• No results found

Inleiding: teks teenoor konteks-gebaseerde literatuurbenaderings

Hoofstuk 2: ’n Geokrities-vergelykende benadering tot die analise van die literêre uitbeelding

2.3 Die verhouding tussen literatuur en ruimte

2.3.1 Inleiding: teks teenoor konteks-gebaseerde literatuurbenaderings

In afdeling 2.4 sal ek verder uitwei oor die moontlikheid van die vergelykende bestudering van literêre tekste waarin dieselfde ruimte uitgebeeld word. In hierdie afdeling word daar eers aandag geskenk aan probleme rondom die bestudering van die literêre uitbeelding van ruimte in die algemeen. As daar gekyk word na die studies wat in hoofstuk 1 bespreek is, is dit reeds duidelik dat literatore uiteenlopende aannames het oor hoe die uitbeelding van ruimte geanaliseer moet word, en wat die implikasies daarvan is.

Uit daardie studies kan daar tot die gevolgtrekking gekom word dat Afrikaanstalige literatore wat die uitbeelding van stede ondersoek meer op die tekstuele eienskappe van literatuur fokus as Engelstalige literatore. Die meeste Afrikaanstalige literatore wat bespreek is, ondersoek die maniere waarop ’n stad uitgebeeld word en hoe dit intertekstueel verband hou met ander uitbeeldings van die stad en plaas dit binne ʼn bepaalde literêre tradisie, hoofsaaklik dié van die plaasroman. Die Engelstalige literatore wat in hoofstuk 1 bespreek is, maak in die algemeen meer gebruik van nie- literêre teorieë en fokus meer op buite-tekstuele elemente.

Soos Felski (2011:576) noem, is dié teenstrydige benaderings teenwoordig in die bestudering van literatuur in die algemeen: sommige denkers argumenteer vir die sogenaamde outonomiteit van die kunswerk terwyl ander fokus op die konteks waarin die kunswerk geskep is. Vir laasgenoemde denkers, byvoorbeeld Marxiste, Nuwe Historici, Queer teoretici en feministe (Felski, 2011:573) is die grens tussen “literary theory” en die ander geesteswetenskappe vaag, en hulle pas teorieë uit ander dissiplines op literatuur toe (Eagleton, 2006:vii). Hierdie benadering is dominant in die Engelstalige diskoers oor die uitbeelding van die stad. Alhoewel hierdie uitspraak slegs geld vir die studies wat in hoofstuk 1 bespreek is (soos vervolgens bespreek sal word, is daar wel ook Engelstalige literatuurstudies waarin daar aandag gegee word aan die teks as estetiese literêre objek), beweer De Kock (2009:27) dat hierdie tendens teenwoordig is in die Engelstalige bestudering van die literatuur in die algemeen. Volgens hom word daar toenemend gefokus op teorie, eerder as op die stiplees van literêre tekste.

Daarteenoor sluit die Afrikaanstalige diskoers oor die uitbeelding van die stad (soos bespreek in hoofstuk 1), hoofsaaklik eerder aan by ʼn teksgesentreerde bestudering van literatuur, wat Culler (2011:1) beskryf as “the systematic account of the nature of literature and the methods for analysing it [;] systematic reflection on the nature of literature or debate about the distinctive qualities of literary language”. Voorbeelde van literêre strominge wat hierdie benadering volg is die Russiese Formalisme, “New Criticism”, Gadamer se hermeneutiese filosofie en sommige vorme van strukturalisme en dekonstruksie (Felski, 2011:573-574).

Beide benaderings kan gekritiseer word. Teksgebaseerde benaderings word byvoorbeeld gekritiseer omdat hulle te apolities is en nie oop is vir insigte en teorieë uit ander dissiplines nie, terwyl benaderings wat meer op die konteks fokus, soms veroorsaak dat teorieë op ’n literêre teks afgedwing word en daar nie genoeg aandag geskenk word aan die estetiese nuanses van die teks nie (Kavanagh, 1989:8; Culler, 2011:47 en 130 en Burger, 2015).

Beide Quayson (2003:xxviii) en Felski (2011:581) probeer ’n oplossing vind vir die teenstrydige teks- en konteksgebaseerde literatuurbenaderings. Albei se argumente kan breedweg beskryf word as kompleksiteitsteorieë. Felski maak gebruik van Latour se akteur-netwerk-teorie om te argumenteer dat alle voorwerpe tot stand kom en betekenisvol is binne netwerke. Quayson (2003:xx) kritiseer essensialistiese teorieë (waarvolgens daar iets, ’n “kernel”, binne elke ding is

wat daaraan betekenis gee en dit maak wat dit is)76 en voer ook aan dat alles betekenis verkry binne

netwerke. Literêre werke en buite-tekstuele sosiale verskynsels word gevorm deur die “contradictory intermeshing of various vectors” (Quayson, 2003:xx). Hiervolgens is die kunswerk nie ’n outonome voorwerp wat los kan staan van sy plek in ’n netwerk nie.

Tog kan Quayson se teorie nie beskou word as ’n voorbeeld van ’n ekstreme konteksgebaseerde benadering nie. Sy teorie is nie net nie essensialisties nie, dit is ook nie deterministies nie. Hy argumenteer naamlik dat die teks nie gedetermineer word deur die konteks of ander netwerke waarin dit gesitueer is nie. Volgens Quayson (2003:xxix) is konteks iets wat geskep word tydens die leesproses. Die werklikheid is dubbelsinnig en heterogeen en elke literator wat besluit om ’n teks binne ’n “konteks” te lees fokus op spesifieke aspekte wat hy of sy as belangrik ag. Quayson se teorie leun egter meer in die rigting van ’n konteksgebaseerde literatuurbenadering as ’n teksgebaseerde een. Hy (2003:xvi) beweer immers:

the crucial index for evaluating any particular configuration of ideas is whether it provides ways of getting out of confusing habits of thought and whether it illuminates new ways of experiencing existence, whether this involves literary criticism, social analysis, and activism or the quotidian round of human relationships.

