• No results found

Hoofstuk 5: Stedelike utopieë, heterotopieë en versteekte ruimtes in Nineveh (2011) deur

5.2 Utopieë en distopieë

5.2.3 Mikro-utopieë

5.2.3.1 Behuisingskomplekse

Die vierde hoofstuk van Nineveh het die titel “At the gates” (2011:51). Dit suggereer dat Katya op die grens staan van ’n nuwe ruimte en skep só spanning, maar beklemtoon ook hoe belangrik hekke en grense is in die funksionering van die behuisingskompleks Nineveh. Die model van Nineveh wat Katya in Meneer Brand se kantoor sien, is reeds omring deur mure (38) – dit is duidelik ’n belangrike deel van die (beplanning van die) kompleks self. Die mure wat Nineveh omring is hoog en wit, met elektriese draad bo-op (51). Die elektriese draad impliseer dat die muur daar is ter wille van sekuriteit en dat die doel daarvan is om misdadigers uit te hou. Soos by die meeste Suid- Afrikaanse behuisingskomplekse word die hek ook bewaak deur ’n sekuriteitswag. Hy sit in ’n klein struktuur langs die hek en moet seker maak dat almal wat by die kompleks inkom al hulle besonderhede gee (54). Binne-in elke kamer in die eenhede in die kompleks is daar ook “panic button[s]” wat sekuriteitswagte ontbied (67).

“Sekuriteit” is die grootste trekpleister van die meeste Suid-Afrikaanse behuisingskomplekse. Op internasionale vlak het die populariteit van veilige behuisingskomplekse volgens Jacobsen (2012:79) te make met die individualisme van die neoliberale politiek. Volgens hom probeer politieke rolspelers nie meer om die samelewing te verbeter nie. Elke mens probeer net hom of haarself en sy of haar eie familie beskerm en koop ’n plek in hulle gekose utopie om dit te doen. In Suid-Afrika is hierdie tendens nog meer prominent as in baie ander plekke, as gevolg van die land se hoë misdaadsyfers. Daar word beweer dat dit verband hou met die toename in misdaad teen wit mense na die einde van apartheid – tydens apartheid is wit mense beskerm deur die staat, maar na die afloop van apartheid koop hulle hulle eie beskerming by private sekuriteitsmaatskappye (Bremner, 1998:53, Hook en Vrdoljak, 2002:197, Lemanski, 2006:397, Landman en Badenhorst, 2014:217-218 en Manià, 2014:55).

Die uitgebreide sekuriteitsisteme kan egter juis diewe lok omdat dit dui op rykdom – rykdom wat gesteel of uitgebuit kan word (Simone, 1998:177). Dit is ook die geval in Nineveh, waar Katya se

pa, Len, die geleentheid vir diefstal en uitbuiting sien (160) en die uitsmokkel en verkoop van die kompleks se meubels en toebehore fasiliteer (164).

Blakely en Snyder (aangehaal in Hook en Vrdoljak, 2002:196) onderskei tussen drie soorte behuisingskomplekse wat algemeen voorkom in die VSA: leefstyl-, aansien- en sekuriteitsgemeenskappe. Hook en Vrdoljak (2002:196) beweer dat hierdie drie tipes dikwels gekombineer word in Suid-Afrika. Só word Nineveh nie net bemark as ʼn sekuriteitskompleks nie, maar belowe dit ook ’n sekere leefstyl en verteenwoordig dit ’n statussimbool:

The cover [of the brochure advertising Nineveh] shows an artist’s depiction of a gleaming ivory building, tiered, lapped at its base by an impressionistic greensward. The sky in the picture is rapturous, the clouds artistic dabs. There’s a line of darker blue in the distance: the sea? Nineveh welcomes you, it says in embellished cursive. (47)

