• No results found

Hoofstuk 2: ’n Geokrities-vergelykende benadering tot die analise van die literêre uitbeelding

2.4 Geokritiek

Uit die bogenoemde bespreking behoort dit duidelik te wees dat my projek ’n vergelykende benadering vereis wat:

(i) nie-essensialisties en nie-dualisties is, maar die betekenisgenerernde waarde van dualistiese konsepte in ag neem;

(ii) ten einde (i) te bewerkstellig, die literêre uitbeelding van stede konseptualiseer as iets wat verrys (“emerge” in fenomenologiese terme) uit die meervoudige kruispunte in verskeie komplekse netwerke;

(iii) veronderstel dat die kompleksiteit en onbepaalbaarheid van hierdie netwerke nie beteken dat dit nie bestudeer kan word nie; net dat patrone in die netwerk nie as universeel veronderstel moet word of as ewig beskou moet word nie (bewegings in netwerke vind naamlik ook plaas binne tyd en verander voortdurend).

Die bestudering van hierdie netwerke moet verder, na aanleiding van Helgesson se werk, aandag gee aan spesifieke literêre stedelike uitbeeldings se posisie in beide diskoersnetwerke en literêre velde. Veral wat laasgenoemde betref, moet daar, na aanleiding van Moslund, nie net aandag gegee word aan breër patrone in netwerke nie, maar ook aan die verhouding tussen stedelike ruimtes en die liggaamlike en sensoriese aspekte van literatuur, sowel as die estetiese eienskappe van taal en narratiewe struktuur.

Só ʼn benadering kan moontlik gevind word in Bertrand Westphal se sogenaamde “geokritiek”, en veral ook in Westphal se Engelse vertaler, Robert Tally (2013b:113), se interpretasie van geokritiek as ’n kombinasie van literêre teorie en polities-bewuste kritiese toeretiese besinnings oor ruimte. Anders as die meeste benaderings tot die bestudering van die literêre uitbeelding van ruimte (Westphal noem “imagology”, ekokritiek en Kenneth White se “geopoetics”, maar myns insiens kan daar verwys word na die maniere waarop die meeste literatuurbenaderings ruimte hanteer), kan geokritiek beskryf word as geosentries (Westphal, 2011b:112). Ruimte is, met ander woorde, die sentrale fokus van die studie. Die meeste vergelykende literatuurbenaderings vergelyk tekste op grond van outeur, karakter, gebeure, tyd, temas of publikasieomstandighede (onder andere). Daarteenoor fokus geokritiek op verskillende (fiksie en/of nie-fiksie) tekste wat handel oor dieselfde ruimte. Westphal (2011b:119) noem dat dit nie net gaan oor verskillende uitbeeldings van dieselfde spesifieke ruimte nie, maar dat ʼn geokritiese studie oor verskillende uitbeeldings van dieselfde tipe ruimte (byvoorbeeld woestyne) ook gedoen kan word.

Westphal (2011b:114) voer aan dat die literator op hierdie, objektiewe, wyse toegang kan kry tot die essensiële identiteit van die ruimte waarna verwys word. Soos reeds genoem, is ’n essensialistiese siening van ruimte problematies (sien Quayson se kritiek op essensialisme, soos genoem op bladsy 47). Ek wil dus eerder aansluit by Tally (2011:xi) se argument dat die verhouding tussen fiksie en werklikheid te kompleks is om die betekende ruimte ooit finaal vas te pen. Hiervolgens kan die geokritiese benadering ons toelaat om ʼn “vision (an ever-shifting image) of the ‘“real-and-imagined’ place, as Soja87 has dubbed it” te vorm, maar die projek van geokritiek kan nooit voltooi word nie, omdat ʼn finale en “akkurate” beeld van ʼn spesifieke ruimte nooit gevind kan word nie. Hierdie weergawe van geokritiek sluit dus aan by die reeds genoemde siening dat ʼn stad nooit finaal geken kan word nie (sien Nicol [2001:9] en Watson [2006:3] se uitsprake oor Kaapstad).

Westphal weerspreek homself soms: ten spyte daarvan dat hy verwys na die essensiële identiteit van ʼn ruimte, beweer hy ook dat geokritiek gebaseer is op die beginsel dat representasie vloeibaar is; onder meer omdat ruimte en tyd verstrengel is en ruimte voortdurend verander (Westphal, 2011a:xv). Hy beklemtoon egter dat daar altyd ʼn verhouding is tussen representasie en werklikheid. Hierdie verhouding wissel van naby (in genres soos realisme en naturalisme) tot ver (in barokke kuns) (Westphal, 2011b:85). Dit is egter uiteindelik onbepaalbaar, en, omdat dit in tyd gesitueerd is, veranderlik (Wespthal, 2011b:145).

