubbelsinnige manier as enige van die ander karakters (210).

Noko se einde is die naaste aan die tradisionele “Jim comes to Joburg”-troop: nadat al die ander uitgetrek het, probeer hy nog vir ’n ruk om in die stad te bly, maar hy gaan uiteindelik terug na sy landelike tuiste (233). Hy voel soos ’n mislukking omdat hy nie dit wat hy wou hê in die stad gekry het nie: nie ’n graad nie (232) en ook nie rykdom nie – hy verlaat die stad op dieselfde manier as wat hy gekom het, naamlik in ’n taxi (233). Terwyl hy vir die taxi wag, huil hy en dink oor sy tyd in die stad:

I’m reliving fourteen years of hard nothing and always ending up in the future, a future that I have to face, a future which, every time I think about it, turns pitch-black so that I can’t see anything, even my big nose. (235)

Hierdie paragraaf weerspreek Rafapa (2013) se argument dat Room 207 ’n “Jim comes to Joburg”- narratief van die ou soort (soos Cry the beloved country) is, waarin die landelike verheerlik word op ’n manier soortgelyk as in die tradisionele plaasroman. Rafapa (2013:446) projekteer klaarblyklik sy eie ideologiese opvattings op die roman wanneer hy beweer dat die stad daarin uitgebeeld word as ’n verteenwoordiging van “the repugnant, West-led culture and economic outlook” en dat die roman gelees kan word as ’n argument dat swart mense na die landelike moet terugkeer.

Rafapa (2014:69) karakteriseer die hoofkarakters van die roman as morele mense wat die “aberrant behaviour” van Hillbrow afsweer danksy die “anchor of their collective Africanist sensibility” en ignoreer so die kompleksiteit van die karakterisering. Daar is geen tekens in die roman dat al die karakters as nastrewenswaardig gesien moet word nie. Behalwe vir eienskappe van hulle gedrag wat Rafapa sekerlik as Westers sou sien (byvoorbeeld hulle oorvloedige drankmisbruik, kapitalisme en rassisme)94 is daar ook die feit dat die karakters nie met mekaar saamstem nie en dat hulle, wanneer hulle kwessies soos swart bewussyn bespreek, nie tot ’n eenstemmige gevolgtrekking kan kom nie (88).

In teenstelling met die negatiewe uitbeeldings van die stad in die meeste “Jim comes to Joburg”- tekste, word Johannesburg in Room 207 ook nie as bloot negatief uitgebeeld nie. Die volgende aanhaling kan gelees word as ’n direkte reaksie op die tradisionele “Jim comes to Joburg”-troop:

The first time I came here, like so many of us I had heard stories about Hillbrow being the capital of sin. [...] But I came to understand the city ways, love them even, and Hillbrow isn’t a capital of sin, it’s just a residential area, where people are living and trying to make a living. (65)

Hierdie uitspraak kan gekontrasteer word met die manier waarop die stad verteenwoordigend is vir alles wat Westers, individualisties en kapitalisties is in ’n tradisionele “Jim comes to Joburg”- roman, soos Peter Abrahams se Mine boy (1946). In die volgende aanhaling, byvoorbeeld,

94 Terloops, O’Shaughnessy (2012:137) noem dat Room 207 ook van die “Jim comes to Joburg”-troop afwyk deurdat die hoofkarakters van die roman nie naïef of ongekorrupteer is nie. Sien ook Jansen (2012:127) se bewering dat Noko (sy noem hom vir een of ander rede “Jupiter”) verskil van die Jims in romans deur Peter Abrahams, Alan Paton en F.A. Venter omdat hy gesofistikeerd en welsprekend is.

verduidelik Leah, ’n sjebeeneienaar, vir die roman se “Jim”, Xuma, hoekom sy nie vir die ander sjebeeneienaars waarsku wanneer die polisie kom nie:

‘In the city it is like this: all the time you are fighting. Fighting. Fighting! When you are asleep and when you are awake. And you look only after yourself. If you do not you are finished. If you are soft everyone will spit in your face. They will rob you and cheat you and betray you. So, to live here, you must be hard. Hard as stone. And money is your best friend. [...] Where you come from it isn’t so. But here it is so.’ (Abrahams, 1989:50)

Alhoewel die hoofkarakters van Room 207 se gedrag soms van ’n soortgelyke houding getuig, is die roman meer dubbelsinnig en is daar, soos reeds genoem, geen verheerliking van ’n “suiwerder” landelike area nie. Al vertoon die roman, soos O’Shaughnessy (2012:146-147) beweer, eienskappe van die klassieke “Jim comes to Joburg-troop” en kan daar geargumenteer word dat dit toon dat die hedendaagse swart inwoners van Johannesburg nog teen dieselfde struikelblokke te staan kom as hulle voorgangers, is dit uiteindelik dubbelsinnig en gee dit geen finale didaktiese boodskap oor die stad nie. Die uitbeelding van Johannesburg is net so kompleks en onvoorspelbaar soos wat die werklike stad is. Soos Raditlhalo (2007:13) sê oor Room 207: “Die stad en Hillbrow as metafoor rol voort, onbewus van onvervulde, verydelde drome. Gewis, Johannesburg verorber én bemoontlik dié drome.” Die rol van “drome” in die roman word verder bespreek in afdeling 3.3.1 Performatiewe “hustling” in Room 207.