• No results found

Hoofstuk 2: ’n Geokrities-vergelykende benadering tot die analise van die literêre uitbeelding

2.2 Die vergelykende letterkunde

2.2.3 Die vergelykende letterkunde in Suid-Afrika

Die vorm van vergelykende literatuurstudie wat ek wil aanpak, behels nie die vergelyking van literatuur uit verskillende nasies nie, maar die vergelyking van tekste wat in verskillende tale in dieselfde land geskryf is. Hierdie benadering kan egter nie ontsnap van die studieterrein se nasionalistiese erflating nie en behels ’n unieke stel uitdagings. Vergelykende studies van kontemporêre romans in verskillende Suid-Afrikaanse tale is relatief skaars71 en daar is nie ’n uitgebreide geskiedenis van teoretisering oor die onderwerp nie. Die deelnemers aan polemieke oor literatuurgeskiedskrywing72 debatteer wel oor die moontlikheid daarvan om tekste uit verskillende Suid-Afrikaanse tale te sien as deel van een samehangende narratief, soos vervolgens bespreek word.

Soos De Kock (2005:70) beweer, het die ideaal van ’n verenigde Suid-Afrikaanse letterkunde ontstaan as ’n vorm van verset teen apartheidsnasionalisme. Apartheidswetgewing is ingestel om verskillende Suid-Afrikaanse kulture en taalgroepe volgens rasseklassifikasie te skei. Tydens die

70 Moraru (2014) beskryf dit soos volg: “What we call ‘subject formation’ is nothing less than going into debt, to others. We would not be if it were not for that originating—and originality-spawning—deficit. This shortage, the stuff we do not have or are short of, is ontological. More accurately, it has ontological potential: we can be or become, make the ‘most of ourselves’ if we live up to it. Otherwise, as Emmanuel Levinas insists, its nature is ethical: what that absence carves out inside ourselves is a space of otherness, and […] this has crucial implications: the debt accrues a duty, a responsibility in and to the world.” Sien bladsy 177 vir ’n verdere bespreking van Levinas se teorieë oor die subjek se verantwoordelikhede teenoor die Ander.

71 Volgens Hein Viljoen (in Burger, Oliphant, Hein en Louise Viljoen, 2015) is die enigste vergelykende literatuurstudies wat onlangs in Suid-Afrika onderneem is die Indiese Oseaan-studies van Isabel Hofmeyr (sien byvoorbeeld Gupta, Hofmeyr en Pearson, 2010), studies in vertaalteorie (byvoorbeeld Minter, 2013), Afrikaans en Nederlandse vergelykings (byvoorbeeld T’sjoen en Foster, 2012) en studies oor Suider-Afrika se verskillende orale literature (byvoorbeeld Brown, 1999). Sedertdien is Ena Jansen se Soos familie (2015), ’n vergelykende studie van die uitbeelding van stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse romans, gepubliseer. Hein Viljoen het self bygedra tot die Suid-Afrikaanse vergelykende letterkunde deur op te tree as mederedakteur van Storyscapes (2004), ’n bundel akademiese artikels wat fokus op die uitbeelding van ruimte in Suid-Afrikaanse letterkunde. Heelwat van die artikels het naamlik ’n vergelykende inslag.

72 Soos Saussy (2014) noem, is alle literatuurgeskiedenisse vergelykend, omdat dit tekste uit verskeie kontekste (hoofsaaklik uit verskillende tydperke maar geskryf in en oor dieselfde ruimte) met mekaar in verband bring.

laaste twee dekades van apartheid, en in die jare onmiddellik daarna, was daar pogings om die verskillende Suid-Afrikaanse letterkundes wat gevolglik volgens taal gekompartementaliseer was, te beskou as deel van een verenigde nasionale letterkunde (Wade, 1996:1). Literatore soos Gray (1979:2) en Chapman (1996:xvii) voer aan dat die vergelykende letterkunde ʼn belangrike rol speel in hierdie projek, aangesien dit sou behels dat Suid-Afrikaanse literatuur geskryf in verskillende tale met mekaar in verband gebring word.

Daar was verskeie pogings om hierdie nasionale letterkunde te skryf, deur byvoorbeeld Gray (1979), SENSAL (die Sentrum vir Suid-Afrikaanse letterkunde navorsing, onder leiding van Charles Malan) (sien Malan, 1984), Ntuli en Swanepoel73 (1993) en CSALL (die sentrum vir die bestudering van Suider-Afrikaanse letterkunde en tale)74 (Wade, 1996:3). In Roos (1998) se oorsig van die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu in Perspektief en profiel is daar ook tekens dat sy ten gunste is van “één nasionale Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis” (Van Coller, 1998:ix); sy verwys naamlik deurgaans ook na Engelstalige Suid-Afrikaanse prosa.