Westphal (2011b:5) kritiseer teorieë waarin daar ʼn streng onderskeid is tussen objektiewe plek en subjektiewe ruimte. Hy vind klaarblyklik ʼn sintese in die konsep “menslike ruimte” (Westphal, 2011b:6). Tog is daar in hierdie sintese steeds ruimte vir die onderskeid en wisselwerking tussen die teenstrydige pole “representasie” en “werklikheid”. Hy beklemtoon herhaaldelik dat die twee nie apart van mekaar gelees kan word nie: daar is volgens hom geen absoluut outonome kuns nie (Westphal, 2011b:35 en 84). Volgens Westphal (2011b:74) mag die twee konsepte egter nie heeltemal aan mekaar gelyk gestel word nie; met betrekking tot die werk van Guy Debord en Jean Baudrillard stel hy: “the fictionalization of reality is susceptible to an uncontrolled derealization of the world, the effects of which are potentially harmful. The sorrows of our planet are real, and evidence of them, at least, is not illusory.” Op ʼn manier wat versoenbaar is met die nuwe materialisme, argumenteer Westphal (2011b:98) dus dat die dualistiese verhouding tussen representasie en werklikheid nie ewig of staties is nie, maar tog sinvol is: “[Geocriticism] should

establish within itself a communication between the real and the fictional, so that they are neither completely separated nor totally conflated”.

In sy voorwoord tot Westphal se nuutste werk, The plausible world: a geocritical approach to

space, place and maps (2013), beklemtoon Tally (2013a:xv) ook dat geokritiek ingestel moet wees

op die wêreldlike:

Any geocriticism that is worth the effort must engage actively and considerately with the worldly, by which I do not simply mean the secular or mundane, although these are necessarily a part of it. I mean that geocriticism maintains a comportment toward the world that embraces the entirety of spatial and social relations, which in turn constitute the literary cartography produced in those multifarious ways of making sense of, or giving shape to, the world.

Hy verwys nie eksplisiet na Spivak se konsep van die “planetêre” nie, maar myns insiens is sy argument versoenbaar daarmee, wat betref albei konsepte se etiese en relasionele implikasies. In The plausible world demonstreer Westphal die waarde van ’n geokritiese benadering vir postkolonialisme (Tally, 2013a:xiv). Hy argumenteer dat Westerse moderniteit die wêreld konseptualiseer as bestaande uit geslote en beheerbare ruimtes (Westphal, 2013:1-2 en 6). In die nie-Weste88 vind Westphal (2013:7) ’n kontra-geografie waarin daar erken word dat daar nie een wêreld, of ’n oneindige hoeveelheid moontlike wêrelde89 is nie, maar dat die wêreld as sodanig

geloofwaardig/waarskynlik (“plausible”) is. Sodoende probeer Westphal (2013:3 en 7) ’n tussenweg vind tussen absolutisme en relativisme (Tally, 2013a:xiv). Tally (2013a:xv) sien dit as ’n verdere ontwikkeling in Westphal se denke oor die verhouding tussen representasie en materiële realiteit en die essensialistiese probleme in sy vroeër werk: Die doel van die geokritiek is nou nie om ’n objektiewe blik op die essensie van die menslike ervaring van ’n materiële ruimte te kry nie, maar om eerder ’n geloofwaardige idee te kry van die waarskynlike ruimte. Die doelstellings van die geokritiek is dus nou meer gematig, sonder dat daar in relativisme verval word.

Hierdie meer gematigde geokritiek kan myns insiens in verband gebring word met die Australiese geograaf Jane M. Jacobs (2012:906) se argument dat vergelykende stedelike studies beoefen moet word in terme van die formule n-1. Hiervolgens is die doel van vergelyking nie om te toon dat twee

88 Tally (2013a:xiii) noem dat Westphal se onderskeid tussen die Weste en die res van die wêreld oorvereenvoudig en problematies is, maar sien tog sy poging om verby ’n Eurosentriese perspektief te beweeg as waardevol (2013a:xiv). 89 Soos wat geargumenteer word deur, onder andere, Pavel (1986) en Doležel (1998).