Hy stel dus sekere eise aan die bestudering van letterkunde en hy redeneer dat daar aan hierdie eise voldoen kan word deur literatuur in verband te bring met wat hy “die sosiale” noem. Met betrekking tot bogenoemde problematiek rondom die identifisering van die “konteks” van ’n kunswerk, beweer Quayson (2003:xxxi) dat enigiets met enigiets anders in gesprek kan tree: “My view is that any phenomenon, literary or otherwise and no matter how apparently innocent or irrelevant, can be made to speak to a wide ensemble of processes, relations, and contradictions.” Die teoretikus moet in gedagte hou dat daar nie iets soos ’n “korrekte konteks” is nie – sy of haar doel is om uiteenlopende fenomene bymekaar uit te bring en te kyk of dit tot vrugbare nuwe denke kan lei. Binne die konteks van die vergelykende letterkunde noem Lanser (2015) so ’n benadering “large reading”: “a middleground practice that searches for cross-textual patterns in works that can productively be read together, whether those works cross time and place or huddle within a specific chronotope.” Flockemann (2010:22) voer ook aan dat spesifiek post-oorgangs Suid-Afrikaanse literatuur toenemend gemoeid is met:

76 Sien Deutsch (2007) vir ’n analitiese bespreking van, en kritiek op, essensialisme en Heyes (2012) vir die rol van essensialisme in identiteitspolitiek.

the hitching and stitching together of differences and sameness, in the process of unravelling familiar binaries, and discovering entanglements, emerging cosmopolitanisms, productive transnational encounters and the intimacies of human foldedness and complicities, as well as the complexities of attempts to accommodate the stranger, and the strange.

Verder beskryf sy die literatuur deur jong swart stedelinge (sy bespreek veral Dog eat dog) as hibridies en intertekstueel (Flockemann, 2010:23) en gefokus op die verhoudings tussen spesifieke plaaslike ruimtes en globale netwerke (2010:29). Sy voer dus aan dat hierdie literatuur gelees moet word deur middel van “a reading practice that is relational, extended across geography and time in order to establish conversations between texts that do not necessarily speak to each other – might even be unaware of one another”77 (2010:29-30). Willie Burger (2015) voer aan dat ook spesifiek Afrikaanstalige literatuur nie in isolasie gelees kan word nie: nie net is elke Afrikaanse literêre werk ingebed in Suid-Afrikaanse en internasionale netwerke nie, maar hierdie globale relasionaliteit is ook ’n prominente tema van die Afrikaanstalige tekste wat in die laaste twintig jaar gepubliseer is. Burger skryf die prominensie van hierdie tema toe aan, onder andere, globalisering, die internet, die invloed van die poststrukturalisme en die verruiming van Afrikanerkultuur ná 1994.

Soos reeds genoem, voer Felski (2011:581) aan dat ’n sintese van die teenstrydige teks- en konteksgebaseerde literatuurbenaderings gevind kan word in die akteur-netwerk-teorie. Hiervolgens is alle voorwerpe ewe belangrike akteurs in betekenisnetwerke. Felski (2011:583-584) argumenteer dus dat literêre werke ook akteurs is wat betekenisskeppende netwerke met lesers vorm en wat gesitueer is in tekstuele netwerke deur middel van metafore, intertekstuele verwysings en ideologiese aannames of kritiek (Felski, 2015:12). In hierdie konseptualisering is die literêre teks nie iets wat net bepaal word deur die sisteme (konteks) waarin dit ontstaan nie. Dit is egter ook nie ’n losstaande, transendentale estetiese objek nie, en Felski (2015:12) beweer dat alle literatuur dus in sigself vergelykend is78 en nie apart van ander tekste of die materiële werklikheid gelees kan word nie.

Hubbard (2006:161) haal vir Davies aan om te argumenteer dat denkers wat werk met akteur- netwerk-teorie versigtig moet wees om nie die verskillende agente heeltemal aan mekaar gelyk te stel nie. Al speel mense en diere, byvoorbeeld, albei betekenisvolle rolle binne netwerke, beteken

77 Sien ook Davis (2013b:802) se argument, met verwysing na Nuttall (2009) se term “entanglement”, dat post-oorgang Suid-Afrikaanse fiksie geanaliseer moet word op maniere wat “flexible, comparative [and] critical” is.

dit nie dat hulle heeltemal dieselfde is nie. Teoretici moet, volgens hom, ook aandag gee aan die verskille tussen agente. Wat letterkunde betref, beteken dit dat daar, soos wat Felski aanvoer, aandag gegee moet word aan die estetiese eienskappe van tekste, dít wat hulle ’n ander soort agent maak as byvoorbeeld die skrywer of leser. Myns insiens is dit ’n belangrike toevoeging tot Quayson se argument: Ek stem saam dat enigiets vergelyk kan word, mits so ’n breë vergelyking nie beteken dat die spesifiek literêre eienskappe van tekste afgeskeep word nie. Hierdie kwessie word verder bespreek op bladsy 56, met betrekking tot die nuwe materialisme se hantering van dualismes en Helgesson se onderskeid tussen twee verskillende netwerke waarbinne tekste gesitueer is: diskoersnetwerke en literêre velde. Eers word die verskillende maniere waarop die studies genoem in hoofstuk 1 die uitbeelding van ruimte konseptualiseer, bespreek.