Behuisingskomplekse kan dus beskryf word as gekommersialiseerde mikro-utopieë omdat dit bemark word as die ideale ruimtes om in te woon, maar ook omdat dit gekontrasteer word met die res van die samelewings waarin dit gesitueer is. Dainfern, ’n groot behuisingskompleks in Johannesburg, word byvoorbeeld bemark as ’n utopie waar inwoners al die dienste kan kry wat die staat, by implikasie, nie in voldoende mate verskaf nie (Hook en Vrdoljak, 2002:202). Reinhart (2014:132) verwys na Eko Atlantic in Lagos, Tatu City in Nairobi, La Cité du Fleuve in Kinshasa, Kilamba naby Luanda en die beplande Wescape in Kaapstad as voorbeelde van behuisingskomplekse wat bemark word as utopiese ruimtes binne die “distopiese” stede waarin hulle geleë is. Zygmunt Bauman (2007:100) beweer dat behuisingskomplekse voorbeelde is van jagtersutopieë. Waar hy die klassieke utopieë van modernisme beskryf as tuiniersutopieë wat poog om orde te bring in die samelewing, is jagtersutopieë eie aan die vloeibare (“liquid”) modernisme waarin ons ons (volgens hom) tans bevind. Die “jagter” is die verbruiker wat nie gemoeid is met orde en die samelewing as geheel nie. Hy of sy jaag net sy of haar eie, individuele utopie na (Bauman, 2007:100).

Die mure rondom behuisingskomplekse het dus nie net sekuriteit ten doel nie. ʼn Verdere funksie van die mure is om te verhinder dat die inwoners gekonfronteer word met die distopiese aspekte van die wêreld buite die mure (Bremner, 1998:60). Soos Reinhart (2014:136) beweer, verskerp behuisingskomplekse finansiële ongelykheid deur ’n duidelike grens te trek tussen inwoners en buitestaanders, maar maak hulle ook die ongelykheid onsigbaar sodat inwoners nie daardeur gekwel word nie. Die hekke hou nie net misdadigers buite nie, maar stuur ’n boodskap dat almal behalwe inwoners onwelkom is.

Nineveh se hekke is groot en ornamenteel: “ornate, elaborately shaped and tiled. A grinning lion paces either side, done in hard-wearing ceramic. Some kind of Mesopotamian fantasy, it seems” (52). Katya merk op dat alhoewel die leeus “hokum” is, die slot wat die hekke toehou werklik is (52). Die ontwerp van die hekke pas by die argitektuur van die res van die behuisingskompleks en dien as aanduiding dat die beplanners daarvan nie die (natuurlike of sosiale) ruimte waarin die kompleks geleë is in ag geneem het nie. Achille Mbembe (2004:375) beskryf hierdie tipe argitektuur as ‘oortollig’ (“superfluous”). Hy bespreek, in psigoanalitiese terme, die skouspelagtige Toskaanse argitektuur van Melrose Arch en Montecasino in Johannesburg as die simptome van onderdrukking en fantasie. Hierdie ruimtes is verwyder van die stad wat dit omring, van verandering en van die hede (Manià, 2014:62). ‘Oortollige’ argitektuur troos verbruikers omdat dit die illusie skep dat die vinnige (angswekkende) veranderinge in die res van die stad en die land ontsnap en geïgnoreer kan word. Rose-Innes (in ’n onderhoud met Isaacson, 2011:16) beskryf hierdie illusie as ’n nostalgiese fantasie.

Soos bespreek deur Bremner (1998:62) werk die “Victorian, Tudor, Mediterranean, Medieval, Modern” argitektuur van behuisingskomplekse op ’n soortgelyke manier. Dit omskep die behuisingskomplekse in luukse temaparke waar inwoners die angswekkende aspekte van die omringende stad (teen ’n prys) kan ontsnap (Hook en Vrdoljak, 2002:202). Alhoewel die assosiasie van behuisingskomplekse met die “ephemeral politics of capitalist contentment” (Amin en Thrift, 2004:232) ’n internasionale verskynsel is, neem dit ’n spesifieke vorm in Suid-Afrika aan. Eksklusiewe behuisingskomplekse laat naamlik (hoofsaaklik wit) middel- en hoër klas mense toe om in afgesonderde areas te woon waardeur die skeidings van apartheid voortgesit word (Hood en Vrdoljak, 2002:206 en Lemanski, 2006:400). Soos Jeremy Cronin (2006:47) dit stel: “There is the liberal smugness of [Cape Town’s] leafy suburbs, secure in the knowledge that the property market will continue to regulate what apartheid administratively held asunder.”