stede dieselfde is (1=1) of om aan te voer dat die verskillende eienskappe van die stede saam “stedelikheid” definieer (1+1=2) nie. Die doel is eerder om dominante paradigmas uit te daag deur die uitsonderings op veralgemenende stellings (n) te toon, dit wil sê n-1. Binne my toepassing van ’n aangepaste geokritiek sal dit beteken dat die doel van my proefskrif nie is om totaliserende teorieë oor Kaapstad en Johannesburg (of oor die literêre uitbeelding van hierdie stede) of oor die Suid-Afrikaanse letterkunde90 te vorm nie. Die doel is eerder om dominante diskoerse – veral dié bespreek in hoofstuk 1 – te kompliseer en te nuanseer deur middel van ’n fokus op die verskille en ooreenkomste in spesifieke Afrikaans- en Engelstalige tekste wat afspeel in Kaapstad en Johannesburg.

2.5 Samevatting

Die geokritiek is ’n gepaste benadering vir my projek, omdat dit ’n kruisbestuiwing is tussen die vergelykende letterkunde en ʼn literêre teorie wat tradisionele sienings rondom die verhouding tussen gerepresenteerde ruimte en werklike ruimte kompliseer. Westphal, Tally en die bydraers tot

Geocritical explorations (2011) het reeds getoon dat die geokritiese ondersoek van die uitbeelding

van verskeie ruimtes (en verskeie soorte ruimtes) kan lei tot vernuwende insigte. Die doel van hierdie proefskrif is, onder meer, ook om die vas te stel of ’n geokritiese benadering handig is in die vergelyking van die uitbeelding van Kaapstad en Johannesburg in Afrikaans- en Engelstalige romans wat gepubliseer is ná 2000. Die teorieë van Felski, die nuwe materialisme en die geokritiek spreek tot mekaar, en laat my toe om die uitbeelding van die stad in dié romans te ondersoek op ʼn manier wat vergelykend, nie-essensialisties en nie eng dualisties is nie.

Alhoewel geokritiek binne die veld van die vergelykende letterkunde geleë is, bevraagteken Westphal (2011b:30 en 121) die streng onderskeid tussen literêre en nie-literêre tekste. Hy voer aan dat tekste uit enige genre, literêr of nie-literêr, vergelyk kan word. Gegewe die konseptualisering van dualismes waarvoor ek argumenteer, sal dit meer gepas wees om literêre en nie-literêre tekste te sien as verskillende pole van ʼn dualisme. Hulle is nie heeltemal geskei van mekaar nie, maar die verskil tussen hulle is steeds betekenisvol. Daar is verskeie maniere waarop hierdie benadering metodologies toegepas kan word, maar in hierdie proefskrif doen ek dit deur slegs spesifieke

90 My benadering sluit dus aan by Leon de Kock (1996:87) se argument dat literatore nie moet probeer om een Suid- Afrikaanse letterkunde te skryf nie, maar eerder moet probeer om, deur middel van ’n fokus op spesifieke werke, “sedimented layers of discourse” te deurbreek: “it is a process of unmaking the larger narratives and splitting them into diverse and discontinuous local histories.” Sien ook Michael Green (1996:234): “National literary historical structures and the activities they demand in their specific deployment become visible in relation to the resistance a particular text presents to those structures and activities”

literêre tekste, naamlik romans, te analiseer. Ek dui wel aan waar hierdie tekste in verband gebring kan word met nie-literêre tekste.

Die geokritiese benadering wat in die res van hierdie tesis gebruik sal word, behels die bestudering van die kruispunte van verskillende interpretatiewe perspektiewe op dieselfde ruimte. Hierdie perspektiewe is gesitueerd en beliggaamd (Westphal, 2011b:65). Die bestudering van literêre perspektiewe word gekompliseer deur die konsep van “fokalisasie”: die perspektief is nie altyd dié van die skrywer self nie, en selfs by outobiografiese tekste manipuleer outeurs fokalisasie om sekere (onder meer estetiese of ideologiese) effekte te skep (Westphal, 2011b:127). Westphal (2011b:129) voer aan: “The geocritical approach being geocentred, it is less a study of different types of perception than of the effects, in terms of representation, of the intersecting points of view”. Myns insiens kan ʼn literator dit bewerkstellig deur, soos reeds genoem, in gedagte te hou dat ʼn literêre teks gesitueer is in beide literêre velde en diskoersnetwerke, en dat daar dus aandag gegee moet word aan die literêre tegnieke (onder andere wat betref fokalisasie) waarvan die outeur gebruik maak en die diskoerse en bewegings waardeur hy of sy beïnvloed word.

Hoofstuk 3: Stedelike tuistes en bewegende stedelinge in Room 207 (2006) deur Kgebetli