Michael Chapman se Southern African literatures (1996) is waarskynlik die omvattendste voorbeeld van só ’n poging deur een skrywer, maar ook die duidelikste illustrasie van die probleme rondom só ’n projek (Van Coller, 2006a:ix). Daarin redeneer Chapman (1996:xv) dat Suider-Afrika (hy bespreek ook letterkunde uit Suid-Afrika se buurlande) se verskeie letterkundes “distinct” maar “interrelated” is. Teen die tyd wat Southern African literatures verskyn het, was Suid-Afrikaners, volgens De Kock (1997:104), egter reeds skepties oor die haalbaarheid van die ideaal van ’n verenigde en essensialistiese “reënboognasie”. Chapman se pogings om die verskillende Suid- Afrikaanse letterkundes byeen te bring, veroorsaak ook dat verskille, en “différance” in die poststrukturalistiese sin, geïgnoreer word (De Kock, 1997:111-113). Dit is soortgelyk aan die kritiek wat soms gelewer word teen voorstanders van “wêreldletterkunde” (sien byvoorbeeld Culler, 2006:244 en Radhakrishnan, 2009:454), naamlik dat hulle pogings om uiteenlopende werke te vergelyk beteken dat die spesifieke nuanse van die tekste geïgnoreer of afgeskeep word en dat die skep van só ’n Suid-Afrikaanse of wêreldkanon in die naam van inklusiwiteit ook beteken dat ander tekste uitgesluit of gemarginaliseer word. Die idealisering van ’n verenigde Suid-Afrikaanse letterkunde kan ook veroorsaak dat die voortdurende hegemoniese magsverhoudings binne hierdie

73 Ntuli en Swanepoel se South African literature in African languages sou eers deel gewees het van ’n groter projek wat Engels- en Afrikaanstalige literatuur sou insluit.

74 Weens praktiese en teoretiese probleme het die sentrum besluit om nie ’n ensiklopedie van die Suid-Afrikaanse literatuur te publiseer nie, maar eerder artikels deur uiteenlopende literatore waarin daar besin word oor die Suid- Afrikaanse literatuur saam te bundel in Rethinking South African literary history (1996) (Wade, 1996:3).

eenheid (byvoorbeeld die verhoudings tussen literatuur geskryf in verskillende tale en deur skrywers van verskillende ras- of klasgroepe) geïgnoreer word (Moran, 1996:177 en 192).

Irlam (2004:698) en De Kock (2005:81) voer aan dat dit bevrydend vir skrywers en literatore kan wees om die idee van ʼn nasionale letterkunde te laat vaar: dit kan hulle toelaat om op ander, afgeskeepte, onderwerpe te fokus. In Irlam se artikel, “Unraveling the rainbow: the remission of nation in post-apartheid literature” (2004) gebruik hy ’n vergelykende benadering om die idee van ʼn Suid-Afrikaanse letterkunde te kritiseer. Sy studie dien as ’n herinnering dat die vergelykende literatuurstudie nie noodwendig net hoef te fokus op ooreenkomste nie, maar ook die verskille tussen tekste kan uitlig (sien ook Friedman, 2011:755 en 757). In sy vergelykende magisterverhandeling kom Wamuwi Mboa (2009:143) byvoorbeeld tot, onder meer, die volgende gevolgtrekking: “‘the true story’ of the nation that [Keegan, Martin, Moele, Wanner and Matlwa] seek to arrive at is one that cannot be heard or captured within symbolic systems: they draw attention to the overlap and intermeshing of realities that renders such a search futile.”

In die inleiding van SA lit beyond 2000 reageer Chapman (2011:2) op De Kock, en ander, se bevraagtekening van sy poging tot die skryf van ’n geskiedenis van Suider-Afrikaanse letterkunde. Hy herhaal sy vroeër argument dat ’n te groot klem op die verskille tussen die letterkundes apartheidsdenke voortsit, maar redeneer ook dat, indien tekste in die verskillende Suid-Afrikaanse tale nie vergelyk word nie, dit kan veroorsaak dat verskille geïgnoreer word. Wade (1996:8) noem ook dat ’n te groot klem op die verskille tussen Suid-Afrika se letterkundes kan lei tot ’n voortsetting van die apartheidsopvatting dat enige samewerking of ooreenkomste tussen die verskillende kulture of tale onmoontlik is.75

As redes vir die hedendaagse vergelykende bestudering van Suid-Afrikaanse literatuur noem Hein Viljoen (in Burger et al., 2015) dat daar kulturele, morele/estetiese, literêre en transnasionale imperatiewe is. Wat die eerste twee betref, meen hy dat Suid-Afrika se multikulturele samelewing (eties, maar ook pragmaties gesproke) vereis dat verskillende kulture mekaar probeer verstaan. Dit is ’n taak wat moontlik vergemaklik kan word deur die vergelykende bestudering van literatuur omdat dit die potensiaal het om wedersydse begrip en kommunikasie kan bevorder. Met ’n literêre imperatief bedoel Viljoen dat tekste in die verskillende Suid-Afrikaanse tale intertekstueel na mekaar verwys en deel vorm van oorvleuelende literêre bewegings en tendense. Transnasionale