Nineveh het nog nie enige inwoners nie, so daar kan nie met absolute sekerheid gestel word dat die meeste inwoners wit sou wees nie. Elzette Steenkamp (2012) beweer egter dat Nineveh simbolies is vir die “ekonomiese apartheid wat steeds in Suid-Afrika heers”. Dit is inderdaad so dat die kompleks se sekuriteitswagte en die inwoners van die informele nedersetting daar naby almal swart of bruin is.

’n Utopiese kompleks soos Nineveh is nie distopies vir die inwoners daarvan nie. Hulle kies om hulle privaatheid op te gee (en heeltyd waargeneem te word) ter wille van sekuriteit en die leefstyl wat belowe word (Hook en Vrdoljak, 2002:199). Die behuisingskomplekse kan egter as distopies

ervaar word deur mense wat deur die kompleks onderdruk of uitgedryf word (Reinhart, 2014:139), soos wat bespreek word in afdeling 5.3.

Dit is nie net mense wat uitgesluit word deur Nineveh se grense nie. Soos wat die sekuriteitswagte die mense wat by die kompleks inkom moet polisieer, is Katya aangestel om die natuur wat binne Nineveh toegelaat word, te polisieer. Sy moet veral ’n bepaalde “gogga” uithou. Die gogga byt, “[e]ats the curtains, poos on the rugs” (40). Dit ondermyn dus die luukse, skoon en gerieflike huishoudelikheid wat die bemarkers van Nineveh in hulle advertensies belowe (47).

Die beeld wat die bemarkers van behuisingskomplekse probeer skep, is nie net van “oortollige” argitektuur wat buite tyd en ruimte staan nie. Dit speel dikwels ook in op nostalgie vir ’n landelike of kleindorpse verlede (Hook en Vrdoljak, 2002:201-202 en Raynsford, 2004:170). Soos Lefebvre (1996:84) beweer, probeer bemarkers om verbruikers te oorreed dat hulle hulle alledaagse lewe kan omskep in ’n sprokie. Hy verwys nie noodwendig na die bemarking van eiendomme nie, maar dit is duidelik dat Disney se Celebration138 (om ’n ekstreme voorbeeld te noem) ’n stedeling se fantasie van ’n landelike lewe verteenwoordig (Raynsford, 2004:170). Anders as in die platteland word net sekere vorms van getemde natuur in hierdie komplekse toegelaat, alle ongewenste natuur word geabjekteer.

Soos wat die mure van die kompleks die inwoners toelaat om nie ongewenste mense of gebeure waar te neem nie, laat dit hulle ook toe om omgewingsrampe te ignoreer. Rob Nixon (2011:20) stel dit as volg:

138 Celebration is ’n woonbuurt in Florida in die VSA wat in 1996 deur die Disney-maatskappy gebou is. Dit is ontwerp om soos ’n klein Amerikaanse dorp van ’n honderd jaar gelede te lyk. Frantz en Collins (1999) beskryf dit soos volg: “The street patterns and architecture alluded to another era. Unlike houses separated by the broad lawns of a typical suburb, homes were grouped close together and set close to the street, the way they were built a century ago in places like Savannah and Charleston. The architectural guidelines created a distinct sense of consistency that, to our eyes at least, was pleasing. The one- and two-story houses were variations on a limited number of designs, so they seemed to fit together like pieces of an architect's puzzle. Garages were tucked discreetly behind the houses along alleys that ran parallel to every street. Lawns were clipped, and there was no sign of litter anywhere. The streets themselves were laid out on a modified grid plan, attesting in that singularly American way to order, virtue, and rectitude.”

Neoliberalism’s proliferating walls concretize a short-term psychology of denial: the delusion that we can survive long term in a world whose resources are increasingly unshared. The wall, read in terms of neoliberalism and environmental slow violence,139

materializes temporal as well as spatial denial through a literal concretizing of out of sight out of mind.

In die geval van Nineveh is hierdie poging tot uitsluiting en ontkenning onsuksesvol, soos verder bespreek word in afdeling 5.3.2. Vervolgens word die stadsplaas in Vlakwater eers bespreek as ’n ander soort hedendaagse mikro-utopie, naamlik ’n kommune.