75 In terme van die debat oor wêreldletterkunde voer Radhakrishnan (2009:456) ook dat die verskille van literatuur geskryf in verskillende lande en tale gerespekteer moet word, maar dat verskillende literature nie gesien moet word as só verskillend dat dit ’n apartheidsbeleid van “separate but equal” noodsaak nie (sien ook Friedman, 2011:755-757).

bewegings is ’n rede vir die vergelykende bestudering van spesifiek Suid-Afrikaanse tekste omdat, soos reeds genoem (op bladsy 40), die bestudering van die laterale verhoudings tussen kleiner (mineur-) letterkundes kan dien as verset teen totaliserende globalisasie. De Kock (2009:31) noem ook dat die konsep van ’n nasionale (in hierdie geval ’n Suid-Afrikaanse) literatuur steeds relevant is binne die transnasionale bestudering van literatuur, omdat dit gaan oor die beweging van tekste oor nasionale grense: “my sense is that the ‘trans’ in ‘transnational’ creates a cusp between the national and what lies beyond it, not a severance.”

Die nuutste poging tot die skryf van ’n Suid-Afrikaanse letterkunde is Attwell en Attridge se South

African literature (2012). Attwell en Attridge erken dat pogings om die literatuur geskryf in al Suid-

Afrika se tale saam te snoer noodwendig vereenvoudigend sal wees en probeer daarom eerder om een narratief te skryf waartoe al die verskillende letterkundes bygedra het (Attwell en Attridge, 2012:10). Hierdie narratief handel oor Suid-Afrika se gemeenskaplike geskiedenis. Swanepoel (1996:27) beweer ook dat daar literêre werke in al Suid-Afrika se tale is wat handel oor “a common fatherland, overlapping histories, economies, politics and public life”. Swanepoel (1996:27) voer dus aan dat ʼn bestudering van die ooreenkomste en verskille in die verskillende letterkundes se hantering van hierdie gemeenskaplike onderwerpe insiggewend kan wees. In Southern African

literatures beweer Chapman (1996:xvi) dat verstedeliking só ’n onderwerp is waaroor daar geskryf

word in die letterkundes van al die Suider-Afrikaanse tale (sien ook Van Wyk, 1996:33). Stahle (2001) en Van Niekerk (2011) het vergelykende studies onderneem oor die uitbeelding van verstedeliking in die Afrikaanse en Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde. My navorsing sal verskil van bogenoemde twee studies deurdat dit sal fokus op die uitbeelding van hedendaagse ervarings van die stad, eerder as op die proses van verstedeliking.

In hierdie opsig sluit my studie aan by twee kort vergelykende besprekings van die uitbeelding van die hedendaagse stad in Afrikaans- en Engelstalige literatuur: Kruger (2013:180) se vergelyking van

Kontrei en Welcome to our Hillbrow in Imagining the edgy city en Roos (2006:85) se bespreking

van hoe die uitbeelding van ruimte in Afrikaanstalige romans deur sogenaamde “negentigers” (met ander woorde skrywers wat debuteer in die 1990’s) verband hou met “die globale plekloosheid eie aan die huidige tydsgewrig”. Sy verwys nie na spesifiek stedelike ruimtes nie, maar van die romans en bundels wat sy noem (Die ryk van die rawe, Paartie by Jake’s, Erdvarkfontein en Aan die

anderkant van die stad), speel net Erdvarkfontein (1998) deur Tom Dreyer in die platteland af. Sy

impliseer die stedelike aard van hierdie tekste wanneer sy weer na hulle verwys in verband met die Engelstalige versamelbundel Urban ’03: collected new South African short stories (2003) onder redaksie van Dave Chislett (Roos, 2006:93).

Die feit dat ek in die res van die proefskrif tekste in twee verskillende Suid-Afrikaanse tale vergelykend bestudeer, moenie gesien word as ’n poging om terug te keer na die idee van ’n nasionale letterkunde nie. My studie sluit eerder aan by Bush se visie van ’n area studies (soos bespreek op bladsy 41). Dit gaan nie oor tekste wat noodwendig ontspring uit ’n spesifieke area nie, maar oor die vergelykende bestudering van romans waarin dieselfde afgebakende areas uitgebeeld word. Hierdie afbakening vind nie plaas binne die konteks van, of deur middel van verwysings na, nasies nie. Daar word wel aandag geskenk aan die maniere waarop hierdie areas gesitueer is in planetêre netwerke wat bestaan uit (onder meer transnasionale) verhoudings en bewegings.

My studie sluit dus, in hierdie opsig, aan by Hein Viljoen (2015:141) se voorstel dat Édouard Glissant se Poetics of Relation (1997) gebruik kan word om die Suid-Afrikaanse letterkundes se inter- en transnasionale verhoudings en bewegings te analiseer. Glissant (1997:32) sien alles as relasioneel verbind aan alles anders, maar is gekant teen die idee van ’n totaliserende globale netwerk en teen die idee van die universele. Volgens hom is “[e]ach literature [...] a small archipelago exposed to the storm winds of the clashes and syntheses between languages and cultures” (Viljoen, 2015:141).